JOHANNES 13:6-10
JOHANNES 13:6-10 Bybel vir almal (ABA)
Jesus wou Petrus se voete ook was, maar toe vra Petrus vir Hom: “Here, wil Ú mý voete was?” Jesus het vir Petrus gesê: “Jy verstaan nie nou wat Ek doen nie, maar jy sal later verstaan.” Petrus het vir Jesus gesê: “U mag nooit my voete was nie.” Jesus het vir hom gesê: “As Ek nie jou voete was nie, dan kan jy nie my dissipel wees nie.” Simon Petrus sê toe vir Jesus: “Here, dan moet U my voete en my hande en my kop was.” Jesus het vir hom gesê: “Wanneer 'n mens klaar gebad het, dan is jou liggaam klaar skoon. Dan is dit net jou voete wat jy moet was. Julle wat hier by My is, is skoon, maar nie almal nie.”
JOHANNES 13:6-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hy kom toe by Simon Petrus en dié sê vir Hom: Here, gaan U my voete was? Jesus antwoord en sê vir hom: Wat Ek doen, begryp jy nou nie, maar jy sal dit hierna verstaan. Petrus sê vir Hom: U sal my voete in der ewigheid nie was nie! Jesus antwoord hom: As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie. Simon Petrus sê vir Hom: Here, nie net my voete nie, maar ook die hande en die hoof. Jesus sê vir hom: Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te was nie, maar is heeltemal rein; en julle is rein, maar nie almal nie.
JOHANNES 13:6-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Hy by Simon Petrus kom, vra dié vir Hom: “Here, gaan Ú mý voete was?” En Jesus antwoord hom: “Wat Ek doen, begryp jy nie nóú nie, maar later sal jy dit verstaan.” Maar Petrus sê vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!” Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.” Simon Petrus sê toe vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig.” En Jesus sê vir hom: “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon, maar nie almal nie.”
JOHANNES 13:6-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Hy by Simon •Petrus kom, sê dié vir Hom: “Here, gaan U my voete was?” Jesus het hom geantwoord: “Wat Ek doen, verstaan jy nie nou nie, maar hierna sal jy verstaan. ” Petrus sê toe vir Hom: “U sal beslis nie my voete was nie – tot in ewigheid nie!” Jesus het hom geantwoord: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.” Toe sê Simon Petrus vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my kop.” Maar Jesus sê vir hom: “Iemand wat gebad is, het nie nodig dat iets anders as sy voete gewas word nie, omdat hy reeds heeltemal skoon is. En julle is skoon, maar nie almal nie.”
JOHANNES 13:6-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe kom Hy by Simon Petrus, en Petrus sê vir Hom: Here, was U my voete? Jesus antwoord en sê vir hom: Wat Ek doen, weet jy nie nou nie; maar jy sal hierna weet. Petrus sê vir hom: Jy sal nooit my voete was nie. Jesus antwoord hom: As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie. Simon Petrus sê vir Hom: Here, nie net my voete nie, maar ook my hande en my kop. Jesus sê vir hom: Hy wat gewas is, het nie nodig nie, behalwe om sy voete te was, maar is heeltemal rein; en julle is rein, maar nie almal nie.
JOHANNES 13:6-10 Die Boodskap (DB)
Hy kom toe by Simon Petrus. Voor Hy nog kon begin, val Petrus weg: “Here, wil U nou regtig my voete staan en was?” “Petrus, dit mag nou vir jou snaaks lyk dat Ek so iets wil doen,” sê Jesus, “maar gee ’n bietjie kans; al hierdie dinge sal wel later vir jou sin begin maak.” “Moet asseblief nie aan my voete raak nie,” vra Petrus, “nie nou nie en ook nie later nie.” “Wel,” antwoord Jesus hom, “as Ek nie jou voete was nie, beteken dit dat jy nie een van ons is nie. Dan gaan jy ook nie kry wat Ek vir jou kan gee nie.” “Here, as dit die geval is, moet dan asseblief nie by my voete stop nie. Was my hande; was my kop - sommer alles!” Jesus sê toe: “Jy het mos vanoggend gebad. Dit is nou eers genoeg om net jou voete te was; dan is jy weer heeltemal skoon. Maar nie almal van julle sal skoon word nie, al was Ek almal se voete.”
JOHANNES 13:6-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy kom toe by Simon Petrus, wat vir Hom sê: “Here, gaan U mý voete was?” Jesus antwoord hom: “Wat Ek besig is om te doen, verstaan jy nie nou nie, maar wanneer alles verby is, sal jy dit verstaan.” Petrus se onmiddellike reaksie was: “U sal tot in ewigheid nooit mý voete was nie!” Jesus antwoord hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.” Simon Petrus vra Jesus toe: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en kop.” Jesus sê vir hom: “Iemand wat klaar gebad het, is heeltemal skoon, behalwe om nog sy voete te was. En julle is mos reeds skoon – nee, tog nie almal nie.”