RIGTERS 20:12-48 - Compare All Versions

RIGTERS 20:12-48 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe stuur die stamme van Israel die manne na al die families in Benjamin toe met die boodskap: “Wat vir 'n lae ding het hier by julle plaasgevind? Lewer nou die straatboewe van Gibea uit sodat ons hulle kan doodmaak en dié soort verkeerde ding uit Israel kan uitroei.” Maar die mense van Benjamin wou nie na hulle volksgenote, die Israeliete, luister nie. Toe kom die mense van Benjamin uit al hulle stede bymekaar in Gibea om oorlog te maak teen die Israeliete. Die Benjaminiete wat uit die stede gekom het, is daardie dag getel, en daar was ses en twintig duisend man wat kon veg, en dit behalwe dié van Gibea. Hulle is ook getel, sewe honderd knap soldate. In daardie hele leër was daar sewe honderd knap soldate, almal links. Hulle kon keer op keer 'n haar raakgooi met 'n klip uit 'n slingervel. Die Israeliete is ook getel, en sonder Benjamin was daar vier honderd duisend man wat kon veg, elkeen reg vir die oorlog. Hulle het na Bet-El toe gegaan en God daar geraadpleeg. Die Israeliete het gevra: “Wie van ons moet eerste optrek om teen Benjamin te gaan veg?” Die Here het geantwoord: “Juda moet eerste gaan.” Die volgende môre het al die Israeliete klaargemaak en regoor Gibea kamp opgeslaan. Die Israeliete het hulle manne teenoor Gibea ontplooi om teen die Benjaminiete te veg, maar die Benjaminiete het uit Gibea gestorm en op daardie dag twee en twintig duisend Israeliete om die lewe gebring. Nadat die Israeliete tot die aand toe in die teenwoordigheid van die Here gekla het, het hulle vir Hom gevra: “Moet ons weer teen ons broers die Benjaminiete gaan oorlog maak?” Die Here het geantwoord: “Trek teen hulle op!” Toe het die Israeliete moed geskep en weer hulle manne ontplooi om te veg waar hulle dit die vorige dag gedoen het. Die tweede dag het die Israeliete weer die Benjaminiete aangeval, maar hulle het weer uit Gibea uit gestorm en agtien duisend man van Israel om die lewe gebring, almal goeie soldate. Al die Israeliete en die hele leër is toe na Bet-El toe en daar het hulle in die teenwoordigheid van die Here gaan sit en huil, en daardie dag het hulle tot die aand toe niks geëet nie. Hulle het brandoffers en maaltydoffers aan die Here geoffer. Hulle het die Here geraadpleeg; die verbondsark van die Here was destyds by hulle. Pinehas, seun van Eleasar seun van Aäron, wat destyds as priester gedien het voor die Here, het gevra: “Moet ons weer gaan oorlog maak teen ons broers die Benjaminiete of moet ons ophou?” Toe antwoord die Here: “Trek op! Môre gee Ek hulle in julle mag.” Van die Israeliete het toe rondom Gibea in hinderlae gaan lê. Op die derde dag het die ander Israeliete teen Benjamin opgeruk en die manskappe regoor Gibea ontplooi soos die vorige kere. Die Benjaminiete het die soldate tegemoet gestorm, maar die Benjaminiete is van hulle stad af weggelok. Soos die vorige kere het hulle die Israeliete verslaan en begin doodmaak op die grootpaaie na Bet-El en Gibea toe. Hulle het sowat dertig Israeliete om die lewe gebring. Die Benjaminiete het gedink: soos voorheen is hulle weer deur ons verslaan. Maar die Israeliete het afgespreek: “Ons sal vlug en hulle uit die stad uit na die grootpaaie toe lok. Wanneer die grootste deel van Israel uit sy plek padgee en by Baäl-Tamar ontplooi, moet die Israeliete wat in die hinderlae lê, uit hulle plekke wes van Gibea opspring.” Tien duisend dapper soldate uit die leër van die Israeliete het tot regoor Gibea gegaan, en daar is roekeloos geveg. Die Benjaminiete het nog nie besef dat 'n ramp op hulle afkom nie. Maar die Here het hulle verslaan vir die Israeliete, en die Israeliete het op dié dag vyf en twintig duisend een honderd man van Benjamin, almal dapper soldate, om die lewe gebring. Toe het die Benjaminiete besef dat hulle verslaan is en dat die Israeliete net vir hulle teruggeval het omdat die Israeliete staatgemaak het op die hinderlae wat hulle teen Gibea opgestel het. Die manne van die hinderlae het toe gou in Gibea versprei en die stad oorweldig en die inwoners om die lewe gebring. Daar was 'n afspraak tussen die Israeliete en hulle hinderlaag om 'n groot rookwolk in die stad op te stuur. Toe die Israeliete omdraai om te veg, het die Benjaminiete begin om hulle dood te maak. Sowat dertig man is om die lewe gebring, en die Benjaminiete het gedink: ja-nee, hulle is weer deur ons in die geveg verslaan soos die vorige keer. Toe die rookwolk uit die stad begin opstyg, het die Benjaminiete omgedraai, maar die stad het klaar in vlamme gestaan. Toe die Israeliete omgedraai het om te veg, het die Benjaminiete baie bang geword, want hulle het besef dat 'n groot ramp hulle getref het. Hulle het met die woestynpad voor die Israeliete weggevlug, maar hulle kon die geveg nie vryspring nie, want dié wat die stad in puin gelê het, het hulle verslaan. Die Benjaminiete is omsingel en sonder genade agtervolg. Hulle is regoor Gibea, aan die oostekant, platgeloop. Van Benjamin het daar in die geveg agtien duisend man geval, almal dapper soldate. Die ander het weggekom na die woestyn toe, na die Rimmonrots toe. Op die grootpaaie het die Israeliete nog vyf duisend man doodgemaak. Hulle het die Benjaminiete nog agtervolg tot by Gidom en twee duisend man om die lewe gebring. Uit Benjamin het dié dag vyf en twintig duisend man geval, manne wat kon veg, almal dapper soldate. Ses honderd man het tot by die Rimmonrots gevlug. Hulle het vier maande lank daar gebly. Die manskappe van Israel is terug na die gebied van Benjamin toe. Daar het hulle van stad tot stad gegaan en alles, mens en dier, om die lewe gebring. In al die stede het hulle alles wat hulle aangetref het, verbrand.

RIGTERS 20:12-48 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En die stamme van Israel stuur manne deur die hele stam van Benjamin om te sê: Wat vir 'n misdaad is dit wat onder julle gepleeg is? Lewer dan nou die slegte manne uit wat in Gíbea is, dat ons hulle om die lewe kan bring en die kwaad uit Israel kan uitroei. Die Benjaminiete wou egter nie na hulle broers, die kinders van Israel, luister nie; maar die kinders van Benjamin het bymekaargekom uit die stede na Gíbea toe, om na die oorlog uit te trek teen die kinders van Israel. En die kinders van Benjamin uit die stede is op dié dag getel ses-en-twintigduisend man wat die swaard uittrek, behalwe die inwoners van Gíbea wat getel is: sewehonderd uitgesoekte manne. Uit al hierdie manskappe was daar sewehonderd uitgesoekte manne wat links was; hulle almal het met 'n klip op 'n haar geslinger sonder om te mis. En die manne van Israel, behalwe Benjamin, is getel: vierhonderdduisend man wat die swaard uittrek, hulle almal was krygsmanne. En hulle het klaargemaak en opgetrek na Bet-el en God geraadpleeg; en die kinders van Israel het gesê: Wie van ons moet eerste optrek om te veg teen die kinders van Benjamin? Toe sê die HERE: Juda eerste. Daarop het die kinders van Israel die môre klaargemaak en laer opgeslaan teen Gíbea. En die manne van Israel het uitgetrek om te veg teen Benjamin, en die manne van Israel het hulleself in slagorde teen hulle opgestel, na Gíbea toe. Toe trek die kinders van Benjamin uit Gíbea uit, en hulle het op dié dag in Israel twee-en-twintigduisend man teen die grond vernietig. Maar die manskappe, die manne van Israel, het hulle sterk gehou en hulle weer in slagorde opgestel op die plek waar hulle hul die vorige dag opgestel het. En die kinders van Israel het opgetrek en geween voor die aangesig van die HERE tot die aand toe en die HERE geraadpleeg en gesê: Moet ek weer nader trek om te veg teen die kinders van Benjamin, my broer? En die HERE sê: Trek teen hom op! En toe die kinders van Israel die tweede dag nader kom na die kinders van Benjamin, het Benjamin uit Gíbea op die tweede dag uitgetrek om hulle te ontmoet en van die kinders van Israel nog agttienduisend man wat almal die swaard uittrek, teen die grond vernietig. Daarop trek al die kinders van Israel, ja, die hele volk weg, en hulle het na Bet-el gekom; en hulle het geween en daar gebly voor die aangesig van die HERE en dié dag gevas tot die aand toe en brandoffers en dankoffers voor die aangesig van die HERE gebring. En die kinders van Israel het die HERE geraadpleeg — want die verbondsark van God was in dié dae daar, en Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van Aäron, het in dié dae voor Hom gedien — en gesê: Moet ek nog weer uittrek om teen die kinders van Benjamin, my broer, te veg, of moet ek ophou? Toe sê die HERE: Trek op, want môre sal Ek hom in jou hand gee. En Israel het rondom teen Gíbea hinderlae opgestel. En die kinders van Israel het op die derde dag teen die kinders van Benjamin opgetrek en hulle teen Gíbea opgestel soos die vorige kere. En die kinders van Benjamin het uitgetrek, die manskappe tegemoet — hulle is van die stad afgesny — en, soos die vorige kere, het hulle begin om sommige van die manskappe op die grootpaaie te verslaan, waarvan die een opgaan na Bet-el, en die ander deur die veld na Gíbea — omtrent dertig man in Israel. Toe dink die kinders van Benjamin: Hulle is voor ons verslaan soos die eerste keer! Maar die kinders van Israel het gesê: Laat ons vlug en hom van die stad afsny na die grootpaaie toe. En al die manne van Israel het hulle stelling verlaat en hulle by Baäl-Tamar opgestel, terwyl die hinderlaag van Israel aanruk uit sy stelling, uit die oop plek by Geba. En tienduisend uitgesoekte manne uit die hele Israel het teenoor Gíbea vandaan gekom, en die geveg was hewig; maar Benjamin het nie gemerk dat die onheil hulle sou tref nie. Toe het die HERE Benjamin voor Israel verslaan, en die kinders van Israel het op dié dag in Benjamin vyf-en-twintigduisend-eenhonderd man wat almal die swaard uittrek, vernietig. So het dan die kinders van Benjamin gesien dat hulle verslaan is. En die manne van Israel het aan Benjamin terrein gegee, omdat hulle vertrou het op die hinderlaag wat hulle teen Gíbea opgestel het. Toe het die hinderlaag vinnig na Gíbea gestorm — en die hinderlaag het getrek en die hele stad met die skerpte van die swaard verslaan. En die manne van Israel het 'n afspraak met die hinderlaag gehad dat hulle 'n groot rookwolk uit die stad moet laat optrek. Daarom het die manne van Israel omgedraai in die geveg; en die Benjaminiete het begin om onder die manne van Israel sommige neer te slaan, omtrent dertig man, want hulle het gedink: Hy is regtig heeltemal voor ons verslaan soos in die vorige geveg. Intussen het die wolk begin optrek uit die stad, 'n rookpilaar; en toe Benjamin agter hom omkyk, trek die hele stad al in rook na die hemel op! Toe die manne van Israel dan nou omdraai, het die manne van Benjamin geskrik, want hulle het gesien dat die onheil hulle gaan tref; en hulle het voor die manne van Israel omgedraai op pad na die woestyn; maar die geveg het hulle ingehaal, terwyl die wat uit die stede kom, hulle daar tussenin vernietig: hulle het Benjamin omsingel, hom agtervolg, hom op die rusplek vertrap tot teenoor Gíbea, aan die oostekant. En daar het van Benjamin agttienduisend man geval, en dit almal dapper manne. Toe spring hulle om en vlug na die woestyn, na die rots Rimmon; maar hulle het in die nageveg op die grootpaaie vyfduisend man van hulle gedood en hulle agternagesit tot by Gídeom en tweeduisend man van hulle verslaan. En al die gesneuweldes van Benjamin op dié dag was vyf-en-twintigduisend man wat die swaard uittrek, en dit almal dapper manne. Maar seshonderd man het omgedraai en gevlug na die woestyn, na die rots Rimmon en vier maande by die rots Rimmon gebly. Toe gaan die manne van Israel terug na die kinders van Benjamin en verslaan hulle met die skerpte van die swaard, sowel mense as diere en alles wat voorgekom het; ook al die stede wat hulle aangetref het, het hulle aan die brand gesteek.

RIGTERS 20:12-48 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Die Israeliete het mense na al die families in Benjamin gestuur om vir hulle te sê: “Daar het ’n skrikwekkende ding by julle gebeur. Oorhandig daardie skurke van Gibea aan ons sodat ons hulle kan teregstel en so die kwaad in Israel kan uitroei.” Die mense van Benjamin was nie bereid om na hulle volksgenote te luister nie. Die Benjaminiete het uit al hulle stede by Gibea bymekaargekom om teen die ander Israeliete oorlog te maak. Daar het op daardie dag 26 000 gewapende soldate uit die stede van Benjamin bymekaargekom. Hulle het aangesluit by die 700 soldate wat in Gibea gebly het. Onder hulle was daar 700 uitgesoekte soldate wat almal links was. Hulle kon haarfyn met ’n klip uit ’n slingervel korrel sonder om een keer te mis. Aan Israel se kant, met uitsluiting van Benjamin, was daar 400 000 gewapende soldate. Die Israeliete is eers na Bet-El toe. Daar het die Israeliete vir God gevra: “Watter stam moet die geveg teen Benjamin lei?” Die HERE het geantwoord: “Juda moet eerste gaan.” Die Israeliete het die volgende oggend opgetrek en regoor Gibea kamp opgeslaan. Die Israeliete het teenoor Gibea stelling ingeneem om teen die Benjaminiete te veg. Die Benjaminiete het uit Gibea gestorm en op daardie dag 22 000 Israeliete doodgemaak. Die Israeliete het hulle moed bymekaargeskraap en die volgende dag weer op dieselfde plek stelling gaan inneem as die eerste dag. Dit was nadat hulle die vorige aand by die HERE gaan kla het en Hom gevra het: “Moet ons weer teen ons volksgenote, die Benjaminiete, gaan veg?” Die HERE het toe geantwoord: “Trek op en gaan veg teen hulle!” Op die tweede dag het die Israeliete weer die Benjaminiete aangeval. Die Benjaminiete het weer uit Gibea uitgestorm en hierdie keer 18 000 bedrewe soldate van Israel doodgemaak. Die hele Israel het toe met sy leër na Bet-El toe gegaan en daar voor die HERE gesit en huil en tot die aand toe gevas. Hulle het brandoffers en maaltydoffers vir die HERE gebring. Hulle het by die HERE raad gevra. Die ark van die verbond met God was destyds by hulle in Bet-El. Pinehas, die seun van Eleasar en kleinseun van Aäron, was destyds hulle priester. Hy het vir die HERE gevra: “Moet ons aangaan met die geveg teen ons volksgenote, die Benjaminiete, of moet ons daarmee ophou?” Die antwoord van die HERE was: “Trek weer op! Môre gaan Ek hulle in julle mag oorgee.” Die Israeliete het toe ’n hinderlaag rondom Gibea opgestel. Die Israeliete het weer op die derde dag teen Benjamin geveg. Hulle het op dieselfde plek teenoor Gibea gaan stelling inneem as die vorige kere. Die Benjaminiete het weer uitgestorm om hulle aan te val. Hulle is egter van hulle stad af weggelok. Hulle het soos die vorige kere weer van die Israeliete begin doodmaak. Omtrent 30 Israeliete is in die veld en langs die paaie op pad na Bet-El en Gibea doodgemaak. Die Benjaminiete het geskreeu: “Ons gaan hulle weer verslaan soos die vorige kere.” Die Israeliete het egter met mekaar afgespreek om terug te val en hulle van die stad weg te lok na die grootpad toe. Toe die Israeliete by Baäl-Tamar kom, het hulle in hulle spore omgedraai en reggemaak om terug te veg. Die Israeliete wat wes van Gibea in die hinderlaag gelê het, het uit hulle wegkruipplekke opgespring. 10 000 geharde soldate van die Israeliete het Gibea van voor af aangeval. Die geveg was so hewig dat die Benjaminiete nie bewus was van die ramp wat op hulle gewag het nie. Die HERE het Israel teen Benjamin gehelp. Op daardie dag het die Israeliete 25 100 geharde soldate van Benjamin doodgemaak. Die Benjaminiete het toe besef dat hulle verslaan is. Die Israeliete het teruggeval net om die Israeliete wat in die hinderlaag opgestel was, meer ruimte te gee om te veg. Die manskappe in die hinderlaag het vinnig van alkante in Gibea ingestorm en die inwoners voor die voet doodgemaak. Die Israeliete het met die manskappe in die hinderlaag afgespreek dat hulle ’n groot rookwolk uit die stad sou opstuur. Dit was ’n sein vir die Israeliete om om te draai en terug te veg. Die Benjaminiete het teen daardie tyd al sowat 30 mans van Israel doodgemaak. Die Benjaminiete het gedink dat hulle weer soos die vorige kere die Israeliete sal verslaan. Toe die rookwolk uit die stad begin opstyg, het die Benjaminiete omgedraai, maar die hele stad het reeds in ligte laaie gestaan. Toe die Israeliete hulle begin aanval, het die Benjaminiete paniekerig geword, want hulle het besef dat ’n katastrofe hulle getref het. Hulle het omgevlieg om met die pad na die woestyn voor die Israeliete te vlug. Hulle kon egter nie die geveg afskud nie. Dié wat die stad vernietig het, was ook op hulle hakke. Die Israeliete wat hulle agtervolg het, het hulle omsingel en genadeloos afgemaai. Hulle is tot oos van Gibea uitgewis. In daardie veldslag is 18 000 dapper mans van Benjamin dood. Die ander het deur die woestyn na die Rimmonrots gevlug. Langs die pad soontoe het die Israeliete nog 5 000 van hulle doodgemaak. Hulle het op die Benjaminiete se hakke gebly tot by Gidom en nog 2 000 van hulle om die lewe gebring. In totaal is 25 000 dapper mans van Benjamin daardie dag dood. Net 600 man het daarin geslaag om tot by die Rimmonrots te vlug. Daar moes hulle vier maande lank bly. Die manskappe van Israel het teruggegaan na die gebied van Benjamin. Hulle het alles, mens en dier, in elke stad doodgemaak. Hulle het alles waarop hulle afgekom het, verbrand.

RIGTERS 20:12-48 DB (Die Boodskap)

Die Israeliete het boodskappers na die stam van Benjamin toe gestuur om vir hulle te vra: “Watse verskriklike dinge vang julle aan? Lewer hierdie spul siek sondaars van Gibea aan ons uit dat ons hulle kan doodmaak en dié bose ding in Israel kan uitroei.” Maar die mense van Benjamin het hulle nie hieraan gesteur nie. Hulle soldate het uit al die stede in die gebied van Benjamin in Gibea bymekaargekom om teen Israel oorlog te maak. Ses en twintig duisend van hulle beste soldate het in Gibea aangekom om hulle by die 700 linkshandige uitgesoekte troepe wat daar gebly het, aan te sluit. Hulle kon keer op keer ’n haar met ’n klip uit ’n slingervel raak gooi. Israel self het 400 000 goed opgeleide soldate gehad, dit is nou sonder om Benjamin se soldate by te tel. Voor die geveg is hulle Bet-El toe om God te raadpleeg. Hulle het vir God gevra: “Watter stam moet die aanval teen Benjamin lei?” “Die stam van Juda,” het die Here geantwoord. Vroeg die volgende môre is die Israelitiese leër daar weg en hulle het regoor Gibea gaan kamp opslaan. Hulle het hulle gevegsposisies ingeneem en gereedgemaak vir die geveg teen Benjamin. Benjamin se soldate het egter by die stad uitgestorm en voor die einde van die dag het hulle 22 000 Israelitiese soldate doodgemaak. Die Israeliete het toe teruggegaan Bet-El toe, waar hulle voor die Here gekla en gehuil het tot laat die aand. Toe vra hulle vir die Here: “Moet ons weer teen ons broers gaan oorlog maak?” “Ja, gaan veg teen hulle,” het die Here geantwoord. Hierdie antwoord het hulle weer moed laat skep en hulle is terug stad toe, waar hulle weer die soldate in dieselfde posisies as die vorige dag ontplooi het. So het hulle die volgende dag weer gereedgemaak vir die geveg, en net soos die vorige dag het Benjamin se soldate by die stad uitgestorm. Hierdie keer het hulle 18 000 opgeleide soldate van Israel doodgemaak. Die hele Israelitiese leër is toe terug Bet-El toe, waar hulle voor die Here gekla en gehuil het tot laat die aand, sonder om iets te eet. Hulle het ook brandoffers en vredesoffers vir die Here gebring. Destyds was die verbondsark van die Here nog by hulle. Hulle het toe deur die priester Pineas (hy was Eleasar se seun en die kleinseun van Aäron) vir die Here gevra: “Moet ons weer teen ons broers gaan oorlog maak, of moet ons ophou?” Die Here se antwoord was: “Gaan, môre gee Ek hulle in julle mag oor.” Die Israeliete het toe hinderlae rondom Gibea opgestel. Op die derde dag het ’n groep Israelitiese soldate, soos die vorige kere, regoor Gibea ontplooi. Toe die soldate van Benjamin uitkom om teen hulle te veg, het hulle hulle van die stad af weggelok. En net soos voorheen het hulle die Israelitiese soldate begin doodmaak op die paaie wat na Gibea en Bet-El toe gelei het. Hulle het omtrent 30 soldate doodgemaak. Die soldate van Benjamin het opgewonde geskree: “Ons verslaan hulle al weer soos die vorige kere!” Maar die Israeliete het voor die tyd onder mekaar afgespreek dat hierdie groep voor hulle sou uitvlug om hulle van die stad af weg te lei na die grootpaaie toe. Wanneer die grootste groep van die Israelitiese leër teruggeval het tot by Baäl-Tamar, sal die ander soldate wat in die hinderlae lê, uit hulle plekke wes van Gibea opspring en die Benjaminiete van agter af aanval. Tien duisend uitgesoekte soldate het in hierdie stadium aan die geveg deelgeneem. Die geveg was hewig. Benjamin se soldate het nog nie besef dat hulle ’n ramp in die gesig staar nie. Die Here het Israel gehelp om Benjamin te verslaan. Hulle het op daardie dag 25 100 van Benjamin se dapperste soldate doodgemaak. Benjamin se leër het geweet dat hulle verslaan is. Hulle het besef dat die hoofgroep van die Israelitiese leër net teruggeval het om die soldate wat in die hinderlaag rondom Gibea gelê het, meer kans te gee om in posisie te kom. Die soldate wat in die hinderlae gelê het, het vinnig opgespring, die stad oorrompel en al die inwoners van Gibea doodgemaak. Die twee groepe Israelitiese soldate het ’n teken met mekaar afgespreek. Sodra die hoofgroep ’n rookwolk uit die stad uit sien opgaan, moet hulle omdraai. Teen dié tyd het die Benjaminiete wat hulle agtervolg het, reeds die 30 Israeliete doodgemaak en het hulle nog vir mekaar geskree: “Ons verslaan hulle al weer soos die vorige kere!” Net toe het die rookwolk uit die stad uit opgestyg. Toe die Benjaminiete omkyk, was hulle verstom om te sien dat die hele stad aan die brand is. Die Israelitiese soldate het toe omgespring en hulle begin aanval. Dis toe dat die Benjaminiete vreesbevange geraak het, want hulle het besef dat ’n groot ramp hulle getref het. Hulle het die woestyn in probeer vlug, maar die Israeliete het hulle agternagesit. Dit het nie gehelp nie, want hulle was vasgevang tussen die hoofleër en die soldate wat uit die stad gekom het. Hulle is net daar verslaan. Die Israeliete het die soldate van Benjamin omsingel en hulle genadeloos uitgeroei regoor Gibea aan die oostekant. Agtien duisend van Benjamin se beste troepe is daardie dag dood. Die ander het omgedraai en woestyn toe gevlug in die rigting van die rots van Rimmon. Van hulle is daar nog 5 000 langs die pad doodgemaak. Israel het die res tot by Gidom agtervolg en nog 2 000 soldate doodgemaak. Op daardie dag het Benjamin 25 000 dapper soldate verloor. Ses honderd soldate het dit reggekry om tot by die rots van Rimmon te kom, waar hulle vier maande lank gebly het. Die Israeliete het toe deur die res van die gebied van Benjamin getrek. Hulle het van stad tot stad gegaan en alles, mense, diere, elke lewende ding, doodgemaak. Hulle het elke stad in daardie gebied verbrand.

RIGTERS 20:12-48 ABA (Bybel vir almal)

Maar hulle het eers boodskappers gestuur na al die families in die land Benjamin en gesê: “Daar het 'n slegte ding by julle gebeur. Julle moet nou daardie slegte mense bring wat in Gibea is, sodat ons hulle kan doodmaak. Ons moet hierdie slegte ding wegvat uit die land Israel.” Maar die Benjamin-mense wou nie luister na die ander Israeliete nie. Die Benjamin-mense het uit al die stede by Gibea bymekaargekom om teen die ander Israeliete oorlog te maak. Die Benjamin-mense het 26 000 manne gehad wat kon oorlog maak, en hulle het nog 700 manne gekies uit die mense van Gibea. Van daardie manne was 700 links, maar hulle kon baie goed gooi met 'n slingervel. Hulle kon 'n haar raakgooi, hulle het nie misgegooi nie. Die ander Israeliete het 400 000 manne gehad wat kon oorlog maak, almal was goeie soldate. Hulle het gereedgemaak en na Bet-El gegaan om vir God te vra wie eerste moet begin oorlog maak teen die Benjamin-mense. Die Here het gesê: “Die Juda-stam moet eerste gaan.” Die Israeliete het die oggend gereedgemaak en hulle het hulle tente opgeslaan by Gibea. Die manne van die Israeliete het uit die kamp gegaan en hulle het gereedgestaan om teen die mense van Gibea oorlog te maak. Maar toe kom die Benjamin-mense uit Gibea en hulle maak daardie dag 22 000 manne van die Israeliete dood. Die manne van die Israeliete was dapper. Hulle het weer gaan gereedstaan op die plek waar hulle die eerste dag gestaan het. Maar die Israeliete het eers weer na die tempel in Bet-El gegaan en hulle het daar tot die aand voor die Here gesit en huil. Hulle het vir die Here gevra of hulle weer oorlog moet gaan maak teen hulle broers, die Benjamin-mense, en die Here het gesê: “Ja, julle moet teen hulle gaan oorlog maak.” Maar toe die Israeliete die tweede dag nader gaan om oorlog te maak, het die Benjamin-mense weer uit Gibea gekom en hulle het daardie dag nog 18 000 manne van die Israeliete doodgemaak. Al die Israeliete, al die manne, het weer na Bet-El gegaan en hulle het daar by die tempel gaan sit en huil. Hulle het die hele dag gevas en hulle het brand-offers en ete-offers vir die Here gebring. Die kis van die Here was in daardie tyd in Bet-El, en Pinehas was in daardie tyd die priester by die kis. Pinehas was van die nageslag van Eleaser seun van Aäron. Die Israeliete het vir die Here gevra: “Moet ons weer gaan oorlog maak teen ons broers, die Benjamin-mense, of moet ons ophou?” Die Here het geantwoord: “Ja, julle moet gaan, want môre sal Ek julle laat wen teen hulle.” Die Israeliete het eers vir party van hulle manne gesê hulle moet naby Gibea gaan wegkruip sodat die Benjamin-mense hulle nie kan sien nie. Die Israeliete het toe op die derde dag weer gereedgemaak om oorlog te maak teen die Benjamin-mense. Die Israeliete het soos voorheen gereedgestaan om Gibea aan te val, en die Benjamin-mense het uit die stad na hulle toe gekom. Die Benjamin-mense het verder en verder van die stad gegaan en hulle het begin om Israeliete dood te maak soos voorheen. Hulle het omtrent 30 manne van die Israeliete doodgemaak in die veld langs die pad tussen Gibea en Bet-El. Die Benjamin-mense het gedink hulle het die Israeliete oorwin soos voorheen, maar die Israeliete het gesê: “Kom ons vlug, dan sal die Benjamin-mense op die paaie ver van die stad moet kom.” Die manne van die Israeliete het toe weggegaan van hulle plekke en hulle het by die stad Baäl-Tamar gaan wag. Die ander manne wat weggekruip het wes van Gibea, het ook uit hulle plekke opgespring, en 10 000 van die beste manne van die Israeliete het tot by Gibea gekom. Hulle het almal hard geveg, maar die Benjamin-mense het nog nie geweet hoe sleg dit met hulle sal gaan nie. Die Here het die Israeliete laat wen, en hulle het daardie dag 25 100 van die Benjamin-mense doodgemaak. Toe het die Benjamin-mense gesien hulle het die oorlog verloor. Dit is wat gebeur het: Die manne van die Israeliete het weggevlug van die Benjamin-mense, want die Israeliete het geweet wat die manne sal doen wat hulle by Gibea laat wegkruip het. Daardie manne het vinnig in Gibea ingehardloop en hulle het al die mense in die stad doodgemaak. Hulle het vir die ander Israeliete gesê hulle sal 'n vuur maak in die stad, en wanneer die Israeliete die rook sien, dan moet hulle omdraai en begin veg. Die Benjamin-mense het begin om die Israeliete dood te maak, omtrent 30 manne, en hulle het gedink hulle het weer die oorlog gewen soos voorheen. Maar toe begin die rook uit die stad opgaan, en toe die Benjamin-mense omkyk, het hulle gesien die hele stad is aan die brand. En toe draai die Israeliete om, en die Benjamin-mense het baie bang geword, want hulle het besef hulle verloor. Hulle het op die woestynpad probeer wegvlug van die Israeliete, maar die Israeliete het aangehou om hulle dood te maak. Ander manne het uit die stede gekom en hulle het ook die Benjamin-mense aangeval. Daar was Israeliete voor en agter die Benjamin-mense, en hulle het aangehou om die Benjamin-mense dood te maak oos van Gibea. Daar was nie tyd om te rus nie. Die Israeliete het daar 18 000 van Benjamin se manne doodgemaak, almal dapper manne. Die ander Benjamin-mense het na die woestyn gevlug, na die Rimmon-rots, maar terwyl hulle gevlug het, het die Israeliete nog 5 000 manne van Benjamin doodgemaak, en tot by Gidom nog 2 000. Daardie dag het 25 000 van Benjamin se manne gesterf. Net 600 het tot by die Rimmon-rots gevlug, en hulle het vier maande daar gebly. Die manne van Israel het omgedraai en hulle het in al die stede die ander Benjamin-mense begin doodmaak, mense en diere, en hulle het alles in die stede verbrand.

RIGTERS 20:12-48 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Die stamme van Israel stuur toe manne uit onder die hele stam van Benjamin om vir hulle te sê: “Wat is hierdie bose daad wat onder julle plaasgevind het? Lewer dan nou die klomp booswigte uit wat in Gibea is, sodat ons hulle kan doodmaak en die kwaad uit Israel kan uitroei. ” Maar die mense van Benjamin wou nie luister na hulle broers, die Israeliete, nie. Die Benjaminiete het uit die dorpe saamgetrek by Gibea om uit te trek vir die geveg met die Israeliete. Die Benjaminiete wat uit die dorpe kom, is daardie dag gemonster – ses-en-twintigduisend man met swaarde gewapen. Dit was behalwe die inwoners van Gibea wat gemonster is – sewehonderd uitgesoekte manne. Onder al hierdie manskappe was daar sewehonderd uitgesoekte manne wat linkshandig was. Elkeen van hulle kon met 'n slingervel 'n klip op 'n haar gooi, sonder om te mis. Die manne van Israel is ook gemonster; sonder Benjamin was hulle vierhonderdduisend man, gewapen met swaarde, elkeen van hulle 'n krygsman. Hulle het gereedgemaak en na Bet-El opgeruk en God geraadpleeg. Die Israeliete het gevra: “Wie van ons moet eerste optrek vir die geveg met die Benjaminiete?” Die HERE het gesê: “Juda eerste!” Die Israeliete het die oggend gereedgemaak en Gibea beleër. Die manne van Israel het uitgetrek vir die geveg met Benjamin. Die manne van Israel het hulle by Gibea in gevegslinies teenoor Benjamin opgestel. Maar die Benjaminiete het uit Gibea uitgetrek, en daardie dag in Israel twee-en-twintigduisend man neergevel. Die manskappe, die manne van Israel, het moed bymekaargeskraap en hulle weer in gevegslinies opgestel op die plek waar hulle dit op die eerste dag gedoen het. Die Israeliete het vooraf opgetrek en voor die HERE getreur tot die aand toe. Hulle het die HERE geraadpleeg: “Moet ons weer nader gaan vir die geveg met die kinders van Benjamin, ons broer?” Die HERE het toe geantwoord: “Trek teen hom op!” Die Israeliete het toe op die tweede dag nader beweeg na die Benjaminiete. Benjamin het hulle op die tweede dag uit Gibea tegemoetgetrek, en onder die Israeliete nog agttienduisend man neergevel. Al daardie manne was met swaarde gewapen. Al die Israeliete, ja, al die manskappe, het opgetrek en by Bet-El aangekom. Hulle het getreur en daar voor die HERE gebly. Daardie dag het hulle tot die aand toe gevas en •brandoffers en •maaltydoffers voor die HERE gebring. Daarna het die Israeliete die HERE geraadpleeg. Die verbondsark van God was in dié tyd daar, en Pinehas, seun van Eleasar, seun van Aäron, het in daardie tyd voor die HERE diens gedoen. Hulle het gevra: “Moet ons weer 'n keer uittrek vir die geveg met die kinders van Benjamin, ons broer, of moet ons ophou?” Die HERE het geantwoord: “Trek op, want môre gee Ek hulle in julle hand.” Israel het toe aan alle kante hinderlae teen Gibea opgestel. Die Israeliete het op die derde dag teen die Benjaminiete opgetrek, en soos die vorige kere gevegslinies teen Gibea opgestel. Die Benjaminiete het uitgetrek, die manskappe tegemoet. So is hulle uit die stad gelok. Hulle het begin om, soos die vorige kere, onder die manskappe slagoffers te eis op die paaie, waarvan die een pad na Bet-El opgaan en die ander deur die landerye na Gibea lei – ongeveer dertig man van Israel. Die Benjaminiete het gedink: “Hulle word deur ons verslaan soos voorheen.” Maar die Israeliete het afgespreek: “Laat ons vlug en hulle uit die stad lok na die paaie.” Al die manne van Israel het hulle stellings verlaat en gevegslinies opgestel by Baäl-Tamar, terwyl Israel uit die hinderlae, uit hulle skuilplekke, storm, uit Maäre-Geba, en tot reg voor Gibea vorder – tienduisend uitgesoekte manne uit die hele Israel. Die geveg was hewig, maar die Benjaminiete het nie besef dat 'n ramp hulle gaan tref nie. Die HERE het Benjamin voor Israel uit verslaan. Die Israeliete het op daardie dag in Benjamin vyf-en-twintigduisend eenhonderd man neergevel, almal van hulle gewapen met swaarde. Die Benjaminiete het gesien dat hulle verslaan word. Die manne van Israel het net terrein afgestaan aan Benjamin omdat hulle staatgemaak het op die hinderlae wat hulle teen Gibea opgestel het. Die manne van die hinderlae het vinnig 'n aanval geloods op Gibea. Hulle het by mekaar aangesluit en die hele stad met die skerpte van die swaard verslaan. Die afspraak tussen die Israeliete en die manne in die hinderlae was: “Laat meer rook opstyg uit die stad!” Die manne van Israel het dus teruggeval in die geveg, en die Benjaminiete het begin om onder die manne van Israel slagoffers te eis – ongeveer dertig man – want hulle het gedink: “Israel word sonder twyfel geheel en al deur ons verslaan, soos in die vorige geveg.” Daar het egter 'n rookwolk uit die stad begin opstyg, 'n kolom rook. En toe die Benjaminiete omdraai – kyk, die hele stad was besig om in vlamme op te gaan! Die manne van Israel het teruggedraai, en die manne van Benjamin was angsbevange, want hulle het gesien dat 'n ramp hulle getref het. Hulle het voor die manne van Israel teruggewyk in die rigting van die woestyn. Maar die geveg het hulle ingehaal, en die Israeliete wat uit die stede gekom het, het hulle in die middel vasgekeer en neergevel. Hulle het Benjamin van alle kante aangeval, hulle onvermoeid agtervolg, en hulle vertrap tot anderkant Gibea, tot aan die oostekant. Daar het van die Benjaminiete agttienduisend man geval, almal van hulle bekwame manne. Hulle het omgedraai, en na die woestyn, na die Rimmonrots, gevlug. Maar die Israeliete het vyfduisend man wat nog op die paaie was, afgemaai. In die hakkejag tot by Gidom het hulle tweeduisend man van hulle neergevel. Almal uit Benjamin wat op daardie dag geval het, was vyf-en-twintigduisend man, gewapen met swaarde, almal van hulle bekwame manne. Maar seshonderd man het omgedraai en na die woestyn gevlug, na die Rimmonrots. Hulle het vier maande lank by die Rimmonrots gebly. Die manne van Israel het teruggedraai na die Benjaminiete en hulle met die skerpte van die swaard verslaan, van stad en mens tot dier, ja, alles waarop afgekom is. Hulle het ook al die stede waarop hulle afgekom het, aan die brand gesteek.

RIGTERS 20:12-48 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En die stamme van Israel het manne deur die hele stam van Benjamin gestuur om te sê: Watter boosheid is dit wat onder julle gedoen word? Gee dan nou vir ons die manne, die kinders van Belial, wat in Gíbea is, dat ons hulle kan doodmaak en die onheil uit Israel kan verdryf. Maar die kinders van Benjamin wou nie na die stem van hulle broers, die kinders van Israel, luister nie. Maar die kinders van Benjamin het uit die stede by Gíbea bymekaargekom om uit te trek om te veg teen die kinders van Israel. En die kinders van Benjamin is in dié tyd uit die stede getel ses en twintig duisend man wat die swaard uittrek, behalwe die inwoners van Gíbea, wat sewe honderd uitgesoekte manne getel is. Onder hierdie hele volk was daar sewe honderd uitgesoekte manne wat linkshandig was; elkeen kon klippe op 'n haarbreedte slinger, en nie mis nie. En die manne van Israel, behalwe Benjamin, was getel vier honderd duisend man wat die swaard uittrek; hulle almal was krygsmanne. Toe het die kinders van Israel hulle klaargemaak en opgegaan na die huis van God en God raad gevra en gesê: Wie van ons sal eerste optrek na die geveg teen die kinders van Benjamin? En die HERE het gesê: Juda moet eerste optrek. En die kinders van Israel het die môre klaargemaak en laer opgeslaan teen Gíbea. En die manne van Israel het uitgetrek om teen Benjamin te veg; en die manne van Israel het hulle opgestel om teen hulle te veg by Gíbea. En die kinders van Benjamin het uit Gíbea uitgetrek en daardie dag twee en twintig duisend man tot op die grond van die Israeliete vernietig. En die volk, die manne van Israel, het hulleself aangemoedig en hulle geveg weer opgestel op die plek waar hulle hulle op die eerste dag opgestel het. (En die kinders van Israel het opgetrek en voor die aangesig van die HERE geween tot die aand toe en die HERE raad gevra en gesê: Sal ek weer optrek om te veg teen die kinders van Benjamin, my broer? Toe sê die HERE: Trek op teen hom.) En die kinders van Israel het nader gekom teen die kinders van Benjamin op die tweede dag. En Benjamin het op die tweede dag teen hulle uitgetrek uit Gíbea en weer agttienduisend man op die grond van die kinders van Israel vernietig; hulle almal het die swaard uitgetrek. Toe het al die kinders van Israel en die hele volk opgetrek en na die huis van God gekom en geween en daar gaan sit voor die aangesig van die HERE en daardie dag gevas tot die aand toe en brandoffers en dankoffers gebring voor die aangesig van die HERE. En die kinders van Israel het die HERE geraadpleeg, want die verbondsark van God was daar in daardie dae, En Pinehas, die seun van Eleasar, die seun van Aäron, het in daardie dae voor hom gestaan en gesê: Sal ek weer uittrek om te veg teen die kinders van Benjamin, my broer, of sal ek ophou? Toe sê die HERE: Trek op; want môre sal Ek hulle in jou hand gee. En Israel het leuens rondom Gíbea opgelê. En die kinders van Israel het op die derde dag teen die kinders van Benjamin opgetrek en hulle opgestel teen Gíbea soos die vorige kere. En die kinders van Benjamin het uitgetrek teen die volk en is van die stad af weggetrek; en hulle het begin om van die volk te verslaan en dood te maak, soos die vorige kere, op die grootpaaie, waarvan die een opgaan na die huis van God en die ander na Gíbea in die veld, omtrent dertig man van Israel. Toe sê die kinders van Benjamin: Hulle is voor ons verslaan soos die vorige keer. Maar die kinders van Israel het gesê: Laat ons vlug en hulle van die stad af na die grootpaaie toe trek. Toe het al die manne van Israel opgestaan uit hulle plek en hulle in slagorde gestel by Baäl-tamar; En tienduisend uitgesoekte manne uit die hele Israel het teen Gíbea aangekom, en die geveg was hewig, maar hulle het nie geweet dat onheil naby hulle was nie. En die HERE het Benjamin voor Israel verslaan, en die kinders van Israel het op daardie dag vyf en twintig duisend honderd man van die Benjaminiete verdelg; hulle almal het die swaard uitgetrek. Toe het die kinders van Benjamin gesien dat hulle verslaan is, want die manne van Israel het aan die Benjaminiete plek gegee, omdat hulle vertrou het op die leuenaars wat hulle langs Gíbea gesit het. En die leuenaars het hulle gehaas en Gíbea aangestorm; en die leuenaars het hulle saamgetrek en die hele stad met die skerpte van die swaard verslaan. En daar was 'n bepaalde teken tussen die manne van Israel en die leuenaars wat wag om 'n groot vlam met rook uit die stad te laat opstyg. En toe die manne van Israel in die geveg teruggetrek het, het Benjamin begin om van die manne van Israel omtrent dertig man te verslaan en dood te maak; want hulle het gesê: Waarlik, hulle is voor ons verslaan soos in die eerste geveg. Maar toe die vlam uit die stad begin opgaan met 'n rookkolom, het die Benjaminiete agter hulle gekyk, en kyk, die vlam van die stad het opgestyg na die hemel. En toe die manne van Israel omdraai, was die manne van Benjamin verbaas, want hulle het gesien dat onheil oor hulle gekom het. Daarom het hulle hul rug voor die manne van Israel gedraai na die pad na die woestyn; maar die geveg het hulle ingehaal; en die wat uit die stede gekom het, het hulle in hulle midde vernietig. En hulle het die Benjaminiete rondom omsingel en hulle agtervolg en hulle met gemak vertrap teenoor Gíbea teen sonop. En daar het van Benjamin agttien duisend man geval; hulle almal was dapper manne. En hulle het omgedraai en na die woestyn gevlug na die rots van Rimmon; en hulle het hard agternagejaag tot by Gidom en van hulle twee duisend man gedood. Sodat almal wat daardie dag van Benjamin geval het, vyf en twintig duisend man was wat die swaard uitgetrek het; hulle almal was dapper manne. Maar seshonderd man het omgedraai en na die woestyn gevlug, na die rots Rimmon toe en vier maande in die rots Rimmon gebly. En die manne van Israel het teruggekeer na die kinders van Benjamin en hulle met die skerpte van die swaard verslaan, sowel as die manne van elke stad, soos die dier en almal wat aan die hand gekom het; ook het hulle al die stede aan die brand gesteek waartoe hulle gekom het.