JOËL 2:1-2
JOËL 2:1-2 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet die ramshoring blaas en hard skree op my gewyde berg Sion. Almal wat in die land woon, moet bewe, want die dag van die Here kom nou, die dag is naby. Dit sal daardie dag baie donker wees, die wolke sal swart wees. Die sprinkane sal soos baie en sterk soldate oral op die berge wees en hulle sal alles donker maak. Soos die lig in die oggend oor die berge kom, so sal die sprinkane oral op die berge wees. Daar was nog nooit so baie sprinkane nie en daar sal nooit weer so baie wees nie.
JOËL 2:1-2 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
BLAAS die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg! Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van die HERE kom, want hy is naby — 'n dag van duisternis en donkerheid, 'n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom 'n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie.
JOËL 2:1-2 Afrikaans 1983 (AFR83)
Blaas die ramshoring in Sion, roep hard op my heilige berg. Al die inwoners van die land sal bewe, want die dag van die Here kom, dit is naby: dié stikdonker dag, die dag van donker wolke waarop die groot sterk nasie oor die berge uitsprei soos die lig van die dagbreek uitsprei. Só 'n sterk nasie was daar nog nooit en sal daar nooit weer wees nie, selfs nie in die verste toekoms nie.
JOËL 2:1-2 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Blaas die •ramshoring op Sion, maak alarm op my heilige berg! Al die inwoners van die land moet bewe, want die dag van die HERE is aan die kom, ja, dit is naby! Dit is 'n dag van duisternis en donkerte, 'n dag van wolke en diepe duisternis. Soos die rooidag wat oor die berge uitsprei, so is daar 'n groot en magtige volk soos daar nog nooit tevore was, of ooit weer sal wees nie tot in die verste nageslag.
JOËL 2:1-2 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Blaas die basuin in Sion en blaas alarm op my heilige berg; laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van die HERE kom, want dit is naby; 'n Dag van duisternis en donkerheid, 'n dag van wolke en donkerheid, soos die môre versprei oor die berge: 'n groot en sterk volk; daar was nog nooit so iets nie, en daarna sal daar nie meer wees nie, tot in die jare van baie geslagte.
JOËL 2:1-2 Die Boodskap (DB)
Blaas op trompette in Sion om die mense te waarsku, maak ’n groot geraas op die berg daar in Jerusalem waar my tempel staan! Bewe, mense van Juda, want die dag waarop die Here na ons toe kom, is naby! Dit sal ’n donker, mistroostige dag wees. Swaar onweerswolke sal in die lug hang. Soos die dagbreek oor die berge verskyn, so skielik sal ’n groot swerm sprinkane verskyn. Hulle sal soos ’n leër soldate lyk. So iets vreesaanjaends is nog nooit voorheen gesien nie, en sal ook nooit weer gesien word nie.
JOËL 2:1-2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Blaas op die trompet in Jerusalem! Maak alarm op my heilige berg! Al die inwoners van die land bewe van vrees, want die Dag van die HERE kom en is naby. Dit is ’n dag van duisternis en donkerte, ’n dag met dik wolke en intense donkerte. ’n Magtige leër verskyn skielik oor die heuwels soos die lig van die dagbreek! Hoe geweldig groot en magtig is hulle nie! Niemand het nog ooit so iets gesien nie, en niemand sal ooit weer so iets sien nie.