RIGTERS 5

5
Die Lied van Debora
1Debora en Barak, die seun van Abinoam, het daardie dag ’n lied gesing:
2“Prys die Here!
Israel se leiers het opgetree,
die volk het hulle kom aanmeld
vir oorlog.
3“Luister, konings,
spits julle ore, regeerders!
Ek sing vir die Here,
ek prys die Here,
die God van Israel,
met my lied.
4Here, toe U opgetrek het
en deur die veld van Edom
marsjeer het,
het die aarde gebewe,
reën het uit die lug gestort,
wolke het strome water gegiet.
5Die berge het ineengekrimp
voor die Here,
Sinai voor die teenwoordigheid
van die Here, God van Israel.
6“In die dae van Samgar,
die seun van Anat,
in die dae van Jael,
het die hoofpaaie stil geword,
reisigers het afgedraai
op die kronkelpaadjies.
7Israel se platteland
het ontvolk geraak,
dit het agteruitgegaan
totdat ek, Debora,
na vore gekom het,
’n moeder wat in Israel
opgestaan het.
8Die volk het nuwe gode
vir hulle gekies,
daar het toe oorlog
in die stadspoorte losgebreek.
Geen spies of skild was te sien
onder Israel
se 40 000 soldate nie.
9“My hart bloei
vir die leiers van Israel,
vir die vrywilligers van die volk.
Prys die Here.
10“Julle wat op mooi donkies ry,
wat op versierde saalsakke sit,
julle wat op reis is,
dink ’n bietjie na!
11“By die drinkbakke
sing hulle daaroor,
hulle praat oor die oorwinning
wat die Here behaal het,
oor sy oorwinning
vir die mense van Israel.
“Die volk van die Here
het afgegaan
na die poorte van die stad:
12‘Kom, Debora, kom!
Word wakker, word wakker!
Kom sing ’n lied!
Kom, Barak,
kom neem hulle gevange,
vat jou gevangenes weg,
seun van Abinoam!’
13“Hulle wat oor was,
het van Tabor af
teen die magtiges opgetrek,
die volk van die Here
het uitgetrek
teen magtige soldate.
14Party van hulle
was van Efraim,
selfs van waar die Amalekiete
voorheen gewoon het;
Benjamin, hulle het
agter jou opgeruk.
Uit jou volk van Makir
het leiers
van die berg afgekom,
uit Sebulon het mense gekom
wat die heersersepter dra.
15Die leiers van Issaskar
was saam met Debora.
Issaskar het Barak gevolg.
Hulle is te voet die vallei in.
By Ruben se groep
was daar huiwering.
16Waarom het jy
by die krale gebly,
geluister hoe die herders
vir hulle skape fluit?
Onder Ruben se groep
was daar onsekerheid.
17Gilead het bly sit
oorkant die Jordaan.
Dan, waarom het jy
by die skepe gebly?
Aser het op die seestrand bly sit,
hy het nie van die hawens af
beweeg nie.
18Sebulon was nie bang
om te sterf nie,
ook nie Naftali
op die gevegsfront nie.
19“Konings het kom veg.
Die konings van Kanaän
het by Taänak kom veg,
by die fonteine van Megiddo,
sonder om silwer buit te maak.
20“Die sterre het van bo
uit die lug geveg,
hulle het van bo uit hulle bane
teen Sisera geveg.
21Die Kisonspruit
het die vyand weggesleur,
Kison, die rivier uit die oertyd.
“Marsjeer aan, wees dapper!
22“Die hoewe van die perde
het geklap op die grond.
Sisera se dapper manne
het op ’n jaaggalop
weggestorm.
23“‘Meros is vervloek!’
sê die engel van die Here.
Dié wat in Meros bly,
is vir altyd vervloek.
Hulle het die Here
nie kom help nie.
Hulle het Hom nie kom help
om teen die kragtige soldate
te veg nie.
24“Van al die vroue
moet Jael,
die vrou van Geber die Keniet,
geseën word.
Sy moet meer geseën word
as al die vroue
wat in tente bly.
25Sisera het vir water gevra.
Sy het vir hom melk gegee.
In ’n pragtige houer
het sy dikmelk gegee.
26In haar linkerhand
het sy die tentpen gevat,
in haar regterhand
die dryfhamer.
Sy het vir Sisera deurboor,
sy kop verbrysel,
hom pap geslaan
en sy slape deurboor.
27Hy het ineengestort, geval,
en by haar voete gelê.
Hy het geval,
en waar hy by haar voete
inmekaargestort het,
het hy morsdood bly lê.
28“Sisera se ma
het uit die venster
ondertoe gekyk.
Sy het by die hortjies
staan en sug.
Sy het gevra:
‘Waarom vat sy oorlogwa
so lank om terug te kom?
Hoekom bly die gedreun
van sy wiele weg?’
29Een van haar wyse prinsesse
antwoord haar.
Sy herhaal haar woorde:
30‘Hulle verdeel die groot buit
wat hulle verower het.
Vir elke soldaat
’n meisie of twee.
Gekleurde klere
as buit vir Sisera,
gekleurde borduurwerk
as buit,
gekleurde borduurwerk
vir my nek as buit.’
31“Mag al u vyande, Here,
tot niet gaan soos Sisera.
Mag almal wat vir U lief is,
wees soos die son
wat in sy volle glorie opkom.”
Daarna was daar 40 jaar lank vrede in die land.

Tans Gekies:

RIGTERS 5: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid