JOB 14:1-17
JOB 14:1-17 Bybel vir almal (ABA)
'n Mens, die kind van 'n vrou, lewe nie lank nie, en dit gaan nooit heeltemal goed met hom nie. Hy is soos 'n blom wat oopgaan en wat dan droog word en verlep, hy is soos 'n skaduwee wat verbykom en nie stilstaan nie. U kyk na so 'n mens, U wil so 'n mens voor die hof bring. Wanneer 'n mens onrein is, dan is hy onrein, niemand kan dit verander nie. Sy tyd om te lewe, is kort, net U weet hoe lank hy sal lewe. U het besluit hoe lank hy sal lewe, en hy sal nie langer lewe as daardie tyd nie. U moet wegkyk en U moet die mens los totdat hy soos 'n dagloner klaar is met die werk wat hy moet doen. Wanneer iemand 'n boom afgekap het, dan kan 'n mens hoop dat die boom weer sal groei en nie sal doodgaan nie. Sy wortels in die grond word oud, dit lyk of hulle droog en dood is, maar wanneer die wortels water kry, dan groei die boom weer, hy kry nuwe takkies. Maar 'n mens word swak, hy sterf en hy is nie meer daar nie. Water raak weg uit die see, en 'n rivier word droog. So sterf 'n mens en hy lewe nie weer nie, hy word nie weer wakker nie, niemand sal hom wakker maak nie, so lank soos wat die hemel daar is. Ek wens dat U my wil wegsteek in die doderyk en dat U my daar wil hou totdat U nie meer kwaad is nie. Ek wens dat U wil besluit hoe lank ek daar moet bly en dat U dan weer aan my sal dink. Maar kan 'n mens weer lewe nadat hy gesterf het? As dit kan gebeur, dan sal ek wag totdat dit weer goed gaan met my, ek sal aanhou wag terwyl ek swaarkry in hierdie lewe. U sal roep, en ek sal antwoord. U sal graag vir my weer wil sien, vir my wat U gemaak het. Ja, dan sal U kyk hoe ek lewe, maar U sal nie my sonde onthou nie. U sal vergeet dat ek opstandig was, U sal maak of U nie weet dat ek verkeerd gedoen het nie.
JOB 14:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE mens uit 'n vrou gebore, is kort van dae en sat van onrus. Hy spruit uit soos 'n blom en verwelk; ook vlug hy soos 'n skaduwee en hou nie stand nie. En oor so een maak U die oë oop, en U bring my voor u gereg. Ag, kon maar 'n reine voortkom uit 'n onreine — nie een nie! As dan sy dae vasgestel is, die getal van sy maande by U is, U vir hom grense gestel het waar hy nie oor kan gaan nie, kyk dan weg van hom af, dat hy kan rus — totdat hy soos 'n dagloner hom tevrede voel met sy dag. Want vir 'n boom is daar verwagting: as dit afgekap word, loop dit weer uit en sy loot ontbreek nie. As sy wortel oud word in die aarde en sy stam sterf in die stof — van die reuk van die water spruit dit weer uit, en dit maak 'n tak soos 'n jong plantjie. Maar 'n man sterwe en is magteloos; ja, 'n mens blaas die asem uit en — waar is hy? Die waters verdwyn uit die groot waterplas, en die rivier droog uit en lê droog — so lê die mens daar sonder om weer op te staan; totdat die hemele nie meer is nie, word hulle nie wakker of uit hul slaap opgewek nie. Ag, as U my maar in die doderyk wou wegsteek, my wou verberg totdat u toorn bedaar het, my 'n bepaalde tyd wou stel en dan aan my wou dink! As 'n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom; U sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang. Want nou tel U my voetstappe. Let U nie op my sonde nie? My oortreding is verseël in 'n bondeltjie, en U sluit my ongeregtigheid weg.
JOB 14:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Die mens, uit 'n vrou gebore, se lewe is kort en vol onrus. Hy is soos 'n blom wat oopgaan en dan verlep, 'n skaduwee wat verbygaan en nie stilstaan nie. Dit is so 'n mens vir wie U in die oog hou, vir wie U in 'n regsgeding met U wil betrek. Wie kan rein uit onrein laat voortkom? Niemand nie! “Die mens se dae is vasgestel, U het die getal van sy jare bepaal, U het dit neergelê, en hy kan dit nie oorskry nie. U moet van hom af wegkyk en hom met rus laat totdat hy soos 'n huurling sy dagtaak afgehandel het. Vir 'n boom is daar nog hoop; al is dit afgekap, kan dit weer uitloop, en sy lote sal aanhou groei. Al word sy wortels oud in die aarde en al gaan sy stam dood in die grond, spruit hy weer uit as hy net water ruik, en groei sy takke asof hy pas geplant is. Maar die mens sterf en verdwyn, hy blaas sy laaste asem uit, en waar is hy? Soos water uit die see verdamp, en 'n rivier opdroog, so ontslaap die mens en staan nie weer op nie; totdat die hemel nie meer daar is nie, sal hy nie wakker skrik nie, nie weer wakker gemaak word nie. As U my maar liewer in die doderyk wou wegsteek, my daar wou hou tot u toorn afgekoel het, as U maar liewer 'n tyd vir my wou vasstel en dan weer aan my wou dink! “As 'n mens sterf, sal hy weer lewe? Dan sou ek al die dae van my swaarkry kon wag tot daar vir my nuwe lewe kom. Dan sou U my roep en ek U antwoord en sou U graag weer die maaksel van u hande wou sien. Dan sou U elke tree tel wat ek gee, maar nie ag gee op my sonde nie. Dan sou U my oortreding in 'n sak verseël en my sonde toemaak.
JOB 14:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ 'n Mens, gebore uit 'n vrou, se lewensdae is van korte duur en vol onrus. Soos 'n blom kom hy op en verwelk; soos 'n skaduwee verdwyn hy en hou nie stand nie. Ja, op so een hou U u oë gerig, hom betrek U in 'n regsaak met U. Wie kan iets reins uit iets onreins laat voortkom? Niemand nie! As sy lewensdae dan vasgestel is, die getal van sy maande by U vasstaan; as U sy grens bepaal het wat hy nie kan oorskry nie, kyk dan weg van hom af, sodat hy kan ophou werk, totdat hy soos 'n dagloner tevrede is met sy dag. Ja, vir 'n boom is daar hoop: As hy afgekap word, loop hy weer uit, sy jong lote hou nie op uitspruit nie. Al word sy wortel oud in die grond, en al gaan sy stomp dood in die grond, van die reuk van water spruit hy uit, maak hy lote soos 'n jong plant. Maar 'n man sterf en is magteloos; 'n mens kom om – en waar is hy dan? Water verdwyn uit 'n see, en 'n rivier droog op en lê uitgedor; so gaan lê 'n mens en staan nie weer op nie. Tot die hemel nie meer daar is nie, word hulle nie wakker nie, word hulle nie wakker gemaak uit hulle slaap nie. “As U my maar in die •doderyk wou wegsteek, my verberg totdat u toorn bedaar het, 'n vasgestelde tyd vir my bepaal, en my dan onthou! As 'n man sterf, sal hy weer leef? Al die dae van my dwangarbeid sou ek wag tot die einde van my skof. U sou roep en ek, ek sou U antwoord; na u handewerk sou U verlang. Alhoewel U nou my treë tel, sou U nie my sonde dophou nie. Verseël in 'n sak sou my oortreding wees; U sou my sondeskuld toepleister.
JOB 14:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die man wat uit 'n vrou gebore is, is van min dae en vol benoudheid. Hy kom uit soos 'n blom en word afgekap; ook vlug hy soos 'n skaduwee en bly nie. En open jy jou oë oor so iemand en bring jy my in die gereg met jou? Wie kan 'n rein ding uit 'n onreine bring? nie een nie. Terwyl sy dae vasgestel is, die getal van sy maande by jou is, het jy sy grense vasgestel waaroor hy nie kan verbygaan nie; Bekeer jou van hom af, dat hy kan rus totdat hy sy dag soos 'n huurling volbring het. Want daar is hoop op 'n boom, as dit afgekap word, dat dit weer sal uitspruit, en dat sy sagte tak nie sal ophou nie. Al word sy wortel in die aarde oud, en sy stam sterf in die grond; Maar deur die geur van water sal dit bot en takke voortbring soos 'n plant. Maar die mens sterf en verdwaal; ja, die mens gee die blaas op, en waar is hy? Soos die waters van die see wegraak en die vloed vergaan en opdroog; So gaan die mens gaan lê en staan nie op nie; totdat die hemel daar nie meer is nie, sal hulle nie wakker word en uit hul slaap opstaan nie. Ag, dat U my in die doderyk wou wegsteek, dat U my verborge sou hou totdat u toorn verby is, dat U vir my 'n vasgestelde tyd sou bepaal en aan my dink! As iemand sterf, sal hy weer lewe? al die dae van my vasgestelde tyd sal ek wag totdat my verandering kom. Jy sal roep, en Ek sal jou antwoord; jy sal begeer na die werk van jou hande. Want nou tel U my voetstappe; waak U nie oor my sonde nie? My oortreding is in 'n sak verseël, en jy werk my ongeregtigheid toe.
JOB 14:1-17 Die Boodskap (DB)
Job het nog verder gepraat en gesê: “’n Mens se lewe is kort en vol probleme. Jou lewe is soos ’n blom. Vir ’n kort rukkie is die blom pragtig, maar dit gaan gou dood. Dit is soos ’n wolk wat vir ’n klein rukkie ’n skaduwee gooi en dan skielik is dit weg. Dit is so ’n brose mens wat U dophou. U het my voor U gedaag om met my af te reken. Niemand kan iets wat skoon en sonder vlekke is, laat kom uit iets wat vuil is nie. U het besluit hoe lank ’n mens moet leef. U weet hoeveel maande ons het om te lewe. U sê waar die grens van ons lewens is en ons kry nie ’n minuut langer nie. Here, kyk ’n bietjie weg en laat my rus. Gee my kans om soos iemand wat vir ’n dag werk gekry het, my lewenstaak klaar te maak. “As ’n boom afgekap word, is die kans goed dat daar weer nuwe lote en takke uit die stomp sal groei. Dit is dalk so dat die boom se wortels al baie oud is. Dit kan ook wees dat die stomp al in die grond begin vrot het. Maar as daar water kom, kan dit weer soos ’n jong boom groei en nuwe takkies laat uitskiet. “As mense doodgaan, verloor hulle al hulle krag. As die mens sy laaste asem uitblaas, is dit verby. Waar is hulle dan? Water verdamp uit ’n meer. In droogtetye droog riviere op. Met mense gaan dit net so. Hulle gaan lê en staan net nooit weer op nie. Solank daar nog ’n hemel is, sal hulle nie weer wakker word nie. Hulle sal nie weer uit hulle slaap uit opstaan nie.” Job het vir die Here gesê: “Ek wens U wil my tussen die dooie mense wegsteek en my daar hou totdat U nie meer so kwaad is nie. Besluit vir hoe lank U van my wil vergeet. As hierdie tyd verby is, kan U dan weer van my onthou. Wanneer ’n mens doodgaan, is dit moontlik dat hy weer sal begin leef? As dit moontlik was, sou ek in my swaarkry kon vasbyt totdat ek weer ’n vry mens sou wees. Dan sou U na my roep en ek sou U antwoord. U sou weer verlang na my, ek vir wie U gemaak het. Dan sou U my fyn dopgehou het, maar nie om te kyk waar en wat ek verkeerd doen nie. U sou die verkeerde dinge wat ek gedoen het, in ’n sak sit. Daarna sou U die sak met al die verkeerde goed toebind.
JOB 14:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Hoe broos is die mens! Hoe kort is sy lewe! Hoe vol moeite! Soos ’n blom bloei dit vir ’n oomblik en verwelk. Soos die skadu van ’n drywende wolk, so verdwyn dit. Moet U so ’n brose wese in die oog hou en verantwoording van my eis? Wie kan reinheid skep in iemand wat onrein gebore is? Niemand nie! U het besluit oor die lengte van ons lewe. U bepaal hoeveel maande ons sal leef, en nie ’n minuut langer nie. Gee ons tog net ’n bietjie rus. Kyk tog weg van ons, want ons is soos gehuurdes wat ’n taak moet afhandel. “Selfs ’n boom het hoop. As dit afgekap is, sal dit weer groei en nuwe takke uitspruit. Al was sy wortels al oud op die grond en die stam dood in die stof, met die geur van water kan dit weer bloei en lote laat uitspruit soos ’n jong boom. Maar wanneer mense sterf, verloor hulle alle krag. Hulle blaas hulle asem uit, en waar is hulle dan? Soos water verdamp uit ’n meer, en ’n rivier verdwyn in droogte, so gaan lê die mens wanneer hy sterf en kom nie weer regop nie. Tot die hemele ophou bestaan, sal hulle nie weer wakker word of uit hulle slaap gewek word nie. “Ek wens U wou my wegsteek in ’n graf en van my vergeet totdat u woede verby is. Maar merk my op u kalender om my weer te onthou! Wanneer sterflikes sterf, kan hulle weer lewe? Dié gedagte sal my hoop gee, en deur my worsteling sal ek gretig wag op die vrylating. U sal roep en ek sal antwoord. U sal verlang na my, u handewerk. Dan sal U my voetstappe tel, in plaas daarvan om te kyk vir my sondes. My sondes sal verseël wees in ’n sak en U sal my oortredings bedek.