LUKAS 18:31-34
LUKAS 18:31-34 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het met die twaalf dissipels gepraat. Hy het vir hulle gesê: “Luister, ons gaan na Jerusalem, en alles wat die profete oor die Seun van die mens geskryf het, sal daar met My gebeur. Die Joodse leiers sal My vir die heidene gee, en die heidene sal My spot en sleg van My praat en op My spoeg en My met 'n sweep slaan en My doodmaak. Maar op die derde dag sal Ek weer lewe.” Die dissipels het niks verstaan wat Jesus gesê het nie. God het hulle nie laat verstaan wat hierdie woorde beteken nie. Hulle kon dit nie verstaan nie.
LUKAS 18:31-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Hy het die twaalf by Hom geneem en vir hulle gesê: Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en alles wat deur die profete geskrywe is, sal aan die Seun van die mens vervul word. Want Hy sal oorgelewer word aan die heidene en bespot en mishandel word, en op Hom sal gespuug word; en nadat hulle Hom gegésel het, sal hulle Hom doodmaak; en op die derde dag sal Hy opstaan. Maar hulle het niks hiervan begryp nie, en hierdie woord was vir hulle bedek, en hulle het nie verstaan wat gesê is nie.
LUKAS 18:31-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het die twaalf opsy geneem en vir hulle gesê: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe, en alles wat die profete oor die Seun van die mens geskryf het, sal daar bewaarheid word. Hy sal uitgelewer word aan die heidene; Hy sal bespot en beledig word; hulle sal op Hom spoeg, Hom gesel en Hom daarna doodmaak. En op die derde dag sal Hy uit die dood opstaan.” Maar van hierdie dinge het hulle niks begryp nie. Die woorde was vir hulle duister, en hulle het nie verstaan waaroor Hy praat nie.
LUKAS 18:31-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het die twaalf opsy geneem en vir hulle gesê: “Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en alles wat deur die profete oor die •Seun van die Mens geskryf is, sal vervul word. Want Hy sal aan die heidene oorgelewer word, Hy sal bespot en beledig word, en daar sal op Hom gespuug word. En nadat hulle Hom gegesel het, sal hulle Hom doodmaak, maar op die derde dag sal Hy opstaan.” Hulle het egter niks hiervan verstaan nie. Die betekenis van hierdie uitspraak was vir hulle verborge, en hulle het nie begryp wat Hy gesê het nie.
LUKAS 18:31-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het hy die twaalf na Hom geneem en vir hulle gesê: Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en alles wat deur die profete geskrywe is aangaande die Seun van die mens, sal volbring word. Want hy sal aan die heidene oorgelewer word, en daar sal bespot en bespot en op hom bespoeg word. En hulle sal hom gésel en hom doodmaak, en op die derde dag sal hy opstaan. En hulle het niks van hierdie dinge verstaan nie, en hierdie woord was vir hulle verborge, en hulle het nie geweet wat gespreek is nie.
LUKAS 18:31-34 Die Boodskap (DB)
Op ’n dag het Jesus die twaalf dissipels eenkant toe geroep. Hy sê toe vir hulle: “Julle weet dat ons op pad is Jerusalem toe. Ek moet soontoe gaan om alles te laat waar word wat daar in die Bybel oor die Seun van die mens geskryf is. Daar in Jerusalem gaan ’n spul ongelowiges My vang. Hulle sal My voor almal spot en beledig en slaan. Uiteindelik sal hulle My ook doodmaak. Maar moenie bekommerd wees nie; die dood is nie sterk genoeg om My vir altyd in sy greep vas te hou nie. Ek sal op die derde dag weer lewendig word.” Die dissipels het egter niks verstaan van wat Jesus vir hulle sê nie. Die tyd was nog nie reg dat hulle dit alles sou verstaan nie.
LUKAS 18:31-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het die twaalf eenkant geneem en vir hulle gesê: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe en alles wat deur die profete opgeteken is oor die Seun van die Mens sal volledig vervul word. Hy sal uitgelewer word aan die nie-Jode en bespot, beledig en ook op gespoeg word. En nadat hulle Hom gegésel het, sal hulle Hom doodmaak. Op die derde dag sal Hy egter weer opstaan.” Hulle het egter niks hiervan verstaan nie. Hierdie verduideliking was vir hulle verberg en hulle het nie begryp wat Hy sê nie.