JOHANNES 12:13-16
JOHANNES 12:13-16 Bybel vir almal (ABA)
Hulle het takke van palmbome geneem en hulle het na Jesus toe gegaan. Hulle het hard geskree: Prys God! Prys die Man wat kom. Die Here het Hom gestuur, Hy is die Koning van Israel. Jesus het 'n jong donkie gekry en Hy het op die donkie gaan sit. Dit het gebeur soos daar in die Ou Testament geskryf is: Sion, jy moenie bang wees nie, want jou Koning kom na jou toe, Hy ry op 'n jong donkie. Jesus se dissipels het nie dadelik verstaan wat gebeur het nie. Hulle het later verstaan toe God gewys het Jesus is ook God. Hulle het toe teruggedink aan die dag toe Jesus op 'n jong donkie in Jerusalem ingery het en hulle het verstaan dat die mense gedoen het soos daar in die Ou Testament oor Jesus geskryf is.
JOHANNES 12:13-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
palmtakke geneem en uitgegaan Hom tegemoet en geroep: Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning van Israel. En Jesus het 'n jong esel gevind en daarop gaan sit, soos geskrywe is: Moenie vrees nie, dogter van Sion! Kyk, jou Koning kom en Hy sit op die vul van 'n esel. Dit het sy dissipels egter eers nie verstaan nie; maar nadat Jesus verheerlik is, toe het dit hulle bygeval dat hierdie dinge van Hom geskrywe was en dat hulle dit aan Hom gedoen het.
JOHANNES 12:13-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep: “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” en: “Die Koning van Israel!” Jesus het toe op 'n jong donkie geklim wat Hy daar gekry het, soos daar geskrywe staan: “Moenie bang wees nie, Sion! Kyk, jou Koning kom, en Hy ry op 'n donkie.” Jesus se dissipels het hierdie dinge eers nie verstaan nie, maar nadat Hy verheerlik is, het hulle daaraan gedink dat wat daar geskrywe staan, op Hom betrekking gehad het en dat dit met Hom gebeur het.
JOHANNES 12:13-16 Die Boodskap (DB)
Met palmtakke in die hand het hulle die hele pad geskreeu: “Ons prys U, U is baie spesiaal! U kom omdat die Here dit wil hê, U is die koning van Israel.” Jesus het op ’n jong donkie daar aangery gekom. Die Skrif sê mos: “Julle hoef nie bang te wees nie, inwoners van Sion. Kyk net; julle koning kom. Hy ry op ’n jong donkie.” Jesus se volgelinge het natuurlik nie in daardie stadium besef dat hierdie gejuig en die woorde uit die Skrif ’n baie dieper betekenis gehad het nie. Dit sou hulle eers later insien. Eers toe Jesus sy krag gewys het deur uit die dood op te staan, het hulle weer mooi oor alles gedink. Toe het hulle dit begryp.
JOHANNES 12:13-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle het die blaartakke van die palmbome geneem en Jesus tegemoetgegaan en dit uitgeskree: “Prys God! Geseënd is Hy wat in die Naam van die Here kom!” en: “Die Koning van Israel!” Jesus het ’n donkievul gekry en daarop gaan sit soos dit geskryf staan: “Hou op om bang te wees, dogter van Sion! Kyk, jou Koning kom, Hy sit op ’n donkievul.” Jesus se dissipels het hierdie dinge aanvanklik nie verstaan nie, maar toe Hy eers verheerlik was, het hulle onthou dat die dinge wat daar oor Hom geskryf is, juis dié dinge is wat met Hom gebeur het.