Johannes 1

1
Proloog
1 In die begin was die Woord,
en die Woord was by God,
en die Woord was God.
2Hy was in die begin by God.
3 Alles het deur Hom ontstaan,
en sonder Hom het selfs
nie een ding wat bestaan,
ontstaan nie.
4In Hom was lewe,
en dié lewe was die lig vir die mense.
5 En die lig skyn in die duisternis,
en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
6 Daar was 'n man, gestuur deur God, wie se naam Johannes was. 7Hy het tot 'n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom kon glo. 8Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.
9 Die ware lig wat elke mens verlig,
was aan die kom na die wêreld.
10Hy was in die wêreld,
en die wêreld het
deur Hom ontstaan,
en tog het die wêreld
Hom nie erken nie.
11Hy het gekom na wat syne was
en tog het sy eie mense
Hom nie aanvaar nie.
12Maar aan almal wat Hom
aanvaar het,
het Hy die reg gegee
om kinders van God te word –
hulle wat in sy Naam glo.
13Hulle is nie uit bloed nie,
ook nie uit liggaamlike drang nie,
ook nie uit die wil van 'n man nie,
maar uit God gebore.
14En die Woord het vlees geword
en onder ons kom woon,
en ons het sy heerlikheid aanskou,
'n heerlikheid soos dié
van die unieke Seun van die Vader –
vol genade en waarheid.
15 Johannes getuig oor Hom en roep uit: “Hý is die Een van wie ek gesê het, ‘Hy wat ná my kom, is my voor, omdat Hy die eerste was.’ ”
16Uit sy volheid het ons almal genade ontvang – ja, genade op genade. 17Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. 18Niemand het God nog ooit gesien nie; die unieke Seun, self God, wat teen die bors van die Vader is, Hy het Hom bekend kom maak.
Getuienis van Johannes die Doper
(Matt 3:1-12; Mark 1:2-8; Luk 3:15-17)
19En dit is die getuienis van Johannes toe die Jode priesters en Leviete uit Jerusalem na hom gestuur het om hom te vra: “Wie is u?” 20 Hy het verklaar, dit nie ontken nie, maar openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.” 21Hulle vra hom toe: “Wat dan? Is u Elia?” En hy sê: “Ek is nie.” “Is u dié Profeet?” En hy antwoord: “Nee!” 22Hulle sê toe vir hom: “Wie is u? Ons moet 'n antwoord verskaf aan hulle wat ons gestuur het. Wat het u oor uself te sê?” 23Hy antwoord toe,
“Ek is ‘die stem van een
wat uitroep in die woestyn:
“Maak die pad van die Here
reguit!” ’ –
“soos die profeet Jesaja gesê het.”
24Daar was ook afgevaardigdes uit die geledere van die •Fariseërs, 25en hulle het hom gevra: “As u nie die Christus of Elia of die Profeet is nie, waarom doop u dan?” 26Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar in julle midde staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. 27 Hy is die Een wat ná my kom, en ek is nie werd om die riempies van sy sandale los te maak nie. ” 28 Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop.
Jesus die Lam van God
29Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! 30 Hy is die Een van wie ek gesê het, ‘Ná my kom 'n Man wat belangriker as ek is, omdat Hy voor my was.’ 31Ook ek het Hom nie geken nie, maar juis daarom het ek gekom en doop ek met water, sodat Hy aan Israel bekend gemaak kan word.” 32En Johannes het getuig: “Ek het die Gees uit die hemel sien neerdaal soos 'n duif, en Hy het op Hom gebly. 33Ook ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het vir my gesê, ‘Hy op wie jy die Gees sien neerdaal en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ 34En ek het gesien en getuig, ‘Hy is die •Seun van God.’ ”
Eerste dissipels
35Die volgende dag het Johannes en twee van sy dissipels weer daar gestaan. 36Toe Jesus verbyloop, het hy stip na Jesus gekyk en gesê: “Kyk, die Lam van God!” 37Die twee dissipels het hom dit hoor sê, en hulle het Jesus gevolg. 38Toe Jesus omdraai en hulle Hom sien volg, vra Hy hulle: “Wat wil julle hê?” En hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – wat, as dit vertaal word, beteken, ‘Meester’, “waar bly U?” 39Hy sê toe vir hulle: “Kom kyk!” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuisgaan, en hulle het dié dag by Hom gebly. Dit was omstreeks die tiende uur.
40Andreas, die broer van Simon •Petrus, was een van die twee wat gehoor het wat Johannes sê, en Jesus gevolg het. 41Hy het sy broer Simon eerste teëgekom en vir hom gesê: “Ons het die Messias gevind” – dit is, as dit vertaal word, Christus. 42Hy het hom na Jesus geneem. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon, die seun van Johannes. Jy sal ‘Sefas’ genoem word,” wat vertaal word Petrus.
Roeping van Filippus en Natanael
43Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea te gaan, en toe Hy Filippus teëkom, sê Hy vir hom: “Volg My!” 44Filippus was afkomstig van Betsaida, die tuisdorp van Andreas en Petrus. 45Filippus loop toe vir Natanael raak en sê vir hom: “Ons het Hom gevind van wie Moses in die Wet geskryf het, en ook die Profete – Jesus wat van Nasaret kom, die seun van Josef.” 46En Natanael vra hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” Filippus sê vir hom: “Kom kyk!” 47Jesus het Natanael na Hom sien aankom, en sê toe van hom: “Kyk, hy is waarlik 'n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.” 48Natanael vra Hom: “Waarvandaan ken U my?” Jesus het hom geantwoord: “Nog voordat Filippus jou geroep het, toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien.” 49Toe antwoord Natanael Hom: “Rabbi, U is die •Seun van God; U is die Koning van Israel!” 50Jesus antwoord hom: “Glo jy omdat Ek jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge sien.” 51En Hy sê vir hom: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Julle sal die hemel oop sien en die engele van God wat opstyg en neerdaal op die •Seun van die Mens.”

Tans Gekies:

Johannes 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid