RIGTERS 5:24-27
RIGTERS 5:24-27 Bybel vir almal (ABA)
Maar met Jael sal dit beter gaan as met al die ander vroue, Jael vrou van Geber die Keniet, dit sal met haar beter gaan as met die ander vroue in die tente. Sisera het water gevra, maar sy het vir hom melk gegee, sy het dikmelk gebring in 'n pragtige bak. Sy het 'n tentpen gevat met die een hand en met die ander hand 'n hamer, en sy het vir Sisera doodgemaak. Sy het die pen deur sy kop geslaan tot in die grond. Hy het tussen haar voete geval en daar gelê, hy het geval en daar dood gelê.
RIGTERS 5:24-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Mag bo die vroue geseënd wees Jael, die vrou van Heber, die Keniet; geseënd wees bo die vroue in die tent! Water het hy gevra, melk het sy gegee, in 'n sierlike skottel het sy dikmelk gebring. Haar hand steek sy uit na die tentpen en haar regterhand na die werksman se hamer; en sy hamer Sísera, verpletter sy kop en verbrysel en deurboor die slaap van sy hoof. Tussen haar voete sak hy inmekaar, val, lê daar! Tussen haar voete sak hy inmekaar, val; waar hy inmekaarsak, daar lê hy — morsdood.
RIGTERS 5:24-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Geseënd is Jael vrou van Geber die Keniet, meer geseënd as al die vrouens, die vrouens wat in tente woon. Sisera het water gevra, sy het hom melk gegee, in 'n koningsbeker het sy vir hom dikmelk gegee. In haar hand het sy die tentpen vasgevat, in haar regterhand die werksman se hamer. Sy het vir Sisera daarmee getref, sy kop papgeslaan, sy het die slaap van sy kop verbrysel, dit deurboor. By haar voete het hy neergesak, geval en bly lê, by haar voete het hy neergesak en geval; waar hy neergesak het, het hy geval, morsdood.
RIGTERS 5:24-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Geseënd onder die vroue is Jael, die vrou van Geber, die Keniet, geseënd onder die vroue in tente. Water het hy gevra, melk het sy gegee, in 'n kom geskik vir magtiges het sy dikmelk aangebied. Haar hand steek sy uit na die tentpen, haar regterhand na die werkers se hamer. Sy slaan Sisera met die hamer, verpletter sy kop; sy verbrysel, sy deurboor sy slape. Aan haar voete sak hy inmekaar, hy val, bly lê; aan haar voete sak hy inmekaar, hy val; waar hy inmekaarsak, daar val hy, neergeslaan.
RIGTERS 5:24-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Geseënd sal Jael wees bo vroue, die vrou van Heber, die Keniet, geseënd sal sy wees bo vroue in die tent. Hy het water gevra, en sy het vir hom melk gegee; sy het botter in 'n heerlike skottel gebring. Sy steek haar hand aan die spyker en haar regterhand aan die hamer van die werksmense; en met die hamer het sy Sisera geslaan, sy kop afgeslaan toe sy sy slape deurboor en geslaan het. Voor haar voete het hy gebuig, hy het geval, hy het gaan lê; by haar voete het hy gebuig, hy het geval; waar hy gebuig het, daar het hy dood neergeval.
RIGTERS 5:24-27 Die Boodskap (DB)
“Gelukkig is Jael. Sy is Geber die Keniet se vrou, sy is gelukkiger as al die ander vroue wat in tente woon. Sisera het water gevra, sy het vir hom melk gegee; heerlike dikmelk in ’n pragtige beker. Toe het sy met haar linkerhand ’n tentpen gevat en met haar regterhand ’n hamer. Sy het vir Sisera daarmee geslaan, sy kop inmekaargeslaan, sy het die tentpen reg deur sy slape geslaan. Hy het voor haar voete inmekaargesak en net daar bly lê. Morsdood!
RIGTERS 5:24-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Van al die vroue moet Jael, die vrou van Geber die Keniet, geseën word. Sy moet meer geseën word as al die vroue wat in tente bly. Sisera het vir water gevra. Sy het vir hom melk gegee. In ’n pragtige houer het sy dikmelk gegee. In haar linkerhand het sy die tentpen gevat, in haar regterhand die dryfhamer. Sy het vir Sisera deurboor, sy kop verbrysel, hom pap geslaan en sy slape deurboor. Hy het ineengestort, geval, en by haar voete gelê. Hy het geval, en waar hy by haar voete inmekaargestort het, het hy morsdood bly lê.