JOHANNES 1:37-42
JOHANNES 1:37-42 Bybel vir almal (ABA)
Die twee dissipels het gehoor wat Johannes gesê het. Daarom het hulle begin om Jesus te volg. Jesus het omgedraai en Hy het gesien hulle volg Hom. Hy vra toe vir hulle: “Wat soek julle?” Hulle het geantwoord: “ Rabbi, waar woon U?” 'n Rabbi is iemand wat vir mense leer hoe om God te dien. Jesus sê toe vir hulle: “Kom kyk!” Hulle het gegaan en hulle het die plek gesien waar Hy woon. Dit was omtrent vier-uur die middag. Hulle het daardie hele dag by Jesus gebly. Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee dissipels wat gehoor het wat Johannes gesê het en wat toe saam met Jesus gegaan het. Andreas het eers sy broer Simon gaan soek en hy het vir Simon gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken “Christus.” Andreas het vir Simon na Jesus toe gebring. Toe Jesus vir Simon sien, sê Hy: “Jy is Simon seun van Johannes. Jou naam sal nou Sefas wees.” Petrus is die Griekse woord vir Sefas.
JOHANNES 1:37-42 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die twee dissipels het hom dit hoor sê en Jesus gevolg. En toe Jesus Hom omdraai en hulle sien volg, sê Hy vir hulle: Wat soek julle? En hulle antwoord Hom: Rabbi — dit wil sê, as dit vertaal word, Meester — waar is U tuis? Hy sê vir hulle: Kom kyk. Hulle het gegaan en gesien waar Hy tuis was en dié dag by Hom gebly. En dit was omtrent die tiende uur. Andréas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Hom gevolg het. Hy het eers sy eie broer Simon gekry en vir hom gesê: Ons het die Messías gevind — dit is, as dit vertaal word, die Christus.
JOHANNES 1:37-42 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – dit beteken leermeester – “waar gaan U tuis?” Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly. Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het. Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken Christus. Hy het hom na Jesus toe gebring. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.” Sefas beteken dieselfde as Petrus.
JOHANNES 1:37-42 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die twee dissipels het hom dit hoor sê, en hulle het Jesus gevolg. Toe Jesus omdraai en hulle Hom sien volg, vra Hy hulle: “Wat wil julle hê?” En hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – wat, as dit vertaal word, beteken, ‘Meester’, “waar bly U?” Hy sê toe vir hulle: “Kom kyk!” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuisgaan, en hulle het dié dag by Hom gebly. Dit was omstreeks die tiende uur. Andreas, die broer van Simon •Petrus, was een van die twee wat gehoor het wat Johannes sê, en Jesus gevolg het. Hy het sy broer Simon eerste teëgekom en vir hom gesê: “Ons het die Messias gevind” – dit is, as dit vertaal word, Christus. Hy het hom na Jesus geneem. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon, die seun van Johannes. Jy sal ‘Sefas’ genoem word,” wat vertaal word Petrus.
JOHANNES 1:37-42 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die twee dissipels het Hom hoor praat, en hulle het Jesus gevolg. Toe draai Jesus om en sien hulle volg, en sê vir hulle: Wat soek julle? Hulle sê vir Hom: Rabbi, dit wil sê, as dit vertaal word: Meester, waar woon U? Hy sê vir hulle: Kom kyk. Hulle het gekom en gesien waar hy woon, en dié dag by hom gebly, want dit was omtrent die tiende uur. Een van die twee wat Johannes hoor praat het en hom gevolg het, was Andreas, Simon Petrus se broer. Hy het eers sy eie broer Simon gekry en vir hom gesê: Ons het die Messias gevind, dit is, as dit vertaal word, die Christus. En hy het hom na Jesus toe gebring. En toe Jesus hom aanskou, sê Hy: Jy is Simon, die seun van Jona
JOHANNES 1:37-42 Die Boodskap (DB)
Die twee volgelinge van Johannes het hom dit hoor sê en is agter Jesus aan. Jesus kyk toe om.“Wie soek julle?” vra Hy vir hulle. “Rabbi, waar bly U?” vra hulle. (Terloops, “rabbi” beteken “onderwyser”.) “Kom saam en kom kyk,” nooi Jesus hulle toe uit. So het dit gekom dat hulle saam is om te gaan kyk waar Hy bly. Dit was egter al laatmiddag en die son het begin water trek, met die gevolg dat die twee kuiergaste toe sommer die nag daar oorgebly het. Een van die twee wat op Johannes se getuienis agter Jesus aan is, was Andreas. Hy het daar en dan vir Simon, dit is sy broer, gaan soek. Toe hy hom kry, sê hy vir hom: “Ons het die Messias gekry.” (Die Griekse woord vir “Messias” is “Christus”.) Simon is toe agter Andreas aan na Jesus toe. Daar gekom, sien Jesus vir Simon en sê: “Jy is Simon uit die familie van Johannes. Hier tussen ons sal jy Sefas wees.” (“Sefas” is ’n ander woord vir “Petrus”.)
JOHANNES 1:37-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Sy twee dissipels het Johannes dit hoor sê en Jesus dadelik begin volg. Jesus het omgedraai en gesien hulle volg Hom. Hy sê toe vir hulle: “Wat soek julle?” Hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – as dit vertaal word, beteken dit “leermeester” – “waar gaan U tuis?” Hy antwoord hulle: “Kom kyk self en julle sal sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis was. Dit was omtrent vieruur die middag. Hulle het toe die res van daardie dag by Hom gebly. Andreas, Simon Petrus se broer, was een van die twee dissipels wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het. Hy kry toe eers sy eie broer Simon, en sê vir hom: “Ons het die Messias (wat as dit vertaal word ‘Gesalfde’ beteken) gekry.” Hy het Simon na Jesus toe geneem. Jesus het betekenisvol na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon, die seun van Johannes; jy sal van nou af Sefas (wat as ‘Petrus’ vertaal word) genoem word.”