Jeremia 14

14
Droogte in Juda
1Die woord van die Here wat tot Jeremia gekom het na aanleiding van die groot droogte.
2 “Juda treur,
en sy poorte kwyn weg;
die mense sit in rouklere op die grond,
'n gejammer styg van Jerusalem af op.
3Hulle vername mense stuur hulle
onderhoriges om water te gaan haal.
Hulle kom by die kuile,
maar kry geen water nie;
hulle kom terug met leë houers;
hulle staan beskaamd en voel verneder;
hulle bedek hulle koppe.
4 Vanweë die grond, wat uitmekaar bars
omdat dit nie gereën het nie,
staan die landbouers beskaamd;
hulle bedek hulle koppe.
5Ja, selfs wildsbokke in die veld
lam, maar gooi die lammers weg,
omdat daar geen groenigheid is nie.
6Wildedonkies staan op die kaal hoogtes;
hulle snuif die lug soos jakkalse.
Hulle oë raak dof,
want daar is geen veldplante nie.”
7 “ Al getuig ons sondeskuld teen ons, Here,
tree op ter wille van u Naam!
Ja, ons afvalligheid is erg;
teen U het ons gesondig.
8Hoop van Israel,
sy Verlosser in tyd van nood,
waarom is U
soos 'n vreemdeling in die land,
soos 'n reisiger wat net afdraai
om te oornag?
9Waarom is U
soos iemand wat onkant gevang is,
soos 'n held wat nie kan verlos nie?
U is tog in ons midde, Here;
U Naam is oor ons uitgeroep.
Moet ons nie aan onsself oorlaat nie!”
10So sê die Here oor hierdie volk:
“Hulle is tog so lief om af te dwaal,
hulle hou nie hulle voete in bedwang nie;
die Here aanvaar hulle nie.
Nou gaan Hy hulle sondeskuld
in herinnering roep,
en Hy gaan rekenskap
oor hulle sondes eis.”
11 Die Here het vir my gesê: “Moenie bid vir hierdie volk se welstand nie! 12Wanneer hulle vas, luister Ek nie na hulle klaagroep nie; en wanneer hulle •brandoffers en •graanoffers bring, aanvaar Ek hulle nie. Maar met die swaard, hongersnood en pessiekte sal Ek 'n einde aan hulle maak.”
13 Toe het ek gesê: “Ag, Here, my Heer, kyk, die profete sê vir hulle, ‘Julle sal geen swaard sien nie, en geen hongersnood lê vir julle voor nie, maar voortdurende vrede gee Ek vir julle op hierdie plek.’ ”
14 Die Here het toe vir my gesê: “Dit is leuens wat die profete in my Naam profeteer. Ek het hulle nie gestuur nie en hulle nie opdragte gegee nie. Ek het nie met hulle gepraat nie. Dit is 'n vals visioen, sinlose waarsêery en 'n bedrogspul uit hulle eie harte wat hulle vir julle as profesieë opdis. 15 Daarom, so sê die Here oor die profete wat in my Naam profeteer, terwyl Ek hulle nie gestuur het nie, hulle wat aanhou sê dat die swaard en hongersnood nie in hierdie land sal kom nie, ‘Deur die swaard en hongersnood sal daardie profete omkom. 16 Die volk vir wie hulle profeteer, sal in die strate van Jerusalem weggegooi word deur hongersnood en die swaard. Maar daar sal niemand wees wat hulle begrawe nie. Dit geld vir hulle, hulle vroue, hulle seuns en dogters. Ek sal hulle eie boosheid oor hulle uitstort.’
17“Jy moet vir hulle hierdie woorde sê,
‘My oë moet dag en nag vloei met trane,
en nie tot rus kom nie;
want deur 'n groot ineenstorting
is sy gebreek
– die jongvrou, die dogter
van my volk –
deur 'n uiters pynlike wond.
18 As ek uitgaan na die veld –
daar is die gesneuweldes deur die swaard!
As ek die stad binnegaan –
daar is die lyding van die hongersnood!
Want sowel die profete as die priesters
swerf rond in 'n land
wat hulle nie ken nie.’ ”
19Het U Juda dan heeltemal verwerp?
Of het U 'n hartgrondige afkeer in Sion?
Waarom het U ons geslaan
sonder dat daar vir ons genesing is?
Ons het gehoop op vrede,
maar daar was niks goeds nie,
op 'n tyd van herstel,
maar kyk, daar is net verskrikking.
20 Ons erken ons goddeloosheid, Here,
die sondeskuld van ons voorouers.
Ja, ons het teen U gesondig.
21 Moet ons nie verstoot nie,
ter wille van u Naam;
moenie u heerlike troon ontwy nie!
Onthou tog –
moenie u verbond met ons verbreek nie!
22 Is daar onder die nietige afgode van die nasies
enige een wat kan laat reën?
Of kan die hemel vanself stortreëns gee?
Is dit nie U nie, Here ons God?
Ons wag op U,
want U is die een wat dit alles gemaak het.

Tans Gekies:

Jeremia 14: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid