LEVITIKUS 25:17-19 - Compare All Versions

LEVITIKUS 25:17-19 AFR83 (Afrikaans 1983)

Uit eerbied vir julle God mag julle mekaar nie uitbuit nie. Ek is die Here julle God. “Julle moet my voorskrifte nakom en my bepalings gehoorsaam. As julle dit doen, sal julle sonder sorge in die land kan woon. Die grond sal goeie oeste lewer, en julle sal oorgenoeg hê om te eet sodat julle sonder sorge in die land kan woon.

LEVITIKUS 25:17-19 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Laat niemand dan sy naaste verdruk nie, en vrees jy jou God; want Ek is die HERE julle God. En doen my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit, dat julle veilig kan woon in die land. En die land sal sy vrug gee, en julle sal volop eet en veilig daarin woon.

LEVITIKUS 25:17-19 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Wys julle eerbied vir God deur mekaar nie uit te buit nie. Ek, die HERE, is julle God. “As julle veilig in die land wil woon, hou my gebooie en gehoorsaam my reëlings. Dan sal die land goeie oeste lewer, julle sal goed eet en veilig in die land leef.

LEVITIKUS 25:17-19 DB (Die Boodskap)

Uit respek vir jou God moet julle mekaar nie bedrieg nie. Ek is tog die Here, julle al twee se God. “Hou by die reëls wat Ek gegee het. Volg my voorskrifte en lewe volgens hulle. Julle sal dan in die land kan bly sonder dat daar iets is wat julle bangmaak. Die land sal goeie oeste gee. Julle sal altyd genoeg kos hê om te eet tot julle genoeg gehad het. Julle sal hier woon sonder bekommernis.

LEVITIKUS 25:17-19 ABA (Bybel vir almal)

Julle moenie mekaar laat swaarkry nie, julle moet julle God respekteer en dien. Ek is julle God die Here. Julle moet aanhou om te doen wat Ek wil hê en wat Ek besluit. As julle dit doen, dan sal julle veilig woon in die land. Daar sal dan baie koring wees wat julle kan afsny. Julle sal meer as genoeg hê om te eet, en julle sal veilig woon in die land.

LEVITIKUS 25:17-19 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Julle volksgenote mag mekaar nie uitbuit nie. Jy moet ontsag hê vir jou God, want Ek, die HERE, is julle God. “ ‘ Julle moet my vaste voorskrifte uitvoer en my beslissings moet julle nakom. Voer dit uit sodat julle veilig kan woon op die grond. Die grond sal sy vrug lewer en julle sal meer as genoeg eet en veilig daarop woon.

LEVITIKUS 25:17-19 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Julle mag mekaar dan nie verdruk nie; maar jy moet jou God vrees, want Ek is die HERE jou God. Daarom moet julle my insettinge doen en my verordeninge onderhou en dit doen; en julle sal veilig in die land woon. En die land sal sy vrugte gee, en julle sal versadig eet en veilig daarin woon.