JOB 36:27-33
JOB 36:27-33 Bybel vir almal (ABA)
Hy trek die druppels water op en Hy verander die druppels in reën. Die wolke laat dit reën, die reën val op al die baie mense. Niemand verstaan hoe die wolke bymekaarkom, en hoe die donderweer raas en dreun daar waar God woon nie. God laat die weerlig oral slaan, maar Hy laat die see donker bly. Hy regeer, Hy gee die reën, en almal het kos om te eet, meer as genoeg kos. Hy vat die weerlig in sy hand en Hy stuur dit waar dit moet wees. Die beeste hoor ook hoe die donderweer raas en dreun, en hulle wys dat daar 'n storm kom.
JOB 36:27-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want Hy trek waterdruppels af; hulle sif neer by sy mistige weer as reën wat die wolke laat neerstroom, laat afdrup op baie mense. Ja, kan iemand die uitspreiding van die wolke verstaan, die gekraak van sy hut? Kyk, Hy sprei sy lig oor Hom uit, en die dieptes van die see oordek Hy. Want daarmee oordeel Hy die volke, gee Hy voedsel in oorvloed. Altwee sy hande oordek Hy met weerlig en gee daaraan bevel teen die aanvaller. Sy donderstem kondig Hom aan, die vee selfs dat Hy optrek.
JOB 36:27-33 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy trek vog op uit die see, Hy haal reën uit die groot waters uit, dan giet die wolke water uit, laat hulle dit op al die baie mense val. Kan iemand verstaan hoe die wolke beweeg en hoe die weer dreun daar in die woonplek van God? Hy versprei die weerlig deur die lug, en bedek die bodem van die see. So regeer Hy oor die volke en gee Hy kos in oorvloed. Hy vat die weerlig in sy hand en stuur dit op die doelwit af. Die onweer kondig aan dat die storm kom, die vee snuif die lug op voor die storm losbreek.
JOB 36:27-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want Hy trek druppels water op; dit word vir sy ondergrondse rivier oorgeskink tot reënwater wat die wolke uitstort, wat hulle oorvloedig laat drup op die mense. Verder, verstaan mens die uitbult van 'n wolkbank, die donderslae uit die hut van God? Kyk, Hy sprei sy weerlig oor die wolkbank uit; die wortels van die see bedek Hy. Ja, daarmee oordeel Hy volke; so gee Hy ook kos in oorvloed. Albei sy hande is vol weerlig, en Hy beveel dit om die teiken te tref. Sy donderende stem kondig die storm aan, ook die vee vertel dat dit nader kom.
JOB 36:27-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want Hy maak die waterdruppels klein; hulle giet reën volgens die dampe daarvan; wat die wolke wel laat val en oorvloedig oor die mens distilleer. Kan iemand ook die uitsprei van die wolke of die geraas van sy tabernakel verstaan? Kyk, Hy sprei sy lig daaroor uit en bedek die bodem van die see. Want deur hulle oordeel Hy die volk; hy gee vleis in oorvloed. Met wolke bedek Hy die lig; en beveel dit om nie te skyn deur die wolk wat tussenin kom nie. Sy geraas maak daaroor te kenne, die vee ook oor die damp.
JOB 36:27-33 Die Boodskap (DB)
Hy laat die waterdamp opstyg en maak daarvan reën. Die reën val dan uit die wolke op die mense neer en almal kan dit geniet. Niemand kan verstaan hoe die wolke saampak en die donder uit die hemel aangerol kom nie. Die weerlig blits oral in die hemel terwyl die bodem van die see toe onder die water bly. Aan die een kant gebruik Hy hierdie dinge om mense te straf, maar aan die ander kant sorg die reën vir meer as genoeg kos. Hy hou die weerligstrale in sy hande en beveel waar hulle moet slaan. Die gedreun van die donderweer wys dat God daar is. Die storm maak dit duidelik dat Hy baie kwaad is.”
JOB 36:27-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Hy trek waterdamp op en laat dit val as reën. Reën stort uit die wolke en almal baat daarby. Kan iemand verstaan hoe die wolke uitsprei, en die donderweer rol deur die hemel? Kyk hoe Hy die weerlig rondom Hom laat blits. Kyk hoe dit die diepsee verlig. Deur sy magtige dade regeer Hy oor die mense, Hy sorg vir hulle met oorvloed. Hy vul sy hande met weerlig en gooi hulle af op sy teiken. Die donderweer verkondig sy teenwoordigheid. Die storm kondig sy woede aan.”