LUKAS 13:31-35
LUKAS 13:31-35 Bybel vir almal (ABA)
Toe kom party van die Fariseërs by Jesus en hulle sê vir Hom: “Dit sal beter wees as U weggaan van hier, want koning Herodes wil U doodmaak.” Jesus sê toe vir hulle: “Gaan sê vir daardie man hy is onbelangrik. My werk is nou om duiwels uit mense te jaag en mense gesond te maak. Ek sal my werk klaarmaak wanneer Ek wil. Ek weet Ek móét later na Jerusalem gaan, want Jerusalem is die plek waar die mense nog altyd God se profete doodgemaak het. Mense van Jerusalem, julle maak die profete dood, julle gooi die boodskappers van God met klippe dood. Ek wou julle baie maal bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie kom nie. Julle moet nou goed luister: Daar sal niemand in Jerusalem oorbly wat lewe nie. Ek sê vir julle: Julle sal My nie weer sien nie tot daardie dag wanneer julle sal sê: ‘ Prys die Man wat kom, die Here het Hom gestuur om sy werk te kom doen.’ ”
LUKAS 13:31-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN op dieselfde dag het sommige van die Fariseërs na Hom gekom en vir Hom gesê: Gaan weg en vertrek hiervandaan, want Herodes wil U om die lewe bring. En Hy het vir hulle gesê: Gaan vertel daardie jakkals: Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar. Maar Ek moet vandag en môre en die volgende dag verder gaan, want dit kan nie gebeur dat 'n profeet buitekant Jerusalem omkom nie. Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en die wat na jou gestuur is, stenig, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak, soos 'n hen haar kuikens onder die vlerke, en julle wou nie. Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat. Voorwaar Ek sê vir julle dat julle My sekerlik nie sal sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!
LUKAS 13:31-35 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op daardie selfde oomblik het 'n aantal Fariseërs vir Jesus kom sê: “U moet padgee en na 'n ander plek toe gaan, want Herodes wil u doodmaak.” Maar Hy sê vir hulle: “Gaan sê vir daardie jakkals: ‘Kyk, vandag en môre dryf Ek nog bose geeste uit en maak Ek mense gesond, maar op die derde dag sal Ek my werk klaar maak.’ In elk geval moet Ek vandag en môre en oormôre die reis voortsit, want dit is ondenkbaar dat 'n profeet op 'n ander plek as Jerusalem omkom. “Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie! Kyk, nou word julle stad aan julleself oorgelaat. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! ”
LUKAS 13:31-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Juis op dié tydstip het sommige •Fariseërs vir Hom kom sê: “Gaan weg, vertrek hiervandaan, want Herodes wil u doodmaak.” Maar Hy antwoord hulle: “Gaan sê vir daardie jakkals, ‘Kyk, Ek dryf vandag en môre nog demone uit en maak mense gesond, en op die derde dag bereik Ek my doel. Maar Ek moet nog vandag en môre en die volgende dag verder gaan, want dit kan nie gebeur dat 'n profeet buite Jerusalem omkom nie.’ Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle verwoes agtergelaat. Ek sê vir julle, julle sal My beslis nie weer sien nie, totdat die tyd aanbreek dat julle sal sê, ‘Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!’ ”
LUKAS 13:31-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Op dieselfde dag het daar sekere van die Fariseërs gekom en vir Hom gesê: Gaan weg en gaan hiervandaan, want Herodes sal jou doodmaak. En Hy sê vir hulle: Gaan sê vir daardie jakkals: Kyk, Ek dryf duiwels uit, en Ek genees vandag en môre, en op die derde dag sal Ek volmaak wees. Maar ek moet vandag en môre en die volgende dag wandel, want dit kan nie wees dat 'n profeet uit Jerusalem omkom nie. O Jerusalem, Jerusalem, wat die profete doodmaak en stenig die wat na jou gestuur is; hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar geslagte onder haar vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat; en voorwaar Ek sê vir julle, julle sal My nie sien nie, totdat die tyd kom wanneer julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here.
LUKAS 13:31-35 Die Boodskap (DB)
Later daardie dag het ’n paar Fariseërs wat simpatiek teenoor Jesus gestaan het vir Hom kom sê: “U moet dadelik padgee. Ons het gehoor dat Herodes, die heerser oor Galilea, op u spoor is. Hy wil U doodmaak.” Jesus sê toe: “Gaan sê julle vir daardie skelm dat Ek sal aanhou om siek mense gesond te maak en om duiwels uit te dryf. Ek sal dit vandag doen, en môre, en tot op die derde dag. Maar intussen moet Ek voortgaan met my reis na Jerusalem. Die volgende drie dae moet Ek gebruik om daar uit te kom. Want sê nou Herodes doen wat hy sê, dan gaan Ek nog buitekant Jerusalem dood. En dit mag nie! God se plan is dat Ek daar in die stad moet doodgaan. Dit is nie reg dat sy boodskapper buite die stad sterf nie. “Maar terwyl Ek oor Jerusalem praat. Vir julle almal wat daar bly, wag daar bitter swaar tye. Kyk net wat vang julle aan: julle gooi die boodskappers wat God na julle toe stuur met klippe dood! Ek wou julle so graag omhels en julle Vriend wees; glo My, Ek wou. Ek voel oor julle soos ’n hen oor haar kuikens. Maar julle wou niks weet nie. Julle het klaar die rug vir My gedraai. Daarom sal daar van julle niks oorbly nie. Jerusalem gaan ’n spookdorp word. “Ek het niks meer om vir julle te sê nie. Maar weet julle, daar kom ’n dag dat julle gedwing sal word om uit te roep: ‘Hy is toe al die tyd die Een wat van die Here af kom. Loof sy Naam!’”
LUKAS 13:31-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
’n Paar minute later het sommige Fariseërs vir Hom gesê: “Gee pad hier as jy wil lewe, want Herodes Antipas wil jou doodmaak!” Jesus het geantwoord: “Gaan sê vir daardie jakkals dat Ek sal aanhou om vandag en môre bose geeste uit te dryf en genesingswonders te doen, en op die derde dag sal Ek my doel bereik. Ja, vandag, môre, en die volgende dag moet Ek voortgaan op my reis. Want dit sal ondenkbaar wees dat ’n profeet van God op ’n ander plek as in Jerusalem doodgemaak word! “O Jerusalem, Jerusalem, stad wat die profete doodmaak en God se boodskappers stenig! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen wat haar kuikens onder haar vlerke beskerm, maar julle wou My nie toelaat nie. En kyk, nou word julle huis vir julle leeg agtergelaat. En julle sal My nie weer sien nie totdat julle sal sê: ‘Geseënd is die een wat kom in die Naam van die Here!’”