LUKAS 11:31
LUKAS 11:31 Bybel vir almal (ABA)
Daardie dag wanneer God die mense sal oordeel, dan sal die koningin van die Suide ook weer lewe en sy sal by die mense wees wat nou lewe. Sy sal sê julle doen verkeerd en julle is skuldig, en God moet julle straf. Sy het baie ver uit haar land gekom om te kom luister na die wysheid van koning Salomo. En Ek sê vir julle, hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as koning Salomo.
LUKAS 11:31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met die manne van hierdie geslag en hulle veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en — meer as Salomo is hier!
LUKAS 11:31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!
LUKAS 11:31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die koningin van die Suide sal in die oordeel saam met die mense van hierdie geslag opgewek word en hulle veroordeel, want sy het van die eindes van die aarde gekom om die wysheid van Salomo aan te hoor, en waarlik, wat hier is, is groter as Salomo.
LUKAS 11:31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met die manne van hierdie geslag en hulle veroordeel; want sy het van die uithoeke van die aarde gekom om die wysheid van Salomo te hoor; en kyk, hier is 'n groter as Salomo.
LUKAS 11:31 Die Boodskap (DB)
“Maar gaan leer nog iets by Jona. Die mense van Nineve vir wie hy gepreek het, het na sy woorde geluister en hulle bekeer. Net soos Jona vir hulle ’n teken van God af was, net so is Ek, die Seun van die mens, die Teken van God vir hierdie sondige geslag. “Gaan kyk ook na die koningin van die suide wat op ’n dag na koning Salomo toe gekom het. Sy het baie ver gereis om sy wysheid te kom aanhoor. Weet julle, selfs sy sal op die laaste dag opstaan en as regter optree oor die sondige mense van hierdie geslag. Maar julle besef nie dat hier voor julle Iemand staan wat duisend maal belangriker as Salomo is nie. As die koningin van die suide bereid was om na Salomo te luister, hoeveel te meer moet julle dan nie na my woorde luister nie?
LUKAS 11:31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Die koningin van Skeba sal in die oordeelsdag opstaan en hierdie geslag veroordeel, want sy het van ’n ver land gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En nou is Iemand groter as Salomo hier – en hierdie geslag weier om na Hom te luister.