JEREMIA 14:7-9 - Compare All Versions

JEREMIA 14:7-9 ABA (Bybel vir almal)

Here, ons sonde praat teen ons, en U moet met ons doen wat U besluit, want U is die Here. Ons het baie maal opgehou om U te dien, ons het teen U sonde gedoen. U is die Hoop van Israel, sy Redder wanneer dit sleg gaan. Hoekom is U soos 'n vreemdeling in die land, soos iemand wat verbygaan en net van die pad afgaan om een nag daar te slaap? Hoekom is U soos 'n man wat niks kan doen nie, soos 'n soldaat wat nie iemand kan red nie? Here, U is by ons, en ons behoort aan U. U moenie weggaan van ons nie.

JEREMIA 14:7-9 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Hoewel ons ongeregtighede teen ons getuig, o HERE, doen dit om u Naam ontwil; want ons afkerighede is baie, ons het teen U gesondig. O Verwagting van Israel, sy Verlosser in tyd van benoudheid! Waarom sou U wees soos 'n vreemdeling in die land en soos 'n reisiger wat uitdraai om te vernag? Waarom sou U wees soos 'n man wat verslae is, soos 'n held wat nie kan verlos nie? U is tog in ons midde, o HERE, en u Naam is oor ons uitgeroep. Verlaat ons nie!

JEREMIA 14:7-9 AFR83 (Afrikaans 1983)

As ons sondes teen ons getuig, Here, tree tog op ter wille van u Naam. Ons het so baie keer van U af weggedraai, ons het teen U gesondig. Hoop van Israel, Redder in tyd van nood, waarom sou U wees soos 'n vreemdeling in die land, soos 'n reisiger wat net 'n nag oorbly? Waarom sou U wees soos 'n man wat verskrik staan, soos 'n soldaat wat nie in staat is om te help nie? U is by ons, Here, ons behoort aan U, moet ons nie verlaat nie!

JEREMIA 14:7-9 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

“ Al getuig ons sondeskuld teen ons, HERE, tree op ter wille van u Naam! Ja, ons afvalligheid is erg; teen U het ons gesondig. Hoop van Israel, sy Verlosser in tyd van nood, waarom is U soos 'n vreemdeling in die land, soos 'n reisiger wat net afdraai om te oornag? Waarom is U soos iemand wat onkant gevang is, soos 'n held wat nie kan verlos nie? U is tog in ons midde, HERE; U Naam is oor ons uitgeroep. Moet ons nie aan onsself oorlaat nie!”

JEREMIA 14:7-9 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

O HERE, al getuig ons ongeregtighede teen ons, doen dit ter wille van u Naam; want ons afkerighede is baie; ons het teen U gesondig. O, die hoop van Israel, sy redder in tyd van benoudheid, waarom sou jy wees soos 'n vreemdeling in die land en soos 'n reisiger wat afwyk om vir 'n nag te vertoef? Waarom sou jy wees soos 'n man wat verbaas is, soos 'n held wat nie kan red nie? tog is U, HERE, in ons midde, en u Naam is oor ons uitgeroep; los ons nie.

JEREMIA 14:7-9 DB (Die Boodskap)

Die mense het gereageer en gesê: “Here, al die verkeerde dinge wat ons gedoen het, het ons nou ingehaal. Ons het nie reg teenoor U gedoen nie. Ons was al soveel keer dislojaal teenoor U. Maar al is dit so, Here, help ons ter wille van u eie reputasie. Here, U is Israel se enigste hoop. As ’n krisis opduik, help U u mense uit die moeilikheid. Hoekom is U soos ’n vreemdeling vir ons? Hoekom is U soos iemand wat op reis is deur die land en net een nag oorslaap? Here, hoekom tree U op soos iemand wat ’n bietjie deurmekaar is? Hoekom maak U asof U ons nie kan help nie? U is mos by ons en ons is mos u eie mense, ons behoort aan U. Moet ons tog nie nou in die steek laat nie!”

JEREMIA 14:7-9 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“HERE, ons sondes het ons nou ingehaal. Help ons ter wille van u eie reputasie. Ons het baie keer teen U gesondig. U is Israel se enigste hoop, ons Verlosser in krisistye! Hoekom is U ’n vreemdeling vir ons? Hoekom is U soos iemand wat reis deur die land en net ’n nag oorslaap? Hoekom tree U op soos iemand wat verward is, soos ’n soldaat wat ons nie kan help nie? Maar U, HERE, is mos by ons. Ons is immers u volk. Moet ons tog nie aan ons lot oorlaat nie!”