JOB 38:1-18 - Compare All Versions
JOB 38:1-18 ABA (Bybel vir almal)
Die Here het met Job gepraat. Die Here was in 'n stormwind, en Hy het gesê: “Job, wie is jy? Dink jy dat jy kan sê Ek besluit verkeerd? Jy weet nie wat jy praat nie. Jy moet gereedmaak, jy moenie bang wees nie. Ek sal vra, en jy moet my antwoord.” “Waar was jy toe Ek die aarde op sy fondamente gesit het? Sê vir my as jy so baie weet. Wie het 'n maatlyn styfgetrek en gemeet hoe groot die aarde moet wees? Weet jy? Waarop staan die voetstukke van die pilare van die aarde? Wie het die hoek-klip onder die aarde gesit? Daardie dag het al die môre-sterre gesing en almal in die hemel het gejuig. Wie het deure ingesit en die see toegesluit toe die water oor die aarde begin vloei het? Dit was toe Ek wolke oor die see gesit het sodat dit donker was oor die see. Ek het 'n grens gemaak vir die see, Ek het deure met sluitbalke ingesit en Ek het gesê: Jy mag tot hier kom, jy mag nie verder kom nie, hier moet jou branders breek.” “Job, het jy in jou lewe vir die oggend gesê dat hy moet kom, het jy vir die dag gesê wanneer dit moet begin? Het jy vir die oggendlig gesê om die aarde te gryp en die mense af te skud wat verkeerd doen? Wanneer dit lig word, dan verander die aarde soos klei verander wanneer 'n mens 'n seël op die klei druk. Die berge en die valleie is soos die voue in 'n bo-kleed. Wanneer die nag verby is, dan kan die mense wat verkeerd doen, nie meer ander mense seermaak en doodmaak nie. Job, was jy al by die fontein waar die see se water uitkom? Het jy al rondgeloop onder op die diep plekke onder die groot see? Het jy die poorte van die doderyk gesien, die poorte van die donker plek? Weet jy hoe groot die aarde is? Sê vir My, as jy dit weet.
JOB 38:1-18 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
DAARNA het die HERE Job uit 'n storm geantwoord en gesê: Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder kennis? Gord dan soos 'n man jou heupe — dan sal Ek jou ondervra, en onderrig jy My. Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het. Wie het sy afmetinge bepaal? — jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan? Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê? Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het? En wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek, uit die moederskoot voortgekom het? Toe Ek die wolk tot sy kleding gemaak het en die donkerheid tot sy windsel. Toe Ek my grens daarvoor uitgebreek en grendel en deure gemaak het; en gesê het: Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie; en hier word 'n grens gestel vir jou trotse golwe. Het jy, solank as jy lewe, die môre ontbied, die dageraad sy plek aangewys, om die some van die aarde aan te gryp, sodat die goddelose daarvan afgeskud word? Dit neem nuwe vorme aan soos die klei onder 'n seël; en die dinge kry gestalte soos 'n kleed. En aan die goddelose word hulle lig ontneem, en die hoë arm word verbreek. Het jy gekom tot by die bronne van die see? En het jy rondgewandel in die binneste diepte van die wêreldvloed? Is die poorte van die dood vir jou ontbloot? En het jy die poorte van die doodskaduwee gesien? Omvat jou begrip die breedtes van die aarde? Gee te kenne as jy dit alles weet.
JOB 38:1-18 AFR83 (Afrikaans 1983)
Toe het die Here vir Job aangespreek uit 'n stormwind uit: “Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie? Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My. Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het. Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het 'n maatlyn oor hom gespan? Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het? Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel het? Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak. Ek het vir hom perke gestel, hom agter slot en grendel gesit. Ek het gesê: ‘Tot hiertoe mag jy kom, nie verder nie; hier is die grens van jou magtige golwe.’ “Het jy, Job, in jou tyd die môre beveel om te kom? Weet jy waar die daeraad vandaan kom, die daeraad wat lig oor die hele aarde bring sodat die goddeloses nie in die donker kan bly skuil nie? Met die daeraad word die vorm van die aarde sigbaar, dit neem vorm aan soos klere wat aangetrek word. Dan word die goddeloses hulle bestaan ontneem en word hulle geweld beëindig. Het jy, Job, al gekom by die plek waar die seewater uitborrel, en rondgestap op die bodem van die diepsee? Het jy die ingang van die doderyk gesien, die plek van donkerte al bekyk? Kan jy 'n beeld vorm van die groot wye wêreld? Praat as jy iets daarvan weet.
JOB 38:1-18 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Die HERE het Job uit 'n stormwind geantwoord; Hy het gesê: “ Wie is hierdie een wat 'n plan vertroebel met woorde sonder kennis? Omgord maar jou heupe soos 'n man! Ek sal jou ondervra, lig jy My dan in! Waar was jy toe Ek die fondamente van die aarde gelê het? Maak dit bekend as jy die insig verwerf het! Wie het die afmetings daarvan bepaal? Sê as jy dit weet! Of wie het 'n maatband daaroor gespan? Waarop is sy voetstukke ingesink? Of wie het die hoeksteen daarvan gelê terwyl die oggendsterre saam gejubel, en al die hemelwesens gejuig het? Wie het met dubbeldeure die see ingeperk toe dit uitgebreek, uit die baarmoeder voortgekom het, toe Ek wolke sy bokleed gemaak, en hom in 'n diepe duisternis toegedraai het, toe Ek my grens bo hom oopgebreek het, en 'n sluitbalk en dubbeldeure in plek geplaas het, en toe Ek gesê het, ‘Tot hier mag jy kom, maar nie verder nie; hier word my grens geplaas teen jou trotse golwe! ’? “ Het jy op enige van jou lewensdae 'n opdrag aan die oggend gegee, vir die rooidag sy plek aangewys deur die some van die aarde vas te vat, sodat goddeloses daarvan afgeskud word? Die aarde verander soos klei onder 'n rolseël, sodat alles vorm kry soos 'n bokleed. Goddeloses word van hulle lig ontneem, en 'n opgehefde voorarm word gebreek. “Het jy al gekom tot by die bronne van die see, en in die onbekende dele van die diep waters rondgeloop? Is die poorte van die dood vir jou blootgelê, en die poorte van die pikdonkerte – het jy dit gesien? Het jy al ag geslaan op die uitgestrektheid van die aarde? Vertel, as jy dit alles weet!
JOB 38:1-18 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Toe het die HERE Job uit die warrelwind geantwoord en gesê: Wie is dit wat raad verduister deur woorde sonder kennis? Gord nou jou lendene soos 'n man; want ek sal van jou eis en jy my antwoord. Waar was jy toe Ek die fondamente van die aarde gelê het? verklaar, as jy verstand het. Wie het sy afmetings bepaal as jy dit weet? of wie het die lyn daaroor gespan? Waarop is die fondamente daarvan vasgemaak? of wie die hoeksteen daarvan gelê het; Toe die môresterre saam gesing het, en al die seuns van God gejuig het? Of wie het die see toegesluit met deure toe dit uitbreek, asof dit uit die moederskoot uitgekom het? Toe Ek die wolk sy kleed gemaak het en die donkerheid daarvoor 'n doeke, En breek daarvoor my vasgestelde plek op, en sit grendels en deure aan, en gesê: Tot hiertoe sal jy kom, maar nie verder nie; en hier sal jou trotse golwe gestop word? Het U die môre bevel gegee van u dae af; en die dagspring sy plek laat ken het; Dat dit die eindes van die aarde kan aangryp, sodat die goddelose daaruit geskud kan word? Dit het soos klei na die seël verander; en hulle staan soos 'n kleed. En van die goddelose word hulle lig weerhou, en die hoë arm sal verbreek word. Het jy in die fonteine van die see ingegaan? of het jy gewandel in die soeke na die diepte? Is die poorte van die dood vir jou oopgemaak? of het jy die deure van die doodskaduwee gesien? Het jy die breedte van die aarde gewaar? verklaar of jy dit alles weet.
JOB 38:1-18 DB (Die Boodskap)
Die Here het toe met Job uit ’n stormwind gepraat en gesê: “Wie is dit wat met dom vrae my besluite in twyfel trek? Maak jou reg vir ’n sarsie vrae wat in jou rigting kom wat jy moet antwoord. “Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? As jy so danig baie weet, sê My! Wie het besluit hoe groot die aarde moet wees? Toe, jy weet dit tog seker, nie waar nie? Wie het die aarde afgemeet? Waarop is die voetstukke van die aarde neergesit? Wie het die hoeksteen gelê? Die môresterre het saamgesing en al die hemelse inwoners het van blydskap geskreeu toe dit gebeur het. Wie het vir die see grense gemaak toe dit onstuimig begin uitborrel het? Ek het die see met donker wolke toegemaak. Ek het besluit hoe ver die see kon spoel. Ek het die strande gegee om die see op sy plek te hou. Ek het gesê: ‘Jy mag net tot hier kom en nie verder gaan nie. Hier moet jou skuimende golwe stop!’ “Job, het jy al ooit vir die oggend gesê om te begin en die dag laat verstaan wanneer om te breek? Die daglig versprei tot by die verste dele van die aarde. Die lig wat oral skyn, maak dit onmoontlik vir die misdadigers om weg te kruip. Die lig skud hulle uit hulle wegkruipplekke uit. As die dag breek, sien ’n mens eers net die vorm van die berge en die valleie op die aarde. Dit lyk soos ’n vorm wat in klei afgedruk is of die voue van ’n stuk klere. Die lig maak dit vir die misdadigers moeilik om mense te pla. Dit keer hulle om met hulle geweld voort te gaan. “Job, het jy al gaan kyk na die bronne waaruit die see borrel? Het jy al diep in die see op die bodem rondgeloop? Het iemand al vir jou gewys waar die hekke van die dood is? Het jy die ingang na die doderyk gesien? Het jy enigsins ’n idee hoe groot die aarde is? Sê vir My as jy dit alles weet!
JOB 38:1-18 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Toe het die HERE Job uit ’n stormwind geantwoord: “Wie is dit wat my wysheid bevraagteken met woorde van onkunde? Staal jou! Ek sal die vrae stel, en dan antwoord jy My. “Waar was jy toe Ek die fondasie van die aarde gelê het? Sê My as jy so baie weet! Wie het die aarde opgemeet? Jy weet tog seker! En wie het die maatband oor die aarde gespan? Waarop rus die fondasie van die aarde? En wie het sy hoeksteen gelê? Toe het al die môresterre saamgesing en die hemelse wesens het van vreugde gejuig. “Wie het die grense van die see vasgestel toe dit uitgeborrel het en Ek dit bedek het met wolke en dik duisternis? Ek het grense vir hom gestel. Ek het hom agter slot en grendel gesit. Ek het gesê: ‘Jy mag tot hier kom, en nie verder nie. Hier moet jou trotse golwe breek.’ “Het jy ooit die môre beveel om te verskyn? Het jy die dag laat breek in die ooste? Het jy al die lig opdrag gegee om oor die aarde te sprei sodat die nag se boosheid kan ophou? Die aarde neem vorm aan soos die lig toeneem. Dit neem vorm aan soos voue in ’n kledingstuk. Die lig versteur die rooftog van die kwaaddoener. Hulle kan nie meer die arm lig om geweld te pleeg nie. “Was jy al by die fonteine waar die see ontspring? Het jy al daar rondgeloop en sy dieptes verken? Weet jy waar die ingang van die doderyk is, waar die donkerte skuil? Begryp jy hoe groot die aarde is? Sê My as jy dit alles weet.