LUKAS 2:22-27
LUKAS 2:22-27 Bybel vir almal (ABA)
Moses het in sy wette geskryf wat 'n vrou moet doen om weer rein te word nadat sy 'n kind gekry het. Maria het dit alles gedoen en daarna het sy en Josef vir Jesus na Jerusalem gebring om Hom aan die Here te wy. Die wet van die Here sê: Julle moet die eerste seun van elke vrou aan die Here wy. Josef en Maria het ook 'n offer gebring, want die wet van die Here sê ook: Die vrou moet 'n offer vir die Here bring. Sy moet twee tortelduiwe of twee jong duiwe offer. Daar was 'n man in Jerusalem, sy naam was Simeon. Hy het gedoen wat die Here wil hê, en hy het die Here elke dag gedien. Hy het geweet die Here sal Iemand stuur om sy volk te kom red, en hy het elke dag vir Hom gewag. Die Heilige Gees was in Simeon. Die Heilige Gees het voorheen vir hom gesê hy sal Christus die Here sien voordat hy sterf. Die Heilige Gees het eendag vir Simeon gesê hy moet na die tempel gaan. Dit was toe Josef en Maria vir Jesus gebring het om met Hom te doen soos die Wette van Moses sê.
LUKAS 2:22-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En nadat die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses vervul was, het hulle Hom na Jerusalem gebring om Hom aan die Here voor te stel, soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike kind wat die moederskoot open, sal heilig vir die Here genoem word; en om die offer te gee volgens wat gesê is in die wet van die Here: 'n paar tortelduiwe of twee jong duiwe. EN daar was 'n man in Jerusalem met die naam van Símeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom. En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie. En hy het deur die Gees in die tempel gekom; en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet
LUKAS 2:22-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe die reinigingstyd soos deur die wet van Moses bepaal, vir hulle verby was, het hulle Hom na Jerusalem toe gebring om Hom tot beskikking van die Here te stel. In die wet van die Here staan immers geskrywe: “Elke eersteling van die manlike geslag moet vir die Here afgesonder word.” Hulle het ook die reinigingsoffer gebring volgens die voorskrif in die wet van die Here, naamlik “'n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.” Daar het destyds 'n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon en het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Deur die Gees gelei, het hy opgegaan na die tempel toe. Toe die ouers die Kindjie Jesus bring om vir Hom die gebruiklike bepaling van die wet na te kom
LUKAS 2:22-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ná afloop van hulle reinigingstyd wat die Wet van Moses voorskryf, het hulle Hom na Jerusalem geneem om Hom aan die Here te wy. Soos daar in die Wet van die Here geskryf staan: “Elke eerstelingseun wat gebore word, moet aan die Here gewy word.” Hulle het ook, soos die Wet van die Here voorskryf, 'n offer gebring: “twee tortelduiwe, of twee jong duiwe” . En kyk, in Jerusalem was daar 'n man met die naam Simeon. Hierdie man was wetsgehoorsaam en toegewyd, en het uitgesien na die herstel van Israel. Die Heilige Gees was met hom. Hy het deur die Heilige Gees 'n openbaring ontvang dat hy nie die dood sou sien voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Gelei deur die Gees, het hy na die tempelterrein gegaan. Toe Jesus se ouers die Kindjie inbring, sodat hulle die gebruiklike voorskrif van die wet oor Hom kon nakom
LUKAS 2:22-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses verby was, het hulle hom na Jerusalem gebring om hom aan die Here voor te stel; (Soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike wat die moederskoot oopmaak, sal aan die Here heilig genoem word;) En om 'n offer te bring volgens wat in die wet van die Here gesê is: 'n paar tortelduiwe of twee jong duiwe. En kyk, daar was 'n man in Jerusalem met die naam van Simeon; en dieselfde man was regverdig en vroom en het gewag op die vertroosting van Israel, en die Heilige Gees was op hom. En dit is aan hom geopenbaar deur die Heilige Gees, dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Here se Christus gesien het nie. En hy het deur die Gees in die tempel gekom, en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring, om vir hom te doen volgens die gebruik van die wet
LUKAS 2:22-27 Die Boodskap (DB)
Toe Maria se reinigingstyd van 40 dae verby was (soos die wet van Moses voorgeskryf het vir vroue wat geboorte gegee het), het sy en Josef vir Jesus Jerusalem toe gevat. Daar het hulle Hom aan God gaan toewy soos die wet dit vereis. In die wet van die Here staan daar immers: “Elke seun wat eerste in ’n huisgesin gebore word, moet aan die Here toegewy word. Hy moet eenkant gesit word vir die Here se diens.” Daar by die tempel het hulle ook die voorgeskrewe offer gebring om vroue weer rein te maak nadat hulle geboorte geskenk het. Volgens die wet van die Here kon arm mense twee tortelduiwe of twee jong duiwe aan die Here offer. Dit het hulle dan ook gedoen. Daar het ’n man in Jerusalem gebly met die naam Simeon. Hy was ’n baie goeie man. Simeon het die wet van Moses streng gehoorsaam. Sy hele lewe lank het hy uitgesien na die koms van die Messias. Die Heilige Gees was by hom. Op ’n dag het die Gees ook vir hom gewys dat hy nie sou doodgaan voordat hy die Messias, die Gestuurde van die Here, gesien het nie. Op ’n dag het die Gees Simeon gelei om na die tempel toe te gaan. Dit was op presies dieselfde tydstip toe Jesus se ouers Hom in die tempel ingebring het om Hom aan God toe te wy.
LUKAS 2:22-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarna was dit tyd vir die reinigingsoffer, soos die wet van Moses ná die geboorte van ’n kind vereis het; daarom het sy ouers Hom na Jerusalem toe gevat om Hom aan die Here te wy. Die wet van die Here sê: “As ’n vrou se eerste kind ’n seun is, moet hy aan die Here gewy word.” Hulle het ’n offer gebring volgens wat die wet van die Here vereis het: “óf ’n paar tortelduiwe óf twee jong duiwe.” Daar was ’n man met die naam Simeon wat in Jerusalem gewoon het. Hy was wetsgetrou en baie toegewyd. Hy was met die Heilige Gees vervul en het gretig uitgesien na Israel se bevryding. Die Heilige Gees het aan hom bekendgemaak dat hy nie sou sterf voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Daardie dag het die Gees hom na die tempel toe gelei. Toe Maria en Josef opdaag om die Kindjie Jesus aan die Here te wy, soos die wet vereis het