Levitikus 25

25
Sabbatsjaar en jubeljaar
1Die Here het op die berg Sinai vir Moses gesê: 2“ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer julle in die land kom wat Ek vir julle gaan gee, moet die land 'n Sabbat vier vir die Here. 3Ses jaar moet jy jou saailand saai en ses jaar moet jy jou wingerd snoei en die opbrengs daarvan insamel, 4maar die sewende jaar is 'n sabbatsjaar, 'n buitengewone rusjaar. Dit moet vir die grond 'n sabbatsjaar wees tot eer van die Here. Jou saailand mag jy nie saai nie en jou wingerd mag jy nie snoei nie. 5Die opslag van jou graanoes mag jy nie oes nie, en die druiwe aan jou ongesnoeide wingerd mag jy nie afoes nie. Dit moet vir die land 'n buitengewone rusjaar wees. 6Die opbrengs van die land se Sabbat sal daar wees vir julle om te eet. Vir jou, vir jou slawe en slavinne, vir jou dagloners en jou bywoners, hulle wat by julle verblyf het, 7vir jou vee en die wilde diere wat in jou land is, sal die volle opbrengs van die land daar wees om te eet.
8“ ‘ Tel vir jou sewe sabbatsjare af, sewe maal sewe jaar, sodat die tydperk van sewe Sabbatsjare vir jou nege-en-veertig jaar gee. 9Laat dan die •ramshoring se harde geluid oral weerklink op die tiende dag van die sewende maand. Op die •Dag van Versoening moet die ramshoring deur julle hele land weerklink. 10Heilig die vyftigste jaar en kondig 'n kwytskelding in die land af vir al die inwoners van die land. 'n Jubeljaar moet dit vir julle wees. Elkeen van julle moet na sy erfgrond terugkeer en elkeen van julle moet na sy familie terugkeer. 11Die vyftigste jaar moet vir julle 'n jubeljaar wees. Julle mag nie saai nie en julle mag nie die opslaggraan van die jaar oes of die ongesnoeide wingerde afoes nie, 12want dit is 'n jubeljaar; dit moet vir julle heilig wees. Van die saailande mag julle die opbrengs wel eet.
13“ ‘In hierdie jubeljaar moet elkeen van julle terugkeer na sy erfgrond. 14 Wanneer julle iets aan 'n volksgenoot verkoop of uit die hand van 'n volksgenoot iets koop, mag julle mekaar nie uitbuit nie. 15 Jy moet van jou volksgenoot koop volgens die getal jare ná die jubeljaar; ja, volgens die getal oesjare moet hy aan jou verkoop. 16Hoe meer die jare wat oorbly, hoe hoër sy koopprys; hoe minder die jare wat oorbly, hoe laer sy koopprys, want die getal oeste is wat hy aan jou verkoop. 17 Julle volksgenote mag mekaar nie uitbuit nie. Jy moet ontsag hê vir jou God, want Ek, die Here, is julle God.
18“ ‘ Julle moet my vaste voorskrifte uitvoer en my beslissings moet julle nakom. Voer dit uit sodat julle veilig kan woon op die grond. 19Die grond sal sy vrug lewer en julle sal meer as genoeg eet en veilig daarop woon. 20 En as julle vra: “Maar wat moet ons in die sewende jaar eet, as ons dan nie mag saai en ons oes insamel nie?” 21In die sesde jaar sal Ek oor julle my seën gebied en dit sal 'n opbrengs vir drie jaar lewer. 22In die agtste jaar moet julle saai en van die ou opbrengs eet tot die negende jaar; tot daardie jaar se oes inkom, sal julle die ou opbrengs eet.
23“ ‘ Die grond mag nie onherroeplik verkoop word nie, want aan My behoort die grond. Ja, julle is •vreemdelinge en bywoners by My. 24Met enige grond wat julle geërf het, moet julle die terugkoop van die grond toestaan.
25“ ‘ Wanneer jou broer verarm en van sy erfgrond moes verkoop, moet sy losser wat die naaste aan hom is, kom en die verkoopte deel van sy familielid loskoop. 26Wanneer iemand nie 'n losser het nie en hy kan dit bekostig wanneer hy genoeg bymekaargemaak het vir die terugkoop, 27moet hy die jare bereken vandat dit verkoop is en die balans teruggee aan die man aan wie hy dit verkoop het. Hy moet dan terugkeer na sy erfgrond. 28As hy egter nie genoeg bymekaar kan maak om dit aan hom terug te gee nie, bly die deel wat verkoop is in die besit van die een wat dit gekoop het tot die jubeljaar. In die jubeljaar moet dit loskom en mag die man na sy erfgrond terugkeer.
29“ ‘Wanneer iemand 'n woonhuis in 'n ommuurde stad verkoop, sal die reg van terugkoop geld totdat 'n jaar verloop het ná die verkoop daarvan. Die reg van terugkoop sal vir 'n volle jaar geld. 30As dit egter nie losgekoop word voordat 'n volle jaar verloop het nie, word die huis wat in die ommuurde stad is, onherroeplik oorgedra na die een wat dit gekoop het vir sy nageslag. Dit kom nie los in die jubeljaar nie. 31Huise in dorpies wat nie 'n muur rondom het nie, moet as deel van die saailande van die omgewing gereken word. Die reg van terugkoop moet daarvoor geld en in die jubeljaar kom dit los.
32“ ‘ Wat die stede van die Leviete betref: Vir die huise in die stede wat hulle erfdeel is, sal die reg van terugkoop altyd vir die Leviete geld. 33Wanneer een van die Leviete so 'n huis loskoop, moet die verkoopte huis loskom in die jubeljaar, al is dit in die stad waar hy 'n erfdeel het. Die huise in die stede van die Leviete is immers hulle erfdeel onder die Israeliete. 34Die weiveld van hulle stede mag nie verkoop word nie, want dit is vir altyd hulle erfgrond.
35“ ‘ Wanneer jou broer verarm en by jou in die skuld raak, moet jy hom ondersteun soos 'n vreemdeling en bywoner, sodat hy by jou kan leef. 36Moenie van hom rente eis of uit hom wins maak nie; jy moet vir jou God ontsag hê en jou familielid moet by jou leef. 37Jou geld mag jy nie vir hom teen rente gee nie en van jou kos mag jy nie vir hom teen wins gee nie. 38 Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het om aan julle die land Kanaän te gee, om vir julle 'n God te wees.
39“ ‘ Wanneer jou broer wat by jou is, verarm en hom aan jou verkoop, mag jy hom nie slawewerk laat doen nie. 40Soos 'n dagloner, soos 'n bywoner moet hy by jou wees. Tot die jubeljaar moet hy by jou werk, 41maar dan moet hy en sy kinders saam met hom, vry van jou af weggaan. Hy moet terugkeer na sy familie, na die erfgrond van sy voorouers moet hy teruggaan, 42want hulle is my slawe wat Ek uit Egipteland laat wegtrek het. Hulle mag nie as slawe verkoop word nie. 43 Jy mag hom nie aan geweld onderwerp nie. Jy moet ontsag hê vir jou God.
44“ ‘ Wat betref jou slawe en slavinne wat jy nodig het – uit die nasies om julle, uit hulle mag julle slawe en slavinne koop; 45en ook van die kinders van bywoners wat by julle verblyf het, uit hulle en hulle families wat by julle is, mag julle die kinders wat hulle in julle land verwek het, koop. Hulle is dan julle erflike eiendom. 46 Julle mag hulle aan julle kinders ná julle nalaat as erflike besit. Julle mag hulle vir altyd slawewerk laat doen. Maar wat julle broers die Israeliete betref, die een mag nie die ander aan geweld onderwerp nie.
47“ ‘Wanneer 'n vreemdeling of bywoner by jou besittings bymekaarmaak en jou broer verarm by hom en verkoop homself aan 'n vreemdeling, 'n bywoner by jou, of aan 'n nasaat van 'n familie vreemdelinge, 48 dan behou hy die reg van terugkoop nadat hy verkoop is. Een van sy broers moet hom loskoop; 49of sy oom of sy neef aan vaderskant moet hom loskoop; of 'n bloedverwant uit sy familie moet hom loskoop; of hy maak dalk genoeg bymekaar sodat hy homself kan loskoop. 50 Hy moet dan, saam met die een wat hom gekoop het, die jare bereken vanaf die jaar wat hy aan hom verkoop is tot die volgende jubeljaar. Die geldwaarde van sy verkoopprys moet ooreenstem met die getal jare, asof hy in dié tyd 'n dagloner by die man was. 51As daar nog baie jare oor is, moet hy in ooreenstemming daarmee van die geld waarvoor hy gekoop is, terugbetaal vir sy loskoop. 52 Maar as daar min jare oor is tot die jubeljaar, moet hy dit bereken. Ooreenkomstig daardie jare moet hy terugbetaal vir sy loskoop. 53 Soos 'n dagloner moet hy jaar ná jaar by hom wees. Hy mag hom nie geweld aandoen terwyl julle toekyk nie. 54En as hy nie op hierdie manier losgekoop word nie, moet hy in die jubeljaar vry weggaan, hy en sy kinders saam met hom, 55 want aan My behoort die Israeliete as slawe. Hulle is my slawe wat Ek uit Egipteland laat wegtrek het. Ek is die Here julle God.’ ”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid