JEREMIA 5:26-29
JEREMIA 5:26-29 Bybel vir almal (ABA)
want daar is slegte mense in my volk, hulle vang mense soos hulle voëls vang in vangstrikke. Hulle huise is vol mense wat vir hulle geld skuld en vir hulle moet werk. Dit is soos 'n hok wat 'n mens vol voëls maak wanneer jy hulle vang. Hulle word ryk omdat hulle mense bedrieg, hulle word vet en blink. Hulle is regters in die hof wat nie reg doen aan mense nie, hulle laat verkeerde dinge gebeur. Die slegte mense laat weeskinders en arm mense verloor wanneer hulle vra dat iemand reg moet doen aan hulle. Wil julle hê Ek moet hierdie dinge nie raaksien nie? Moet Ek mense wat so doen, nie straf oor wat hulle gedoen het nie?”
JEREMIA 5:26-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want onder my volk word goddelose gevind; hulle loer soos voëlvangers buk, hulle het 'n val gestel, hulle vang mense. Soos 'n hok vol voëls, so is hulle huise vol bedrog; daarom het hulle groot en ryk geword. Hulle het vet, hulle het glad geword; selfs gaan hulle oor die maat van boosheid heen. Reg verskaf hulle nie, selfs die reg van die wees nie, dat hulle voorspoed kan hê; ook handhaaf hulle die reg van die behoeftiges nie. Sou Ek hieroor geen besoeking doen nie? spreek die HERE. Of sou my siel hom nie wreek op 'n nasie soos hierdie een nie?
JEREMIA 5:26-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar is goddelose mense onder my volk: soos voëlvangers stel hulle strikke en wippe om mense mee te vang. Soos 'n voëlvanger 'n hok vol voëls maak, het hulle hulle huise volgemaak met bedrog; dit is waarom hulle magtig en ryk is, vet en blink. Hulle boosheid ken geen perke nie, hulle laat die reg nie seëvier nie, hulle verydel die reg van die weeskind en behartig nie die regsaak van die armes nie. Sal Ek hulle nie hieroor straf nie? vra die Here. Sou Ek My nie wreek op 'n nasie soos hierdie nie?
JEREMIA 5:26-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Ja, daar is goddeloses wat hulle onder my volk bevind. Gebukkend loer hulle, asof in die skuiling van voëlvangers. Hulle stel wippe; mense, dié vang hulle. Soos 'n mandjie vol voëls, so is hulle huise vol bedrog. Daarom het hulle belangrik en ryk geword. Hulle het vet en blink geraak; hulle is ook onoortreflik met dade van boosheid. 'n Regseis waaroor hulle nie uitspraak lewer nie, is die regseis van 'n vaderlose kind, sodat hulle dit nie laat slaag nie. Oor die regsaak van behoeftiges gee hulle geen beslissing nie. Sou Ek daaroor nie rekenskap eis nie?” is die uitspraak van die HERE. “Of sou Ek My op 'n nasie soos hierdie nie wreek nie?
JEREMIA 5:26-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want onder my volk word goddelose manne gevind; hulle stel 'n strik, hulle vang mense. Soos 'n hok vol voëls is, so is hulle huise vol bedrog; daarom het hulle groot en ryk geword. Hulle is vet geword, hulle straal, ja, hulle oortref die werke van die goddelose; en die reg van die behoeftige oordeel hulle nie. Sal ek nie vir hierdie dinge besoek nie? spreek die HERE: Sal my siel nie gewreek word op so 'n nasie soos hierdie nie?
JEREMIA 5:26-29 Die Boodskap (DB)
Daar is slegte mense onder my volk wat voëls stilletjies soos ’n jagter bekruip. Hulle slagoffers is egter nie voëls nie, maar mense. Hulle huise is vol van al die bedrog wat hulle beplan om te pleeg. Dit is net soos ’n hok wat vol voëls is. En wat gebeur as gevolg daarvan? Hulle is nou belangrike en ryk mense. Hulle is vet en blink! Hulle hou ook nie op om slegte dinge te doen nie. Hulle sorg nie dat mense regverdig en billik behandel word nie. Hulle kyk ook nie dat weeskinders regverdig behandel word nie. Hulle dra ook nie die belange van die armes op die hart nie.” Die Here vra: “Verdien hulle dit nie dat Ek hulle hiervoor moet straf nie? Behoort Ek nie wraak te neem op mense soos hierdie nie?
JEREMIA 5:26-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Onder my volk is daar bose mense wat strikke stel soos voëljagters. Hulle stel strikke, maar vir mense. Hulle huise is vol bedrieglike planne, net soos ’n hok vol voëls. Daarom is hulle nou belangrik en ryk. Hulle is vet en blink! Hulle verkeerde dade het geen grense nie. Hulle ontsê reg aan weeskinders en dra nie die belange van die armes op die hart nie. Behoort Ek hulle nie hiervoor te straf nie? Behoort Ek nie wraak te neem op ’n nasie soos hierdie nie?” sê die HERE.