JEREMIA 14:7-11 - Compare All Versions
JEREMIA 14:7-11 ABA (Bybel vir almal)
Here, ons sonde praat teen ons, en U moet met ons doen wat U besluit, want U is die Here. Ons het baie maal opgehou om U te dien, ons het teen U sonde gedoen. U is die Hoop van Israel, sy Redder wanneer dit sleg gaan. Hoekom is U soos 'n vreemdeling in die land, soos iemand wat verbygaan en net van die pad afgaan om een nag daar te slaap? Hoekom is U soos 'n man wat niks kan doen nie, soos 'n soldaat wat nie iemand kan red nie? Here, U is by ons, en ons behoort aan U. U moenie weggaan van ons nie. Die Here sê vir hierdie volk dit is waar wat hulle sê, maar hulle hou daarvan om weg te loop van Hom, en hulle het aangehou om dit te doen. Daarom hou Hy nie meer van hulle nie. Hy sal onthou dat hulle verkeerd gedoen het en Hy sal hulle straf oor hulle sonde. Die Here het vir my gesê: “Jy moenie vir hierdie volk bid nie, jy moenie vra dat dit goed moet gaan met hulle nie
JEREMIA 14:7-11 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Hoewel ons ongeregtighede teen ons getuig, o HERE, doen dit om u Naam ontwil; want ons afkerighede is baie, ons het teen U gesondig. O Verwagting van Israel, sy Verlosser in tyd van benoudheid! Waarom sou U wees soos 'n vreemdeling in die land en soos 'n reisiger wat uitdraai om te vernag? Waarom sou U wees soos 'n man wat verslae is, soos 'n held wat nie kan verlos nie? U is tog in ons midde, o HERE, en u Naam is oor ons uitgeroep. Verlaat ons nie! So sê die HERE van hierdie volk: Só het hulle daarvan gehou om te swerwe, hulle het hul voete nie teruggehou nie; daarom het die HERE geen behae in hulle nie. Nou sal Hy aan hulle ongeregtigheid dink en hulle sondes besoek. Verder het die HERE vir my gesê: Bid nie vir hierdie volk ten goede nie.
JEREMIA 14:7-11 AFR83 (Afrikaans 1983)
As ons sondes teen ons getuig, Here, tree tog op ter wille van u Naam. Ons het so baie keer van U af weggedraai, ons het teen U gesondig. Hoop van Israel, Redder in tyd van nood, waarom sou U wees soos 'n vreemdeling in die land, soos 'n reisiger wat net 'n nag oorbly? Waarom sou U wees soos 'n man wat verskrik staan, soos 'n soldaat wat nie in staat is om te help nie? U is by ons, Here, ons behoort aan U, moet ons nie verlaat nie! So sê die Here vir hierdie volk: Hulle is lief om van My af weg te dwaal, hulle het hulle nie daarvan weerhou nie. Daarom is Ek, die Here, hulle nie meer goedgesind nie. Ek sal hulle nou hulle sonde toereken en rekenskap van hulle eis vir hulle oortredings. Die Here het vir my gesê: Moenie by My vir hierdie volk voorspraak doen nie.
JEREMIA 14:7-11 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
“ Al getuig ons sondeskuld teen ons, HERE, tree op ter wille van u Naam! Ja, ons afvalligheid is erg; teen U het ons gesondig. Hoop van Israel, sy Verlosser in tyd van nood, waarom is U soos 'n vreemdeling in die land, soos 'n reisiger wat net afdraai om te oornag? Waarom is U soos iemand wat onkant gevang is, soos 'n held wat nie kan verlos nie? U is tog in ons midde, HERE; U Naam is oor ons uitgeroep. Moet ons nie aan onsself oorlaat nie!” So sê die HERE oor hierdie volk: “Hulle is tog so lief om af te dwaal, hulle hou nie hulle voete in bedwang nie; die HERE aanvaar hulle nie. Nou gaan Hy hulle sondeskuld in herinnering roep, en Hy gaan rekenskap oor hulle sondes eis.” Die HERE het vir my gesê: “Moenie bid vir hierdie volk se welstand nie!
JEREMIA 14:7-11 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
O HERE, al getuig ons ongeregtighede teen ons, doen dit ter wille van u Naam; want ons afkerighede is baie; ons het teen U gesondig. O, die hoop van Israel, sy redder in tyd van benoudheid, waarom sou jy wees soos 'n vreemdeling in die land en soos 'n reisiger wat afwyk om vir 'n nag te vertoef? Waarom sou jy wees soos 'n man wat verbaas is, soos 'n held wat nie kan red nie? tog is U, HERE, in ons midde, en u Naam is oor ons uitgeroep; los ons nie. So sê die HERE aan hierdie volk: So het hulle daarvan gehou om te dwaal, hulle het hul voete nie teruggehou nie, daarom het die HERE geen welbehae in hulle nie; Hy sal nou aan hulle ongeregtigheid dink en hulle sondes besoek. Toe sê die HERE vir my: Bid nie vir hierdie volk tot hulle beswil nie.
JEREMIA 14:7-11 DB (Die Boodskap)
Die mense het gereageer en gesê: “Here, al die verkeerde dinge wat ons gedoen het, het ons nou ingehaal. Ons het nie reg teenoor U gedoen nie. Ons was al soveel keer dislojaal teenoor U. Maar al is dit so, Here, help ons ter wille van u eie reputasie. Here, U is Israel se enigste hoop. As ’n krisis opduik, help U u mense uit die moeilikheid. Hoekom is U soos ’n vreemdeling vir ons? Hoekom is U soos iemand wat op reis is deur die land en net een nag oorslaap? Here, hoekom tree U op soos iemand wat ’n bietjie deurmekaar is? Hoekom maak U asof U ons nie kan help nie? U is mos by ons en ons is mos u eie mense, ons behoort aan U. Moet ons tog nie nou in die steek laat nie!” Die Here het sy volk geantwoord en gesê: “Julle het daarvan gehou om van My af te dwaal. Julle kon julleself nie in toom hou nie. Daarom dink Ek nie langer aan julle as my mense nie. Ek sal al die slegte dinge wat julle gedoen het, onthou. Ek sal julle straf vir al die dinge wat julle verkeerd gedoen het.” Die Here het vir my gesê: “Moenie meer vir hierdie volk bid dat dit met hulle goed moet gaan nie.
JEREMIA 14:7-11 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
“HERE, ons sondes het ons nou ingehaal. Help ons ter wille van u eie reputasie. Ons het baie keer teen U gesondig. U is Israel se enigste hoop, ons Verlosser in krisistye! Hoekom is U ’n vreemdeling vir ons? Hoekom is U soos iemand wat reis deur die land en net ’n nag oorslaap? Hoekom tree U op soos iemand wat verward is, soos ’n soldaat wat ons nie kan help nie? Maar U, HERE, is mos by ons. Ons is immers u volk. Moet ons tog nie aan ons lot oorlaat nie!” Die HERE het sy volk soos volg geantwoord: “Julle hou mos daarvan om van My af te dwaal. Daarom aanvaar Ek julle nie meer as my volk nie. Ek sal nou al julle boosheid onthou en julle straf vir julle sondes.” Die HERE het vir my gesê: “Moenie meer vir hierdie volk bid dat dit met hulle goed moet gaan nie.