Rigters 20:12-48

Rigters 20:12-48 DB

Die Israeliete het boodskappers na die stam van Benjamin toe gestuur om vir hulle te vra: “Watse verskriklike dinge vang julle aan? Lewer hierdie spul siek sondaars van Gibea aan ons uit dat ons hulle kan doodmaak en dié bose ding in Israel kan uitroei.” Maar die mense van Benjamin het hulle nie hieraan gesteur nie. Hulle soldate het uit al die stede in die gebied van Benjamin in Gibea bymekaargekom om teen Israel oorlog te maak. Ses en twintig duisend van hulle beste soldate het in Gibea aangekom om hulle by die 700 linkshandige uitgesoekte troepe wat daar gebly het, aan te sluit. Hulle kon keer op keer ’n haar met ’n klip uit ’n slingervel raak gooi. Israel self het 400 000 goed opgeleide soldate gehad, dit is nou sonder om Benjamin se soldate by te tel. Voor die geveg is hulle Bet-El toe om God te raadpleeg. Hulle het vir God gevra: “Watter stam moet die aanval teen Benjamin lei?” “Die stam van Juda,” het die Here geantwoord. Vroeg die volgende môre is die Israelitiese leër daar weg en hulle het regoor Gibea gaan kamp opslaan. Hulle het hulle gevegsposisies ingeneem en gereedgemaak vir die geveg teen Benjamin. Benjamin se soldate het egter by die stad uitgestorm en voor die einde van die dag het hulle 22 000 Israelitiese soldate doodgemaak. Die Israeliete het toe teruggegaan Bet-El toe, waar hulle voor die Here gekla en gehuil het tot laat die aand. Toe vra hulle vir die Here: “Moet ons weer teen ons broers gaan oorlog maak?” “Ja, gaan veg teen hulle,” het die Here geantwoord. Hierdie antwoord het hulle weer moed laat skep en hulle is terug stad toe, waar hulle weer die soldate in dieselfde posisies as die vorige dag ontplooi het. So het hulle die volgende dag weer gereedgemaak vir die geveg, en net soos die vorige dag het Benjamin se soldate by die stad uitgestorm. Hierdie keer het hulle 18 000 opgeleide soldate van Israel doodgemaak. Die hele Israelitiese leër is toe terug Bet-El toe, waar hulle voor die Here gekla en gehuil het tot laat die aand, sonder om iets te eet. Hulle het ook brandoffers en vredesoffers vir die Here gebring. Destyds was die verbondsark van die Here nog by hulle. Hulle het toe deur die priester Pineas (hy was Eleasar se seun en die kleinseun van Aäron) vir die Here gevra: “Moet ons weer teen ons broers gaan oorlog maak, of moet ons ophou?” Die Here se antwoord was: “Gaan, môre gee Ek hulle in julle mag oor.” Die Israeliete het toe hinderlae rondom Gibea opgestel. Op die derde dag het ’n groep Israelitiese soldate, soos die vorige kere, regoor Gibea ontplooi. Toe die soldate van Benjamin uitkom om teen hulle te veg, het hulle hulle van die stad af weggelok. En net soos voorheen het hulle die Israelitiese soldate begin doodmaak op die paaie wat na Gibea en Bet-El toe gelei het. Hulle het omtrent 30 soldate doodgemaak. Die soldate van Benjamin het opgewonde geskree: “Ons verslaan hulle al weer soos die vorige kere!” Maar die Israeliete het voor die tyd onder mekaar afgespreek dat hierdie groep voor hulle sou uitvlug om hulle van die stad af weg te lei na die grootpaaie toe. Wanneer die grootste groep van die Israelitiese leër teruggeval het tot by Baäl-Tamar, sal die ander soldate wat in die hinderlae lê, uit hulle plekke wes van Gibea opspring en die Benjaminiete van agter af aanval. Tien duisend uitgesoekte soldate het in hierdie stadium aan die geveg deelgeneem. Die geveg was hewig. Benjamin se soldate het nog nie besef dat hulle ’n ramp in die gesig staar nie. Die Here het Israel gehelp om Benjamin te verslaan. Hulle het op daardie dag 25 100 van Benjamin se dapperste soldate doodgemaak. Benjamin se leër het geweet dat hulle verslaan is. Hulle het besef dat die hoofgroep van die Israelitiese leër net teruggeval het om die soldate wat in die hinderlaag rondom Gibea gelê het, meer kans te gee om in posisie te kom. Die soldate wat in die hinderlae gelê het, het vinnig opgespring, die stad oorrompel en al die inwoners van Gibea doodgemaak. Die twee groepe Israelitiese soldate het ’n teken met mekaar afgespreek. Sodra die hoofgroep ’n rookwolk uit die stad uit sien opgaan, moet hulle omdraai. Teen dié tyd het die Benjaminiete wat hulle agtervolg het, reeds die 30 Israeliete doodgemaak en het hulle nog vir mekaar geskree: “Ons verslaan hulle al weer soos die vorige kere!” Net toe het die rookwolk uit die stad uit opgestyg. Toe die Benjaminiete omkyk, was hulle verstom om te sien dat die hele stad aan die brand is. Die Israelitiese soldate het toe omgespring en hulle begin aanval. Dis toe dat die Benjaminiete vreesbevange geraak het, want hulle het besef dat ’n groot ramp hulle getref het. Hulle het die woestyn in probeer vlug, maar die Israeliete het hulle agternagesit. Dit het nie gehelp nie, want hulle was vasgevang tussen die hoofleër en die soldate wat uit die stad gekom het. Hulle is net daar verslaan. Die Israeliete het die soldate van Benjamin omsingel en hulle genadeloos uitgeroei regoor Gibea aan die oostekant. Agtien duisend van Benjamin se beste troepe is daardie dag dood. Die ander het omgedraai en woestyn toe gevlug in die rigting van die rots van Rimmon. Van hulle is daar nog 5 000 langs die pad doodgemaak. Israel het die res tot by Gidom agtervolg en nog 2 000 soldate doodgemaak. Op daardie dag het Benjamin 25 000 dapper soldate verloor. Ses honderd soldate het dit reggekry om tot by die rots van Rimmon te kom, waar hulle vier maande lank gebly het. Die Israeliete het toe deur die res van die gebied van Benjamin getrek. Hulle het van stad tot stad gegaan en alles, mense, diere, elke lewende ding, doodgemaak. Hulle het elke stad in daardie gebied verbrand.