LUKAS 20:10-12
LUKAS 20:10-12 Bybel vir almal (ABA)
Toe dit tyd was om die druiwe te pluk, het hy 'n slaaf na die mense toe gestuur sodat hulle vir die eienaar die druiwe kan gee wat hy moet kry. Maar die mense het die slaaf geslaan en hom weggejaag. Hulle het vir hom niks gegee nie. Die eienaar van die wingerd het nog 'n slaaf na hulle toe gestuur. Die mense het hom ook geslaan en hulle het slegte dinge gedoen aan hom. Hulle het hom weggejaag en vir hom niks gegee nie. Die eienaar van die wingerd het toe 'n derde slaaf gestuur. Maar die mense het hierdie slaaf ook seergemaak en hom weggejaag.
LUKAS 20:10-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En op die regte tyd het hy 'n dienskneg na die landbouers gestuur, dat hulle hom van die vrug van die wingerd sou gee. Maar die landbouers het hom geslaan en met leë hande weggestuur. En hy het weer 'n ander dienskneg gestuur, en hulle het hom ook geslaan en skandelik behandel en met leë hande weggestuur. En hy het weer 'n derde gestuur, en hulle het ook hierdie een gewond en uitgedryf.
LUKAS 20:10-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe dit tyd was daarvoor, stuur hy 'n slaaf na die boere toe om sy deel van die wingerd se opbrengs te gaan haal. Maar die boere het die slaaf geslaan en met leë hande weggejaag. Die eienaar het weer geprobeer en 'n ander slaaf gestuur. Maar hulle het hierdie een ook geslaan en uitgeskel en met leë hande weggejaag. Die eienaar het nog 'n keer geprobeer en 'n derde slaaf gestuur. Hulle het hom geslaan dat die bloed loop, en hom uit die wingerd uitgegooi.
LUKAS 20:10-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Teen oestyd het hy 'n slaaf na die landbouers gestuur, sodat hulle vir hom van die opbrengs van die wingerd kon gee. Maar die landbouers het hom afgeransel en met leë hande teruggestuur. Daarna het hy weer 'n ander slaaf gestuur, maar ook hom het hulle afgeransel, verneder en met leë hande teruggestuur. Die eienaar het nog 'n derde een gestuur, maar hulle het hom erg verwond en uit die wingerd uitgegooi.
LUKAS 20:10-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En op die tyd het hy 'n dienskneg na die landbouers gestuur, dat hulle hom van die vrugte van die wingerd sou gee; maar die landbouers het hom geslaan en met leë hande weggestuur. En hy het weer 'n ander dienskneg gestuur, en hulle het hom ook geslaan en hom skandelik gesmeek en hom leeg weggestuur. En hy het weer 'n derde gestuur, en hulle het hom ook gewond en uitgedryf.
LUKAS 20:10-12 Die Boodskap (DB)
“Later, toe die druiwe begin ryp word, stuur die eienaar een van sy werkers om die deel wat hy moes kry te gaan haal. Maar die arme werker is deur die boere aangerand en weggejaag. “Toe stuur die eienaar een van sy ander werkers na die plaas toe. Maar presies dieselfde het met hom gebeur. Hy is pimpel en pers geslaan en van ’n kant af beledig. Daarna het die boer ’n derde werker na sy plaas toe gestuur. Maar hy is halfdoodgeslaan en ook met leë hande van die plaas af weggejaag.
LUKAS 20:10-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Met oestyd het hy ’n slaaf na die boere toe gestuur met die doel dat hulle ’n deel van die druiwe-oes aan hom sou gee. Maar die boere het die slaaf geslaan en hom met leë hande teruggejaag. Die eienaar het verder gegaan en ’n ander slaaf gestuur. Maar hulle het daardie een ook aangerand, hom beledig en met leë hande teruggejaag. Die eienaar het toe nog verder gegaan en ’n derde slaaf gestuur, maar hulle het hom ernstig verwond en weggejaag.