Job 38

38
God se antwoord aan Job
1 Die Here het Job uit 'n stormwind geantwoord; Hy het gesê:
2“ Wie is hierdie een wat 'n plan
vertroebel met woorde sonder kennis?
3 Omgord maar jou heupe soos 'n man!
Ek sal jou ondervra,
lig jy My dan in!
4 Waar was jy toe Ek
die fondamente van die aarde
gelê het?
Maak dit bekend
as jy die insig verwerf het!
5Wie het die afmetings daarvan bepaal?
Sê as jy dit weet!
Of wie het 'n maatband daaroor gespan?
6Waarop is sy voetstukke ingesink?
Of wie het die hoeksteen daarvan gelê
7 terwyl die oggendsterre saam gejubel,
en al die hemelwesens gejuig het?
8 Wie het met dubbeldeure die see ingeperk
toe dit uitgebreek,
uit die baarmoeder voortgekom het,
9toe Ek wolke sy bokleed gemaak,
en hom in 'n diepe duisternis toegedraai het,
10toe Ek my grens bo hom
oopgebreek het,
en 'n sluitbalk en dubbeldeure
in plek geplaas het,
11 en toe Ek gesê het,
‘Tot hier mag jy kom,
maar nie verder nie;
hier word my grens geplaas
teen jou trotse golwe! ’?
12“ Het jy op enige van jou lewensdae
'n opdrag aan die oggend gegee,
vir die rooidag sy plek aangewys
13deur die some van die aarde vas te vat,
sodat goddeloses daarvan afgeskud word?
14Die aarde verander
soos klei onder 'n rolseël,
sodat alles vorm kry
soos 'n bokleed.
15 Goddeloses word van hulle lig ontneem,
en 'n opgehefde voorarm word gebreek.
16“Het jy al gekom tot by
die bronne van die see,
en in die onbekende dele
van die diep waters rondgeloop?
17 Is die poorte van die dood
vir jou blootgelê,
en die poorte van die pikdonkerte –
het jy dit gesien?
18Het jy al ag geslaan
op die uitgestrektheid van die aarde?
Vertel, as jy dit alles weet!
19Waar is die pad na waar die lig woon;
en die donker, waar is sy plek,
20dat jy hom na sy gebied kan neem,
en die paaie na sy tuiste onderskei?
21Jy moet dit weet,
want jy was toe al gebore,
en die getal van jou lewensdae is baie!
22“ Het jy al in die voorraadkamers
van die sneeu ingegaan,
en die voorraadkamers van die hael –
het jy dit al gesien,
23dit wat Ek gereedhou
vir 'n tyd van angs,
vir die dag van stryd en oorlog?
24Waar is die pad na waar
die weerlig verdeel word,
na waar die oostewind
dit oor die aarde versprei?
25Wie het vir die vloedwaters
'n voor oopgekloof,
'n pad vir die harde donderslae,
26 om dit te laat reën op 'n land
sonder mense,
op 'n woestyn waarin daar
geen mens is nie,
27om so die wildernis
en woesteny te versadig,
en groen grasspriete te laat uitspruit?
28 Het die reën 'n vader,
of wie het geboorte gegee
aan die doudruppels?
29 Uit wie se moederskoot
het die ys te voorskyn gekom,
en die ysryp uit die hemel –
wie het daaraan geboorte gegee,
30wanneer water
asof in klip skuilgaan,
en die oppervlakte
van die diep waters dig sluit?
31“ Kan jy die koorde
van die Sewester knoop,
of die bande van Orion losmaak?
32Kan jy 'n sterrebeeld uitlei op sy tyd,
die Beer met haar kleintjies begelei?
33 Ken jy die wette
van die hemelruim,
kan jy die invloed daarvan
op die aarde vasstel?
34Kan jy jou stem na die wolke rig,
sodat 'n watervloed jou bedek?
35 Kan jy weerligte vrylaat,
sodat hulle gaan
en vir jou sê, ‘Hier is ons!’?
36Wie plaas wysheid
in die wit wolke,
of wie gee insig
aan die wolke wat wegdryf?
37Wie kan met wysheid
die wolkemassa aftel,
en die waterkruike van die hemel –
wie keer hulle om,
38wanneer die grond
soos gegote metaal verhard,
en die kluite saamklont?

Tans Gekies:

Job 38: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid