LEVITIKUS 6:1-30
LEVITIKUS 6:1-30 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer iemand vir 'n ander Israeliet iets gegee het om vir hom te bêre of wanneer hy dit vir hom geleen het, en die ander Israeliet sê hy het dit nie, dan doen hy sonde en hy is ontrou aan die Here. Hy doen ook sonde wanneer hy 'n ander Israeliet se goed vir homself vat, of wanneer hy die ander Israeliet slaan en seermaak en sy goed vat, of wanneer iets van 'n ander Israeliet weggeraak het, en hy kry dit, maar hy sê nie hy het dit gekry nie. Hy sê die Here is die getuie, maar hy lieg. Wanneer iemand een van hierdie dinge doen, dan het hy sonde gedoen. Hy het sonde gedoen en hy is skuldig, hy moet die goed teruggee wat hy gevat het of wat iemand by hom gebêre het, hy moet die goed teruggee wat weggeraak het en wat hy gekry het, hy moet alles teruggee waaroor hy gelieg het en gesê het die Here is die getuie. Wanneer mense sê dat hy dit gedoen het, en hy is skuldig, dan moet hy alles teruggee en hy moet ook nog een vyfde daarby sit. Hy moet ook vir die Here 'n skuld-offer gee. Hy moet 'n gesonde skaap-ram vir die priester bring om 'n skuld-offer te wees. Die priester moet sê hoe groot die ram moet wees. Die priester moet dan vir hom versoening doen, en die Here sal hom alles vergewe wat hy verkeerd gedoen het.” Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir Aäron en sy seuns sê wat hulle met die brand-offer moet doen. Die brand-offer moet die hele nag deur op die vuurmaakplek op die altaar bly tot die volgende oggend. Die vuur moet aanhou brand. Die volgende oggend moet die priester sy linne-klere en sy linne-broek aantrek. Hy moet die vet optel wat oorgebly het toe die brand-offer op die altaar gebrand het, en hy moet die vet langs die altaar sit. Dan moet hy sy klere uittrek en ander klere aantrek en hy moet die vet na 'n rein plek buite die kamp bring. Die vuur op die altaar moet aanhou brand, dit mag nie doodgaan nie. Die priester moet elke oggend hout op die vuur sit. Hy moet die brand-offer op die vuur sit en hy moet die vet van die ete-offer in die vuur verbrand. Daar moet altyd vuur wees op die altaar, dit mag nie doodgaan nie.” “En dit is wat die priesters met die koring-offer moet doen: 'n Priester van die nageslag van Aäron moet die offer naby die altaar bring voor die Here, en hy moet 'n handvol van die meel en die olyf-olie neem en ook al die wierook wat bo-op die koring-offer is. Dan moet hy dit verbrand. Die handvol meel is die teken van die hele offer. Dit ruik lekker vir die Here. Aäron en sy seuns moet die meel eet wat oorbly. Hulle moet ongesuurde brood daarvan bak en hulle moet dit op 'n gewyde plek eet, op die oop stuk grond by die tempel. Hulle mag nie die brood met suurdeeg bak nie. Dit is wat die priesters moet kry van die vuur-offers. Dit is hoog-gewyd, soos die sonde-offer en die skuld-offer. Elke man en seun van die nageslag van Aäron mag hierdie brood eet, hy en sy nageslag. Dit kom uit die vuur-offers vir die Here. Alles wat daaraan raak, word gewyd.” Die Here het vir Moses gesê: “Op die dag wanneer jy vir Aäron salf, moet hy en sy seuns hierdie offer vir die Here gee: een tiende van 'n efa van die beste meel. Hulle moet altyd hierdie offer bring, die helfte van die offer in die oggend en die helfte van die offer in die aand. Hy moet die meel met olyf-olie meng en hy moet dit op 'n bakplaat bak. Dan moet hy die brood in stukkies breek en hy moet dit vir die Here gee. Dit is 'n koring-offer wat lekker ruik vir die Here. Jy moet 'n priester van die nageslag van Aäron salf om hoëpriester te wees. Hy moet altyd die koring-offer offer. Die offer behoort aan die Here, dit moet heeltemal verbrand word. Elke koring-offer van 'n priester moet heeltemal verbrand word. Hulle mag dit nie eet nie.” Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir Aäron en sy seuns sê wat hulle met die sonde-offer moet doen. Hulle moet die dier wat die sonde-offer moet wees, voor die Here slag op dieselfde plek waar hulle die diere vir die brand-offer slag. Die sonde-offer is hoog-gewyd. Die priester wat die dier offer om 'n sonde-offer te wees, moet die vleis eet op 'n gewyde plek, op die oop stuk grond by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Elkeen wat aan die dier se vleis raak, word gewyd. Wanneer van die dier se bloed op iemand se klere spat, dan moet jy die klere op 'n gewyde plek was. As jy die vleis gekook het in 'n kleipot, dan moet jy die pot breek. As jy dit in 'n brons pot gekook het, dan moet jy die pot skuur en was. 'n Priester, 'n man of 'n seun, mag van die vleis eet. Die vleis is hoog-gewyd. Maar wanneer julle die bloed van 'n sonde-offer in die tent bring waar die Here aan die Israeliete verskyn, en julle gebruik daardie bloed om versoening te doen in die tempel, dan mag julle nie die vleis eet nie, julle moet dit verbrand.”
LEVITIKUS 6:1-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: As iemand sondig en ontrou handel teen die HERE deurdat hy teenoor sy naaste ontken dat iets aan hom toevertrou of as pand gegee is of deur hom geroof is, of dat hy sy naaste iets afgepers het, of dat hy iets gekry het wat weg was, en dit ontken; of dat hy vals sweer ten opsigte van enigiets wat 'n mens kan doen om hom daarmee te besondig — as hy dan sondig en skuldig word, moet hy teruggee wat hy deur roof ontvreem of deur afpersing verkry het, of wat aan hom toevertrou was, of verlore goed wat hy gevind het; of alles waaroor hy vals gesweer het: hy moet daar ten volle vergoeding voor gee en nog die vyfde deel daarvan byvoeg; aan hom aan wie dit behoort, moet hy dit gee op die dag as hy boete doen. En hy moet van die kleinvee, na jou skatting, as boete aan die HERE 'n ram sonder gebrek as skuldoffer na die priester bring. Dan moet die priester vir hom versoening doen voor die aangesig van die HERE, en dit sal hom vergewe word — enigiets wat 'n mens doen, sodat hy daardeur skuldig word. VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: Gee bevel aan Aäron en sy seuns en sê: Dit is die wet van die brandoffer: Dit, die brandoffer, moet op sy vuurherd op die altaar die hele nag lank tot die môre toe bly, en die altaarvuur moet daardeur aan die brand gehou word. En die priester moet sy linnekleed aantrek, en die linnebroek moet hy oor sy vlees aantrek; dan moet hy die as wegneem waartoe die vuur die brandoffer op die altaar verteer het, en dit langs die altaar uitgooi. Daarna moet hy sy klere uittrek en ander klere aantrek, en die as buitekant die laer op 'n rein plek uitbring. En die vuur op die altaar moet daardeur aan die brand gehou word, dit mag nie doodgaan nie; maar die priester moet elke môre daaroor hout aan die brand steek en die brandoffer daaroor reglê en die stukke vet van die dankoffers daaroor aan die brand steek. Vuur moet gedurigdeur op die altaar aan die brand gehou word; dit mag nie doodgaan nie. En dit is die wet van die spysoffer: Die seuns van Aäron moet dit voor die aangesig van die HERE voor die altaar bring, en een moet daarvan 'n handvol neem, van die spysoffer se fynmeel met die olie, en al die wierook wat op die spysoffer is, en hy moet op die altaar die gedenkoffer daarvan aan die brand steek as lieflike geur vir die HERE. En wat daarvan oorbly, moet Aäron en sy seuns eet; ongesuurd moet dit geëet word op 'n heilige plek; in die voorhof van die tent van samekoms moet hulle dit eet. Dit mag nie gesuurd gebak word nie; as hulle deel het Ek dit van my vuuroffers gegee. Hoogheilig is dit soos die sondoffer en die skuldoffer. Almal wat manlik is onder die seuns van Aäron, mag dit eet. Dit is 'n ewige insetting vir julle geslagte uit die vuuroffers van die HERE. Alles wat daaraan raak, word heilig. Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: Dit is die offer van Aäron en sy seuns wat hulle aan die HERE moet bring op die dag as hy gesalf word: die tiende van 'n efa fynmeel as voortdurende spysoffer; die helfte daarvan in die môre en die helfte in die aand. Dit moet op 'n plaat met olie berei word; deurmekaargeroer moet jy dit bring; in gebakte brokkies moet jy die spysoffer bring as lieflike geur vir die HERE. Ook moet die priester wat uit sy seuns in sy plek gesalf word, dit berei, as 'n ewige insetting. Dit moet geheel en al vir die HERE aan die brand gesteek word. So moet dan elke spysoffer van 'n priester 'n voloffer wees; dit mag nie geëet word nie. Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: Spreek met Aäron en sy seuns en sê: Dit is die wet van die sondoffer: Op die plek waar die brandoffer geslag word, moet die sondoffer voor die aangesig van die HERE geslag word. Dit is hoogheilig. Die priester wat dit as sondoffer bring, moet dit eet; op 'n heilige plek moet dit geëet word, in die voorhof van die tent van samekoms. Alles wat aan die vleis daarvan raak, word heilig; en as daar van die bloed op 'n kledingstuk spat, moet jy die stuk waar dit op spat, op 'n heilige plek was. En 'n erdepot waar dit in gekook is, moet stukkend gebreek word; maar as dit in 'n koperpot gekook is, moet dit geskuur en met water afgespoel word. Almal wat manlik is onder die priesters, mag dit eet; dit is hoogheilig. Maar elke sondoffer waarvan 'n deel van die bloed in die tent van samekoms gebring word, om in die heiligdom versoening te doen, mag nie geëet word nie; dit moet met vuur verbrand word.
LEVITIKUS 6:1-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het vir Moses gesê: “Dit kan gebeur dat iemand sondig en troueloos handel teen die Here deurdat hy sy volksgenoot bedrieg met iets wat in sy bewaring gegee of aan hom geleen is, of sy volksgenoot beroof of hom te kort doen. Of hy kry dalk iets wat weggeraak het, maar ontken dit en lê 'n vals eed af oor enige saak waarin 'n mens in dié opsig sou kon sondig. As hy so gesondig en hom skuldig gemaak het, moet hy teruggee wat hy geroof het of waarmee hy iemand te kort gedoen het of wat in sy bewaring gegee was of wat weggeraak het en deur hom gevind is, of wat ook al waaroor hy 'n vals eed afgelê het. Op die dag dat sy skuld bekend word, moet hy alles terugbetaal aan die persoon aan wie dit toekom, en hy moet nog 'n vyfde bysit. As skuldoffer bring hy vir die Here 'n ram sonder liggaamsgebrek uit die kleinveetrop na die priester toe, volgens die vasgestelde waarde, en die priester doen voor die Here versoening vir die skuldige, en sy sonde word hom vergewe, hoe hy hom ook al skuldig gemaak het.” Die Here het vir Moses gesê: “Gee aan Aäron en sy seuns die volgende opdrag: Die reëling oor die brandoffer is soos volg, die brandoffer naamlik wat die hele nag deur tot die môre toe op die vuurmaakplek op die altaar is terwyl die vuur aan die brand gehou word: die priester trek sy linnekleed en linnebroek aan, en tel die vet op wat uitgebraai het toe die vuur die brandoffer op die altaar verteer het, en sit dit langs die altaar. Hy trek sy klere uit en trek ander klere aan en bring die vet buite die kamp na 'n rein plek toe. Die vuur op die altaar word aan die brand gehou; dit mag nie doodgaan nie. Die priester pak elke môre hout op die vuur, lê die brandoffer daarop en verbrand op die altaar die vet van die maaltydoffers. Die vuur moet aanhou brand op die altaar; dit mag nie doodgaan nie.” “Die reëlings oor die graanoffer is soos volg: een van Aäron se seuns bied dit vir die Here aan voor die altaar. Hy vat daaruit 'n handvol meel en olie en al die wierook bo-op die graanoffer en verbrand dit op die altaar. Die simbool van die hele offer word aanvaar deur die Here. Aäron en sy seuns eet die oorblywende deel. Daar kom nie suurdeeg by nie. Hulle eet dit op die gewyde plek, in die voorhof van die tent van ontmoeting. Dit word gebak, maar nie met suurdeeg nie. Dit is hulle deel wat Ek hulle uit my vuuroffer gee. Dit is 'n besondere gewyde gawe, net soos die sondeoffer en die skuldoffer. Enige van die manlike nasate van Aäron mag daarvan eet. Dit is 'n vaste instelling vir julle nageslag met betrekking tot die vuuroffers van die Here. Elkeen wat daaraan raak, moet 'n gewyde wees.” Die Here het vir Moses gesê: “Aäron en elkeen wat hom opvolg, moet op die dag van sy salwing die volgende offergawe vir die Here aanbied: twee kilogram meel as graanoffer, die helfte in die môre en die helfte in die aand. Dit is 'n blywende voorskrif. Die offergawe word met olie aangemaak op 'n bakplaat en die mengsel word as graanoffer in stukkies aangebied. Dit is aanvaarbaar vir die Here. Die gesalfde priester wat uit die seuns van Aäron in sy plek gekom het, doen dit. Dit is 'n vaste instelling vir die Here. Die offer word heeltemal verbrand. Elke graanoffer van dié priester word heeltemal verbrand. Dit word nie geëet nie.” Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir Aäron en sy seuns: Die reëling vir die sondeoffer is soos volg: die sondeofferdier word in die teenwoordigheid van die Here geslag op dieselfde plek as die brandofferdier. Dit is 'n besondere gewyde gawe. Die priester wat die sondeoffer hanteer, eet dit. Hy eet dit op die gewyde plek, in die voorhof van die tent van ontmoeting. Elkeen wat aan die vleis raak, moet 'n gewyde wees. As daar van die bloed op iemand se klere spat, moet die deel waarop die bloed gespat het, in die gewyde plek gewas word. Die kleipot waarin die vleis gekook is, word gebreek, en as dit in 'n bronspot gekook is, moet die pot geskuur en met water afgespoel word. Enige manlike persoon onder die priesters eet van die sondeoffer. Dit is 'n besondere gewyde gawe. 'n Sondeofferdier waarvan bloed in die tent van ontmoeting gebring word om daarmee in die heiligdom versoening te doen, word egter nie geëet nie. Dit word verbrand.”
LEVITIKUS 6:1-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Wanneer iemand sondig en teen die HERE oortree deurdat hy teenoor 'n volksgenoot ontken dat iets aan hom in bewaring gegee of aan hom toevertrou is, of dat hy sy volksgenoot beroof of afgepers het, of wanneer hy verlore goedere gevind het, dit ontken en vals sweer oor enige van die dinge wat mense gewoonlik doen en daardeur sondig, dan moet hy, wanneer hy op hierdie manier gesondig het en skuldig is, teruggee wat hy geroof of afgepers het of wat aan hom in bewaring gegee is of die verlore goedere wat hy gevind het of enigiets waaroor hy vals gesweer het. Hy moet die waarde daarvan ten volle betaal en 'n vyfde daarby voeg. Op die dag van sy skulderkenning moet hy dit onverwyld betaal aan wie dit toekom. “ Sy •hersteloffer vir die HERE moet hy na die priester toe neem: 'n ram sonder gebrek uit die kleinvee en met die loskoopwaarde van 'n hersteloffer. Die priester moet vir hom versoening doen voor die HERE en hy sal vergewe word vir enige van hierdie dinge wat hy gedoen en skuldig geword het.” Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Gee vir Aäron en sy seuns die volgende opdrag, ‘Dit is die voorskrifte vir die •brandoffer: Die brandoffer moet dwarsdeur die nag tot die volgende oggend op die vuurmaakplek op die altaar bly. Die altaar se vuur moet in die vuurmaakplek op die altaar aan die brand gehou word. Die priester moet sy linnekleed aantrek en ook 'n linnebroek oor sy onderlyf aanhê. Hy moet die vetterige as van die brandoffer wat deur die vuur op die altaar verteer is, opskep en dit langs die altaar neersit. Daarna moet hy sy klere uittrek en ander klere aantrek. Hy moet die vetterige as na 'n rein plek buite die kamp neem. Die vuur op die altaar moet aan die brand gehou word; dit mag nie uitbrand nie. Die priester moet elke môre hout op die vuur pak, die brandoffer daarop rangskik en die stukke vet van die •maaltydoffer daarop verbrand. Die vuur op die altaar moet voortdurend aan die brand gehou word en mag nie uitbrand nie. “ ‘En dit is die voorskrifte vir die •graanoffer: Die seuns van Aäron moet dit na die voorkant van die altaar voor die HERE bring. Een van hulle moet 'n handvol van die graanoffer se gesifte meel en olie neem, asook al die wierook wat op die graanoffer lê. Hy moet die simboliese offer vir die HERE op die altaar verbrand as 'n aangename geur. Wat daarvan oorbly, mag Aäron en sy seuns eet. Dit moet ongesuurd wees en op 'n heilige plek geëet word; in die voorhof van die Tent van Ontmoeting moet hulle dit eet. Dit mag nie met suurdeeg gebak word nie. Ek het dit gegee as hulle deel van die offergawes aan My. Dit is 'n besonder heilige gawe, soos die •reinigingsoffer en die hersteloffer. Enige manlike nasaat van Aäron mag dit eet. Dit is die deel uit die offergawes vir die HERE wat julle nageslag altyd moet kry. Alles wat daarmee in aanraking kom, is heilig.’ ” Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Dit is die offer wat Aäron en sy seuns vir die HERE moet bring vanaf die dag dat hy gesalf is: 'n tiende van 'n efa gesifte meel as 'n voortdurende graanoffer, die een helfte soggens en die ander helfte saans. Dit moet op 'n bakplaat voorberei word, deurgeknie met olyfolie. Jy moet dit in gebreekte stukkies as 'n graanoffer naderbring. Jy moet dit aanbied as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die HERE. Die priester uit die nageslag van Aäron wat in sy plek gesalf is, moet dit voorberei. Dit is die deel wat die HERE altyd moet kry. Met vuur moet dit verbrand word. Elke graanoffer van 'n priester moet 'n volledige offer wees; dit mag nie geëet word nie.” Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “Praat met Aäron en sy seuns en sê, ‘Dit is die voorskrifte vir die reinigingsoffer: Op die plek waar die brandoffer voor die HERE keelaf gesny word, moet die reinigingsoffer ook keelaf gesny word. Dit is besonder heilig. Die priester wat die reinigingsoffer hanteer, moet dit eet; op 'n heilige plek, in die voorhof van die Tent van Ontmoeting, moet dit geëet word. Alles wat aan die offervleis raak, is heilig. As van die bloed daarvan op 'n kledingstuk spat, moet jy die kledingstuk waarop dit gespat het, in 'n rein plek afspoel. Die kleipot waarin die offer gekook is, moet gebreek word, maar as dit in 'n koperpot gekook is, moet dit geskuur en met water gewas word. Enige manlike persoon uit die priesterfamilie mag daarvan eet. Dit is besonder heilig. Maar geen reinigingsoffer mag geëet word as van die bloed daarvan in die Tent van Ontmoeting ingeneem word om in die heiligdom versoening te doen nie. Dit moet met vuur verbrand word.
LEVITIKUS 6:1-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die HERE het met Moses gespreek en gesê: As 'n siel sondig en 'n oortreding teen die HERE pleeg en vir sy naaste lieg in wat aan hom oorgegee is om te bewaar, of in gemeenskap, of in iets wat met geweld weggeneem is, of sy naaste bedrieg het; of het gevind wat verlore was, en daaroor lieg en vals sweer; in al hierdie dinge wat 'n mens doen deur daarin te sondig: Dan sal dit wees, omdat hy gesondig het en skuldig is, dat hy moet teruggee wat hy met geweld weggeneem het, of wat hy bedrieglik gekry het, of wat hom oorgegee is om te bewaar, of die verlore ding wat hy gevind het. Of alles waaroor hy vals gesweer het; hy moet dit ook in die hoofsaak teruggee en nog 'n vyfde deel daarby voeg en dit gee aan hom aan wie dit toekom, op die dag van sy skuldoffer. En hy moet sy skuldoffer aan die HERE, 'n ram sonder gebrek uit die kleinvee, volgens jou skatting, as skuldoffer aan die priester bring. En die priester moet vir hom versoening doen voor die aangesig van die HERE, en dit sal hom vergewe word vir enigiets van alles wat hy deur oortreding daarteen gedoen het. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Gee bevel aan Aäron en sy seuns en sê: Dit is die wet van die brandoffer: Dit is die brandoffer vanweë die brand op die altaar die hele nag tot die môre toe, en die vuur van die altaar moet daarop brand. En die priester moet sy linnekleed aantrek en sy linnebroeke moet hy oor sy vlees aantrek, en die as wat die vuur saam met die brandoffer op die altaar verteer het, opneem en dit langs die altaar neersit. En hy moet sy klere uittrek en ander klere aantrek en die as buitekant die laer na 'n rein plek uitbring. En die vuur op die altaar moet daarin brand; dit mag nie uitgeblus word nie; en die priester moet elke môre hout daarop aan die brand steek en die brandoffer daarop in orde lê; en hy moet die vet van die dankoffers daarop aan die brand steek. Die vuur sal altyd op die altaar brand; dit sal nooit uitgaan nie. En dit is die wet van die spysoffer: die seuns van Aäron moet dit voor die aangesig van die HERE berei, voor die altaar. En hy moet sy handvol daarvan neem, van die meel van die spysoffer en van die olie daarvan, en al die wierook wat op die spysoffer is, en hy moet dit op die altaar aan die brand steek as lieflike geur, naamlik die gedenkteken van dit, aan die HERE. En wat daarvan oorbly, moet Aäron en sy seuns eet; saam met ongesuurde brode moet dit in die heiligdom geëet word; in die voorhof van die tent van samekoms moet hulle dit eet. Dit mag nie met suurdeeg gebak word nie. Ek het dit aan hulle gegee as hulle deel van my vuuroffers; dit is hoogheilig soos die sondoffer en die skuldoffer. Al die manspersone onder die kinders van Aäron moet daarvan eet. Dit moet 'n ewige insetting wees in julle geslagte aangaande die vuuroffers van die HERE; elkeen wat daaraan raak, moet heilig wees. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Dit is die offer van Aäron en van sy seuns wat hulle aan die HERE moet bring op die dag as Hy gesalf word; die tiende van 'n efa fynmeel as 'n ewige spysoffer, die helfte daarvan in die môre en die helfte daarvan in die nag. In 'n pan moet dit met olie gemaak word; en as dit gebak is, moet jy dit inbring; en die gebakte stukke van die spysoffer moet jy as lieflike geur aan die HERE berei. En die priester van sy seuns wat in sy plek gesalf is, moet dit berei. Dit is 'n ewige insetting vir die HERE; dit moet heeltemal verbrand word. Want elke spysoffer vir die priester moet in sy geheel verbrand word; dit mag nie geëet word nie. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met Aäron en sy seuns en sê: Dit is die wet van die sondoffer: Op die plek waar die brandoffer geslag word, moet die sondoffer voor die aangesig van die HERE geslag word: dit is hoogheilig. Die priester wat dit vir sonde offer, moet dit eet; in die heiligdom moet dit geëet word, in die voorhof van die tent van samekoms. Alles wat aan die vleis daarvan raak, moet heilig wees; en as daar van die bloed daarvan op enige kledingstuk gesprinkel word, moet jy dit was waarop dit in die heiligdom gesprinkel is. Maar die erdekruik waarin dit geweek is, moet stukkend geslaan word; en as dit in 'n koperpot geweek word, moet dit geskuur en met water afgespoel word. Al die manlike onder die priesters moet daarvan eet; dit is hoogheilig. En geen sondoffer waarvan van die bloed in die tent van samekoms gebring word om in die heiligdom daarmee te versoen, mag geëet word nie; dit moet met vuur verbrand word.
LEVITIKUS 6:1-30 Die Boodskap (DB)
Die Here het ook nog verder vir Moses gesê: “Iemand maak ’n fout en is ontrou aan die Here wanneer hy ontken as iemand anders iets vir hom gegee het om op te pas. Hy kan ook iemand anders uitbuit en in werklikheid van hom steel. Of hy tel iets op wat iemand verloor het en steek dit weg. Of hy jok oor iets wat ’n mens gedoen het en toe oortree het. As dit dan gebeur dat hy op een van hierdie maniere oortree het en skuldig is, moet hy alles wat hy verkeerdelik gevat het, teruggee. Hy moet die persoon wat hy uitgebuit het, vergoed. Ook dit wat iemand vir hom gegee het om op te pas moet hy teruggee. So ook die ding wat iemand verloor het wat hy opgetel het. Wanneer hy op sy oortreding gewys word, moet hy vir alles waaroor hy gelieg het, weer goed maak. Hy moet dit met ’n vyfde vermeerder vir die persoon vir wie hy dit skuld. Hy moet vir sy skuld vir die Here ’n ram sonder gebrek uit sy kudde bring wat net soveel werd is as ’n offer. Daarmee sal hy sy verhouding met God herstel. Hy moet dit na die dienaar by die tent bring. Die dienaar sal daarmee sy skuld by die Here betaal. Alles wat hy verkeerd gedoen het en waardeur hy skuldig geword het, sal hom dan vergewe word.” Die Here het verder ook nog vir Moses beveel om aan Aäron en sy seuns voorskrifte te gee vir die offers wat verbrand moet word: “Dit moet heelnag in die vuur op die altaar gelos word tot die volgende oggend toe. Die vuur op die altaar moet die heeltyd bly brand. Die amptenaar by die tent trek sy spesiale linnehemp en linnebroek wat daarby pas, aan. Hy vat dan die vet weg wat in die vuur uit die brandoffer uitgebraai het. Hy sit dit langs die offerplek op die grond neer. Dan trek hy die spesiale klere uit en trek weer sy gewone klere aan. Hy vat die vet uit die kamp uit weg na die plek wat daarvoor eenkant gesit is buite die kamp. Die vuur moet altyd op die altaar aan die brand bly. Dit mag nooit doodgaan nie. Die dienaar moet elke oggend weer nuwe hout op die vuur gooi om dit aan die brand te hou. Hy moet die offer wat verbrand word om sy verhouding met die Here te herstel bo-op die hout sit en die vet van die offer daarop uitbraai. Die vuur moet altyd aan die brand bly daar op die altaar. Dit mag nooit doodgaan nie.” Die aanwysings vir die graan wat vir die Here gebring word, is soos volg: “Aäron se seuns wat by die tent werk, bring die graan na die offerplek toe daar voor die Here. Die werker by die tent van ontmoeting vat ’n hand vol van die gemaalde graan saam met die olie en die geurige wierookstokkies wat daarop is. Hy verbrand alles op die altaar as die deel wat die hele offer verteenwoordig. Dit is ’n offer waarvan die Here baie hou. Die deel van die offer wat dan oorbly, mag Aäron en sy seuns eet. Daar mag nie enige suurdeeg daarby kom nie. Dit word geëet daar by die voorhof van die tent waar die Here sy volk ontmoet. Ook wanneer dit gebak word, mag daar nie suurdeeg bykom nie. Die Here staan hierdie deel van die offer aan die dienaars by die tent af as hulle deel van die offers. Dit is net so volledig uitgesonder vir die Here se diens soos die offers wat vir die sonde gebring word en die offers wat na die tent van die Here gebring word om vir die skuld voor God te betaal. Al die mans uit Aäron se familie wat by die tent werk, mag daarvan eet. Dit is ’n reël oor die offers wat vir die Here met vuur verbrand word wat nooit mag verander oor al die geslagte wat kom en gaan nie. Elke persoon wat van hierdie offers eet, moet aan die diens van die Here toegewy wees.” Die Here het verder ook vir Moses gesê: “Aäron en elkeen na hom wat hom opvolg, moet vir die Here ’n offer bring op die dag wanneer hy in sy dienswerk aangestel word. Dit moet van twee kilogram fynmeel uit die graan wees. Die een helfte daarvan moet in die oggend vir die Here gebring word en die ander helfte teen die aand. Dit moet met olie gemeng word, daarna op ’n plaat gebak en dan in krummels gebreek word. Dit is die soort offer waarvan die Here baie hou. Aäron se seuns wat na hom aangestel word, moet dieselfde offers bring. Die Here het dit vasgestel en dit mag nie verander word nie. Die offer moet heeltemal verbrand word. Elke offer uit die graan wat die dienaar vir die Here bring, moet heeltemal verbrand word. Daar mag ook niks daarvan geëet word nie.” Die Here het ook nog verder vir Moses gesê dat hy die volgende aanwysings vir Aäron en sy seuns moet gee vir offers wat vir oortredings gebring word: “Die offer vir oortredings moet op dieselfde plek gebring word waar die offers geslag en vir die Here verbrand word. Dit is spesiale offers wat net vir die Here gegee word. Die dienaar wat die offer vir die sonde bring, mag wel daarvan eet. Hy moet dit in die binnehof van die tent van ontmoeting eet. Elkeen wat met die vleis van die offer werk, moet in diens van die Here staan. As daar miskien van die offer se bloed op iemand se klere spat, moet hy die klere daar by die tent met water was. As die vleis van die offer in ’n kleipot gaargemaak word, moet die pot daarna stukkend gebreek word. As dit in ’n koperpot gekook word, moet die pot daarna uitgeskuur word en met water uitgespoel word. Al die mans wat by die tent werk, mag van die vleis eet. Dit is geheel en al afgesonder vir die dienswerk by die tent van die Here. Niemand mag verder van die vleis van die dier eet as dit eers een maal in die tent van ontmoeting ingebring is om te vergoed vir die oortreding wat begaan is nie. Dit moet heeltemal met vuur verbrand word.”
LEVITIKUS 6:1-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
En die HERE het aan Moses gesê: “Sê nou maar iemand sondig teen die HERE deur valslik vir sy buurman te vertel dat iets wat aan hom toevertrou is, verlore geraak het of gesteel is. “Of sê nou maar iemand was oneerlik met iets wat in veilige bewaring vir hom gegee is, of hy het iets gevat deur dit te steel of af te pers. “Of sê nou maar iemand vind ’n verlore item en lieg daaroor, of iemand ontken iets onder eed, of hy sondig deur iets soortgelyks te doen. As iemand op so ’n manier gesondig het en skuldig is, moet hy dit wat hy deur diefstal of afpersing gevat het, teruggee. Dit geld ongeag of dit iets in veilige bewaring was, of eiendom wat aan iemand toevertrou was, of ’n verlore item wat mense as hulle eie sou opeis, of enigiets wat verkry is deur ’n vals eed af te lê. Wanneer hulle besef hulle is skuldig, moet hulle die volle bedrag plus ’n bykomende heffing van twintig persent teruggee aan die persoon wat benadeel is. Hy moet dan ’n skuldoffer vir die priester bring, wat dit dan aan die HERE sal gee. Hierdie skuldoffer moet ’n ram sonder enige liggaamsgebrek wees of die dier se waarde in silwer. “Die priester sal dan voor die HERE versoening bewerk en so sal hy vergewe word.” Toe het die HERE vir Moses gesê: “Gee vir Aäron en sy seuns die volgende instruksies oor die brandoffer. Die brandoffer moet op die altaar bly tot die volgende môre. Die altaarvuur moet die hele nag deur bly brand. Die volgende môre moet die priester aan diens sy spesiale linneklere aantrek. Hy moet dan die as van die brandoffer wegneem en dit langs die altaar neersit. Dan moet die priester weer sy gewone klere aantrek en die as na die buitekant van die kamp toe dra na ’n plek wat daarvoor afgesonder is. Intussen moet die altaarvuur bly brand; dit mag nie uitbrand nie. Die priester moet elke oggend hout op die vuur gooi en die daaglikse brandoffer daarop sit. Hy moet dan die vet van die maaltydoffer bo-op die daaglikse brandoffer verbrand. Onthou, die vuur op die altaar moet te alle tye bly brand. Dit mag nooit uitbrand nie.” “Dit is die instruksies vir die graanoffer. Aäron se seuns moet hierdie offer vir die HERE voor die altaar bring. Die priester aan diens sal ’n hand vol meel vat, met olyfolie meng en dit sprinkel met wierook. Hy sal ’n verteenwoordigende deel hiervan op die altaar verbrand. Dit sal baie aangenaam vir die HERE wees. Nadat hierdie deel van die meel verbrand is, kan Aäron en sy seuns die res van die meel gebruik. Dit moet egter sonder suurdeeg gebak word en op ’n heilige plek in die voorhof van die tent van ontmoeting geëet word. “Onthou, die meel mag nie met suurdeeg gaargemaak word nie. Ek gee dit aan die priesters as hulle deel van die vuuroffers wat vir My gebring word. Dit is ’n besonder heilige offer, net soos die sonde-offer en die skuldoffer. Enigeen van Aäron se manlike afstammelinge mag in elke geslag van die graanoffer eet. Dit is ’n vaste instelling. Dit is vir altyd hulle deel van die vuuroffers wat aan die HERE gegee word. Wie of wat ook al aan hierdie kos raak, moet geheilig wees.” En die HERE het vir Moses gesê: “Op die dag waarop Aäron en sy seuns gesalf word, moet hulle ’n graanoffer vir die HERE bring: twee kilogram meel, die een helfte vir die offer in die oggend, die ander helfte vir die offer in die aand. Dit moet met olyfolie op ’n plaat gebraai word en dit moet in stukkies gebreek word. Dit is die graanoffer wat jy moet bring. Dit sal aangenaam vir die HERE wees. Soos wat die seuns hulle vaders as hoëpriesters opvolg, moet hulle in hulle amp bevestig word deur hierdie offer te bring op die dag waarop hulle gesalf word. Dit is die HERE se deel en moet heeltemal verbrand word. Elke graanoffer van die priester moet heeltemal verbrand word. Niks van die meel mag geëet word nie.” Toe het die HERE vir Moses gesê: “Gee vir Aäron en sy seuns verdere instruksies oor die sonde-offer. Die dier wat as sonde-offer gegee word, is besonder heilig en moet in die teenwoordigheid van die HERE geslag word op die plek waar die brandoffers geslag word. Die priester wat die offer bring, mag sy deel op ’n heilige plek in die voorhof van die tent van ontmoeting eet. Wie of wat ook al aan die offervleis raak, moet geheilig wees. As daar van die offerbloed op iemand se klere spat, moet dit op ’n heilige plek uitgewas word. As ’n kleipot gebruik word om die offervleis in te kook, moet dit daarna gebreek word. As ’n bronspot gebruik word, moet dit weer geskuur en goed met water uitgespoel word. Net mans in die familie van die priester mag van die offervleis eet, want dit is heilig. Wanneer die bloed van die sonde-offer in die tent van ontmoeting ingebring word om daarmee versoening te bewerk in die heiligdom, mag niks van die offerdier se vleis geëet word nie. Dit moet heeltemal verbrand word.”