Judas 1:1-25

Judas 1:1-25 AFR20

Judas, dienskneg van Jesus •Christus, en broer van Jakobus, aan die geroepenes, diegene wat hulle in die liefde van God die Vader bevind, en vir Jesus Christus bewaar is: Mag barmhartigheid, vrede en liefde in oorvloed aan julle gegee word. Geliefdes, alhoewel ek vas van plan was om aan julle oor ons gemeenskaplike verlossing te skryf, word ek nou genoodsaak om aan julle te skryf en julle aan te spoor om te stry vir die geloof, wat eens en vir altyd aan die heiliges oorgelewer is. Want sekere mense oor wie die oordeel reeds lank tevore opgeteken is, het julle geledere binnegesypel, goddeloses, mense wat God se genade in losbandigheid laat ontaard, en ons enigste Vors en Here, Jesus •Christus, ontken. Ek wil julle daaraan herinner – al weet julle dit alles – dat die Here, nadat Hy een keer die volk uit Egipteland gered het, die tweede keer diegene wat nie geglo het nie, omgebring het, en dat Hy die engele wat hulle nie aan hulle magsgebied gehou het nie, maar hulle woonplek verlaat het, met ewige boeie in die duisternis in bewaring hou, vir die oordeel van die groot dag. So ook dien Sodom en Gomorra, en die omliggende stede, wat op 'n soortgelyke manier as daardie engele ontug gepleeg en agter vreemde liggame aangeloop het, as waarskuwende voorbeeld, omdat hulle die straf van ewige vuur ondergaan. En tog doen hierdie mense, op grond van hulle droomvisioene, dieselfde: Hulle besoedel hulle liggame, verwerp gesag, en belaster die glansryke hemelwesens. Selfs Migael, die aartsengel, toe hy van die Duiwel verskil, en met hom oor die liggaam van Moses geargumenteer het, het dit nie gewaag om 'n lasterlike oordeel uit te spreek nie, maar gesê: “Mag die Here jou straf!” Hierdie mense belaster egter alles wat hulle nie ken nie, en dit wat hulle instinktief verstaan, soos redelose diere, veroorsaak hulle ondergang. Wee hulle, want hulle het die pad van Kain geloop, en hulleself vir vergoeding aan die bedrog van Bileam oorgegee, en hulle sal, soos met die verset van Korag, omkom. Hierdie mense is skandvlekke by julle liefdesmaaltye; hulle vier skaamteloos saam met julle fees; hulle sorg net vir hulleself. Hulle is wolke wat nie reën bring nie, en deur winde voortgedryf word, bome in die laatherfs wat sonder vrugte staan, twee maal dood, ontwortel, woeste seegolwe wat hulle eie skandes laat opskuim, dwaalsterre vir wie die somber duisternis vir ewig gereed gehou word. Henog, uit die sewende geslag ná Adam, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: “Kyk, die Here kom met sy heilige tienduisende, om oor almal die oordeel te vel, en om alle mense te straf vir al hulle goddelose dade wat hulle in hulle goddeloosheid verrig het, en vir al die vermetele dinge wat goddelose sondaars teen Hom uitgespreek het.” Hierdie mense, dit is hulle wat mor, foutvind, en hulle drange uitleef; hulle is grootmond, en vlei mense vir eie gewin. Maar julle, geliefdes, onthou wat die •apostels van ons Here Jesus •Christus reeds vroeër gesê het. Hulle woorde aan julle was: “In die laaste tyd sal daar spotters wees wat hulle eie drange na goddelose dinge uitleef.” Dit is hierdie mense wat skeuring bring; hulle is gerig op die aardse dinge; hulle het nie die Gees nie. Maar julle moet, geliefdes, deur julleself op te bou in julle allerheiligste geloof, en deur in die Heilige Gees te bid, julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die ontferming van ons Here Jesus Christus, met die oog op die ewige lewe, verwag. Ontferm julle ook oor diegene wat twyfel, maar red ander deur hulle uit die vuur te ruk. Oor nog ander moet julle julle met eerbied ontferm, terwyl julle selfs die onderkleed verafsku wat deur die liggaam besoedel is. Aan Hom wat die mag het om julle daarvan te bewaar dat julle struikel, en om julle onberispelik en jubelend voor sy heerlikheid te stel, aan die enigste God, ons Verlosser, deur Jesus •Christus ons Here, behoort die heerlikheid, majesteit, krag en mag – van voor alle tye, en ook nou, en tot in alle ewigheid. •Amen.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Judas 1:1-25

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid