LUKAS 20:27-38

LUKAS 20:27-38 Bybel vir almal (ABA)

'n Paar Sadduseërs het na Jesus toe gekom. Die Sadduseërs het nie geglo dat die mense wat gesterf het, weer sal lewe nie. Hulle het vir Jesus gesê: “Meneer, Moses het in sy wette geskryf wat ons moet doen. Hy het gesê: ‘ Wanneer 'n man sterf en sy vrou lewe nog en hulle het nie kinders nie, dan moet sy broer met die weduwee trou. Wanneer die vrou dan kinders kry, dan sal dit sy broer wat dood is, se kinders wees.’ Daar was sewe broers. Die oudste broer het getrou. Hy het gesterf maar hy het nie kinders gehad nie. Die tweede broer het met die oudste broer se weduwee getrou, en ná hom het die derde broer met haar getrou, en so het al sewe broers met die vrou getrou. Hulle het almal gesterf, maar hulle het nie kinders gehad nie. Later het die vrou ook gesterf. Nou vra ons: Wie se vrou sal hierdie vrou wees wanneer al die mense wat gesterf het, weer lewe? Want die sewe broers was almal met haar getroud.” Jesus het vir hulle gesê: “In hierdie lewe trou mense met mekaar. Maar wanneer God Koning is, dan sal Hy die mense wat in Hom glo en wat gesterf het, weer laat lewe. Dan sal mense nie getroud wees nie, en hulle sal nie trou nie. Want hulle sal wees soos die engele wat nie sterf nie en wat by God in die hemel woon. Maar dit kan net gebeur as God hulle weer laat lewe. Moses het ook vir ons gesê mense wat gesterf het, sal weer lewe. Hy het geskryf oor die bos wat gebrand het. Daar sê Moses die Here is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. God is nie die God van dooie mense nie, Hy is die God van mense wat lewe. Want vir God is almal wat in Hom glo, mense wat lewe.”

LUKAS 20:27-38 Die Boodskap (DB)

Skaars was hierdie spul weg of ’n klompie Sadduseërs daag daar op. Hulle was ’n invloedryke Joodse groep wat nie in die lewe na die dood geglo het nie. “Leermeester, jy weet goed wat Moses gesê het: as ’n getroude man sonder kinders doodgaan, moet sy broer met sy weduwee trou. Hulle moet dan ’n seun kry om so te sorg dat die familienaam nie uitsterf nie. Wel, nou het ons die volgende probleem wat jy asseblief vir ons moet oplos. Sê nou daar is ’n familie met sewe seuns. Die eerste seun trou, maar gaan dood voor hy ’n kind kan hê. Volgens Moses se wet moet die weduwee met die tweede broer trou. Maar hy gaan ook dood sonder dat daar ’n kind is. Dan trou die derde een met haar. Maar presies dieselfde gebeur met hom. Hy sterf voordat sy vrou ’n kind het. So gaan dit uiteindelik met al sewe broers. Nie een van hulle laat ’n kind agter nie. Uiteindelik gaan die vrou dan sonder ’n kind dood. Nou, as daar ’n opstanding van die dooies is, sê vir ons, met watter man gaan daardie vrou in die hemel getroud wees? Al sewe was mos hier op aarde met haar getroud.” Jesus antwoord toe: “Kyk, julle verstaan dit heeltemal verkeerd. In hierdie wêreld trou mense nog, maar nie daar in God se nuwe wêreld nie. Diegene wat so gelukkig is om daar ’n plek te kry, gaan op ’n splinternuwe manier leef. Daar tel dinge soos getroud-wees glad nie meer nie. Daar gaan mense ook nie weer dood nie. Hulle gaan net soos die engele ook ‘geestelike wesens’ wees. Elkeen wat daar bly, sal ’n kind van God wees. God sal hulle weer lewendig maak en hulle daar by Hom ’n blyplek gee. “Ja, die dooies sal weer lewendig word. Dit staan tog in die Bybel. Julle het mos al in Eksodus gelees hoe Moses die Here by die brandende doringbos aangespreek het as ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’. Moses het dit gedoen omdat hy geweet het Abraham en Isak en Jakob is nie dood nie. Hulle leef op ’n splinternuwe manier daar by God. God is mos nie die God van die dooies nie. Nee, Hy is die God van die lewendes. Daarom wag daar vir almal wat nou vir Hom leef ’n plek in sy nuwe wêreld.”