JOB 36

36
1Elihu het ook nog gesê:
2“Laat my voortgaan,
en ek sal die waarheid
vir jou uitwys
in wat ek sê,
want ek is nog nie klaar
om God te verdedig nie!
3Ek het baie voorbeelde
van die regverdigheid
van my Maker
wat ek aan jou kan voorhou.
4“Wat ek gaan sê,
is die eerlike waarheid,
want ek is ’n man
met afgeronde kennis.
5God is magtig,
tog verag Hy niemand nie!
Hy is magtig in sowel krag
as begrip.
6Hy laat die kwaaddoener
nie lewe nie,
maar sorg vir regverdigheid
vir die verdrukte.
7Sy oë is altyd
op die onskuldige,
Hy vestig en verhef hulle
vir altyd
saam met konings.
8Maar as hulle moeilikheid het
en swaar verdruk word,
9doen Hy moeite
om vir hulle die rede uit te wys,
naamlik hulle sonde
van hoogmoed.
10So kry Hy hulle aandag
en sê vir hulle
dat hulle moet wegdraai
van die kwaad.
11As hulle luister
en Hom gehoorsaam,
word hulle geseën
met voorspoed
deur hulle hele lewe.
12Maar as hulle weier
om te luister,
sal hulle sterf in die geveg
en ondergaan
omdat hulle niks verstaan nie.
13“Goddelose mense vertroetel
hulle woede.
Selfs wanneer Hy hulle straf,
weier hulle om te roep
om hulp.
14Hulle sterf jonk.
Hulle lewe eindig
in skandelike dade.
15Maar deur hulle swaarkry,
red Hy mense wat ly.
Want Hy gebruik hulle lyding
om hulle oë oop te maak.
16“Ja, ook vir jou wou God
uit die gevaar lei.
Hy wou jou vrymaak.
Hy wou jou oorgenoeg gee
om van te lewe.
17Maar jy is behep
met die oordeel
oor die goddelose.
Moenie bekommerd wees nie.
Regverdigheid sal seëvier.
18Oppas dat voorspoed
jou nie verlei nie.
Moenie dat ’n groot
omkoopgeskenk
jou laat sondig nie.
19Kan al jou geld en moeite
jou help in jou ellende?
20Moenie wens
dat die nag kom nie.
Dis juis dan
dat mense vernietig word.
21Wees waaksaam!
Draai weg van die kwaad!
God het juis swaarkry
oor jou gestuur
om jou weg te vat van sonde.”
Elihu herinner Job aan God se mag
22“God is almagtig.
Wie kan ’n mens leer
soos Hy?
23Niemand kan Hom vertel
wat om te doen nie.
Niemand kan vir Hom sê:
‘U was verkeerd’ nie.
24Nee, verheerlik liewer
sy magtige werke
en sing tot sy lof.
25Elkeen het hierdie dinge
gesien,
maar net van ver af.
26Kyk, God is verhewe
bokant ons begrip.
Sy jare is sonder einde.
27“Hy trek waterdamp op
en laat dit val as reën.
28Reën stort uit die wolke
en almal baat daarby.
29Kan iemand verstaan
hoe die wolke uitsprei,
en die donderweer
rol deur die hemel?
30Kyk hoe Hy die weerlig
rondom Hom laat blits.
Kyk hoe dit die diepsee verlig.
31Deur sy magtige dade
regeer Hy oor die mense,
Hy sorg vir hulle met oorvloed.
32Hy vul sy hande met weerlig
en gooi hulle af op sy teiken.
33Die donderweer verkondig
sy teenwoordigheid.
Die storm kondig sy woede aan.”

Tans Gekies:

JOB 36: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid