Johannes 14

14
Jesus neem mense na die Vader toe
1Jesus het ook vir die dissipels gesê: “Julle moenie bekommerd wees nie! Julle moet in God glo en julle moet in My glo. 2Daar is baie plek om te woon in my Vader se huis. Ek praat die waarheid wanneer Ek sê Ek gaan na my Vader se huis om julle plek gereed te maak. 3Wanneer Ek gegaan het en julle plekke gereedgemaak het, dan sal Ek terugkom. Dan sal Ek julle saam met My neem sodat julle kan wees waar Ek is. 4Ek weet julle ken die pad na die plek waarnatoe Ek gaan.”
5Tomas het vir Hom gesê: “Here, ons weet nie waarnatoe U gaan nie. Daarom ken ons ook nie die pad daarnatoe nie.”
6Jesus sê toe vir Tomas: “Ek is die pad, Ek is die waarheid, Ek is die lewe. Niemand kan by die Vader kom as hy nie in My glo nie. 7Julle ken My, daarom sal julle ook my Vader ken. Ja, julle ken Hom nou. Julle het Hom gesien.”
8Filippus het vir Jesus gesê: “Here, U moet asseblief vir ons die Vader wys. Dan sal ons tevrede wees.”
9Jesus het vir hom gesê: “Filippus, Ek was 'n lang tyd saam met julle. Ken jy My nie? Jy moet onthou: Wanneer iemand My gesien het, dan het hy die Vader gesien. Hoekom vra jy Ek moet vir julle die Vader wys? 10Glo jy nie Ek is by die Vader en die Vader is by My nie? Die woorde wat Ek sê, kom nie van Myself nie. Dit kom van die Vader wat by My is. Ja, Hy is besig om sy werk te doen. 11Julle moet My glo wanneer Ek sê Ek is by die Vader en die Vader is by My. As julle nie wil glo wat Ek sê nie, dan moet julle glo omdat julle gesien het wat Ek doen. 12Ek sê vir julle, en dit is seker: Mense wat in My glo, sal dieselfde dinge doen wat Ek gedoen het. Ja, hulle sal meer doen, want Ek gaan nou na die Vader toe. 13Wanneer julle vir My iets vra omdat julle aan My behoort, dan sal Ek dit doen. So sal Ek, die Seun, wys dat die Vader God is. 14Ja, as julle vir My iets vra omdat julle aan My behoort, dan sal Ek dit vir julle doen.”
Die Vader sal die Heilige Gees stuur
15Jesus het ook vir die dissipels gesê: “As julle lief is vir My, dan sal julle doen wat Ek vir julle sê. 16Ek sal vir die Vader vra en Hy sal vir julle 'n ander Helper gee. Die Helper is die Heilige Gees. Die Gees sal altyd by julle bly. 17Hy is die Gees wat vir julle sal wys wat die waarheid is. Die mense wat aan die wêreld behoort, kan die Gees nie ontvang nie, want hulle sien Hom nie en hulle ken Hom nie. Maar julle ken die Heilige Gees, want Hy bly by julle en Hy is in julle. 18Ek los julle nie alleen soos kinders wat nie 'n pa en ma het nie. Ek kom weer terug na julle toe. 19Ná 'n kort tydjie sal die mense wat aan die wêreld behoort, My nie meer sien nie, maar julle sal My sien. En omdat Ek altyd lewe, sal julle ook lewe. 20Dan sal julle weet Ek is by die Vader en julle is by My en Ek is by julle. 21As julle weet wat Ek wil hê julle moet doen, en julle doen dit, dan wys julle dat julle lief is vir My. As julle lief is vir My, dan sal my Vader ook lief wees vir julle. Dan sal Ek ook lief wees vir julle en Ek sal vir julle wys wie Ek is.”
22Toe sê Judas vir Hom: “Here, ons verstaan dit nie: Hoe sal U net vir óns wys wie U is, maar nie vir die mense van die wêreld nie?”
Dit was nie Judas Iskariot nie, dit was 'n ander dissipel, sy naam was ook Judas.
23Jesus het vir hom gesê: “As mense lief is vir My, dan sal hulle doen wat Ek vir hulle sê, en my Vader sal lief wees vir hulle. Dan sal Ek en die Vader na hulle toe kom en by hulle bly. 24Maar mense wat nie lief is vir My nie, doen nie wat Ek vir hulle sê nie. Julle moet onthou, die dinge wat Ek vir julle sê, kom nie van My nie. Dit kom van die Vader wat My na die wêreld gestuur het. 25Ek het hierdie dinge vir julle gesê terwyl Ek nog by julle was. 26Later, wanneer Ek weggegaan het, sal die Vader vir julle 'n Helper stuur om by julle te wees omdat Ek nie meer by julle is nie. Die Helper is die Heilige Gees. Hy sal vir julle alles leer. Ja, Hy sal julle laat onthou wat Ek vir julle gesê het. 27Nou gaan Ek weg en Ek laat vrede by julle bly. Ja, Ek gee my vrede vir julle. Maar Ek gee nie vrede soos die mense van die wêreld vrede gee nie. Julle moenie bang en ontsteld wees nie.
28“Julle het gehoor dat Ek vir julle sê Ek gaan weg, en Ek kom weer terug na julle toe. As julle lief is vir My, dan sal julle bly wees dat Ek teruggaan na die Vader, want Hy is belangriker as Ek. 29Ek het nou vir julle alles vertel voordat dit gebeur, sodat julle in My sal glo wanneer dit gebeur. 30Ek sal nie meer baie met julle praat nie, want die Satan, die leier van die mense van die wêreld, kom. Hy is nie sterker as Ek nie, 31maar Ek wil graag hê die mense van die wêreld moet weet dat Ek lief is vir die Vader. Daarom doen Ek alles wat die Vader vir My gesê het. Julle moet nou opstaan, want ons moet gaan.”

Tans Gekies:

Johannes 14: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid