JEREMIA 5

5
Juda se sonde
1“Hardloop op en af
in die strate van Jerusalem.
Kyk oral rond
en soek op die pleine!
As julle net een persoon kan kry
wat probeer reg lewe
en eerlik is,
sal Ek die stad spaar.
2Hulle sweer vals
selfs as hulle sê:
‘So waar as wat die Here
lewe!’”
3 Here, U verwag van mense
om eerlik te wees.
U het hulle geslaan,
maar hulle gee nie aandag nie.
U het hulle swaar getref,
maar hulle het hulle nie
van sondes bekeer nie.
Hulle is hardkoppige mense
en het geen berou getoon nie.
4Ek het gedink:
“Wat kan ons verwag
van armes en onkundiges?
Hulle ken nie die Here
se pad nie
en verstaan nie
wat God van hulle verwag nie.
5Daarom sal ek eerder met die leiers
gaan praat.
Hulle ken sekerlik
die pad van die Here
en wat God van hulle verwag.”
Maar ook die leiers het
God verwerp.
6Daarom sal ’n leeu uit die bos
hulle aanval,
’n woestynwolf hulle verskeur.
’n Luiperd sal naby die dorpe
lê en loer
en enigiemand verskeur
wat waag om uit te kom.
Dit sal gebeur omdat
hulle oortredings so baie is
en hulle so opstandig is.
7“Hoe kan Ek julle vergewe?
Selfs julle kinders
het My verlaat.
Hulle beloof trou aan gode
wat nie gode is nie!
Ek het hulle versorg;
tog pleeg hulle egbreuk
en drom saam in bordele.
8Hulle is soos goed versorgde,
bronstige hingste,
wat runnik agter
hulle buurman
se vrou aan.
9Moet Ek hulle nie hieroor
straf nie?
Behoort Ek nie wraak te neem
op ’n volk soos hierdie nie?
10“Beweeg deur haar wingerde
en verwoes dit,
maar moenie alles verwoes nie.
Sny die lote af,
want hulle behoort nie aan
die Here nie.
11Die mense van Israel
en Juda
was ontrou aan My,”
sê die Here.
12“Hulle het leuens versprei
oor die Here, en gesê:
‘Hy sal niks aan ons doen nie!
Geen ramp sal ons tref nie!
Ons sal ook geen oorlog
of hongersnood beleef nie!
13Die profete is soos wind –
sonder enige goddelike gesag.
Hulle voorspelling van rampe
sal oor hulleself kom!’”
14Daarom sê die Here God,
die Almagtige:
“Omdat die mense dit gesê het,
sal Ek my woorde in jou mond
maak soos vuur
wat hulle sal verbrand
asof hulle vuurmaakhout is.”
15Verder sê die Here vir Israel:
“Ek sal ’n volk
wat van ver af kom
teen julle laat optrek.
Dit is ’n volk
wat baie oud en sterk is,
’n nasie
wie se taal julle nie ken nie,
wie se woorde
julle nie verstaan nie.
16Die wapens wat hulle gebruik,
is dodelik
en hulle soldate baie sterk.
17Hulle sal julle oes en julle kos
vernietig,
julle seuns en dogters
om die lewe bring,
julle kleinvee en beeste slag
en julle druiwe en vye opeet.
Die versterkte dorpe
waarop julle vertrou,
sal hulle vernietig.
18“Maar selfs in hierdie verskriklike tyd sal Ek julle nie totaal uitwis nie,” sê die Here. 19“As julle mense sou vra: ‘Waarom doen die Here God hierdie dinge aan ons?’ moet julle antwoord: ‘Ons het God verraai en vreemde gode hier in ons eie land aanbid. Nou sal ons as vreemdelinge in hulle land moet dien.’”
’n Waarskuwing vir Jerusalem
20“Kondig vir Israel#5:20 Grondteks Jakob. en Juda
die volgende boodskap aan:
21Luister hier, julle dom en
onverstandige volk,
wat oë het, maar niks sien nie,
en ore het, maar niks hoor nie.
22Het julle geen respek
vir My nie?” vra die Here.
“Is julle nie bang vir My nie?
Ek is die Een wat die sand
as grense vir die see vasgestel het.
Die see kan nie hierdie grense
oorskry nie.
Die branders kan maar bruis,
maar sal nie seëvier nie.
23Maar my volk is hardkoppig
en opstandig.
Hulle het teen My gedraai
en hulle eie koers ingeslaan.
24Dit kom nooit by julle op nie
om te sê:
‘Kom ons aanbid die Here
ons God
wat vir ons reën gee
op die regte tyd.
Hy gee die herfsreëns
en die lentereëns
sodat ons goeie oeste het.’
25Julle boosheid
het al dié goeie dinge verhoed.
Dit is julle sonde
wat julle van voorspoed beroof.
26“Onder my volk
is daar bose mense
wat strikke stel
soos voëljagters.
Hulle stel strikke,
maar vir mense.
27Hulle huise is vol bedrieglike
planne,
net soos ’n hok vol voëls.
Daarom is hulle nou
belangrik en ryk.
28Hulle is vet en blink!
Hulle verkeerde dade
het geen grense nie.
Hulle ontsê reg aan weeskinders
en dra nie die belange
van die armes op die hart nie.
29Behoort Ek hulle nie
hiervoor te straf nie?
Behoort Ek nie wraak te neem
op ’n nasie soos hierdie nie?”
sê die Here.
30“Iets verskrikliks en skokkends
het in hierdie land gebeur:
31Die profete gee vals profesieë,
die priesters regeer
met ’n ysterhand.
En die ergste van alles is
dat my volk tevrede is daarmee!
Maar wat sal julle doen
as die einde kom?”

Tans Gekies:

JEREMIA 5: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid