Lukas 13

13
Oproep tot bekering
1Juis in daardie tyd was daar mense teenwoordig wat Hom vertel het van die Galileërs wie se bloed •Pilatus met dié van hulle offerdiere gemeng het. 2Hy het hulle geantwoord en gesê: “Dink julle daardie Galileërs was groter sondaars as al die ander Galileërs omdat hulle hierdie dinge gely het? 3Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom! 4Of daardie agttien wat dood is toe die toring van Siloam op hulle geval het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die inwoners van Jerusalem? 5Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. ”
Gelykenis van die vyeboom
6Hy het toe die volgende gelykenis vertel: “Iemand het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Hy het vrugte daaraan gaan soek en niks gevind nie. 7Toe het hy vir die tuinier gesê, ‘Kyk, dis al drie jaar wat ek vrugte aan hierdie vyeboom kom soek en niks kry nie. Kap dit uit. Waarom moet dit die grond langer uitput?’ 8Maar hy antwoord en sê vir hom, ‘Meneer, laat dit nog hierdie jaar bly staan, totdat ek rondom gespit en mis gegee het. 9En as dit dan volgende jaar vrugte dra, goed. Maar as dit nie gebeur nie, kan u dit uitkap.’ ”
Genesing op die Sabbat
10Op die Sabbat het Hy in een van die •sinagoges onderrig gegee. 11En kyk, daar was 'n vrou wat al agttien jaar lank gely het onder 'n gees wat haar siek gemaak het. Sy was kromgetrek, en kon glad nie regop kom nie. 12Toe Jesus haar sien, het Hy haar nader geroep en vir haar gesê: “Mevrou, jy is van jou siekte verlos.” 13Daarna het Hy sy hande op haar gelê, en sy het dadelik regop gekom en God geloof. 14Maar die leier van die sinagoge was verontwaardig omdat Jesus iemand op die Sabbat gesond gemaak het, en hy het vir die skare gesê: “Daar is ses dae waarop 'n mens moet werk. Kom dan op daardie dae om genees te word, en nie op die Sabbat nie.” 15Maar die Here het hom geantwoord: “Skynheiliges! Maak elkeen van julle nie op die Sabbat sy os of sy donkie los van die krip en lei hom uit om te drink nie? 16En hierdie vrou, 'n dogter van Abraham, vir wie Satan al agttien jaar lank gevange hou, moes sy dan nie op die Sabbat van hierdie boeie verlos word nie?” 17Toe Hy dit gesê het, het al sy teenstanders beskaamd gestaan, maar die hele skare was verheug oor al die wonderlike dinge wat deur Hom verrig is.
Gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg
(Matt 13:31-33; Mark 4:30-32)
18Daarop het Hy gesê: “Waaraan is die •koninkryk van God gelyk, en waarmee sal Ek dit vergelyk? 19Dit is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin gesaai het. Dit het gegroei en 'n boom geword, en die voëls van die hemel het in sy takke kom nesmaak. ” 20Hy vra toe weer: “Waarmee sal Ek die koninkryk van God vergelyk? 21Dit is soos suurdeeg wat 'n vrou geneem en in drie saton koringmeel ingewerk het totdat dit heeltemal deurgesuur is.”
Die smal deur
(Matt 7:13-14,21-23)
22Onderweg na Jerusalem het Hy deur stede en dorpe gereis en die mense geleer. 23Iemand het vir Hom gevra: “Meneer, is diegene wat verlos word, min?” En Hy het vir hulle gesê: 24“Beywer julle om by die smal deur in te gaan, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie. 25As die huisbaas eers opgestaan en die deur gaan sluit het, en julle staan buite en klop aan die deur en roep, ‘Meneer, maak vir ons oop!’ sal hy julle antwoord, ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.’ 26Dan sal julle begin sê, ‘Ons het saam met u geëet en gedrink, en u het in ons strate onderrig gegee.’ 27Maar hy sal vir julle sê, ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Gaan weg van my af, julle almal wat onreg pleeg. ’ 28 Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete in die •koninkryk van God sien, maar julle uitgewerp word na buite. 29 Mense sal uit die ooste en die weste, die noorde en die suide kom aanleun om te eet in die koninkryk van God. 30 En kyk, wie laaste is, sal eerste wees, en wie eerste is, sal laaste wees.”
Jesus se klag oor Jerusalem
(Matt 23:37-39)
31Juis op dié tydstip het sommige •Fariseërs vir Hom kom sê: “Gaan weg, vertrek hiervandaan, want Herodes wil u doodmaak.” 32Maar Hy antwoord hulle: “Gaan sê vir daardie jakkals, ‘Kyk, Ek dryf vandag en môre nog demone uit en maak mense gesond, en op die derde dag bereik Ek my doel. 33Maar Ek moet nog vandag en môre en die volgende dag verder gaan, want dit kan nie gebeur dat 'n profeet buite Jerusalem omkom nie.’ 34 Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie! 35Kyk, julle huis word vir julle verwoes agtergelaat. Ek sê vir julle, julle sal My beslis nie weer sien nie, totdat die tyd aanbreek dat julle sal sê,
‘Geseënd is Hy wat kom
in die Naam van die Here!’ ”

Tans Gekies:

Lukas 13: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid