JEREMIA 32:6-15
JEREMIA 32:6-15 Bybel vir almal (ABA)
Jeremia het gesê: “Ek het gehoor die Here sê vir my: Jou neef Ganamel seun van Sallum sal na jou toe kom en hy sal vra jy moet sy stuk grond in Anatot koop, want jy is sy naaste familielid en jy moet die grond koop. “Alles wat die Here vir my gesê het, het toe gebeur. My neef Ganamel het na my toe gekom in die binneplaas van die paleiswagte en hy het vir my gesê: ‘Jy moet asseblief my grond in Anatot koop in die land Benjamin, want jy is my naaste familie en jy mag die grond vir jou koop. Jy moet dit vir jou koop.’ “Ek het toe geweet dit was die Here wat met my gepraat het, en ek het die grond van my neef Ganamel in Anatot gekoop. Ek het vir hom 17 sikkels silwer daarvoor betaal. Ek het die koopkontrak geskryf. Ek het toe met my seël 'n merk daarop gesit en ek het die getuies se name daarby geskryf. Daarna het ek die silwer op 'n weegskaal geweeg. Ons het alles wat ons besluit het, op die koopkontrak geskryf en my seël-merk was ook daarop. Ek het vir my en vir Ganamel elkeen dieselfde koopkontrak geskryf en toe het ek die twee koopkontrakte vir Baruk seun van Nerija seun van Magseja gegee. My neef Ganamel en al die Judeërs wat daar in die binneplaas gesit het, kon dit sien. Hulle het gehoor dat ek vir Baruk gesê het: ‘Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Jy moet hierdie twee koopkontrakte neem en jy moet dit altwee in 'n kleipot sit sodat dit lank kan hou, want die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Mense sal weer huise en lande en wingerde koop in hierdie land.’
JEREMIA 32:6-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Jeremia het gesê: Die woord van die HERE het tot my gekom en gesê: Kyk, Hanámeël, die seun van Sallum, jou oom, kom na jou toe met die woorde: Koop vir jou my stuk grond wat in Ánatot lê, want jy het die reg van lossing om te koop. En Hanámeël, die seun van my oom, het na my gekom volgens die woord van die HERE in die voorhof van bewaking en vir my gesê: Koop tog my stuk grond wat in Ánatot in die land Benjamin lê, want jy het die reg van besit en jy het die lossing; koop dit vir jou. Toe het ek gemerk dat dit die woord van die HERE was. Daarop het ek van Hanámeël, die seun van my oom, die stuk grond gekoop wat in Ánatot lê, en vir hom die geld afgeweeg: sewentien sikkels silwer. En ek het dit in die brief geskrywe en dit verseël en getuies geneem en die geld afgeweeg op 'n weegskaal. Toe het ek die koopbrief geneem, die verseëlde een — volgens voorskrif en wetlike bepalinge — en die oop een, en die koopbrief aan Barug, die seun van Nería, die seun van Magséja, gegee voor die oë van Hanámeël, die seun van my oom, en voor die oë van die getuies wat die koopbrief onderteken het; voor die oë van al die Jode wat in die voorhof van bewaking gesit het; en ek het aan Barug voor hulle oë bevel gegee en gesê: So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Neem hierdie briewe, hierdie koopbrief, die verseëlde een sowel as hierdie oop brief, en sit hulle in 'n erdepot, dat hulle baie dae kan bly bestaan. Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Daar sal weer huise en gronde en wingerde in hierdie land gekoop word.
JEREMIA 32:6-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jeremia het vir Sedekia geantwoord: “Die woord van die Here het tot my gekom: Jou oom Sallum se seun Ganamel sal na jou toe kom en sê: ‘Koop my stuk grond wat in Anatot is vir jou, want volgens die lossingsreg moet jy dit koop.’ “Soos die Here gesê het, het my neef Ganamel na my toe gekom in die binneplaas van die paleiswag en vir my gesê: ‘Koop tog my stuk grond wat in Anatot is in die gebied van Benjamin. Dit is jou reg om dit te besit, jy het die lossingsreg. Koop dit vir jou.’ Ek het toe geweet dit is die woord van die Here en ek het die stuk grond wat in Anatot is, by my neef Ganamel gekoop. Ek het vir hom twee honderd gram silwer afgeweeg. Nadat ek die kontrak geskryf en die seël daarop gesit het en dit deur getuies laat teken het, het ek die silwer vir hom afgeweeg op 'n skaal. Toe het ek die koopkontrak met die voorwaardes en die bepalings daarop, die kontrak met die seël en die afskrif sonder seël, gevat en in die teenwoordigheid van my neef Ganamel en van die getuies wat dit geteken het en van al die Judeërs wat in die binneplaas van die paleiswag gesit het, vir Baruk seun van Nerija, seun van Magseja, gegee. “In hulle teenwoordigheid het ek vir Baruk beveel: ‘So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Vat hierdie dokumente, die koopkontrak met die seël en die afskrif sonder seël en sit hulle in 'n kleipot sodat hulle lank kan hou, want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.’
JEREMIA 32:6-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jeremia het gesê: “Die woord van die HERE het tot my gekom, ‘Kyk, Ganamel, seun van jou oom Sallum, is op pad na jou toe om te sê: “Koop vir jou my stuk grond wat in Anatot is, want jy het die reg om dit te koop volgens die loskoopreg. ” ’ “Ganamel, seun van my oom, het toe, ooreenkomstig die woord van die HERE, na my toe gekom, in die binnehof van die wagte se kwartiere, en vir my gesê, ‘Koop asseblief my stuk grond wat in Anatot in die grondgebied van Benjamin is, want die besitreg en die loskoopreg behoort aan jou. Koop dit vir jou!’ “Ek het toe geweet dat dit die woord van die HERE was, en ek het die stuk grond wat in Anatot is, by Ganamel, seun van my oom, gekoop. Ek het die silwer vir hom afgeweeg – sewentien sikkel silwer. Ek het die koopbrief uitgeskryf, dit verseël, en deur getuies laat bevestig, en die silwer op 'n weegskaal afgeweeg. Toe het ek die koopkontrak geneem, die verseëlde een volgens voorskrif en wetlike bepalings, en ook 'n oop afskrif, en die koopkontrak vir Barug, seun van Nerija, seun van Magseja, gegee in die teenwoordigheid van Ganamel, seun van my oom, en van die getuies wat die koopkontrak onderteken het, en van al die Judeërs wat daar in die binnehof van die wagte se kwartiere gesit het. Ek het Barug in hulle teenwoordigheid opdrag gegee, ‘So sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Neem hierdie briewe, hierdie koopkontrak, die verseëlde een en die oop afskrif, en plaas dit in 'n erdekruik, sodat dit vir 'n lang tyd behoue bly.” Want so sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Daar sal weer huise, landerye en wingerde in hierdie land gekoop word.” ’
JEREMIA 32:6-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Jeremia sê: Die woord van die HERE het tot my gekom en gesê: Kyk, Hanámeël, die seun van Sallum, jou oom sal na jou toe kom en sê: Koop vir jou my stuk grond wat in Anatot is, want die reg van loskoop is aan jou om dit te koop. Daarop het Hanámeël, my oom se seun, na my gekom in die voorhof van die gevangenis volgens die woord van die HERE en vir my gesê: Koop tog my stuk grond wat in Anatot is, wat in die land Benjamin is; Aan jou behoort die reg van erfenis, en aan jou behoort die verlossing; koop dit vir jouself. Toe het ek geweet dat dit die woord van die HERE is. En ek het die stuk grond gekoop van Hanámeël, die seun van my oom, wat in Anatot was, en die geld vir hom geweeg, sewentien sikkels silwer. En ek het die getuienis opgeteken en dit verseël en getuies geneem en vir hom die geld op die weegskaal opgeweeg. Daarom het ek die bewys van die koop geneem, die wat verseël was volgens die wet en die gebruik, sowel as die wat oop was. En ek het die bewys van die koop gegee aan Barug, die seun van Neria, die seun van Maäséja, voor die oë van Hanámeël, die seun van my oom, en voor die teenwoordigheid van die getuies wat die boek van die koop geteken het, voor al die Jode wat gesit het in die hof van die tronk. En ek het Barug voor hulle bevel gegee en gesê: So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Neem hierdie bewyse, hierdie bewys van die koop, beide wat verseël is, en hierdie getuienis wat oop is; en sit dit in 'n erdekruik, dat hulle baie dae kan bly. Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Huise en lande en wingerde sal weer in besit geneem word in hierdie land.
JEREMIA 32:6-15 Die Boodskap (DB)
Die Here het in daardie tyd vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê: “Jou oom Sallum se seun Ganamel sal na jou toe kom en sê: ‘Koop my stuk grond daar by Anatot. Jy het die eerste reg om dit te koop.’” En net soos die Here gesê het, het Ganamel toe na my toe gekom waar ek opgesluit was in die paleis se binnehof. Hy het vir my gesê: “Koop my grond daar by Anatot in die grondgebied van Benjamin. Jy het die eerste opsie om dit te koop voordat ander mense die kans kry om die grond te koop. Koop dit vir jouself.” Toe het ek geweet dat dit die Here was wat met my oor die grond gepraat het. Ek het die stuk grond by Anatot by my neef Ganamel gekoop. Ek het hom sewentien silwer munte daarvoor betaal. Toe het ek die koopkontrak geteken en dit verseël terwyl daar getuies was wat gesien het wat ons doen. Daarna het ek hom die sewentien silwer munte betaal wat ek afgeweeg het. Die koopkontrak het al die voorwaardes en ooreenkomste tussen Jeremia en Ganamel ingehad. Ek het toe die koopkontrak wat verseël was en ook ’n afskrif wat nie verseël was nie, gevat en ek het dit vir Baruk die seun van Nerija gegee. Nerija was die seun van Magseja. Ek het al hierdie goed voor my neef Ganamel en die getuie wat die koopkontrak geteken het, gedoen. Ek het dit ook gedoen voor al die Jode wat in die binnehof waar die wagte gebly het, gesit het. Ek het toe voor almal vir Baruk gesê: “Die Here, die God van Israel, is sterker as alles en almal. Hy het gesê: ‘Vat die verseëlde en die oop koopkontrak en sit dit in ’n kleipot sodat dit vir ’n lang tyd gebêre kan word. Want eendag sal mense weer huise, grond en wingerde in hierdie land koop.’”
JEREMIA 32:6-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jeremia het gesê: “Die HERE het vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê: ‘Jou oom Sallum se seun Ganamel sal na jou toe kom en sê: Koop my stuk grond by Anatot. Jy het volgens die lossingsreg die eerste keuse om dit te koop.’” En soos die HERE gesê het sal gebeur, het Ganamel na my toe gekom waar ek opgesluit was in die binnehof van die paleis. Hy het vir my gesê: “Koop my grond by Anatot, in die grondgebied van Benjamin. Volgens reg het jy die eerste opsie om dit te koop as jou besitting. Koop dit vir jouself.” Toe het ek geweet dat dit die HERE was wat met my gepraat het. Ek het die stuk grond by Anatot by my neef Ganamel gekoop. Ek het hom 200 gram silwer daarvoor betaal. Daarna het ek die koopkontrak geteken en dit voor getuies verseël. Ek het daarna die silwer op die skaal afgeweeg. Die koopkontrak het al die voorwaardes en ooreenkomste tussen Jeremia en Ganamel bevat. Ek het die koopkontrak wat verseël was en ook ’n afskrif wat vir almal se insae bedoel was, geneem en vir Baruk die seun van Nerija, kleinseun van Magseja gegee. Ek het dit alles voor my neef Ganamel en die getuies wat die koopkontrak geteken het, gedoen. Dit is gedoen voor al die Jode wat in die binnehof van die wagte gesit het. Ek het toe voor almal vir Baruk gesê: “Die HERE, die Almagtige, die God van Israel sê: ‘Neem sowel die verseëlde as die oop koopkontrak en sit dit in ’n kleipot sodat dit vir ’n lang tyd behoue kan bly. Want, sê die HERE, die Almagtige, die God van Israel, eendag sal mense weer huise, grond en wingerde in hierdie land koop.’”