LUKAS 20:20-26
LUKAS 20:20-26 Bybel vir almal (ABA)
Die leiers van die Jode het baie goed gekyk wat Jesus doen. Hulle het spioene na Jesus toe gestuur. Die spioene het gemaak of hulle graag meer van Jesus wou leer. Die leiers wou hê Jesus moet iets sê wat verkeerd is, sodat Hy probleme kan kry. Dan kan hulle Hom vang en vir die Romeinse regering gee, sodat hulle Hom kan straf. Die spioene het toe vir Jesus gevra: “Meneer, ons weet die dinge waaroor jy praat en wat jy leer, is reg. Jy is nie bang vir wat mense van jou sê nie. Jy leer vir die mense wat God wil hê hulle moet doen, en die dinge wat jy vir hulle leer, is waar. Maar sê vir ons: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie?” Jesus het geweet hulle wil hê Hy moet iets verkeerd sê waaroor hulle Hom kan vang, en Hy sê toe vir hulle: “Wys vir My 'n silwer geldstuk.” Toe hulle dit doen, vra Hy vir hulle: “Wie se kop en wie se naam is op hierdie geld?” Hulle het vir Hom gesê: “Dit is die keiser se kop en sy naam.” Jesus sê toe vir hulle: “Dit is reg. Dan moet julle vir die keiser gee wat aan hom behoort, maar julle moet ook vir God gee wat aan Hóm behoort.” Die spioene kon Hom nie vang nie, want niemand het gehoor dat Hy iets verkeerd gesê het nie. Hulle was baie verbaas oor wat Jesus geantwoord het en hulle het stilgebly.
LUKAS 20:20-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hulle het Hom in die oog gehou en spioene gestuur wat geveins het dat hulle regverdig was, sodat hulle Hom op 'n woord kon betrap, om Hom oor te lewer aan die owerheid en aan die gesag van die goewerneur. En hulle het Hom gevra en gesê: Meester, ons weet dat U reguit praat en leer en die persoon nie aanneem nie, maar die weg van God in waarheid leer — is dit ons geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie? Maar Hy het hulle listigheid bemerk en vir hulle gesê: Waarom versoek julle My? Wys My 'n penning. Wie se beeld en opskrif het dit? Hulle antwoord en sê: Die keiser s'n. Toe sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. En hulle kon Hom nie voor die volk op 'n woord betrap nie, en verwonderd oor sy antwoord het hulle geswyg.
LUKAS 20:20-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle het hulle kans afgewag. Toe stuur hulle geheime agente wat hulle as opreg voorgedoen het, om Jesus op een of ander uitspraak te probeer vastrek sodat hulle Hom aan die owerheidsgesag van die goewerneur kon uitlewer. Hulle vra Hom toe: “Meneer, ons weet dat u in u prediking en onderrig regsinnig is. U let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid, en so maak u die wil van God bekend. Is dit reg dat ons aan die keiser belasting betaal, of is dit nie?” Maar Jesus het deur hulle slimstreek gesien en vir hulle gesê: “Wys vir My 'n muntstuk. Wie se kop en naam is daarop?” Hulle antwoord: “Die keiser s'n.” Toe sê Hy vir hulle: “Nou ja, gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.” Hulle kon dit nie regkry om Hom voor die volk vas te trek op iets wat Hy gesê het nie. En verwonderd oor sy antwoord, het hulle maar stilgebly.
LUKAS 20:20-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle het sake fyn dopgehou, en spioene gestuur wat voorgegee het dat hulle opreg is, sodat hulle Hom op grond van een of ander uitspraak kon vastrek en Hom sodoende aan die owerheid en die gesag van die prokurator kon oorlewer. Hulle vra Hom toe: “Meester, ons weet dat wat u sê en leer, reg is. U neem nie die aansien van persone in aanmerking nie, maar leer die weg van God waarheidsgetrou. Is dit toelaatbaar dat ons belasting aan die keiser betaal, of nie?” Maar Jesus het deur hulle listigheid gesien en vir hulle gesê: “Wys vir My 'n denarius. Wie word daarop afgebeeld, en wie se inskripsie staan daarop?” Hulle antwoord: “Die keiser s'n.” Toe sê Hy vir hulle: “Gee daarom aan die keiser wat hom toekom, en aan God wat Hom toekom.” Hulle kon Hom glad nie vastrek op grond van wat Hy voor die volk gesê het nie. Verbaas oor sy antwoord, het hulle stilgebly.
LUKAS 20:20-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle het hom dopgehou en spioene uitgestuur wat hulleself as regverdiges sou voorgee, sodat hulle sy woorde kon aangryp, sodat hulle hom kon oorlewer aan die mag en gesag van die goewerneur. En hulle het Hom gevra en gesê: Meester, ons weet dat U reg sê en leer, en dat U niemand aanneem nie, maar waarlik die weg van God leer. Is dit vir ons geoorloof om belasting aan die keiser te gee, of nie? Maar hy het hulle listigheid bemerk en vir hulle gesê: Waarom versoek julle My? Wys vir my 'n sent. Wie se beeld en opskrif het dit? Hulle antwoord en sê: Die keiser s'n. En hy sê vir hulle: Gee dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. En hulle kon sy woorde nie vashou voor die volk nie, en hulle was verwonderd oor sy antwoord en het geswyg.
LUKAS 20:20-26 Die Boodskap (DB)
Hulle besluit toe om ’n paar mense na Hom toe te stuur wat maak asof hulle verskriklik vroom is. Hierdie mans moes vir Jesus ’n lokval stel sodat hulle Hom kon vang en aan die owerhede uitlewer as Hy iets verkeerds sê. Toe hierdie mense by Jesus aankom, sê hulle: “Leermeester, ons het jou leer ken as iemand wat net die waarheid praat. Jy loop God se pad reguit en leer die mense om dit ook te doen. Ons sien ook jy probeer nie gewild wees nie. Wat mense oor jou sê of dink, pla jou nie. Sê net gou vir ons, dink jy dis reg dat ons so baie belasting aan die Romeinse keiser betaal?” Jesus sê toe: “Het iemand ’n geldstuk hier naby?” Vinnig het iemand vir Hom ’n muntstuk gegee. Toe sê Jesus vir hulle: “Kyk mooi na dié geld. Wie se beeld is daarop en wie se naam is daarop geskryf?” “Die keiser s’n,” antwoord hulle. “Nou ja, as hierdie geld met die keiser se beeld daarop die keiser s’n is, gee dit vir hom. Gee hom wat hy vra. Maar onthou: julle is volgens God se ‘beeld’ gemaak. Julle behoort aan Hom. Daarom moet julle julleself aan God gee. Die keiser is geregtig op julle geld, maar God is geregtig op julle hele lewe.” Hierdie antwoord het die wind heeltemal uit die mense se seile gehaal. Hulle plan om Jesus daar voor die skare uit te vang het heeltemal misluk. Jesus se antwoord was so goed dat hulle nie geweet het wat om te sê nie. Stil-stil is hulle toe maar daar weg terwyl die skare Jesus geëer het.
LUKAS 20:20-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle het hulle geleentheid afgewag en toe spioene wat voorgegee het dat hulle dit opreg bedoel, gestuur om Jesus op sy woord vas te trek. So sou hulle Hom aan die owerheid en die gesag van die goewerneur kon uitlewer. Hulle het Hom toe gevra: “Leermeester, ons weet dat u reg praat en onderrig, en dat u nie mense op die uiterlike beoordeel nie: U onderrig mense volgens die waarheid om op die pad van God te loop. Is dit korrek dat ons aan die keiser belasting betaal of is dit nie?” Jesus het dwarsdeur hulle skelmstreek gesien en sê toe vir hulle: “Wys vir My ’n Romeinse muntstuk. Wie se beeld en opskrif is daarop?” Hulle antwoord: “Die keiser s’n.” Toe sê Jesus vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat die keiser s’n is en aan God wat God s’n is.” Hulle kon duidelik nie daarin slaag om Jesus op grond van sy boodskap voor die volk vas te trek nie. Verwonderd oor sy antwoord het hulle liewer stilgebly.