JOHANNES 1:19-51

JOHANNES 1:19-51 Bybel vir almal (ABA)

Die Jode het priesters en Leviete uit Jerusalem na Johannes toe gestuur. Hulle het vir hom gevra: “Wie is jy?” Johannes het toe vir hulle vertel. Hy het nie stilgebly daaroor nie, hy het reguit met hulle gepraat en gesê: “Ek is nie die Christus nie.” Toe vra hulle vir Johannes: “Wie is jy? Is jy Elia?” En hy sê: “Nee, ek is nie Elia nie.” Toe vra hulle: “Is jy die profeet?” Hy het geantwoord: “Nee.” Hulle het vir hom gesê: “Wie is jy? Sê vir ons, want ons moet dit gaan vertel vir die mense wat ons gestuur het. Wat sê jy oor jouself?” Johannes het gesê: Ek is die man wat in die woestyn skree en sê: Maak die pad gereed vir die Here! Dit is wat die profeet Jesaja gesê het. Die Jode het die mense na Johannes toe gestuur. Party van die mense was Fariseërs. Die Fariseërs het vir Johannes gesê: “Jy sê jy is nie die Christus of Elia of die profeet nie. Hoekom doop jy die mense?” Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water. Maar daar is Iemand by julle, julle ken Hom nie. Hy is die Een wat sal kom nadat ek gekom het. Hy is baie belangrik, ek is nie belangrik genoeg om sy sandale los te maak nie.” Dit het alles gebeur in die stad Betanië anderkant die Jordaan-rivier. Johannes het die mense daar gedoop. Die volgende dag het Johannes gesien Jesus kom na hom toe. Johannes sê toe hard: “Kyk, daar is die Lam wat God vir ons gee! Hy sal die sonde van die wêreld wegneem. Ek het van Hóm gepraat toe ek gesê het: ‘Ek het gekom, en ná my sal 'n Man kom. Hy is belangriker as ek, want Hy was daar lank voor my.’ Ek het Hom nie geken nie, maar ek het gekom om die mense van Israel met water te doop sodat hulle sal weet wie Hy is.” Johannes het ook gesê: “Ek het gesien die Heilige Gees kom soos 'n duif uit die hemel en bly op Hom. Ek het Hom nie geken nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Jy sal sien die Gees kom af en bly op Hom. Dit is Hy wat die mense met die Heilige Gees sal doop.’ Ek het dit self gesien. Daarom sê ek vir julle: Hierdie Man is die Seun van God.” Die volgende dag het Johannes en twee van sy dissipels weer daar gestaan. Johannes het gesien Jesus loop verby. Johannes het hard gesê: “Kyk, daar is die Lam wat God vir ons gee!” Die twee dissipels het gehoor wat Johannes gesê het. Daarom het hulle begin om Jesus te volg. Jesus het omgedraai en Hy het gesien hulle volg Hom. Hy vra toe vir hulle: “Wat soek julle?” Hulle het geantwoord: “ Rabbi, waar woon U?” 'n Rabbi is iemand wat vir mense leer hoe om God te dien. Jesus sê toe vir hulle: “Kom kyk!” Hulle het gegaan en hulle het die plek gesien waar Hy woon. Dit was omtrent vier-uur die middag. Hulle het daardie hele dag by Jesus gebly. Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee dissipels wat gehoor het wat Johannes gesê het en wat toe saam met Jesus gegaan het. Andreas het eers sy broer Simon gaan soek en hy het vir Simon gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken “Christus.” Andreas het vir Simon na Jesus toe gebring. Toe Jesus vir Simon sien, sê Hy: “Jy is Simon seun van Johannes. Jou naam sal nou Sefas wees.” Petrus is die Griekse woord vir Sefas. Die volgende dag het Jesus besluit om na die provinsie Galilea te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!” Filippus het in Betsaida gewoon. Dit was dieselfde stad waar Andreas en Petrus gewoon het. Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Moses het in sy boeke geskryf oor die Man wat sal kom, en die profete het ook oor Hom geskryf. Ons het Hom gekry! Sy naam is Jesus. Hy is die seun van Josef en Hy kom van die stad Nasaret.” Maar Natanael het vir hom gesê: “Nasaret? Kan daar uit Nasaret iets kom wat goed is?” Filippus sê toe vir hom: “Kom kyk!” Jesus het vir Natanael gesien nader kom en Hy het gesê: “Hierdie man is 'n ware Israeliet! Hy is nie vals nie.” Natanael vra toe vir Jesus: “Hoe weet U dit? Ken U my?” Jesus sê vir hom: “Ek het jou daar onder die vyeboom gesien voordat Filippus jou geroep het.” Natanael het vir Jesus gesê: “ Rabbi, U is die Seun van God! U is die Koning van Israel!” Jesus het vir hom gesê: “Jy glo in My omdat Ek vir jou gesê het Ek het jou daar onder die vyeboom gesien, maar jy sal nog dinge sien wat baie wonderliker is!” Jesus het ook vir hom gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle sal sien die hemel gaan oop en die engele van God gaan van My na God toe, en hulle kom van Hom na My toe, na My, die Seun van die mens.”

JOHANNES 1:19-51 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En dit is die getuienis van Johannes, toe die Jode uit Jerusalem priesters en Leviete gestuur het om hom te vra: Wie is u? En hy het erken en nie ontken nie, maar het erken: Ek is nie die Christus nie. Toe vra hulle hom: Wat dan? Is u Elía? En hy sê: Ek is nie. Is u die profeet? En hy antwoord: Nee. Toe sê hulle vir hom: Wie is u? — dat ons antwoord kan gee aan die wat ons gestuur het. Wat sê u van uself? Hy antwoord: Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit! soos Jesaja, die profeet, gesê het. En die wat gestuur was, was uit die Fariseërs. En hulle vra hom en sê vir hom: Waarom doop u dan as u nie die Christus of Elía of die profeet is nie? Johannes antwoord hulle en sê: Ek doop met water, maar onder julle staan Hy vir wie julle nie ken nie — dit is Hy wat ná my kom, wat voor my geword het, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie. Dit het gebeur in Betábara, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop. Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Dit is Hy van wie ek gesê het: Ná my kom 'n man wat voor my geword het, want Hy was eerder as ek. En ek het Hom nie geken nie; maar dat Hy aan Israel openbaar sou word, daarom het ek gekom en met water gedoop. En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos 'n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly. En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is. DIE volgende dag het Johannes weer daar gestaan en twee van sy dissipels; en toe hy Jesus sien wandel, sê hy: Dáár is die Lam van God! En die twee dissipels het hom dit hoor sê en Jesus gevolg. En toe Jesus Hom omdraai en hulle sien volg, sê Hy vir hulle: Wat soek julle? En hulle antwoord Hom: Rabbi — dit wil sê, as dit vertaal word, Meester — waar is U tuis? Hy sê vir hulle: Kom kyk. Hulle het gegaan en gesien waar Hy tuis was en dié dag by Hom gebly. En dit was omtrent die tiende uur. Andréas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Hom gevolg het. Hy het eers sy eie broer Simon gekry en vir hom gesê: Ons het die Messías gevind — dit is, as dit vertaal word, die Christus. En hy het hom na Jesus gelei. Toe kyk Jesus hom aan en sê: Jy is Simon, die seun van Jona; jy sal genoem word Céfas, wat vertaal word Petrus. Die volgende dag wou Jesus na Galiléa vertrek; en Hy het Filippus gekry en vir hom gesê: Volg My. En Filippus was van Betsáida, uit die stad van Andréas en Petrus. Filippus het Natánael gekry en vir hom gesê: Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het: Jesus, die seun van Josef van Násaret. En Natánael sê vir hom: Kan daar uit Násaret iets goeds wees? Filippus antwoord hom: Kom kyk. Daarop sien Jesus Natánael na Hom toe kom en sê van hom: Hier is waarlik 'n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie. Natánael sê vir Hom: Waarvandaan ken U my? Jesus antwoord en sê vir hom: Voordat Filippus jou geroep het toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien. Natánael antwoord en sê vir Hom: Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel! Jesus antwoord en sê vir hom: Glo jy omdat Ek vir jou gesê het: Ek het jou onder die vyeboom gesien? Jy sal groter dinge sien as dit.

JOHANNES 1:19-51 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Jode het priesters en Leviete van Jerusalem af na Johannes toe gestuur om hom te vra: “Wie is jy?” Toe het hy hierdie getuienis afgelê en dit duidelik en ondubbelsinnig gestel en openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.” Hulle vra hom toe: “Wie is jy dan? Is jy Elia?” “Nee, ek is nie,” sê hy. “Is jy dan die Profeet?” “Nee!” het hy geantwoord. “Nou maar wie is jy dan? Ons moet 'n antwoord gaan gee aan dié wat ons gestuur het,” sê hulle vir hom. “Wat het jy oor jouself te sê?” Hy antwoord toe: “Ek is die een wat in die woestyn roep: Maak die pad vir die Here reguit.” Dit is soos die profeet Jesaja gesê het. Daar was Fariseërs onder dié wat gestuur is, en hulle het vir hom gevra: “Nou maar waarom doop jy dan as jy nie die Christus is nie en ook nie Elia nie en ook nie die Profeet nie?” Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.” Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop. Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Ná my kom daar 'n Man wat my vóór is, want Hy was voor my reeds daar.’ Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar ek het gekom en ek doop met water sodat Hy aan Israel bekend gestel kan word.” Verder het Johannes getuig: “Ek het duidelik die Gees soos 'n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.” Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!” Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – dit beteken leermeester – “waar gaan U tuis?” Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly. Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het. Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken Christus. Hy het hom na Jesus toe gebring. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.” Sefas beteken dieselfde as Petrus. Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!” Filippus was van Betsaida afkomstig, van dieselfde dorp as Andreas en Petrus. Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.” Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” “Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord. Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: “Hier is 'n ware Israeliet, 'n man in wie daar geen bedrog is nie.” Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?” “Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.” Toe roep Natanael uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!” Daarop sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.” Verder sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe.”

JOHANNES 1:19-51 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

En dit is die getuienis van Johannes toe die Jode priesters en Leviete uit Jerusalem na hom gestuur het om hom te vra: “Wie is u?” Hy het verklaar, dit nie ontken nie, maar openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.” Hulle vra hom toe: “Wat dan? Is u Elia?” En hy sê: “Ek is nie.” “Is u dié Profeet?” En hy antwoord: “Nee!” Hulle sê toe vir hom: “Wie is u? Ons moet 'n antwoord verskaf aan hulle wat ons gestuur het. Wat het u oor uself te sê?” Hy antwoord toe, “Ek is ‘die stem van een wat uitroep in die woestyn: “Maak die pad van die Here reguit!” ’ – “soos die profeet Jesaja gesê het.” Daar was ook afgevaardigdes uit die geledere van die •Fariseërs, en hulle het hom gevra: “As u nie die Christus of Elia of die Profeet is nie, waarom doop u dan?” Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar in julle midde staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Hy is die Een wat ná my kom, en ek is nie werd om die riempies van sy sandale los te maak nie. ” Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop. Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Hy is die Een van wie ek gesê het, ‘Ná my kom 'n Man wat belangriker as ek is, omdat Hy voor my was.’ Ook ek het Hom nie geken nie, maar juis daarom het ek gekom en doop ek met water, sodat Hy aan Israel bekend gemaak kan word.” En Johannes het getuig: “Ek het die Gees uit die hemel sien neerdaal soos 'n duif, en Hy het op Hom gebly. Ook ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het vir my gesê, ‘Hy op wie jy die Gees sien neerdaal en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ En ek het gesien en getuig, ‘Hy is die •Seun van God.’ ” Die volgende dag het Johannes en twee van sy dissipels weer daar gestaan. Toe Jesus verbyloop, het hy stip na Jesus gekyk en gesê: “Kyk, die Lam van God!” Die twee dissipels het hom dit hoor sê, en hulle het Jesus gevolg. Toe Jesus omdraai en hulle Hom sien volg, vra Hy hulle: “Wat wil julle hê?” En hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – wat, as dit vertaal word, beteken, ‘Meester’, “waar bly U?” Hy sê toe vir hulle: “Kom kyk!” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuisgaan, en hulle het dié dag by Hom gebly. Dit was omstreeks die tiende uur. Andreas, die broer van Simon •Petrus, was een van die twee wat gehoor het wat Johannes sê, en Jesus gevolg het. Hy het sy broer Simon eerste teëgekom en vir hom gesê: “Ons het die Messias gevind” – dit is, as dit vertaal word, Christus. Hy het hom na Jesus geneem. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon, die seun van Johannes. Jy sal ‘Sefas’ genoem word,” wat vertaal word Petrus. Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea te gaan, en toe Hy Filippus teëkom, sê Hy vir hom: “Volg My!” Filippus was afkomstig van Betsaida, die tuisdorp van Andreas en Petrus. Filippus loop toe vir Natanael raak en sê vir hom: “Ons het Hom gevind van wie Moses in die Wet geskryf het, en ook die Profete – Jesus wat van Nasaret kom, die seun van Josef.” En Natanael vra hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” Filippus sê vir hom: “Kom kyk!” Jesus het Natanael na Hom sien aankom, en sê toe van hom: “Kyk, hy is waarlik 'n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.” Natanael vra Hom: “Waarvandaan ken U my?” Jesus het hom geantwoord: “Nog voordat Filippus jou geroep het, toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien.” Toe antwoord Natanael Hom: “Rabbi, U is die •Seun van God; U is die Koning van Israel!” Jesus antwoord hom: “Glo jy omdat Ek jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge sien.” En Hy sê vir hom: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Julle sal die hemel oop sien en die engele van God wat opstyg en neerdaal op die •Seun van die Mens.”

JOHANNES 1:19-51 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit is die getuienis van Johannes toe die Jode priesters en Leviete uit Jerusalem gestuur het om hom te vra: Wie is jy? En hy het belydenis gedoen en nie ontken nie; maar bely: Ek is nie die Christus nie. En hulle vra hom: Wat dan? Is jy Elias? En hy sê: Ek is nie. Is jy daardie profeet? En hy antwoord: Nee. Toe sê hulle vir hom: Wie is jy? sodat ons antwoord kan gee aan die wat ons gestuur het. Wat sê jy van jouself? Hy het gesê: Ek is die stem van een wat in die woestyn roep: Maak die pad van die Here gelyk, soos die profeet Jesaja gesê het. En die wat gestuur is, was uit die Fariseërs. En hulle het hom gevra en vir hom gesê: Waarom doop jy dan as jy nie daardie Christus is nie, of Elía, ook nie daardie profeet nie? Johannes antwoord hulle en sê: Ek doop met water, maar daar staan een onder julle wat julle nie ken nie; Hy is dit wat na my kom, voor my verkies, wie se skoengrendel ek nie waardig is om los te maak nie. Hierdie dinge is gedoen in Betabara anderkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop. Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom en sê: Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Dit is hy van wie ek gesê het: Ná my kom 'n man wat voor my verkies is, want hy was voor my. En ek het hom nie geken nie, maar dat hy aan Israel openbaar gemaak sou word, daarom het ek gekom en met water gedoop. En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos 'n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op hom gebly. En ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat My gestuur het om met water te doop, Hy het vir my gesê: Op wie jy die Gees sal sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is. Die volgende dag het Johannes weer gestaan en twee van sy dissipels; En terwyl hy na Jesus kyk terwyl hy loop, sê hy: Hier is die Lam van God! En die twee dissipels het Hom hoor praat, en hulle het Jesus gevolg. Toe draai Jesus om en sien hulle volg, en sê vir hulle: Wat soek julle? Hulle sê vir Hom: Rabbi, dit wil sê, as dit vertaal word: Meester, waar woon U? Hy sê vir hulle: Kom kyk. Hulle het gekom en gesien waar hy woon, en dié dag by hom gebly, want dit was omtrent die tiende uur. Een van die twee wat Johannes hoor praat het en hom gevolg het, was Andreas, Simon Petrus se broer. Hy het eers sy eie broer Simon gekry en vir hom gesê: Ons het die Messias gevind, dit is, as dit vertaal word, die Christus. En hy het hom na Jesus toe gebring. En toe Jesus hom aanskou, sê Hy: Jy is Simon, die seun van Jona; Die volgende dag sou Jesus uitgaan na Galilea, en Filippus kry en vir hom sê: Volg My. En Filippus was van Betsaida, die stad van Andreas en Petrus. Filippus het Natanael gekry en vir hom gesê: Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en die profete geskrywe het: Jesus van Nasaret, die seun van Josef. En Natanael sê vir hom: Kan daar iets goeds uit Nasaret kom? Filippus sê vir hom: Kom kyk. Jesus het Natanael na hom sien kom en van hom gesê: Daar is waarlik 'n Israeliet in wie geen bedrog is nie! Natanael sê vir hom: Waarvandaan ken jy my? Jesus antwoord en sê vir hom: Voordat Filippus jou geroep het, toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien. Natanael antwoord en sê vir Hom: Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel. Jesus antwoord en sê vir hom: Glo jy omdat Ek vir jou gesê het: Ek het jou onder die vyeboom gesien? groter dinge as dit sal jy sien. En Hy sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel oop sien en die engele van God op- en neerdaal op die Seun van die mens.

JOHANNES 1:19-51 Die Boodskap (DB)

Die Jode uit Jerusalem het ’n afvaardiging priesters en Leviete wat in die tempel gewerk het na Johannes toe gestuur. Hulle moes kom uitvind wie Johannes presies was. Daar gekom, vra hulle hom: “Wie is jy?” Johannes het met groot sekerheid en oortuiging gereageer. “Ek is nie die Messias nie,” het hy openlik en beslis gesê. So het die ondervraging aangegaan: “Wie is jy? Is jy dalk Elia wat teruggekom het?” “Nee! Ek is nie!” “Is jy die spesiale boodskapper van God wat sou kom?” “Nee.” Ten einde raad sê die afvaardiging toe maar vir hom: “Asseblief tog, sê vir ons wie jy is. Ons kan nie sonder ’n antwoord teruggaan na die mense toe wat ons gestuur het nie. As jy nou self voor hulle kon staan en vir hulle moes sê wie jy is, wat sou jy gesê het?” “Ek gaan julle antwoord met die woorde van die profeet Jesaja,” sê Johannes toe. “Ek is ’n boodskapper wat in hierdie droë en onherbergsame plek uitroep: ‘Maak ’n pad gelyk en reguit vir die Here, want Hy is aan die kom.’” Die ondervraers het aan die godsdienstige party van die Fariseërs behoort. Hierop het hulle Johannes onder kruisverhoor geneem. “Jy sê jy is nie die Messias nie. Jy sê jy is ook nie Elia of die verwagte boodskapper van God nie. Nou waarom doop jy dan soveel mense asof jy die een of ander belangrike godsdienstige persoon is?” “Ek doop met water,” sê Johannes toe, “maar daar tussen julle in die skare staan Iemand anders. Julle weet nog net nie van Hom nie. Nee, Hy gaan eers ná my op die toneel verskyn. Maar Hy is so belangrik in vergelyking met my dat ek nie eens soos ’n slaaf werd is om sy skoenrieme los te maak nie.” Die mense het in Betanië, oorkant die Jordaan, met Johannes gaan praat omdat hy die mense daar gedoop het. Die volgende dag het dit toe gebeur. Jesus het na Johannes toe gekom. “Kyk mooi! Daar is die Offerlam van God!” het Johannes uitgeroep. “Hy gaan die mag van die sonde in die wêreld finaal breek. Dit is van Hom wat ek gepraat het. Ek het mos gesê dat daar Iemand ná my gaan kom, maar dat Hy baie belangriker is as ek. Immers, voor ek nog gebore was, was Hy al daar. Julle het gevra hoekom ek doop. Wel, ek self het nie eens mooi geweet wie Hy presies is nie. Daarom doop ek met water, want so sal God se mense Hom kan herken.” Dit is nie al wat Johannes te sê gehad het nie, maar hy het met oortuiging die volgende vertel: “Die Gees het voor my oë soos ’n duif uit die hemel afgekom en op Jesus neergesak en op Hom gebly. Wel, soos ek gesê het, ek self het nie eens geweet wie hierdie belangrike Persoon sou wees nie. God wat my gestuur het om met water te doop, het egter vir my gesê: ‘Dit is jou teken: die Gees sal voor jou oë neersak op die Een wat mense met die Heilige Gees gaan doop.’ Presies so het dit gebeur. Daarom sal ek voor enige hof getuig: hierdie man, ja Hy, is die Seun van God!” Die volgende dag was Johannes weer op sy pos. Twee van sy volgelinge was saam met hom daar. Jesus stap toe daar verby. Johannes het Hom gesien en gesê: “Kyk mooi! Hy is die Offerlam van God!” Die twee volgelinge van Johannes het hom dit hoor sê en is agter Jesus aan. Jesus kyk toe om.“Wie soek julle?” vra Hy vir hulle. “Rabbi, waar bly U?” vra hulle. (Terloops, “rabbi” beteken “onderwyser”.) “Kom saam en kom kyk,” nooi Jesus hulle toe uit. So het dit gekom dat hulle saam is om te gaan kyk waar Hy bly. Dit was egter al laatmiddag en die son het begin water trek, met die gevolg dat die twee kuiergaste toe sommer die nag daar oorgebly het. Een van die twee wat op Johannes se getuienis agter Jesus aan is, was Andreas. Hy het daar en dan vir Simon, dit is sy broer, gaan soek. Toe hy hom kry, sê hy vir hom: “Ons het die Messias gekry.” (Die Griekse woord vir “Messias” is “Christus”.) Simon is toe agter Andreas aan na Jesus toe. Daar gekom, sien Jesus vir Simon en sê: “Jy is Simon uit die familie van Johannes. Hier tussen ons sal jy Sefas wees.” (“Sefas” is ’n ander woord vir “Petrus”.) Die volgende dag was Jesus van plan om na Galilea toe te gaan. Hy loop toe vir Filippus raak. “Kom saam met My,” nooi Jesus hom uit. Filippus het uit Betsaida gekom waar Andreas en Petrus ook gebly het. Die nuus oor Jesus het vinnig versprei. Filippus het vir Natanael gekry en hom weer vertel: “Ons het die Een gekry oor wie Moses geskryf het. Jy weet mos, dit is die Een oor wie die profete ook so geskryf het. Dit is Jesus, die seun van Josef wat in Nasaret bly.” “Jy speel seker. Kan daar uit Nasaret enigiets kom wat die moeite werd is?” was Natanael se reaksie. “Kom kyk self,” het Filippus egter volgehou. Terwyl Natanael nog in Jesus se rigting op pad was, het Jesus al gesê: “Kyk, hier is ’n ware, egte Israeliet. Hy is eerlik en opreg. Hy het glad niks om weg te steek nie.” “Van waar af ken U my dan?” vra Natanael. “Jy was nog daar onder ’n vyeboom toe het Ek jou al raakgesien, nog voordat Filippus met jou gepraat het.” “Rabbi, U is die Seun van God! U is die Koning van Israel!” het dit oor Natanael se lippe gerol. Jesus sê toe vir hom: “Jy glo en vertrou My omdat Ek maar net vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het. Eintlik het jy nog niks gesien nie! Wag maar, daar kom nog baie groter ervarings as dit. “Luister nou mooi na wat Ek sê: Julle sal God se woonplek in die hemel sien oopgaan. Voor julle oë sal die engele van God van die Seun van die mens af opgaan daarheen en dan terugkom na Hom toe.”

JOHANNES 1:19-51 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit is die getuienis van Johannes toe die Joodse leiers uit Jerusalem priesters en Leviete na hom gestuur het om hom uit te vra: “Wie is jy nou eintlik?” Toe het Johannes getuig en dit nie ontken nie, maar voluit bely: “Ék is nie die Messias nie.” En hulle antwoord hom toe: “Nou wie is jy dan? Is jy Elia?” “Nee, ek is nie,” sê Johannes. “Is jy dan die profeet?” “Beslis nie!” het hy geantwoord. Hulle het toe vir hom gesê: “Wie is jy dan? Ons moet ’n antwoord kan gee aan hulle wat ons gestuur het. Wat het jy dan oor jouself te sê?” Sy reaksie was: “Ek is ’n stem wat roep in die woestyn: ‘Maak die pad van die Here reguit.’” Só het die profeet Jesaja mos reeds gesê. Dié wat gestuur is, het uit die geledere van die Fariseërs gekom. Hulle het toe verder by hom navraag gedoen: “Waarom doop jy dan as jy nie die Messias of Elia of die profeet is nie?” Johannes se reaksie was: “Ek doop met water, maar hier tussen julle staan daar Iemand wat julle nie nou ken nie. Dit is Hy wat ná my kom. Ek is nie eers werd om die riempies van sy sandale los te maak nie.” Hierdie gebeure het afgespeel in Betanië, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop. Die volgende dag sien Johannes dat Jesus na hom toe aangestap kom. Hy sê toe: “Kyk, dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Dit is Hý van wie ek gesê het: ‘Ná my kom Iemand wat voor my reeds bestaan het. Hy is baie belangriker as ek.’ Ek was self ook nie daarvan bewus dat dit Hy is nie. Daarom het ek gekom, en doop ek met water om Hom aan Israel voor te stel.” Johannes het ook nog verder getuig: “Ek het duidelik gesien dat die Gees soos ’n duif uit die hemel neerkom en op Hom gaan sit. Ek het regtig nie geweet dat dit Hy was nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien neerdaal en bly sit, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ Ek het dit self sien afspeel voor my oë, en daarom getuig ek dat Hy werklik die Seun van God is.” Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, saam met twee van sy dissipels. Toe Jesus by hulle verbyloop, het Johannes betekenisvol na Hom gekyk en gesê: “Kyk, dáár is die Lam van God!” Sy twee dissipels het Johannes dit hoor sê en Jesus dadelik begin volg. Jesus het omgedraai en gesien hulle volg Hom. Hy sê toe vir hulle: “Wat soek julle?” Hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – as dit vertaal word, beteken dit “leermeester” – “waar gaan U tuis?” Hy antwoord hulle: “Kom kyk self en julle sal sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis was. Dit was omtrent vieruur die middag. Hulle het toe die res van daardie dag by Hom gebly. Andreas, Simon Petrus se broer, was een van die twee dissipels wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het. Hy kry toe eers sy eie broer Simon, en sê vir hom: “Ons het die Messias (wat as dit vertaal word ‘Gesalfde’ beteken) gekry.” Hy het Simon na Jesus toe geneem. Jesus het betekenisvol na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon, die seun van Johannes; jy sal van nou af Sefas (wat as ‘Petrus’ vertaal word) genoem word.” Die volgende dag wou Jesus na Galilea toe vertrek. Hy loop eers vir Filippus raak en sê vir hom: “Volg My!” Filippus het van Betsaida af gekom, Andreas en Petrus se tuisdorp. Op sy beurt loop Filippus vir Natanael raak en sê vir hom: “Ons het die persoon gevind oor wie Moses in die wet en die profete geskryf het. Dit is Jesus, die seun van Josef, wat van Nasaret af kom.” Natanael se reaksie was: “Hoe kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” “Kom kyk self,” het Filippus hom uitgenooi. Toe Jesus Natanael sien aangestap kom, sê Hy oor hom: “Kyk daar – ’n opregte Israeliet, ’n man van suiwer inbors.” Natanael reageer toe vraend: “Van waar ken U my?” “Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom gesit het, het Ek jou al gesien.” Toe reageer Natanael: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!” Jesus se antwoord aan hom was: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom sien sit het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.” Jesus het ook vir hom gesê: “Ek verseker julle: julle gaan die hemel wyd oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na My, die Seun van die Mens, toe.”