JOHANNES 14:1-6
JOHANNES 14:1-6 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het ook vir die dissipels gesê: “Julle moenie bekommerd wees nie! Julle moet in God glo en julle moet in My glo. Daar is baie plek om te woon in my Vader se huis. Ek praat die waarheid wanneer Ek sê Ek gaan na my Vader se huis om julle plek gereed te maak. Wanneer Ek gegaan het en julle plekke gereedgemaak het, dan sal Ek terugkom. Dan sal Ek julle saam met My neem sodat julle kan wees waar Ek is. Ek weet julle ken die pad na die plek waarnatoe Ek gaan.” Tomas het vir Hom gesê: “Here, ons weet nie waarnatoe U gaan nie. Daarom ken ons ook nie die pad daarnatoe nie.” Jesus sê toe vir Tomas: “Ek is die pad, Ek is die waarheid, Ek is die lewe. Niemand kan by die Vader kom as hy nie in My glo nie.
JOHANNES 14:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
LAAT julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle. Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
JOHANNES 14:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.” Tomas sê toe vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?” Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.
JOHANNES 14:1-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Laat julle harte nie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek voor te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek voorberei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. Julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.” Thomas sê vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg ken?” Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
JOHANNES 14:1-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir jou plek voor te berei. En as Ek gaan en vir julle plek gereed maak, sal Ek terugkom en julle vir My aanneem; sodat waar Ek is, daar ook julle kan wees. En waarheen Ek gaan, weet julle, en die weg ken julle. Tomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie; en hoe kan ons die weg ken? Jesus sê vir hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
JOHANNES 14:1-6 Die Boodskap (DB)
“Moenie dat hierdie dinge julle te veel ontstel nie. Julle vertrou mos op God. Vertrou My ook. Skep moed! My Vader het ’n huis. Daar is meer as genoeg plek vir julle almal. Ek gaan om vir julle daar plek reg te maak. Dink julle een oomblik Ek sou dit gesê het as dit nie so was nie? As Ek alles vir julle reggekry het, kom Ek julle haal om by My te wees. Waar Ek is, sal julle dan ook wees. Julle weet eintlik goed waarheen Ek gaan en hoe om daar te kom.” “Met alle respek, Here,” sê Tomas, “ons ken nie eens die adres waarheen U gaan nie. Hoe op aarde sal ons dan weet watter pad om te vat?” Jesus sê toe: “Laat Ek dit so stel: Ek is die ‘pad’ en my Vader die ‘adres’. Wie hierdie pad loop, kom by die ware lewe uit. As iemand ’n ander pad loop, sal hy nooit by my Vader uitkom nie.
JOHANNES 14:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Moenie ontsteld wees nie. Hou net aan om op God te vertrou en hou ook aan om op My te vertrou. In die huis van my Vader is daar baie kamers. As dit nie só was nie, sou Ek dit aan julle gesê het. Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak. En as Ek gegaan en vir julle plek ingerig het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is. Julle weet mos waarheen Ek gaan, en hoe om daar te kom.” Tomas sê vir Jesus: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die pad daarheen ken?” Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.