Lukas 20

20
Vraag oor Jesus se gesag
(Matt 21:23-27; Mark 11:27-33)
1Op een van die dae waarop Jesus die volk op die tempelterrein onderrig en die evangelie verkondig het, het die leierpriesters en skrifkenners saam met die familiehoofde nader gestaan 2en vir Hom gevra: “Sê vir ons, op watter gesag doen jy hierdie dinge? Wie het aan jou hierdie gesag gegee?” 3Hy het geantwoord: “Ek sal julle ook 'n vraag vra. Sê My: 4Was die doop van Johannes van die hemel, of van mense?” 5Hulle het toe onder mekaar geredeneer: “As ons sê, ‘van die hemel,’ sal Hy sê, ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ 6En as ons sê, ‘van mense,’ sal die hele volk ons stenig, omdat hulle daarvan oortuig is dat Johannes 'n profeet is.” 7Hulle antwoord toe dat hulle nie weet waar dit vandaan kom nie. 8Daarop sê Jesus vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle op watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”
Gelykenis van die huurders
(Matt 21:33-46; Mark 12:1-12)
9Hy het die volgende gelykenis aan die volk vertel: “Daar was 'n man wat 'n wingerd aangeplant het. Toe het hy dit aan landbouers verhuur, en vir 'n lang tyd op reis gegaan. 10 Teen oestyd het hy 'n slaaf na die landbouers gestuur, sodat hulle vir hom van die opbrengs van die wingerd kon gee. Maar die landbouers het hom afgeransel en met leë hande teruggestuur. 11Daarna het hy weer 'n ander slaaf gestuur, maar ook hom het hulle afgeransel, verneder en met leë hande teruggestuur. 12Die eienaar het nog 'n derde een gestuur, maar hulle het hom erg verwond en uit die wingerd uitgegooi.
13“Toe sê die eienaar van die wingerd, ‘Wat sal ek doen? Ek sal my geliefde seun stuur – dalk sal hulle hom met respek behandel.’ 14Toe die landbouers hom egter sien, het hulle onder mekaar beraadslaag en gesê, ‘Dit is die erfgenaam dié! Kom ons maak hom dood, sodat die erfdeel ons s'n kan word.’ 15Hulle het hom toe uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak. Wat sal die eienaar van die wingerd met hulle doen? 16Hy sal kom en die landbouers doodmaak, en die wingerd aan ander gee.”
Toe die mense dit hoor, sê hulle: “Mag dit nooit gebeur nie!” 17Jesus het hulle stip aangekyk en gesê: “Wat beteken dit dan wat geskryf staan:
“ ‘Die klip wat die bouers afgekeur het,
juis dit het die hoeksteen geword.’ ”
18 “Elkeen wat op daardie klip val,
sal verpletter word,
en as dit op iemand val,
sal dit hom vergruis.”
19 Die skrifkenners en die leierpriesters wou Hom onmiddellik gevange neem, omdat hulle besef het dat Hy die gelykenis met die oog op hulle vertel het. Hulle was egter bang vir die volk.
Vraag oor belasting
(Matt 22:15-22; Mark 12:13-17)
20 Hulle het sake fyn dopgehou, en spioene gestuur wat voorgegee het dat hulle opreg is, sodat hulle Hom op grond van een of ander uitspraak kon vastrek en Hom sodoende aan die owerheid en die gesag van die prokurator kon oorlewer. 21Hulle vra Hom toe: “Meester, ons weet dat wat u sê en leer, reg is. U neem nie die aansien van persone in aanmerking nie, maar leer die weg van God waarheidsgetrou. 22Is dit toelaatbaar dat ons belasting aan die keiser betaal, of nie?” 23Maar Jesus het deur hulle listigheid gesien en vir hulle gesê: 24“Wys vir My 'n denarius. Wie word daarop afgebeeld, en wie se inskripsie staan daarop?” Hulle antwoord: “Die keiser s'n.” 25Toe sê Hy vir hulle: “Gee daarom aan die keiser wat hom toekom, en aan God wat Hom toekom.” 26Hulle kon Hom glad nie vastrek op grond van wat Hy voor die volk gesê het nie. Verbaas oor sy antwoord, het hulle stilgebly.
Vraag oor die opstanding
(Matt 22:23-33; Mark 12:18-27)
27Sommige van die •Sadduseërs, wat sê dat daar nie 'n opstanding is nie, kom toe en vra Hom: 28“Meester, Moses het vir ons voorgeskryf dat ‘as iemand se broer getroud is en kinderloos sterf, sy broer die vrou moet neem en vir sy broer 'n nageslag verwek.’ 29So was daar eenmaal sewe broers. Die eerste een het 'n vrou geneem, maar kinderloos gesterf. 30Ook die tweede 31en die derde broer het met haar getrou. En net so, sonder dat hulle kinders nagelaat het, het al sewe broers gesterf. 32Ten laaste het ook die vrou gesterf. 33Hierdie vrou, wie van hulle se vrou is sy dan met die opstanding? Al sewe het haar immers as vrou gehad.” 34Jesus het hulle geantwoord: “Die mense van hierdie bedeling tree in die huwelik en word in die huwelik uitgegee, 35maar diegene wat waardig geag word om die toekomstige bedeling en die opstanding uit die dood te verkry, tree nie in die huwelik nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie. 36Hulle kan nie meer sterf nie, want hulle is soos engele en kinders van God, omdat hulle aan die opstanding deel het. 37Dat die dooies opgewek word, het selfs Moses in die gedeelte oor die doringbos uitgewys, waar hy die Here ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’ noem. 38Hy is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes. Wat Hom betref, is hulle immers almal lewendes. ” 39Sommige van die skrifkenners het hierop gereageer met die woorde: “Meester, u het 'n goeie antwoord gegee.” 40Hierna het hulle dit nie meer gewaag om Hom iets te vra nie.
Vraag oor die Seun van Dawid
(Matt 22:41-46; Mark 12:35-37)
41Jesus het hulle gevra: “Hoe kan daar gesê word dat die Christus die •Seun van Dawid is? 42Dawid sê dan self in die Psalms,
“ ‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand,
43totdat Ek jou vyande
'n voetbank vir jou voete gemaak het.’
44“Dawid noem Hom dus ‘Here’. Hoe kan Hy dan sy seun wees?”
Waarskuwing teen die skrifkenners
(Matt 23:1-36; Mark 12:38-40; Luk 11:37-54)
45Terwyl die hele volk luister, het Hy vir sy dissipels gesê: 46“Wees op julle hoede vir die skrifkenners! Hulle hou daarvan om met lang stolas rond te loop, en is lief daarvoor om op die markpleine begroet te word en die voorste sitplekke in die •sinagoges en die ereplekke by die feesmaaltye in te neem. 47Hulle verslind die huise van die weduwees, en vir die skyn bid hulle lang gebede. Hulle sal 'n swaarder oordeel ontvang.”

Tans Gekies:

Lukas 20: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid