Jeremia 32

32
Koop van grond in Anatot
1Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het in die tiende regeringsjaar van Sedekia, koning van Juda. Dit was die agttiende regeringsjaar van koning Nebukadresar. 2Die leër van die koning van Babilonië was toe besig om Jerusalem te beleër. Die profeet Jeremia was ingeperk in die binnehof van die wagte se kwartiere, wat in die koninklike paleis van Juda was; 3 want koning Sedekia van Juda het hom daar ingeperk deur te sê: “Waarom hou jy aan profeteer en sê, ‘So sê die Here: “Kyk, Ek gaan hierdie stad oorgee in die hand van die koning van Babilonië; hy sal dit inneem, 4 en Sedekia, koning van Juda, sal nie vrykom uit die hand van die Galdeërs nie, maar sal beslis oorgegee word in die hand van die koning van Babilonië, en hy sal van aangesig tot aangesig met hom praat en hom in die oë moet kyk; 5en hy sal Sedekia na Babel neem, en hy sal daar bly totdat Ek, die Here, aan hom aandag gee,” is die uitspraak van die Here, “As julle teen die Galdeërs veg, sal julle nie sukses behaal nie.” ’ ”
6 Jeremia het gesê: “Die woord van die Here het tot my gekom, 7‘Kyk, Ganamel, seun van jou oom Sallum, is op pad na jou toe om te sê: “Koop vir jou my stuk grond wat in Anatot is, want jy het die reg om dit te koop volgens die loskoopreg. ” ’
8“Ganamel, seun van my oom, het toe, ooreenkomstig die woord van die Here, na my toe gekom, in die binnehof van die wagte se kwartiere, en vir my gesê, ‘Koop asseblief my stuk grond wat in Anatot in die grondgebied van Benjamin is, want die besitreg en die loskoopreg behoort aan jou. Koop dit vir jou!’
“Ek het toe geweet dat dit die woord van die Here was, 9en ek het die stuk grond wat in Anatot is, by Ganamel, seun van my oom, gekoop. Ek het die silwer vir hom afgeweeg – sewentien sikkel silwer. 10Ek het die koopbrief uitgeskryf, dit verseël, en deur getuies laat bevestig, en die silwer op 'n weegskaal afgeweeg. 11Toe het ek die koopkontrak geneem, die verseëlde een volgens voorskrif en wetlike bepalings, en ook 'n oop afskrif, 12en die koopkontrak vir Barug, seun van Nerija, seun van Magseja, gegee in die teenwoordigheid van Ganamel, seun van my oom, en van die getuies wat die koopkontrak onderteken het, en van al die Judeërs wat daar in die binnehof van die wagte se kwartiere gesit het. 13Ek het Barug in hulle teenwoordigheid opdrag gegee, 14‘So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Neem hierdie briewe, hierdie koopkontrak, die verseëlde een en die oop afskrif, en plaas dit in 'n erdekruik, sodat dit vir 'n lang tyd behoue bly.” 15Want so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Daar sal weer huise, landerye en wingerde in hierdie land gekoop word.” ’
16“Ek het tot die Here gebid, nadat ek die koopkontrak vir Barug, seun van Nerija gegee het,
17“ ‘Ag, Here, my Heer, kyk, dit is U wat die hemel en die aarde gemaak het deur u groot krag en uitgestrekte arm! Niks is vir U onmoontlik nie. 18 U bewys troue liefde aan duisende, maar vergeld die sondeskuld van ouers in die skote van hulle kinders ná hulle. Groot en magtige God, wie se naam die Here, Heerser oor alle magte, is, 19 U wat groot in raadsbesluite en groots in die uitvoering daarvan is, wie se oë oop is vir al die optrede van mensekinders, om elkeen te vergeld volgens sy optrede, volgens die vrug van sy dade, 20U wat tekens en wonders verrig het in Egipteland, tot vandag toe nog, in sowel Israel as onder die mensdom, en vir U 'n naam gemaak het soos dit vandag is – 21 U het u volk Israel uit Egipteland gelei deur tekens en wonders, deur 'n sterk hand en 'n uitgestrekte arm en te midde van groot verskrikkings. 22 U het aan hulle hierdie land gegee wat U met 'n eed aan hulle voorouers beloof het om aan hulle te gee – 'n land wat oorloop van melk en heuning. 23 Hulle het gekom en dit in besit geneem, maar hulle het nie na u stem geluister nie en u voorskrifte het hulle nie gevolg nie. Hulle het niks gedoen van alles wat U hulle beveel het om te doen nie. Toe het U hulle al hierdie onheil laat beleef. 24Kyk, die beleëringswalle kom al tot teen die stad om dit in te neem. Die stad is klaar oorgegee in die hand van die Galdeërs wat daarteen veg, vanweë die swaard, hongersnood en 'n epidemie. Wat U aangekondig het, gebeur nou; kyk, U sien dit self! 25 Maar U, Here, my Heer, het vir my gesê: “Koop vir jou die stuk grond met silwer en kry getuies! Maar die stad is reeds oorgegee in die hand van die Galdeërs!” ’ ”
26Toe het die woord van die Here tot Jeremia gekom: 27“ Kyk, Ek is die Here, die God van alles wat leef. Is enigiets onmoontlik vir my? 28Daarom, so sê die Here, kyk, Ek gaan hierdie stad oorgee in die hand van die Galdeërs en in die hand van Nebukadresar, die koning van Babilonië, en hy sal dit inneem. 29 Die Galdeërs wat teen hierdie stad veg, sal kom en hulle sal hierdie stad aan die brand steek en dit afbrand, saam met die huise waar mense op hulle dakke vir Baäl offers verbrand het en vir ander gode drankoffers uitgegiet het om My te tart. 30 Die Israeliete en die Judeërs het immers van hulle jong dae af net gedoen wat verkeerd is in my oë. Ja, die Israeliete het My met hulle handewerk net getart.” Dit is die uitspraak van die Here.
31“Ja, hierdie stad was vir My 'n rede tot toorn en woede vanaf die dag dat dit gebou is tot vandag toe, sodat Ek dit voor my aangesig wil verwyder 32 oor al die boosheid van die Israeliete en Judeërs wat hulle gedoen het om My te tart – hulle, hulle konings en •hoë amptenare, hulle priesters en profete, die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem. 33Hulle draai hulle rug op My en wys nie hulle gesig nie. Alhoewel Ek hulle aanhoudend deeglik onderrig het, het hulle nie geluister deur die teregwysings te aanvaar nie. 34 Hulle het hulle verfoeilike afgode neergesit in die huis waaroor my Naam uitgeroep is, om so my huis te verontreinig. 35 Hulle het offerhoogtes vir Baäl in die Ben-Hinnomdal gebou om hulle seuns en dogters aan Moleg te wy – iets wat Ek hulle nie beveel het nie, en wat nie in my gedagtes opgekom het nie – om sodoende iets afstootliks te doen en Juda te laat sondig! 36En nou, in die lig hiervan” – so sê die Here, die God van Israel, aan hierdie stad waarvan julle sê, ‘Dit is oorgegee in die hand van die koning van Babilonië deur die swaard, hongersnood en epidemie’: 37“ Kyk, Ek gaan hulle bymekaarmaak uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het in my toorn, my woede en in fel grimmigheid. Ek sal hulle na hierdie plek toe terugbring en hulle veilig laat woon. 38 Hulle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees. 39Ek sal aan hulle eensgesinde harte gee en een pad, sodat hulle altyd vir My ontsag sal hê, tot hulle eie beswil en dié van hulle kinders ná hulle. 40 Ek sal 'n ewige verbond met hulle sluit: Ek sal My nooit daarvan weerhou om aan hulle goed te doen nie, en Ek sal ontsag vir My in hulle harte gee, sodat hulle nie van My af sal wegdraai nie. 41Ek sal My daarin verheug om aan hulle goed te doen. Ek sal hulle in getrouheid, met my hele hart en siel, in hierdie land plant. ”
42“Ja, so sê die Here, ‘Soos Ek al hierdie groot onheil oor hierdie volk gebring het, net so sal Ek al die goeie dinge wat Ek oor hulle sê, oor hulle bring. 43 Daar sal grond gekoop word in hierdie land waarvan julle sê: “Dit is 'n woesteny, sonder mens of dier; dit is oorgegee in die hand van die Galdeërs.” 44Mense sal landerye koop met silwer, koopbriewe skryf en verseël, en getuies kry – in die gebied van Benjamin, in die omgewing van Jerusalem, in die dorpe van Juda, in die dorpe van die bergland, die Sjefela, en die Negev, want Ek sal hulle lot verander,’ ” is die uitspraak van die Here.

Tans Gekies:

Jeremia 32: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid