LEVITIKUS 19:19-37
LEVITIKUS 19:19-37 Bybel vir almal (ABA)
“Julle moet aanhou om te doen wat Ek vir julle sê. Julle mag nie verskillende soorte diere laat paar en kleintjies kry nie. Julle mag nie verskillende soorte saad in dieselfde land saai nie, julle mag nie klere dra wat julle gemaak het van verskillende soorte materiaal nie. “'n Man het miskien seks met 'n vrou wat 'n slavin is, en haar eienaar het belowe dat 'n ander man haar mag kry. As die ander man haar nog nie losgekoop het nie, en haar eienaar het haar nog nie vry laat weggaan nie, dan moet die man wat seks gehad het met haar, boete betaal aan die eienaar. Hulle mag nie die man en die vrou doodmaak nie, want haar eienaar het haar nog nie vry laat weggaan nie. Die man moet 'n skuld-offer vir die Here bring na die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Die skuld-offer moet 'n skaap-ram wees. Die priester moet die skuld-offer offer om versoening te doen vir die sonde wat die man gedoen het. Dan sal die Here sy sonde vergewe. “Wanneer julle in die land kom en julle plant vrugtebome, dan mag julle drie jaar lank nie die vrugte eet nie. In die vierde jaar moet julle al die vrugte wy om vir die Here dankie te sê. Van die vyfde jaar af mag julle die vrugte eet. Dan sal daar baie vrugte wees. Ek is julle God die Here. “Julle mag nie vleis eet wat vol bloed is nie. Julle mag nie toor nie. Julle mag nie sê julle weet dinge wat ander mense nie kan weet nie. “Wanneer julle wil rou, dan mag julle nie die hare langs die kante van julle kop en julle baard afskeer nie. Julle mag ook nie julle liggame sny of prente op julle vel teken nie. Ek is die Here. “Jy moenie jou dogter 'n prostituut laat word nie, want dan sal julle haar ontwy. Dan sal ander mense in die land ook prostitute word, en die land sal vol word van mense wat hierdie slegte ding doen. “Julle moet my Sabbatdae vier en julle moet my tempel respekteer. Ek is die Here. “Julle mag nie vir geeste van dooie mense of vir waarsêers vra wat julle wil weet nie. As julle dit doen, dan sal julle onrein word. Ek is julle God die Here. “Jy moet opstaan wanneer 'n oumens na jou toe kom, jy moet hom respekteer en jy moet vir God respekteer en dien. Ek is die Here. “Wanneer 'n vreemdeling by julle in die land woon, dan mag julle hom nie laat swaarkry nie. Die vreemdeling moet vir julle wees soos 'n Israeliet, jy moet lief wees vir hom soos jy lief is vir jouself, want julle was ook vreemdelinge in die land Egipte. Ek is julle God die Here. “Julle mag nie mense bedrieg wanneer julle meet en weeg nie. Julle moet weegskale en gewigte gebruik wat reg weeg, en die efa of hin wat julle gebruik, moet reg wees. Ek is julle God die Here wat julle uit die land Egipte gebring het. “Julle moet alles doen wat Ek sê en besluit. Ek is die Here.”
LEVITIKUS 19:19-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Julle moet my insettinge hou. Twee soorte van jou vee mag jy nie laat paar nie. Jou akker moet jy nie met twee soorte saad besaai nie. En 'n kleed van twee soorte goed, van gemengde stof, mag nie op jou kom nie. En as 'n man vleeslike gemeenskap het met 'n vrou wat 'n slavin is, vir 'n ander man bestemd, sonder dat sy ooit losgekoop of vryheid aan haar gegee is, dan moet daar bestraffing plaasvind. Hulle mag nie gedood word nie, want sy was nie vrygelaat nie. En hy moet sy skuldoffer aan die HERE bring by die ingang van die tent van samekoms — 'n ram as skuldoffer; en die priester moet met die skuldofferram vir hom versoening doen voor die aangesig van die HERE weens die sonde wat hy gedoen het; en hy sal vergifnis ontvang vir sy sonde wat hy gedoen het. En as julle in die land inkom en allerhande vrugtebome plant, moet julle hulle vrugte as verbode beskou; drie jaar lank moet hulle vir julle verbode wees; daar mag nie van geëet word nie. Maar in die vierde jaar moet al hulle vrugte 'n heilige feesgawe aan die HERE wees; en in die vyfde jaar mag julle hulle vrugte eet — dit alles om hulle opbrings vir julle meer te maak. Ek is die HERE julle God. Julle mag niks met bloed en al eet nie. Julle mag nie met verklaring van voortekens of goëlery omgaan nie. Julle mag die rand van julle hoofhare nie rond wegskeer nie. Ook mag jy die rand van jou baard nie skend nie. Julle mag ook ter wille van 'n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die HERE. Ontheilig jou dogter nie deur haar vir hoerery aan te hou nie, sodat die land nie hoereer en die land vol skandelike dade word nie. Julle moet my sabbatte hou en my heiligdom ontsien. Ek is die HERE. Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê nie. Soek hulle nie om julle deur hulle te verontreinig nie. Ek is die HERE julle God. Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van 'n grysaard eer; en jy moet jou God vrees. Ek is die HERE. En as 'n vreemdeling by jou in julle land vertoef, mag julle hom nie verdruk nie. Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos 'n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was vreemdelinge in Egipteland. Ek is die HERE julle God. Julle mag geen onreg doen in die gereg, in lengtemaat, gewig of inhoudsmaat nie. Julle moet 'n regte weegskaal hê, regte weegstene, 'n regte efa en 'n regte hin. Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het. Daarom moet julle al my insettinge en al my verordeninge onderhou en dit doen. Ek is die HERE.
LEVITIKUS 19:19-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Julle moet my voorskrifte gehoorsaam. Moenie verskillende soorte diere kruis of verskillende soorte saad in een land saai of 'n kledingstuk van verskillende soorte materiaal dra nie. “Wanneer die eienaar van 'n slavin reeds 'n ooreenkoms aangegaan het waarvolgens iemand anders haar as byvrou koop, en die eienaar het met haar gemeenskap voordat die prys betaal is en voordat hy van haar afstand gedoen het, moet hy aan die toekomstige eienaar skadevergoeding betaal. Hulle mag nie die doodstraf opgelê word nie, want hy het nog beskikkingsreg oor haar. Verder moet hy as skuldoffer vir die Here 'n ram bring na die ingang van die tent van ontmoeting toe. Die priester moet met die skuldofferram vir die eienaar van die slavin versoening doen by die Here oor die sonde wat gedoen is. Die sonde sal dan vergewe word. “Wanneer julle julle in die land vestig en allerhande soorte vrugtebome plant, mag julle drie jaar lank glad nie die vrugte pluk nie. Die vrugte is vir julle verbode. Dit mag nie geëet word nie. Die vierde jaar moet al die vrugte as 'n gawe van dankbaarheid aan die Here gewy word. Van die vyfde jaar af mag julle die vrugte gebruik. Julle sal dan goeie opbrengste hê. Ek is die Here julle God. “Julle mag nie aan heidense offermaaltye deelneem nie. Julle mag nie waarsêery en towery beoefen nie. Julle mag nie heidense rougebruike navolg deur die hare voor die ore en die wangbaard te knip of deur snye en tatoeëermerke op julle liggame te maak nie. Ek is die Here. “Niemand van julle mag sy dogter die skande aandoen om haar 'n tempelprostituut te laat word nie. Dit lei tot hoerery en afskuwelike sondes in die land. Julle moet my gebooie oor die sabbat gehoorsaam en eerbied hê vir my heiligdom. Ek is die Here. Moenie hulp soek by geeste of waarsêers nie. Dit sal julle onrein maak. Ek is die Here julle God. “Uit eerbied vir jou God moet jy eerbied bewys aan oumense en hulle met respek behandel. Ek is die Here. “Wanneer daar 'n vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie. Julle moet hom soos 'n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte. Ek is die Here julle God. “Julle mag nie bedrog pleeg wanneer julle meet of weeg of inhoud bepaal nie. Julle moet 'n betroubare skaal en die regte gewigte en inhoudsmate gebruik. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het. Gehoorsaam al my voorskrifte en bepalings en leef daarvolgens. Ek is die Here.”
LEVITIKUS 19:19-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ ‘ My vaste voorskrifte moet julle nakom. Jy mag onder jou diere nie verskillende soorte laat paar nie. Op jou land mag jy nie verskillende soorte saad saai nie. Klere van verskillende soorte materiaal mag jy nie dra nie. “ ‘ Wanneer 'n man by 'n vrou slaap en sy is 'n slavin wat aan 'n ander man toegesê is, maar die vrykooptransaksie is nie afgehandel nie of vryheid is nog nie aan haar toegeken nie, moet daar skadevergoeding wees. Hulle mag nie doodgemaak word nie, want sy was nie vry nie. Die man moet sy •hersteloffer vir die HERE na die ingang van die •Tent van Ontmoeting bring, 'n ram as hersteloffer. Die priester moet met die ram van die hersteloffer vir hom voor die HERE versoening doen vir die sonde wat hy gedoen het. Dan sal hy vergewe word vir die sonde wat hy gedoen het. “ ‘Wanneer julle in die land aankom en allerhande vrugtebome plant, moet julle die vrugte daarvan as verbode beskou. Vir drie jaar moet dit vir julle verbode wees; dit mag nie geëet word nie. In die vierde jaar moet al die vrugte daarvan heilige lofoffers vir die HERE wees. In die vyfde jaar mag julle die vrugte daarvan eet om die opbrengs daarvan vir julle steeds meer te maak. Ek is die HERE julle God. “ ‘ Julle mag nie vleis eet met die bloed nog daarin nie. Julle mag nie voorspellings maak uit voortekens nie, en julle mag nie waarsêery beoefen nie. Julle mag nie die hare op julle slape afknip nie. Jy mag nie die kant van jou baard wegsny nie. Julle mag nie snye op julle liggame maak vir 'n afgestorwene nie, en julle mag julle nie tatoeëer nie. Ek is die HERE. “ ‘ Jy mag jou dogter nie onteer deur van haar 'n prostituut te maak nie, sodat hoerery nie in die land posvat en die land vol skanddade word nie. “ ‘ My Sabbatte moet julle hou en vir my heiligdom moet julle ontsag hê. Ek is die HERE. “ ‘ Moet julle nie wend tot waarsêergeeste nie, en by voorvadergeeste moet julle nie hulp soek nie. Dit is net om deur hulle •onrein te word. Ek, die HERE, is julle God. “ ‘ Vir 'n grysaard moet jy opstaan, eerbied betoon aan 'n bejaarde en ontsag hê vir jou God. Ek is die HERE. “ ‘ Wanneer 'n vreemdeling by jou verblyf het in julle land, mag julle hom nie verdruk nie. Die vreemdeling wat verblyf by julle het, moet vir julle net soos 'n gebore Israeliet by julle wees. Jy moet vir hom lief wees soos vir jouself. Julle was immers self vreemdelinge in Egipteland. Ek is die HERE julle God. “ ‘ Julle mag nie onreg pleeg in die regspraak wanneer dit gaan oor lengte, gewig en inhoudsmaat nie. Julle moet 'n onvervalste weegskaal, onvervalste gewigte, 'n onvervalste efa en 'n onvervalste hin hê. Ek is die HERE julle God, wat julle uit Egipteland laat wegtrek het. Julle moet al my vaste voorskrifte en al my beslissings nakom; julle moet dit uitvoer. Ek is die HERE.’ ”
LEVITIKUS 19:19-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Julle moet my insettinge onderhou. Jy mag jou vee nie aan verskillende soorte laat geslag nie; jy mag jou land nie met gemengde saad saai nie; en 'n kleed wat van linne en wol gemeng is, mag nie op jou kom nie. En elkeen wat vleeslik met 'n vrou gemeenskap het, dit is 'n slavin, verloof aan 'n man, en hoegenaamd nie losgekoop nie, of vryheid aan haar gegee; sy sal gegésel word; hulle mag nie gedood word nie, omdat sy nie vry was nie. En hy moet sy skuldoffer aan die HERE bring, by die ingang van die tent van samekoms, 'n ram as skuldoffer. En die priester moet vir hom met die skuldofferram versoening doen voor die aangesig van die HERE vir sy sonde wat hy gedoen het; en die sonde wat hy gedoen het, moet hom vergewe word. En as julle in die land kom en allerhande bome geplant het om te eet, moet julle die vrugte daarvan as onbesnedenes beskou; drie jaar lank moet dit vir julle onbesneden wees; daarvan mag nie geëet word nie. Maar in die vierde jaar moet al die vrugte daarvan heilig wees om die HERE te loof. En in die vyfde jaar moet julle van die vrugte daarvan eet, dat dit vir julle die opbrings daarvan kan oplewer: Ek is die HERE julle God. Julle mag niks van die bloed eet nie; Julle mag die hoeke van julle koppe nie omdraai nie, en die hoeke van jou baard mag jy nie skend nie. Julle mag vir die dooies geen snye in julle vlees maak nie en geen merke op julle afdruk nie: Ek is die HERE. Moenie jou dogter hoereer om haar 'n hoer te maak nie; dat die land nie in hoerery verval en die land vol goddeloosheid word nie. Julle moet my sabbatte onderhou en my heiligdom ontsien: Ek is die HERE. Moenie ag gee op die geeste van afgestorwenes nie, en soek nie na towenaars om deur hulle verontreinig te word nie: Ek is die HERE jou God. Jy moet opstaan voor die grys kop en die aangesig van die ou man eer en jou God vrees: Ek is die HERE. En as 'n vreemdeling by jou in julle land vertoef, mag julle hom nie kwel nie. Maar die vreemdeling wat by jou woon, sal vir jou wees soos een wat onder jou gebore is, en jy moet hom liefhê soos jouself; want julle was vreemdelinge in Egipteland. Ek is die HERE julle God. Julle mag geen ongeregtigheid doen in oordeel, in hoogte, in gewig of in maat nie. Net weegskaal, regverdige gewigte, 'n regverdige efa en 'n regverdige hin moet julle hê: Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het. Daarom moet julle al my insettinge en al my verordeninge onderhou en dit doen: Ek is die HERE.
LEVITIKUS 19:19-37 Die Boodskap (DB)
“Julle moet by my reëls hou. Moenie verskillende soorte diere met mekaar paar nie. Julle moet ook nie verskillende soorte saad in dieselfde land saai nie. Julle moet ook nie klere dra wat van verskillende soorte materiaal gemaak is nie. Iemand anders se werker kan aan ’n ander man beloof wees. As iemand by haar slaap terwyl die ander man nog nie vir haar betaal het nie en haar eienaar het haar nog nie laat gaan nie, moet daar slegs vergoeding betaal word. Die twee hoef egter nie doodgemaak te word nie. Sy behoort nog steeds aan die oorspronklike eienaar. Die man wat by haar geslaap het, moet ’n ram vir sy skuld by die ingang van die Here se tent kom offer. Die dienaar by die tent sal die ram slag om vir hom vergifnis by die Here te kry vir die oortreding wat hy begaan het. Hy sal vergewe word vir wat hy aangevang het. “Wanneer julle in die land gaan woon waarheen Ek julle vat en julle vrugtebome daar plant, moet julle vir die eerste drie jaar glad nie die vrugte pluk nie. Hulle is dan soos iemand wat nog nie besny is en nog nie aan my volk behoort nie. Hulle mag nog glad nie geëet word nie. In die vierde jaar moet al die vrugte aan die Here gewy word om vir Hom daarvoor dankie te sê. Van die vyfde jaar af mag julle die vrugte eet. So sal die bome meer vrugte dra. Ek is die Here, julle God. “Moenie deelneem aan seremonies waar daar bloed gedrink word nie. Moenie julle tyd mors met voorspellings en waarsêery nie. Julle moet ook nie die hare teen julle slape en die kant van julle baard afskeer en merke in julleself kerf of tatoeëermerke op julle lyf maak soos die heidene wanneer hulle oor die dooies rou nie. Ek is die Here. Jy mag nooit jou dogter beskikbaar stel om afgode te aanbid nie. Jy mag haar nooit as ’n prostituut by ’n heidense tempel laat werk nie. Dit sal maak dat die land se mense agter afgode aangaan en die land vol skandelike dinge word. “Wanneer dit ’n rusdag is, moet julle rus. Julle moet ook respek hê vir die plek waar mense My ontmoet om My te aanbid. Ek is die Here. Moenie hulp soek by spiritiste en die geeste van dooies nie. Dit maak julle vir My onaanvaarbaar. Ek is tog die Here julle God. Uit respek vir jou God moet jy staan wanneer daar oumense in die geselskap is. Jy moet hulle met agting behandel. Ek is die Here. Moenie ’n buitelander wat tydelik by julle in die land bly, uitbuit nie. Behandel hom soos ’n gebore Israeliet. Jy moet vir hom omgee soos jy vir jouself omgee. Julle was immers in Egipte maar ook self buitelanders. Ek is die Here julle God. Moenie kul as julle iets moet afmeet of dit op ’n skaal weeg of die inhoud daarvan moet bepaal nie. Die skaal wat jy gebruik, die gewigte wat jy daarop sit en die houer waarin jy iets afmeet, moet korrek wees. Omdat Ek, die Here julle God, julle uit Egipte bevry het, moet julle my reëls en voorskrifte volg en volgens hulle optree. Ek is die Here.”
LEVITIKUS 19:19-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Gehoorsaam al my gebooie. Moenie jou diere kruis met ander soorte diere nie. Moenie twee soorte saad op een land plant nie. Moenie klere dra wat van twee verskillende soorte materiaal gemaak is nie. “Wanneer ’n man seksuele gemeenskap het met sy slavin wat reeds aan iemand anders belowe is, maar die koopsom is nog nie betaal nie, moet die man skadevergoeding betaal. Omdat sy egter nog nie vry was nie, hoef hulle nie doodgemaak te word nie. Die man moet egter ’n ram as skuldoffer vir die HERE bring by die ingang van die tent van ontmoeting. Die priester sal dan versoening vir hom bring in die teenwoordigheid van die HERE met die offerram as skuldoffer en die man sal vergewe word. “Wanneer julle julle in die land gevestig het en vrugtebome plant, mag julle die vrugte daarvan vir drie jaar lank nie oes nie en is die vrugte verbode vir julle. In die vierde jaar moet al die vrugte aan die HERE gewy word as uitdrukking van dank en lof aan Hom. In die vyfde jaar mag julle van die vrugte eet. Op hierdie manier sal die opbrengs van die bome meer word. Ek, die HERE, is julle God. “Moet nooit vleis eet wat nie uitgebloei is nie. Moenie julle ophou met waarsêery of towery nie. “Moenie die heidense gebruik volg en die hare langs julle slape afsny of die kante van julle baarde knip nie. “Moenie snye op julle liggame maak as rougebruik oor dooies nie. Moenie tatoeëermerke op julle vel maak nie, want Ek is die HERE. “Moenie jou dogter onrein maak deur van haar ’n prostituut te maak nie. Die land sal onsedelik word en vol van afskuwelike sondes. “Gehoorsaam my Sabbatdae van rus en bewys eerbied vir my heiligdom, want Ek is die HERE. “Moenie op geeste en waarsêers vertrou nie, want hulle sal jou onrein maak. Ek, die HERE, is julle God. “Bewys jou eerbied vir God deur op te staan in die teenwoordigheid van oumense en bewys respek vir bejaardes. Ek is die HERE. “Moenie die vreemdelinge wat in jou land bly, uitbuit nie. Hulle moet soos enigiemand anders behandel word en jy moet hulle liefhê soos jouself. Onthou dat julle ook vreemdelinge in Egipte was. Ek, die HERE, is julle God. “Moenie oneerlik wees wanneer julle meet of weeg of inhoud bepaal nie. Julle skale en gewigte moet akkuraat wees. Julle houers waarmee julle droë goed of vloeistowwe meet, moet akkuraat wees. Ek, die HERE, is julle God. Ek het julle uit Egipte gebring. Julle moet al my gebooie en bepalings noukeurig gehoorsaam, want Ek is die HERE.”