JEREMIA 26:1-24

JEREMIA 26:1-24 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het met Jeremia gepraat. Dit was kort nadat Jojakim seun van Josia koning geword het van Juda. Die Here het vir Jeremia gesê: “Jy moet op die oop stuk grond by die tempel gaan staan en jy moet praat oor al die mense wat uit die stede van Juda kom om in die tempel te bid. Jy moet vir hulle alles sê wat Ek vir jou sê, jy moenie party woorde los nie. Miskien sal die mense gehoorsaam wees en hulle lewe verander en nie meer slegte dinge doen nie. As hulle gehoorsaam is, dan sal Ek hulle nie straf oor die slegte dinge wat hulle gedoen het nie. “Jy moet vir hulle sê: Die Here sê: Julle moet gehoorsaam wees aan My en julle moet doen wat Ek vir julle gesê het. Julle moet luister na wat my dienaars, die profete, vir julle gesê het. Ek het aangehou om hulle na julle toe te stuur, maar julle het nie geluister nie. As julle nie luister nie, dan sal Ek dieselfde met hierdie tempel doen wat Ek met die tempel in Silo gedoen het. En al die volke op die aarde sal hierdie stad se naam noem wanneer hulle ander volke wil vervloek.” Die priesters en die profete en al die mense van Jerusalem het gehoor toe Jeremia hierdie dinge in die tempel gesê het. Toe hy alles klaar gesê het wat die Here vir hom gesê het om vir al die mense te sê, het die priesters en die profete en al die mense hom gegryp en gesê: “Jy moet sterf. Dit is seker. Hoekom sê jy die Here het jou gestuur om te sê hierdie tempel sal afgebreek word soos die tempel in Silo en hierdie stad sal 'n hoop klippe word waar niemand woon nie?” Al die mense het bymekaargekom in die tempel en hulle was téén Jeremia. Die amptenare van Juda het gehoor wat gebeur het, en hulle het uit die paleis na die tempel gekom. Hulle het gaan sit in die Nuwe Poort van die tempel. Die priesters en die profete het toe vir die amptenare en vir al die mense gesê: “Hierdie man moet sterf, want hy sê die Here het hom gestuur om slegte dinge teen hierdie stad te sê. Julle het dit self gehoor.” Jeremia het vir die amptenare en vir al die mense gesê: “Die Here hét my gestuur om alles teen hierdie tempel en hierdie stad te sê wat julle gehoor het. En nou moet julle reg lewe en goeie dinge doen en gehoorsaam wees aan julle God. As julle dit doen, dan sal die Here julle nie straf soos Hy gesê het nie. En ek, hier is ek, en julle mag nou besluit oor my, julle moet met my doen wat julle dink is goed en reg. Maar julle moet dit baie goed besef, as julle my doodmaak, dan maak julle 'n onskuldige man dood. En dan sal die Here hierdie stad en sy mense straf, want Hy het regtig vir my gestuur om vir julle al hierdie dinge te sê.” Die amptenare en al die mense het toe vir die priesters en die profete gesê: “Ons mag nie hierdie man doodmaak nie, want ons God die Here het hom gestuur om met ons te praat.” Daarna het party van die leiers opgestaan en vir al die mense in die volksvergadering gesê: “In die tyd toe Hiskia koning van Juda was, het die profeet Miga van die stad Moreset 'n boodskap van die Here gebring en hy het vir al die mense van Juda gesê: ‘ Die Here wat oor alles regeer, sê: Die vyande sal Jerusalem omploeg soos 'n mens 'n stuk grond omploeg. Jerusalem sal net hope klippe wees, en die berg waar die tempel nou staan, sal vol bosse wees.’ “Koning Hiskia van Juda en al die mense van Juda het toe nie vir Miga doodgemaak nie. Nee, die koning het die Here gedien en hy het tot die Here gebid om genadig te wees. Toe het die Here sy besluit verander, Hy het hulle nie gestraf nie. En ons? Ons is nou besig om dinge te doen waaroor ons baie swaar sal kry.” Maar daar was nog 'n man wat 'n boodskap van die Here gebring het. Dit was Urija seun van Semaja van die stad Kirjat-Jearim. Hy het soos Jeremia dieselfde dinge gesê teen hierdie stad en hierdie land. Toe koning Jojakim en al sy soldate en al sy amptenare hoor wat hy sê, wou die koning hom doodmaak. Urija het dit gehoor en hy het bang geword en na Egipte gevlug. Maar koning Jojakim het vir Elnatan seun van Akbor en ander manne saam met hom na Egipte gestuur. Hulle het Urija uit Egipte gebring en hulle het hom na koning Jojakim geneem. Die koning het toe vir Urija doodgemaak en hy het Urija se liggaam in die graf van die gewone mense gegooi. Maar Agikam seun van Safan het vir Jeremia beskerm, en daarom kon die mense nie vir Jeremia doodmaak nie.

JEREMIA 26:1-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

IN die begin van die regering van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda, het hierdie woord van die HERE gekom: So sê die HERE: Gaan staan in die voorhof van die huis van die HERE, en spreek tot al die stede van Juda wat kom om te aanbid in die huis van die HERE, al die woorde wat Ek jou beveel het om aan hulle te sê; laat geen woord weg nie. Miskien sal hulle luister en hulle bekeer elkeen van sy verkeerde weg; dan sal Ek berou hê oor die onheil wat Ek van plan is om hulle aan te doen weens die boosheid van hulle handelinge. Sê dan vir hulle: So spreek die HERE: As julle na My nie luister nie, om in my wet te wandel wat Ek julle voorgehou het, om te luister na die woorde van my knegte, die profete, wat Ek na julle stuur, vroeg én laat, sonder dat julle geluister het, dan sal Ek hierdie huis maak soos Silo, en hierdie stad sal Ek maak 'n vervloeking vir al die nasies van die aarde. En die priesters en die profete en die hele volk het Jeremia hierdie woorde hoor spreek in die huis van die HERE. En toe Jeremia klaar gespreek het alles wat die HERE beveel het om aan die hele volk te sê, het die priesters en die profete en die hele volk hom gegryp en gesê: Jy moet sekerlik sterwe! Waarom het jy in die Naam van die HERE geprofeteer en gesê: Hierdie huis sal soos Silo word, en hierdie stad sal verwoes word, sonder inwoner? En die hele volk het bymekaargekom teen Jeremia in die huis van die HERE. Toe die vorste van Juda hierdie woorde hoor, het hulle uit die huis van die koning opgegaan na die huis van die HERE; en hulle het gaan sit by die ingang van die Nuwe Poort van die huis van die HERE. En die priesters en die profete het met die vorste en met die hele volk gespreek en gesê: Hierdie man verdien die dood, want hy het geprofeteer teen hierdie stad, soos julle met jul ore gehoor het. Maar Jeremia het al die vorste en die hele volk toegespreek en gesê: Die HERE het my gestuur om teen hierdie huis en teen hierdie stad te profeteer al die woorde wat julle gehoor het. Maak dan nou julle weë en julle handelinge goed, en luister na die stem van die HERE julle God; dan sal dit die HERE berou oor die onheil wat Hy teen julle gespreek het. Maar ek, kyk, ek is in julle hand; maak met my soos dit goed en reg is in julle oë. Maar weet verseker as julle my doodmaak dat julle onskuldige bloed bring op julleself en op hierdie stad en op sy inwoners; want die HERE het my waarlik na julle gestuur om al hierdie woorde voor julle ore te spreek. Toe sê die vorste en die hele volk aan die priesters en die profete: Hierdie man verdien nie die dood nie, want hy het met ons gespreek in die Naam van die HERE onse God. Ook het daar manne opgestaan uit die oudstes van die land, en hulle het die hele vergadering van die volk toegespreek en gesê: Miga, die Morastiet, het as profeet opgetree in die dae van Hiskía, koning van Juda, en met die hele volk van Juda gespreek en gesê: So spreek die HERE van die leërskare: Sion sal soos 'n land omgeploeg word, en Jerusalem sal puinhope word en die tempelberg bosrante. Het Hiskía, koning van Juda, en die hele Juda hom ooit gedood? Het hy nie die HERE gevrees en die HERE om genade gesmeek, sodat dit die HERE berou het oor die onheil wat Hy teen hulle gespreek het nie? En ons is besig om ons siele 'n groot onheil te berokken! En daar was ook 'n man wat in die Naam van die HERE geprofeteer het, Uría, die seun van Semája, van Kirjat-Jeárim; en hy het geprofeteer teen hierdie stad en teen hierdie land ooreenkomstig al die woorde van Jeremia. Maar toe koning Jójakim en al sy helde en al die vorste sy woorde hoor, het die koning probeer om hom dood te maak. Maar Uría het dit gehoor en bevrees geword en gevlug en in Egipte gekom. Toe stuur koning Jójakim manne na Egipte, Élnatan, die seun van Akbor, en manne saam met hom, na Egipte toe. Dié het Uría uit Egipte weggevoer en hom by die koning Jójakim gebring; en hy het hom met die swaard verslaan en sy lyk op die grafte van die gewone mense gegooi. Maar die hand van Ahíkam, die seun van Safan, het Jeremia beskerm, sodat hy nie oorgegee is in die hand van die volk om hom dood te maak nie.

JEREMIA 26:1-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

Kort nadat Jojakim seun van Josia koning van Juda geword het, het hierdie woord van die Here gekom: So sê die Here: Gaan staan in die voorhof van die huis van die Here en praat met al die mense wat uit al die stede van Juda kom om in die huis van die Here te aanbid. Jy moet alles wat Ek jou beveel, vir hulle sê. Jy mag nie 'n enkele woord weglaat nie. Miskien sal hulle luister en hulle van hulle verkeerde lewe bekeer. Dan sal Ek die straf herroep wat Ek oor hulle wou bring oor hulle sondige dade. Jy moet vir hulle sê: So sê die Here: Julle moet na My luister en my wil doen wat Ek aan julle bekend gemaak het. Julle moet luister na wat my dienaars die profete sê, my profete wat Ek vroeg en laat na julle toe gestuur het sonder dat julle na hulle geluister het. As julle dit nie doen nie, sal Ek hierdie huis soos Silo maak en Ek sal hierdie stad maak tot iets waarmee al die volke van die wêreld ander vervloek. Die priesters, die profete en die hele volk het Jeremia hierdie dinge hoor sê in die huis van die Here. Toe Jeremia klaar vir die volk alles gesê het wat die Here hom beveel het om vir hulle te sê, het die priesters en die profete en die hele volk hom gepak en gesê: “Jy moet beslis sterf! Waarom tree jy in die Naam van die Here op as profeet en sê dan dat hierdie huis soos Silo sal word en dat hierdie stad verwoes sal word en sonder inwoners sal wees?” Die hele volk het in die huis van die Here om Jeremia saamgedrom. Toe die amptenare van Juda al hierdie dinge verneem, is hulle van die paleis af na die tempel toe. Hulle het by die nuwe poort van die tempel gaan sit, en die priesters en die profete het vir hulle en vir die hele volk gesê: “Hierdie man moet die doodvonnis kry, want hy het as profeet hierdie dinge teen die stad gesê. Julle het dit self gehoor.” Toe antwoord Jeremia al die amptenare en die hele volk: “Die Here het my gestuur om as profeet op te tree teen hierdie huis en teen hierdie stad en om alles te sê wat julle gehoor het. Maar as julle nou goed doen en julle gedrag en optrede verander en luister na wat die Here julle God vir julle sê, sal Hy die straf herroep wat Hy oor julle aangekondig het. Ek is in julle mag. Maak met my wat goed en reg is in julle oë. Onthou net: As julle my doodmaak, sal julle die straf vir onskuldige bloedvergieting oor julle en oor hierdie stad en sy inwoners bring, want dit is so dat die Here my teen julle gestuur het om al hierdie dinge te sê sodat julle almal dit kan hoor.” Toe sê die amptenare en die hele volk vir die priesters en die profete: “Hierdie man mag nie die doodvonnis kry nie, want hy het met ons gepraat in die Naam van die Here ons God.” Daar het ook van die leiers van die land gekom en vir die hele volksvergadering gesê: “Miga van Moreset het in die dae van koning Hiskia van Juda as profeet opgetree en vir die hele volk van Juda gesê: So sê die Here die Almagtige: “Sion sal soos 'n land geploeg word, Jerusalem sal 'n puinhoop word, die tempelberg 'n hoogte vol bossies. “Het koning Hiskia van Juda en die hele Juda toe vir Miga doodgemaak? Het Hiskia nie die Here gedien en om genade gesmeek nie? Het die Here nie die straf herroep wat Hy oor hulle aangekondig het nie? Ons is besig om 'n groot ramp oor ons te bring.” Daar was nog iemand wat in die Naam van die Here as profeet opgetree het, Urija seun van Semaja uit Kirjat-Jearim. Hy het as profeet opgetree teen hierdie stad en teen hierdie land en dieselfde dinge as Jeremia gesê. Toe koning Jojakim en al sy soldate en al sy amptenare hoor wat Urija sê, wou die koning hom doodmaak, maar Urija het dit te hore gekom en bang geword en Egipte toe gevlug. Koning Jojakim het toe vir Elnatan seun van Akbor en die manskappe by hom na Egipte toe gestuur, en hulle het vir Urija in Egipte gaan haal en na koning Jojakim toe gebring. Hy het toe vir Urija met 'n swaard om die lewe gebring en sy lyk in die plek gegooi waar die gewone mense begrawe is. Agikam seun van Safan was aan Jeremia se kant, met die gevolg dat hy nie aan die volk uitgelewer is sodat hulle hom kon doodmaak nie.

JEREMIA 26:1-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Aan die begin van Jojakim, seun van Josia, koning van Juda, se regering, het hierdie woord van die HERE gekom: “So sê die HERE, ‘Gaan staan in die voorhof van die huis van die HERE, en sê vir al die stede van Juda wat kom om in die huis van die HERE in aanbidding te buig, al die woorde wat Ek jou beveel het om vir hulle te sê. Moenie een woord weglaat nie. Miskien sal hulle luister en omdraai, elkeen weg van sy verkeerde pad. Dan sal Ek berou hê oor die onheil wat Ek van plan is om hulle aan te doen vanweë hulle bose dade. Sê vir hulle: “So sê die HERE, ‘As julle nie na My luister nie – deur te leef volgens my wet wat Ek aan julle voorgehou het, en deur te luister na die woorde van my knegte, die profete, hulle wat Ek aanhoudend na julle stuur selfs al luister julle nie – sal Ek hierdie huis maak soos Silo, en sal Ek hierdie stad 'n voorbeeld maak om as vervloeking te dien vir al die nasies van die wêreld.’ ” ’ ” Die priesters, die profete en die hele volk het Jeremia hierdie woorde hoor sê in die huis van die HERE. Net toe Jeremia klaar alles gesê het wat die HERE hom beveel het om vir die hele volk te sê, het die priesters, die profete en die hele volk hom gegryp en gesê: “Jy moet beslis sterf! Waarom het jy in die Naam van die HERE geprofeteer, ‘Soos Silo sal hierdie huis word, en hierdie stad sal 'n puinhoop wees, sonder inwoners ’?” Die hele volk het toe teen Jeremia saamgekom in die huis van die HERE. Toe die •hoë amptenare van Juda hierdie woorde hoor, het hulle van die paleis van die koning af opgegaan na die huis van die HERE, en hulle het gaan sit by die ingang van die nuwe poort van die huis van die HERE. Die priesters en profete sê toe vir die hoë amptenare en die hele volk: “Hierdie man moet die doodsvonnis kry, want hy het teen hierdie stad geprofeteer, soos julle met julle eie ore gehoor het.” Jeremia het egter al die hoë amptenare en die hele volk geantwoord: “Dit is die HERE wat my gestuur het om teen hierdie huis en hierdie stad al die woorde wat julle gehoor het, te profeteer. Daarom, laat julle doen en late goed wees, en luister na die stem van die HERE julle God, sodat die HERE berou kan hê oor die onheil wat Hy oor julle aangekondig het. En wat my betref – kyk, ek is in julle hande, maak met my soos dit goed en reg is in julle oë. Maar weet vir seker, as julle my doodmaak, bring julle onskuldige bloed oor julleself en oor hierdie stad en haar inwoners; want die waarheid is dat die HERE my na julle gestuur het om ten aanhore van julle almal al hierdie woorde uit te spreek.” Toe sê die hoë amptenare en die hele volk vir die priesters en profete: “Hierdie man moet nie die doodsvonnis kry nie, want dit is in die Naam van die HERE ons God dat hy met ons gepraat het.” Manne uit die oudstes van die land het toe opgestaan en vir die hele byeenkoms van die volk gesê: “Miga van Morêset het as profeet opgetree in die dae van Hiskia, koning van Juda. Hy het met die hele volk van Juda gepraat en gesê, ‘So sê die HERE, Heerser oor alle magte: “Sion sal soos 'n stuk land omgeploeg word, Jerusalem sal puinhope word, en die tempelberg 'n oorgroeide heuwel .” ’ Het Hiskia, koning van Juda, en die hele Juda hom toe wel doodgemaak? Het Hiskia nie ontsag vir die HERE gehad en die guns van die HERE gesoek nie? En het die HERE nie berou gehad oor die onheil wat Hy oor hulle aangekondig het nie? Ons is besig om groot onheil oor onsself te bring.” Daar was ook 'n man wat in die Naam van die HERE geprofeteer het, Uria, seun van Semaja, uit Kirjat-Jearim. Hy het teen hierdie stad en teen hierdie land profesieë uitgespreek wat ooreenkom met al die woorde van Jeremia. Toe koning Jojakim en al sy keurtroepe en die •aanvoerders sy woorde hoor, het die koning probeer om hom dood te maak. Maar Uria het dit te hore gekom, bang geword, gevlug en in Egipte aangekom. Koning Jojakim het toe manne na Egipte gestuur; hy het Elnatan, seun van Agbor, en ander manne saam met hom, na Egipte gestuur. Hulle het Uria uit Egipte geneem en hom na koning Jojakim gebring. Dié het hom met die swaard neergevel en sy lyk in die begraafplek van gewone mense gegooi. Maar Agikam, seun van Safan, het Jeremia beskerm, sodat hy nie oorgelewer is in die hand van die volk, en hulle hom nie kon doodmaak nie.

JEREMIA 26:1-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

In die begin van die regering van Jojakim, die seun van Josia, die koning van Juda, het hierdie woord van die HERE gekom en gesê: So sê die HERE; Gaan staan in die voorhof van die huis van die HERE en spreek met al die stede van Juda wat kom om in die huis van die HERE te aanbid, al die woorde wat ek jou beveel om met hulle te spreek; verminder nie 'n woord nie: As dit so is, sal hulle luister en elkeen bekeer van sy verkeerde weg, sodat Ek my kan bekeer van die onheil wat Ek van plan is om hulle aan te doen weens die boosheid van hulle handelinge. En jy moet vir hulle sê: So spreek die HERE; As julle nie na My luister om in my wet te wandel wat Ek julle voorgehou het nie, om te luister na die woorde van my knegte, die profete, wat Ek na julle gestuur het, wat vroeg opstaan en hulle stuur, maar julle het nie geluister nie; Dan sal Ek hierdie huis maak soos Silo en hierdie stad 'n vloek maak vir al die nasies van die aarde. En die priesters en die profete en die hele volk het Jeremia hierdie woorde hoor spreek in die huis van die HERE. En toe Jeremia klaar gemaak het om alles te spreek wat die HERE hom beveel het om met die hele volk te spreek, het die priesters en die profete en die hele volk hom gevat en gesê: Jy sal sekerlik sterwe. Waarom het jy in die Naam van die HERE geprofeteer deur te sê: Hierdie huis sal wees soos Silo, en hierdie stad sal 'n wildernis wees sonder dat daar inwoner is? En die hele volk het teen Jeremia versamel in die huis van die HERE. Toe die vorste van Juda dit hoor, het hulle uit die huis van die koning opgegaan na die huis van die HERE en gaan sit by die ingang van die nuwe poort van die huis van die HERE. Toe het die priesters en die profete met die vorste en met die hele volk gespreek en gesê: Hierdie man is waardig om te sterwe; want hy het teen hierdie stad geprofeteer, soos julle met julle ore gehoor het. Toe het Jeremia met al die vorste en met die hele volk gespreek en gesê: Die HERE het my gestuur om teen hierdie huis en teen hierdie stad te profeteer al die woorde wat julle gehoor het. Maak dan nou julle weë en julle handelinge reg, en luister na die stem van die HERE julle God; en die HERE sal hom berou oor die onheil wat Hy oor julle gespreek het. Wat my aangaan, kyk, ek is in jou hand; doen met my soos goed lyk en vir jou goed. Maar weet julle vir seker dat as julle my doodmaak, julle sekerlik onskuldige bloed oor julleself en oor hierdie stad en oor die inwoners daarvan sal bring; want die HERE het my waarlik na julle gestuur om al hierdie woorde te spreek in jou ore. Toe sê die vorste en die hele volk aan die priesters en die profete: Hierdie man is nie waardig om te sterwe nie, want hy het met ons gespreek in die Naam van die HERE onse God. Toe het sommige van die oudstes van die land opgestaan en met die hele vergadering van die volk gespreek en gesê: Miga, die Morastiet, het geprofeteer in die dae van Hiskía, die koning van Juda, en met die hele volk van Juda gespreek en gesê: So spreek die HERE van die leërskare: Sion sal geploeg word soos 'n veld, en Jerusalem sal hope word, en die berg van die huis soos hoogtes van 'n woud. Het Hiskia, die koning van Juda, en die hele Juda hom enigsins doodgemaak? het hy die HERE nie gevrees en die HERE gesmeek nie, en die HERE het hom bekeer van die onheil wat Hy oor hulle gespreek het? So kan ons groot kwaad teen ons siele bewerk. En daar was ook 'n man wat in die Naam van die HERE geprofeteer het, Uria, die seun van Semaja, uit Kirjat-Jeárim, wat teen hierdie stad en teen hierdie land geprofeteer het volgens al die woorde van Jeremia. En toe koning Jójakim met al sy helde en al die vorste sy woorde hoor, het die koning probeer om hom dood te maak; maar toe Uría dit hoor, het hy bang geword en gevlug en na Egipte gegaan; En koning Jójakim het manne na Egipte gestuur, naamlik Elnatan, die seun van Akbor, en sekere manne saam met hom na Egipte. En hulle het Uría uit Egipte gebring en hom na koning Jójakim gebring; wat hom met die swaard gedood het en sy lyk in die grafte van die gewone mense gegooi het. Maar die hand van Ahikam, die seun van Safan, was met Jeremia, dat hulle hom nie in die hand van die volk sou gee om hom dood te maak nie.

JEREMIA 26:1-24 Die Boodskap (DB)

Die Here het vir Jeremia gesê wat hy vir die mense van Juda moes sê. Dit was net toe Jojakim koning van Juda geword het. Jojakim was die seun van koning Josia. Die Here het gesê: “Baie mense kom uit al die stede van Juda na die tempel om die Here te aanbid. Gaan staan in die voorste gedeelte van die tempel van die Here en praat met hierdie mense. Sê vir hulle alles wat Ek jou opdrag gegee het om te sê. Moenie een woord terughou nie. Miskien sal hulle luister en ophou om die verkeerde goed te doen waarmee hulle besig is. Dan kan Ek my planne om hulle kwaad aan te doen vir die slegte goed wat hulle doen, verander. Sê vir hulle, die Here sê: Ek het vir julle riglyne gegee hoe om te lewe. Ek het ook keer op keer my profete na julle gestuur om julle te waarsku. Nie dat julle julle juis aan hulle gesteur het nie. As julle my riglyne en my boodskappers aanhou ignoreer, sal Ek hierdie tempel verwoes soos Ek die aanbiddingsplek Silo verwoes het. Ek sal Jerusalem so sleg laat lyk dat die nasies dit as ’n vloekwoord sal gebruik.” Die priesters, die sogenaamde profete van die Here en al die mense het geluister na wat Jeremia te sê gehad het daar voor die Here se tempel. Toe hy klaar gepraat het en alles gesê het wat die Here vir hom gesê het om vir al die mense te sê, het die omstanders hom aangeval. Hulle het geskree: “Jy moet doodgemaak word oor wat jy sê!” Hulle het gevra: “Wie gee jou die reg om namens die Here te praat? Hoe kan jy sê dat die tempel net soos wat met Silo gebeur het, vernietig sal word? Wie is jy om te sê dat Jerusalem verlate en sonder enige mense sal wees?” Die mense wat daar voor die tempel om Jeremia saamgedrom het, het hom gedreig met hulle houding. Die leiers van Juda was in die paleis toe hulle die nuus hoor van wat voor die tempel gebeur het. Hulle het haastig van die paleis af na die Nuwe Ingang van die tempel gegaan. Daar het hulle ’n vergadering gehou. Die priesters en die profete het toe vir die leiers van Juda en al die mense wat daar rondgestaan het, gesê wat hulle dink. Hulle het gesê: “Hierdie man moet die doodstraf kry! Julle het met julle eie ore gehoor wat hy gesê het. Hy het gesê slegte goed gaan met Jerusalem gebeur.” Toe het Jeremia homself begin verdedig teenoor die leiers en die mense. Hy het gesê: “Die Here het my gestuur met die boodskap wat met die tempel en met Jerusalem gaan gebeur. Elke liewe woord wat ek gepraat het, het die Here vir my gegee om te sê. Maar as julle nou ophou om verkeerde goed te doen en begin doen wat die Here julle God van julle verwag, sal Hy van plan verander en julle nie meer kwaad aandoen soos Hy gesê het Hy gaan doen nie. Met my moet julle maar maak soos julle goeddink. Ek is in julle hande uitgelewer. Maar weet vir seker, as julle my doodmaak, maak julle ’n onskuldige mens dood. Julle, hierdie stad en al die mense van die stad sal die gevolge moet dra as julle dit doen. Ek praat die waarheid as ek sê dat die Here my gestuur het om al hierdie dinge vir julle te kom sê.” Toe het die leiers van Juda en die gewone mense vir die priesters en die sogenaamde profete van die Here gesê: “Hierdie man verdien nie die doodstraf nie. Hy het namens die Here ons God met ons kom praat.” ’n Paar van die ouer leiers van die land het toe opgestaan en met die mense gepraat wat daar bymekaar was. Hulle het gesê: “Dink ’n bietjie terug aan die tyd toe Miga van Moreset vir al die mense van Juda boodskappe van die Here gebring het. Dit was in die tyd toe Hiskia koning van Juda was. Hy het gesê: ‘Die Here is sterker as alles en almal en Hy sê: Sion sal soos ’n veld omgeploeg word. Jerusalem sal ’n hoop bourommel word. ’n Groot bos sal op die heuwel groei waar die tempel eers gestaan het.’ Het koning Hiskia en die mense van Juda vir Miga doodgemaak omdat hy hierdie dinge gesê het? Nee, die koning het groot respek vir die Here gehad. Hy het in sy goeie boekies probeer kom. Die Here het toe besluit om Juda nie meer met ’n ramp te tref soos Hy eers wou doen nie. As ons Jeremia doodmaak, wie weet wat kan ons tref?” In dié tyd was daar ook ’n ander man wat namens die Here boodskappe oorgedra het. Sy naam was Urija en hy was ’n seun van Semaja. Hy het van die dorp Kirjat-Jearim af gekom. Sy boodskappe was ook teen Jerusalem en hierdie land. Hy het baie dieselfde dinge as Jeremia gesê. Toe koning Jojakim, van die offisiere van sy leër en van die leiers van Juda hoor wat Urija te sê gehad het, het die koning iemand gestuur om hom dood te maak. Maar toe Urija van die sameswering teen hom hoor, was hy baie bang. Hy het toe Egipte toe gevlug. Maar koning Jojakim het Elnatan, wat ’n seun van Akbor was, Egipte toe gestuur. ’n Paar ander mense het saam met Elnatan gegaan om Urija te gaan aankeer. Hulle het hom in Egipte gevang en na koning Jojakim toe teruggebring. Die koning het Urija met ’n swaard laat doodmaak. Daarna het hy hom tussen die gewone mense begrawe. Agikam, die seun van Safan, het Jeremia se kant gevat. Hy het gekeer dat hulle Jeremia aan die mense oorgee, want hulle wou hom doodmaak.

JEREMIA 26:1-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Met die aanvang van die regering van koning Jojakim van Juda het die HERE vir Jeremia ’n boodskap gegee. Jojakim was die seun van Josia. Die HERE het gesê: “Gaan staan voor die tempel van die HERE en sê vir die mense wat uit al die dorpe van Juda na die tempel kom om die HERE te aanbid alles wat Ek jou beveel het om te sê. Moenie een woord verswyg nie. Miskien sal hulle luister en ophou om die verkeerde dinge te doen. Dan kan Ek my planne om hulle te vervolg vir die slegte dade wat hulle doen, verander. Sê vir hulle die HERE sê: ‘Ek het my gebooie vir julle gegee om te gehoorsaam. Ek het ook keer op keer my diensknegte – die profete – na julle gestuur, maar julle wou nie na hulle boodskappe luister nie. As julle nie luister nie, sal Ek hierdie tempel verwoes soos Ek Silo verwoes het. Dit sal so sleg gaan met die stad dat die nasies dit soos ’n vloekwoord sal gebruik.’” Die priesters, die profete en al die mense het na Jeremia geluister toe hy hierdie boodskap voor die tempel van die HERE oorgedra het. Jeremia het alles gesê wat die HERE hom beveel het om vir die hele volk te sê. Toe hy klaar gepraat het, het die priesters, profete en die hele volk hom aangeval en geskreeu: “Maak hom dood!” Hulle het gevra: “Wie gee jou die reg om namens die HERE te profeteer en te sê: Wat met Silo gebeur het, sal ook met hierdie stad gebeur? Wie is jy om te sê dat hierdie stad verlate en sonder enige inwoners sal wees?” Al die mense het in die tempel van die HERE om Jeremia saamgedrom. Toe die amptenare van Juda hierdie boodskap hoor, het hulle haastig van die paleis na die HERE se tempel toe gegaan. Hulle het in die Nuwe Ingang van die tempel gaan sit. Die priesters en die profete het toe hulle saak aan die leiers van Juda en al die mense gestel. Hulle het gesê: “Hierdie man moet die doodstraf kry! Julle het met julle eie ore gehoor hoe hy verraad pleeg, want hy het teen hierdie stad geprofeteer.” Toe het Jeremia homself teenoor die leiers en die hele volk begin verdedig. Hy het gesê: “Die HERE het my gestuur om teen hierdie tempel en hierdie stad te profeteer. Julle het alles gehoor wat ek vir julle gesê het. Maar as julle begin reg lewe, goeie dinge doen en die HERE gehoorsaam, sal Hy van plan verander en julle nie meer kwaad aandoen soos Hy gedreig het nie. Wat my betref, ek is in julle mag. Maak met my soos wat julle dink reg is. Maar weet verseker, as julle my doodmaak, maak julle ’n onskuldige persoon dood! En as julle dit doen, sal julle, hierdie stad en elke inwoner van die stad die verantwoordelikheid daarvoor moet dra. Ek praat die waarheid as ek sê die HERE het my gestuur om hierdie boodskappe aan julle oor te dra.” Toe het die leiers van Juda en al die mense vir die priesters en die sogenaamde profete gesê: “Hierdie man verdien nie die doodstraf nie, maar het namens die HERE ons God met ons kom praat.” ’n Paar van die ouer leiers van die land het toe opgestaan en met die mense wat daar bymekaar was, gepraat. Hulle het gesê: “Dink ’n bietjie terug aan die tyd toe Miga van Moreset geprofeteer het. Dit was in die tyd toe Hiskia koning van Juda was. Hy het vir die hele volk van Juda gesê: ‘Die HERE, die Almagtige, sê: Hulle sal Sion soos ’n landery omploeg en Jerusalem sal in ’n hoop bourommel verander. Die hoogte waarop die tempel staan, sal ’n woud wees.’ Het koning Hiskia en die mense van Juda hom doodgemaak oor wat hy gesê het? Het die koning nie die HERE uit eerbied aanbid en om genade gepleit nie? Die HERE het toe besluit om Juda nie meer met ’n ramp te tref soos wat Hy gedreig het nie. As ons Jeremia doodmaak, sal ons groot onheil oor onsself bring.” In dié tyd was daar ook ’n ander persoon wat namens die HERE geprofeteer het. Sy naam was Urija seun van Semaja, afkomstig uit Kirjat-Jearim. Sy boodskappe was ook teen hierdie stad en hierdie land, soortgelyk aan Jeremia se boodskappe. Toe koning Jojakim, van die offisiere van sy leër en van die leiers van Juda hoor wat hy sê, het die koning iemand gestuur om hom dood te maak. Maar toe Urija van die sameswering teen hom hoor, was hy baie bang. Hy het na Egipte toe gevlug. Toe het koning Jojakim Elnatan seun van Akbor saam met ’n paar ander mense Egipte toe gestuur. Hulle het Urija in Egipte gevang en na koning Jojakim toe teruggebring. Die koning het Urija laat teregstel en hom in ’n ongemerkte graf begrawe. Agikam seun van Safan het ook by Jeremia gestaan. Hy het gekeer dat hulle Jeremia aan die skare oorgee om hom dood te maak.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid