JUDAS 1:1-25

JUDAS 1:1-25 Bybel vir almal (ABA)

Ek, Judas, skryf hierdie brief vir julle. Ek is 'n dienaar van Jesus Christus en ek is 'n broer van Jakobus. God het julle gekies om aan Hom te behoort. Julle weet dat God die Vader lief is vir julle en dat Jesus Christus julle goed oppas. Ons bid dat God baie goed sal wees vir julle, dat Hy vir julle baie vrede sal gee en baie lief sal wees vir julle. My vriende, ek wou baie graag vir julle geskryf het dat God vir ons en vir julle almal gered het. Maar dit is nou belangrik dat ek dadelik vir julle skryf en vir julle ernstig vra om aan te hou werk vir die goeie boodskap. Ons wat in Christus glo, hou vas aan hierdie boodskap. God het hierdie goeie boodskap klaar gegee vir die mense wat aan Hom behoort. Ek skryf nou hierdie dinge vir julle, want party mense het skelm na julle toe gekom. Hulle verander die boodskap van ons God se genade sodat hulle die slegte dinge kan doen wat hulle wil doen. Hulle is ook bang om vir mense te sê hulle behoort aan Jesus Christus, ons enigste Eienaar en Here. In die Ou Testament is lank gelede geskryf dat daardie mense die sondaars is, God sal vir húlle oordeel. Ek weet dat julle al hierdie dinge weet, maar ek wil dit weer vir julle sê. Die Here het lank gelede die mense van Israel uit die land Egipte gered. Maar later het Hy die mense wat nie in Hom geglo het nie, verlore laat gaan. Julle onthou ook die engele wat nie aangehou het om te doen wat hulle moes doen nie. Hulle het weggegaan uit hulle woonplek in die hemel. Die Here het hulle vir altyd vasgemaak met kettings en Hy het hulle in die donker plek laat bly totdat Hy hulle sal straf op die dag wanneer Hy almal sal oordeel. Julle moet ook onthou wat met die stede Sodom en Gomorra en die stede naby hulle gebeur het. Daardie mense het onsedelik gelewe en hulle wou ook graag seks hê met engele. Daarom is hierdie stede 'n duidelike voorbeeld, dit wys hoe die Here daardie sondes straf met die vuur wat altyd brand. Hierdie vals leermeesters doen dieselfde verkeerde dinge soos daardie sondaars. Hulle droom en sien dinge, en daarom doen hulle sonde, hulle maak hulle liggame onrein met sonde. Hulle wil nie gehoorsaam wees aan die Here nie en hulle sê slegte dinge van engele. Maar Migael, die groot engel, het nie dieselfde gedoen nie. Migael het met die duiwel gestry en getwis oor wie die liggaam van Moses mag kry. Migael het toe nie self slegte dinge gesê van die duiwel nie en hy het nie die duiwel ge-oordeel nie. Nee, Migael het vir die duiwel gesê: “ Die Here sal jou straf!” Maar hierdie mense wat nie die Here dien nie, sê slegte dinge van almal en alles wat hulle nie verstaan nie. Hulle verstaan party dinge, maar hulle verstaan soos wilde diere wat nie verstand het nie, en dit is daardie dinge wat hulle sal laat sterf. Dit sal sleg gaan met hierdie vals leermeesters, want hulle lewe verkeerd en hulle doen sonde soos Kain. Bileam het probeer om die Israeliete te verlei om sonde te doen, hy het dit gedoen sodat hy 'n beloning kon kry. Hierdie vals leermeesters lewe ook so. Hulle is so opstandig soos Korag, en die Here sal hulle verlore laat gaan. Julle is gelowiges en wanneer julle vóór die nagmaal saam eet omdat julle lief is vir mekaar, dan is hierdie vals leermeesters ook daar, hulle is soos gevaarlike rotse onder die water, rotse wat 'n skip kan laat sink. Hulle eet en drink en vier fees saam met julle, maar hulle sorg net vir hulleself en hulle is nie skaam daaroor nie. Hierdie vals leermeesters is soos wolke wat nie reën bring nie, die wind waai hulle weg. Hulle is soos vrugtebome wat nie vrugte dra nie. Hulle is so dood soos bome wat mense uit die grond getrek het, ja, hulle is heeltemal dood. Hulle sonde is soos die vuil skuim op die wilde branders van die see wanneer daar 'n storm is. So kan 'n mens hulle skandes sien. Hulle is soos sterre wat verdwaal het. Daarom het die Here vir hulle 'n plek gereedgemaak in die donker plek, die baie donker plek. Henog, die sewende voorvader ná Adam, het ook die Here se boodskap gebring oor hierdie vals leermeesters. Hy het gesê: “ Julle moet dit weet: Die Here sal kom met sy tienduisende heilige engele om almal te oordeel. Die Here sal kom om al die sondaars te straf, Hy sal ook die mense straf wat Hom nie dien nie. Hy sal hulle straf oor al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het en oor al die slegte dinge wat hulle teen Hom gesê het.” Hierdie mense is altyd ontevrede met ander mense, hulle kla altyd oor alles, en hulle doen net die slegte dinge wat hulle self graag wil doen. Wanneer hulle praat, dan spog hulle en hulle sê mooi dinge van ander mense, maar hulle is nie eerlik nie. Hulle sê dit sodat hulle iets van daardie mense kan kry. My vriende, julle moet die woorde onthou wat die apostels van ons Here Jesus Christus voorheen gesê het. Hulle het vir julle gesê: “ In die laaste dae van die wêreld sal daar mense wees wat sal aanhou spot, terwyl hulle die slegte dinge doen wat hulle self graag wil doen.” Hierdie mense wat altyd wil spot, sê en doen dinge wat gelowiges vyande laat word van mekaar. Hierdie mense wat altyd wil spot, lewe soos mense van hierdie wêreld omdat hulle nie die Heilige Gees in hulle harte het nie. Maar, my vriende, julle moet aanhou om mekaar te help en te bemoedig. Julle moet mekaar bou soos mense 'n huis bou. Die goeie boodskap wat van God kom, moet die fondament wees. Julle moet luister na die Heilige Gees wanneer julle bid. God is lief vir julle, daarom moet julle mekaar goed oppas. Julle moet dit doen terwyl julle wag dat ons Here Jesus Christus vir julle die ewige lewe sal gee. Hy sal dit vir julle gee omdat Hy goed wil wees vir julle. Julle moet goed wees vir mense wat twyfel. Julle moet ander mense red voordat God hulle oordeel, julle moet hulle red soos 'n mens iemand red uit 'n vuur. Julle moet goed wees vir ander mense, maar julle moet versigtig wees en julle moet die dinge haat wat die sondaars doen. Julle moet ook hulle klere haat, hulle klere is heeltemal vuil van die sonde wat hulle doen. God is baie sterk. Hy gebruik sy krag om julle op te pas sodat julle nie sal val en sonde doen nie. Hy kan julle laat staan voor Hom, die Koning, en julle sal sonder sonde wees. Julle sal baie bly wees. Ons behoort aan Jesus Christus, ons Here. Daarom moet ons vir God, ons Redder, prys. Net Hý is God, Hy is die Koning. Hy is baie sterk en Hy regeer van die tyd voordat Hy die wêreld gemaak het. Hy regeer nou en vir altyd en altyd. Amen.

JUDAS 1:1-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

JUDAS, 'n dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus, aan die wat geroep, in God die Vader geheilig en vir Jesus Christus bewaar is: Mag barmhartigheid en vrede en liefde vir julle vermenigvuldig word! GELIEFDES, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën. Maar ek wil julle daaraan herinner, al weet julle dit nou eenmaal, dat die Here, nadat Hy die volk uit Egipteland gered het, daarna die wat ongelowig was, omgebring het. En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar; soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as 'n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan. Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens. Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou! Maar hierdie mense belaster alles wat hulle nie ken nie; en alles wat hulle, soos die redelose diere, op natuurlike wyse verstaan, daardeur gaan hulle te gronde. Wee hulle, want hulle het die weg van Kain bewandel en om loon hulleself in die verleiding van Bíleam gestort en in die verset van Korag omgekom. Hulle is skandvlekke in julle liefdemaaltye, wat sonder vrees saam fees hou en hulleself voer, waterlose wolke deur winde rondgedrywe, bome in die nasomer, wat sonder vrugte is, twee maal gestorwe, ontworteld; woeste golwe van die see wat hulle eie skandes laat opskuim, dwaalsterre vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word. En Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het. Hulle is murmureerders wat oor hul lot klae, en volgens hulle begeerlikhede wandel; en hulle mond spreek trotse woorde, terwyl hulle mense vlei ter wille van voordeel. MAAR julle, geliefdes, moet die woorde onthou wat tevore gespreek is deur die apostels van onse Here Jesus Christus, dat hulle vir julle gesê het: In die laaste tyd sal daar spotters wees wat volgens hul eie goddelose begeerlikhede wandel. Dit is hulle wat skeuring maak, sinnelike mense wat die Gees nie het nie. Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag. En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys; maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk; en ook die kleed moet julle haat wat deur sonde bevlek is. Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen.

JUDAS 1:1-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

Van Judas, 'n dienaar van Jesus Christus en 'n broer van Jakobus. Aan dié vir wie God die Vader geroep het, wat Hy liefhet en deur Jesus Christus bewaar. Mag barmhartigheid, vrede en liefde in oorvloed aan julle geskenk word! Geliefdes, ek was vas van plan om aan julle te skrywe oor die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het. Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus. Al weet julle al hierdie dinge, wil ek julle daaraan herinner dat, hoewel die Here een maal sy volk uit Egipte verlos het, Hy tog daarna dié wat nie geglo het nie, laat omkom het. Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag. En dink ook aan die mense van Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle. Net soos daardie engele het hulle onsedelike dade gepleeg en omgang gesoek met vreemde wesens. As waarskuwing vir almal word hulle nou gestraf met die vuur wat ewig brand. En nou is dit met hierdie mense net so. Vanweë die droomgesigte wat hulle sien, bevlek hulle hulle eie liggame, verwerp hulle die gesag van die Here en beledig hulle die hemelwesens. Nie eens die aartsengel Migael het so iets gedoen nie. Toe hy met die duiwel gestry het oor die liggaam van Moses, het hy hom dit nie veroorloof om die duiwel te beledig en te veroordeel nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal jou straf.” Maar hierdie mense praat lasterlik oor dinge waarvan hulle geen kennis het nie. Hulle is soos verstandlose diere: al waarvan hulle kennis het, is hulle natuurlike drange, en juis dit is hulle ondergang. Verskriklik sal hulle lot wees, want hulle het dieselfde pad as Kain geloop, vir geld het hulle dieselfde bedrog as Bileam gepleeg, soos Korag het hulle in opstand gekom, en dit was hulle ondergang. Hulle besoedel julle liefdesmaaltye met hulle skaamtelose uitspattighede en sorg net vir hulleself. Hulle is wolke wat geen reën bring nie en deur die wind verby gewaai word. Hulle is bome wat selfs laat in die seisoen nog geen vrugte het nie, wat ontwortel en morsdood is. Hulle is woeste golwe van die see; hulle laat hulle skande soos skuim opspat. Hulle is sterre wat uit hulle baan geslinger is. God hou vir hulle plek gereed in die duister dieptes, waar hulle ewig sal bly. Dit is oor hierdie mense dat Henog, wat van die sewende geslag ná Adam was, geprofeteer het. Hy het gesê: “Kyk, die Here kom met sy duisende heilige engele en Hy sal oor almal oordeel. Hy sal al die goddeloses, al die sondaars straf oor al die goddelose dinge wat hulle in hulle goddeloosheid gedoen het, en oor al die lasterlike dinge wat hulle teen Hom gesê het.” Hierdie mense kla gedurig en is altyd ontevrede met hulle lot. Hulle leef net volgens hulle eie begeertes, praat groot en sê vleiende dinge van mense om daaruit vir hulleself voordeel te trek. Maar julle, geliefdes, moet die dinge onthou wat die apostels van ons Here Jesus Christus voorheen reeds vir julle geleer het. Hulle het vir julle gesê: “Daar sal in die laaste dae mense wees wie se lewe deur hulle eie goddelose begeertes beheers word, en hulle sal met julle die spot dryf.” Hierdie mense bring verdeeldheid; hulle word deur hulle natuurlike drange beheers en nie deur die Gees van God nie. Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees. Bly in die liefde van God. Vestig steeds julle verwagting op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus wat die ewige lewe aan julle sal gee. Oor dié wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is. Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen.

JUDAS 1:1-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Judas, dienskneg van Jesus •Christus, en broer van Jakobus, aan die geroepenes, diegene wat hulle in die liefde van God die Vader bevind, en vir Jesus Christus bewaar is: Mag barmhartigheid, vrede en liefde in oorvloed aan julle gegee word. Geliefdes, alhoewel ek vas van plan was om aan julle oor ons gemeenskaplike verlossing te skryf, word ek nou genoodsaak om aan julle te skryf en julle aan te spoor om te stry vir die geloof, wat eens en vir altyd aan die heiliges oorgelewer is. Want sekere mense oor wie die oordeel reeds lank tevore opgeteken is, het julle geledere binnegesypel, goddeloses, mense wat God se genade in losbandigheid laat ontaard, en ons enigste Vors en Here, Jesus •Christus, ontken. Ek wil julle daaraan herinner – al weet julle dit alles – dat die Here, nadat Hy een keer die volk uit Egipteland gered het, die tweede keer diegene wat nie geglo het nie, omgebring het, en dat Hy die engele wat hulle nie aan hulle magsgebied gehou het nie, maar hulle woonplek verlaat het, met ewige boeie in die duisternis in bewaring hou, vir die oordeel van die groot dag. So ook dien Sodom en Gomorra, en die omliggende stede, wat op 'n soortgelyke manier as daardie engele ontug gepleeg en agter vreemde liggame aangeloop het, as waarskuwende voorbeeld, omdat hulle die straf van ewige vuur ondergaan. En tog doen hierdie mense, op grond van hulle droomvisioene, dieselfde: Hulle besoedel hulle liggame, verwerp gesag, en belaster die glansryke hemelwesens. Selfs Migael, die aartsengel, toe hy van die Duiwel verskil, en met hom oor die liggaam van Moses geargumenteer het, het dit nie gewaag om 'n lasterlike oordeel uit te spreek nie, maar gesê: “Mag die Here jou straf!” Hierdie mense belaster egter alles wat hulle nie ken nie, en dit wat hulle instinktief verstaan, soos redelose diere, veroorsaak hulle ondergang. Wee hulle, want hulle het die pad van Kain geloop, en hulleself vir vergoeding aan die bedrog van Bileam oorgegee, en hulle sal, soos met die verset van Korag, omkom. Hierdie mense is skandvlekke by julle liefdesmaaltye; hulle vier skaamteloos saam met julle fees; hulle sorg net vir hulleself. Hulle is wolke wat nie reën bring nie, en deur winde voortgedryf word, bome in die laatherfs wat sonder vrugte staan, twee maal dood, ontwortel, woeste seegolwe wat hulle eie skandes laat opskuim, dwaalsterre vir wie die somber duisternis vir ewig gereed gehou word. Henog, uit die sewende geslag ná Adam, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: “Kyk, die Here kom met sy heilige tienduisende, om oor almal die oordeel te vel, en om alle mense te straf vir al hulle goddelose dade wat hulle in hulle goddeloosheid verrig het, en vir al die vermetele dinge wat goddelose sondaars teen Hom uitgespreek het.” Hierdie mense, dit is hulle wat mor, foutvind, en hulle drange uitleef; hulle is grootmond, en vlei mense vir eie gewin. Maar julle, geliefdes, onthou wat die •apostels van ons Here Jesus •Christus reeds vroeër gesê het. Hulle woorde aan julle was: “In die laaste tyd sal daar spotters wees wat hulle eie drange na goddelose dinge uitleef.” Dit is hierdie mense wat skeuring bring; hulle is gerig op die aardse dinge; hulle het nie die Gees nie. Maar julle moet, geliefdes, deur julleself op te bou in julle allerheiligste geloof, en deur in die Heilige Gees te bid, julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die ontferming van ons Here Jesus Christus, met die oog op die ewige lewe, verwag. Ontferm julle ook oor diegene wat twyfel, maar red ander deur hulle uit die vuur te ruk. Oor nog ander moet julle julle met eerbied ontferm, terwyl julle selfs die onderkleed verafsku wat deur die liggaam besoedel is. Aan Hom wat die mag het om julle daarvan te bewaar dat julle struikel, en om julle onberispelik en jubelend voor sy heerlikheid te stel, aan die enigste God, ons Verlosser, deur Jesus •Christus ons Here, behoort die heerlikheid, majesteit, krag en mag – van voor alle tye, en ook nou, en tot in alle ewigheid. •Amen.

JUDAS 1:1-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Judas, die dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus, aan die wat deur God die Vader geheilig en bewaar is in Jesus Christus, en geroep is: Genade vir julle en vrede en liefde word vermenigvuldig. Geliefdes, toe ek alle moeite gedoen het om aan julle te skryf oor die algemene verlossing, was dit vir my nodig om aan julle te skryf en julle aan te spoor dat julle ernstig moet stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Want daar is sekere manne wat onverhoeds ingesluip het, wat vantevore tot hierdie oordeel bestem was, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid en die enigste Here God en ons Here Jesus Christus verloën het. Ek sal julle dan in herinnering bring, alhoewel julle dit eens geweet het, dat die Here, nadat Hy die volk uit Egipteland gered het, daarna die ongelowiges vernietig het. En die engele wat hulle eerste staat nie bewaar het nie, maar hulle eie woning verlaat het, het Hy in ewige kettings onder duisternis bewaar tot die oordeel van die groot dag. Soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle op dieselfde manier, wat hulleself aan hoerery oorgee en agter vreemde vlees aan geloop het, as voorbeeld gestel word, terwyl hulle die wraak van die ewige vuur ly. Net so verontreinig ook hierdie vuil dromers die vlees, verag heerskappy en praat kwaad van waardigheid. Maar Mígael, die aartsengel, het, toe hy met die duiwel getwis het wat hy oor die liggaam van Moses getwis het, nie 'n lasterlike beskuldiging teen hom durf bring nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou. Maar hulle praat sleg van die dinge wat hulle nie weet nie; maar wat hulle van nature weet, soos brute diere, daarmee verderf hulle hulself. Wee hulle! want hulle het in die weg van Kain gegaan en gulsig agter die dwaling van Bíleam aan gehardloop vir beloning, en omgekom in die teëspraak van Core. Dit is vlekke in julle feeste van liefde wanneer hulle saam met julle feesmaal, hulleself sonder vrees voed: wolke is hulle sonder water, rondgedra deur winde; bome waarvan die vrugte verdor, sonder vrugte, twee keer dood, aan die wortels uitgeruk; Verwoede golwe van die see wat hulle eie skande uitskuim; dwalende sterre, aan wie die duisternis van die duisternis vir ewig bewaar word. En Henog, die sewende van Adam, het ook oor hulle geprofeteer en gesê: Kyk, die Here kom met tienduisende van sy heiliges, om oordeel te voltrek aan almal en om almal wat goddeloos is onder hulle te oortuig van al hulle goddelose dade wat hulle goddeloos gepleeg het, en van al hulle harde toesprake wat goddelose sondaars teen hom gespreek het. Dit is murmureerders, klaers wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel; en hulle mond spreek groot opwindende woorde, met bewondering vir mense om voordeel te trek. Maar, geliefdes, dink aan die woorde wat tevore gespreek is deur die apostels van onse Here Jesus Christus; Hoe dat hulle vir julle gesê het dat daar in die laaste tyd spotters moet wees wat volgens hulle eie goddelose begeerlikhede moet wandel. Dit is hulle wat hulleself afsonder, sensueel, sonder die Gees. Maar julle, geliefdes, bou julleself op in julle allerheiligste geloof, terwyl julle in die Heilige Gees bid, Hou julle in die liefde van God en verwag die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe. En met sommige moet julle medelye hê, wat 'n verskil maak: En ander red met vrees deur hulle uit die vuur te ruk; haat selfs die kleed wat deur die vlees bevlek is. En aan Hom wat magtig is om julle van val te bewaar en julle onberispelik voor die aangesig van sy heerlikheid te stel met groot blydskap, Aan die enigste wyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, heerskappy en mag, nou en altyd. Amen.

JUDAS 1:1-25 Die Boodskap (DB)

Van Judas. Ek is ’n dienskneg van Jesus Christus en die broer van Jakobus. Ek skryf aan almal van julle wie God die Vader geroep het om in Hom te glo. Hy het julle baie lief. Julle word deur Jesus Christus opgepas. My gebed is dat die sluise van God se onverdiende goedheid, sy hemelse vrede en sy liefde voluit oor julle lewe oopgetrek sal word. My liewe vriende, ek het al lankal besluit om aan julle te skryf. My plan was om met julle te praat oor wat dit vir ons almal beteken om in Christus te glo. Maar toe ek hoor wat daar by julle aan die gang is, het ek dadelik van plan verander. Nou skryf ek om julle aan te spoor - nee, om julle te smeek! - om wal te gooi. Julle moet keer dat die ware geloof deur allerhande vals stories verdraai word. Julle weet tog dat die goeie nuus oor Christus eens en vir altyd deur God se boodskappers aan ons almal in die kerk bekendgemaak is. Niemand kan nog enigiets daarby voeg nie. ’n Klompie vals mense het stil-stil daar by julle in die kerk ingesluip. Hulle is ’n goddelose spul. Maar gelukkig het God al lankal besluit wat Hy met hierdie mense gaan doen. Sy oordeel wag op hulle. Hulle misbruik die goedheid wat God aan ons bewys het, tot hulle eie voordeel. Hulle verdraai dit sodat hulle kan aanhou met hulle smerige sondes. So verwerp hulle ons enigste Meester en ons Here, Jesus Christus. Al ken julle die geskiedenis van Israel, wil ek julle gou weer herinner aan hoe die Here vroeër met sy volk gemaak het wat sy goedheid vertrap het. Toe Hy sy volk uit Egipte verlos het, het Hy almal van hulle vernietig wat nie in Hom geglo het nie. Julle ken ook die verhaal van die engele wat hulle hemelse woonplek verlaat het. Hulle is nou God se gevangenes. Hulle word daar in die pikdonker dieptes van die doderyk vasgeketting totdat God se groot oordeelsdag aanbreek. Julle onthou ook van Sodom en Gomorra en ’n paar ander stede in hulle omgewing. Hulle het dieselfde sondes as die engele gepleeg. Hulle het hulle oorgegee aan losbandigheid. Hulle het selfs probeer om seksuele gemeenskap met die engele te hê. Nou brand hulle almal in die oordeelsvuur. Hulle pyn sal nooit ophou nie. Dit moet ’n waarskuwing wees vir almal wat in sonde leef. Die mense wat daar by julle ingesluip het, vang dieselfde dinge aan. Hulle spog oor sogenaamde openbarings wat hulle in hulle drome ontvang het wat aan hulle die reg gee om verkeerde dinge te doen. Daarom pleeg hulle die afstootlikste sondes. Hulle steur hulle glad nie aan die Here se gesag nie. Kyk net hoe beledig hulle die engele in die hemel. Weet julle, nie eens Migael, die hoof van die engele, het dit gewaag om een lelike ding te sê toe hy en die duiwel op ’n dag met mekaar in ’n woordestryd gewikkel was nie. Dit was na Moses se dood toe hulle gestry het oor wat van sy liggaam gaan word. Tog het Migael nie ’n enkele beledigende woord vir die duiwel gesê nie. Hy het dit aan God oorgelaat om hom te veroordeel. Al wat Migael vir die duiwel gesê het, was: “Die Here sal met jou afreken; Hy sal jou straf!” Daardie mense daar by julle sê allerhande lelike dinge oor die engele. Hulle weet nie waarmee hulle besig is nie. Hulle is soos ’n trop wilde diere wat geen verstand het nie. Hulle loop agter hulle dierlike instinkte aan. Dit is juis hulle ondergang. ’n Verskriklike einde wag op hulle. Hulle stap op dieselfde pad van sonde as Kain. Hulle pleeg dieselfde bedrog as Bileam ter wille van geld. En, net soos Korag, kom hulle in opstand. Hulle ondergang staan vas. Hierdie mense besoedel die feesgeleenthede waar julle nagmaal hou. Wat ’n skaamtelose spul! Hulle dink net aan hulleself. Hierdie mense is soos wolke wat geen reën bring nie en wat deur die wind rondgewaai word. Hulle is soos vrugtebome wat laat in die seisoen nog geen vrugte gedra het nie. Hulle is soos bome wat morsdood is. Hulle is eintlik al klaar ontwortel. Hulle is soos reusegolwe wat net ’n spul nuttelose skuim op die strand uitspoel. Hulle is soos sterre wat uit hulle baan geslinger is en koersloos in die hemel rondswerf. God hou vir hulle almal ’n plek in die pikdonker dieptes van die doderyk gereed - vir altyd! Henog, daardie godvresende man uit die sewende geslag na Adam, het ons lank gelede al deur ’n profetiese woord teen hierdie sondaars gewaarsku. Hy het gesê: “Kyk mooi! Die Here is op pad met sy hemelse weermag. Hy kom om sy oordeel oor almal te voltrek. Vir sondaars sal dit ’n verskriklike dag wees. Elke goddelose daad wat mense in hulle slegtheid aangevang het en elke lelike woord wat hulle teen die Here kwytgeraak het, sal op daardie dag gestraf word.” Die indringers daar by julle is ’n opperste spul klakouse. Hulle is met niks tevrede nie. Hulle loop heeltyd agter al hulle sondige begeertes aan. Boonop praat hulle groot. Hulle misbruik ander mense deur vleitaal, maar, wees gewaarsku, dis glad nie eg nie. My liewe vriende, julle moet onthou dat die apostels van ons Here Jesus Christus julle vroeër ook teen hierdie mense gewaarsku het. Hulle het vir julle gesê: “In die laaste dae op aarde sal daar mense op die toneel verskyn wat agter al die sondes aanloop en doen net wat hulle wil. Hulle sal ’n bespotting van julle maak.” Hierdie slegte mense is besig om die kerk in twee te skeur. Al wat vir hulle saak maak, is hulle eie onbeheerbare drange en drifte. Die Gees van God is glad nie in hulle lewe te sien nie. My liewe vriende, kom ek sê vir julle wat julle moet doen om op die regte pad te bly: Sorg dat julle geloof dag na dag sterker word. Bou julle hele lewe op God. Laat toe dat die Gees kragtig deur julle werk wanneer julle bid. Laat God se liefde julle lewe omring soos ’n sterk muur. Plaas al julle hoop op die ongelooflike goedheid van ons Here Jesus Christus. Hy gee so baie vir julle om dat Hy vir julle die ewige lewe sal gee. Gee om vir mense wie se geloof nog swak is. Help hulle sodat hulle geloof sterker kan word, al verdien hulle dit nie. Diegene wat op sleeptou geneem word deur hierdie mense se doen en late moet julle uit die vuur ruk voordat dit te laat is. En aan ander mense wat verkeerd doen, moet julle die nodige liefde bewys. Doen dit versigtig, maar hou aan, ook al verdien hulle dit nie. Julle moet egter niks te doen hê met al die verskriklike dinge wat hulle aanvang nie. Ons dien ’n wonderlike God. Hy is baie sterk. Hy kan sorg dat julle nooit in die sonde val nie. Hy kan julle beskerm sodat julle veilig by Hom in sy nuwe wêreld aankom, vol vreugde en met lofliedere in julle hart sodat julle sy grootheid vir altyd kan beleef. Aan die enigste ware God, ons Redder deur Jesus Christus, ons Here, behoort al die hemelse glorie en koningskap, die krag en die mag van altyd af, maar ook vandag en môre - ja, tot in die verste ewigheid. Vir seker! Amen.

JUDAS 1:1-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hierdie brief kom van Judas. Ek is ’n dienskneg van Jesus Christus en ’n broer van Jakobus. Ek skryf aan julle vir wie God die Vader liefhet – julle wat deur Jesus Christus geroep is en veilig deur Hom bewaar word. Mag God se ontferming, vrede en liefde steeds meer en meer julle deel word. Geliefdes, ek was baie haastig om aan julle te skryf oor die verlossing wat ons met mekaar deel. Maar nou voel ek verplig om aan julle te skryf en julle aan te spoor om aan te hou stry vir die geloofsbelydenis wat eenmalig oorgelewer is aan God se mense. Want sekere mense het hulle in julle geledere ingewurm, goddelose mense wat reeds lank tevore vir die oordeel bestem was. Hulle verwring die genade van ons God tot roekeloosheid en misken ons enigste Eienaar en Here, Jesus Christus. Ek wil julle daaraan herinner, al weet julle al die dinge, dat die Here sy volk uit Egipte bevry het, maar later tog dié vernietig het wat nie wou glo nie. En wat van die engele wat hulle nie gehou het by hulle perke van gesag nie, maar hulle eie woonplek verlaat het? God het hulle met ewige kettings in die donker onder bewaking gehou vir die oordeelsaankondiging op die groot dag. Moet ook nie vir Sodom en Gomorra en die omliggende dorpe vergeet nie. Op dieselfde manier as die engele het hulle seksuele sondes gepleeg en gehunker na wesens anders as hulleself. As waarskuwende voorbeeld verduur hulle die straf van die ewige vuur. Net so is dit nou met hierdie goddelose mense: terwyl hulle op droomvisioene aanspraak maak, besoedel hulle hulle eie liggame, verwerp hulle gesag en beledig hulle die glorieryke hemelwesens. Selfs Migael, die aartsengel, het dit nie eers gedoen nie. Toe hy met die duiwel in ’n ernstige woordestryd oor Moses se liggaam gewikkel was, het hy dit nie gewaag om ’n beledigende oordeel teen hom uit te spreek nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal met jou afreken.” Hierdie mense praat beledigend oor dinge wat hulle nie regtig verstaan nie. Hulle is eintlik soos redelose diere wat net hulle eie natuurlike instinkte ken waardeur hulle hulle eie vernietiging veroorsaak. Ellende wag op hulle omdat hulle hulle op die pad van Kain bevind; deur dieselfde dwaling as Bileam het hulle hulleself verryk; deur dieselfde opstandigheid van Korag het hulle hulleself vernietig. Hulle is soos vrot kolle by julle liefdesmaaltye terwyl hulle onbeskaamd saam feesvier en hulle ooreet; hulle is leë miswolke wat deur die winde verbygewaai word. Hulle is bome sonder vrugte in die herfsseisoen, dubbel-dood en ontwortel. Hulle is woeste seegolwe wat hulle eie skandes bruisend laat opskuim; hulle is verdwaalde sterre; vir hulle is plek voorberei in die somber diepte van die ewige duisternis. Oor hierdie mense het Henog, wat sewe geslagte ná Adam geleef het, geprofeteer en gesê: “Kyk, die Here kom met sy tienduisende heilige engele, en Hy sal oor almal oordeel en die goddeloses skuldig bevind oor al hul goddelose optredes en oor al die skelwoorde wat die goddelose sondaars teen Hom uitgespreek het.” Hierdie mense is klakouse en morpotte. Hulle rig hulle lewe in volgens hulle natuurlike drange, en met die mond raak hulle arrogante dinge kwyt; hulle vlei ander ter wille van eie voordeel. Julle, geliefdes, moet egter die woorde wat die apostels van ons Here Jesus Christus lank terug gesê het, goed onthou. Hulle het vir julle gesê dat daar in die eindtyd spotters sal wees wat hulle lewe inrig volgens hulle eie goddelose menslike drange. Dit is juis daardie mense wat verdeeldheid veroorsaak; hulle leef volgens hulle natuurlike drange en het nie die Gees in hulle nie. Maar julle, geliefdes, moet aanhou om julleself op te bou op die fondament van julle allerheiligste geloof. Hou aan om te bid terwyl julle heg verbind bly aan die Heilige Gees. Hou julle liefdesband met God in stand. Verwag die ontferming van ons Here Jesus Christus met die ewige lewe as einddoel. Dié wat nog besluiteloos is, moet julle met ontferming behandel. Red ander deur hulle uit die vuur te ruk. Aan nog ander moet julle ontferming betoon, maar wees uiters versigtig dat julle nie ook deur hulle sondige luste besmet word nie, ja, verafsku dit. Aan Hom wat magtig is om julle van val te bewaar, en julle sonder vlek met groot vreugde voor sy heerlike teenwoordigheid stelling te laat inneem, aan die ewige God, ons Verlosser op grond van wat Jesus Christus vir ons gedoen het, behoort die heerlikheid, die grootheid, die krag en die mag van altyd af, ook nou en vir altyd. Amen.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid