LUKAS 18

18
Die gelykenis van die weduwee en die regter
1Jesus het vir hulle 'n gelykenis vertel om duidelik te maak dat 'n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. 2Hy het gesê: “In 'n sekere stad was daar 'n regter wat geen eerbied vir God of agting vir 'n mens gehad het nie. 3En in dieselfde stad het 'n weduwee gewoon wat hom herhaaldelik kom vra het: ‘Doen aan my reg in my saak teen my teenparty.’ 4'n Tyd lank wou hy nie, maar later het hy vir homself gesê: Vir God het ek wel geen eerbied nie, en aan 'n mens steur ek my nie, 5maar aangesien hierdie weduwee so aanhou om my lastig te val, sal ek haar in haar regsaak help, anders kom klap sy my op die ou end ook nog.”
6Toe sê die Here: “Hoor wat sê die onregverdige regter. 7Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? 8Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook!
“Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?”
Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar
9Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10“Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was 'n Fariseër en die ander een 'n tollenaar. 11Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. 12Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste.’
13“Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’
14“Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”
Jesus en die kindertjies
(Matt. 19:13-15; Mark. 10:13-16)
15Die mense het ook kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense daaroor geraas. 16Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. 17Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”
Die ryk jongman
(Matt. 19:16-30; Mark. 10:17-31)
18'n Man van aansien het aan Jesus die vraag gestel: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”
19Jesus het geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. 20Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis gee nie, eer jou vader en moeder.”
21Maar hy antwoord: “Al hierdie dinge het ek van my kinderdae af onderhou.”
22Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hom: “Een ding kom jy nog kort: gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”
23Toe hy dit hoor, was hy diep teleurgesteld, want hy was baie ryk.
24Toe Jesus sien dat hy teleurgesteld is, sê Hy: “Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom. 25Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom.”
26Dié wat dit gehoor het, sê toe: “Maar wie kan dan gered word?”
27Daarop antwoord Hy: “Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik.”
28Toe sê Petrus: “Kyk, óns het van ons besittings afgesien en U gevolg.”
29En Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van die koninkryk van God afgesien het van huis of vrou of broers of ouers of kinders nie, 30of hy ontvang in hierdie tyd al baie keer soveel terug, en in die tyd wat kom, die ewige lewe.”
Jesus kondig die derde keer sy dood en opstanding aan
(Matt. 20:17-19; Mark. 10:32-34)
31Jesus het die twaalf opsy geneem en vir hulle gesê: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe, en alles wat die profete oor die Seun van die mens geskryf het, sal daar bewaarheid word. 32Hy sal uitgelewer word aan die heidene; Hy sal bespot en beledig word; hulle sal op Hom spoeg, 33Hom gesel en Hom daarna doodmaak. En op die derde dag sal Hy uit die dood opstaan.”
34Maar van hierdie dinge het hulle niks begryp nie. Die woorde was vir hulle duister, en hulle het nie verstaan waaroor Hy praat nie.
Die blinde man by Jerigo
(Matt. 20:29-34; Mark. 10:46-52)
35Jesus het naby Jerigo gekom. Toe 'n blinde man wat daar langs die pad sit en bedel, 36die groot menigte mense hoor verbyloop, vra hy wat aan die gang is. 37Hulle vertel hom toe: “Jesus van Nasaret gaan hier verby.”
38Toe roep hy uit: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!”
39Die mense wat voor geloop het, het hom beveel om stil te bly, maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U oor my!”
40Jesus gaan toe staan en gee bevel dat hy na Hom toe gebring moet word. Toe hy naby kom, vra Jesus vir hom: 41“Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”
En hy antwoord: “Here, dat ek kan sien.”
42Jesus sê vir hom: “Goed, jy kan sien! Jou geloof het jou gered.”
43En onmiddellik kon hy sien, en hy het Jesus gevolg en God geprys. Ook al die mense wat dit gesien het, het aan God die eer gegee.

Tans Gekies:

LUKAS 18: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid