LUKAS 13:1-5
LUKAS 13:1-5 Die Boodskap (DB)
Die mense het vir Jesus kom vertel van ’n verskriklike ding wat Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur in Judea, aangevang het. Hy het ’n klomp mense uit Galilea doodgemaak terwyl hulle in Jerusalem ’n offer aan die Here wou bring. “Dié mense moes seker groot sondaars gewees het. Dis hoekom God dit met hulle laat gebeur het,” het hulle tussendeur bygevoeg. “Dink julle regtig daardie mense was groter sondaars as al die ander mense wat in Galilea bly?” het Jesus dadelik gevra. “Wel, as julle so dink, is julle verkeerd. Maar wag, julle spekuleer so lekker oor ander mense se sondes. Kyk eerder ’n slag na julleself. Julle is reguit op pad na die doderyk toe. Kom dadelik tot bekering. Anders is julle binnekort dood, net soos daardie Galileërs, en dan is dit vir altyd te laat. “Julle het dalk ook die nuus gehoor van die Siloamtoring wat in Jerusalem omgeval het. Agtien mense is in daardie ramp dood. Nou sal julle seker ook sê dat hulle groter sondaars was as al die ander inwoners van Jerusalem. Daarom het God hulle nou teruggekry. Ek sê weer ’n keer: God werk nie so nie. Hou op om allerhande uitsprake oor ander se lewe te maak. Kry liewer julle eie lewe in orde. Binnekort is julle ook dood. Dan is dit vir altyd te laat om julle saak met God reg te maak.”
LUKAS 13:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Toe Jesus vir die mense gesê het dit is belangrik dat hulle moet lewe soos God wil hê, het party van hulle vir Hom vertel dat Pilatus 'n klomp mense in Galilea laat doodmaak het terwyl hulle offers gebring het vir God. Jesus het vir hulle gevra: “Hoekom het hierdie mense van Galilea so wreed gesterf? Dink julle hulle het meer sonde gedoen as al die ander mense in Galilea? Nee, Ek sê vir julle: Hulle het nie meer sonde gedoen as die ander mense nie. Maar as julle nie verander en lewe soos God wil hê nie, dan sal julle ook sterf. En onthou julle daardie 18 mense wat almal gesterf het toe die toring van Siloam op hulle geval het? Dink julle hulle het meer verkeerd gedoen as al die ander mense wat in Jerusalem woon? Nee, Ek sê vir julle: Hulle het nie meer verkeerd gedoen nie. Maar as julle nie verander en lewe soos God wil hê nie, dan sal julle ook sterf.”
LUKAS 13:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van die Galiléërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galiléërs groter sondaars was as al die Galiléërs, omdat hulle sulke dinge gely het? Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het — dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon? Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.
LUKAS 13:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Juis in daardie tyd het mense vir Jesus kom vertel van die Galileërs vir wie Pilatus laat doodmaak het waar hulle besig was om hulle offerdiere te slag. Toe antwoord Jesus hulle: “Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die ander Galileërs omdat dit met hulle gebeur het? Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom! Of daardie agtien wat dood is toe die toring van Siloam op hulle ineengestort het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die ander inwoners van Jerusalem? Nee, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom.”
LUKAS 13:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Juis in daardie tyd was daar mense teenwoordig wat Hom vertel het van die Galileërs wie se bloed •Pilatus met dié van hulle offerdiere gemeng het. Hy het hulle geantwoord en gesê: “Dink julle daardie Galileërs was groter sondaars as al die ander Galileërs omdat hulle hierdie dinge gely het? Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom! Of daardie agttien wat dood is toe die toring van Siloam op hulle geval het, dink julle dat hulle skuldiger was as al die inwoners van Jerusalem? Beslis nie, sê Ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. ”
LUKAS 13:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daar was in daardie tyd sommige teenwoordig wat Hom vertel het van die Galileërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galileërs sondaars was bo al die Galileërs, omdat hulle sulke dinge gely het? Ek sê vir julle: Nee, maar as julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. Of daardie agtien op wie die toring in Siloam geval en hulle gedood het, dink julle dat hulle sondaars was bo al die mense wat in Jerusalem gewoon het? Ek sê vir julle: Nee, maar as julle nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.
LUKAS 13:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Omtrent hierdie tyd is Jesus meegedeel dat Pilatus ’n aantal mense van Galilea laat doodmaak het terwyl hulle offers gebring het by die tempel in Jerusalem. “Dink julle daardie Galileërs was groter sondaars as die ander mense van Galilea?” het Hy gevra. “Is dit waarom hulle geboet het? Glad nie! En julle sal ook omkom tensy julle tot inkeer kom. En wat van die agtien mans wat gesterf het toe die toring van Siloam op hulle geval het? Was hulle die ergste sondaars in Jerusalem? Nee, en Ek sê weer vir julle, as julle nie tot inkeer kom nie, sal julle almal ook net so omkom.”