RIGTERS 11:1-28 - Compare All Versions

RIGTERS 11:1-28 AFR83 (Afrikaans 1983)

Jefta was 'n seun van Gilead. Hy was 'n dapper soldaat. Sy ma was 'n prostituut, maar sy pa was Gilead. Gilead se vrou het ook vir hom seuns in die wêreld gebring, en toe hulle grootword, het hulle vir Jefta weggejaag en vir hom gesê: “Jy mag nie van ons pa erf nie, want jy is die kind van 'n ander vrou.” Toe vlug Jefta van sy broers af weg en gaan woon in Tob. 'n Klomp leeglêers het hulle by Jefta geskaar en saam met hom gegaan. 'n Ruk daarna het die Ammoniete teen die Israeliete kom veg. Dit is toe dat die leiers van Gilead vir Jefta uit Tob gaan haal het. Hulle het vir hom gesê: “Kom word ons aanvoerder sodat ons teen die Ammoniete kan veg.” Jefta het vir die leiers van Gilead gesê: “Julle het my gehaat. Julle het my weggejaag uit my pa se huis uit. Waarom kom julle noudat julle in die moeilikheid is na my toe?” Maar die leiers van Gilead het vir Jefta gesê: “Dit is juis waarom ons terug is by jou. Jy moet saam met ons kom sodat ons kan gaan oorlog maak teen die Ammoniete. Jy moet ons leier word en ook al die mense van Gilead s'n.” Toe sê Jefta vir die leiers van Gilead: “Moet ek julle leier word as julle my terugneem om teen die Ammoniete te veg en die Here hulle in my mag oorgee?” Die leiers van Gilead het vir Jefta gesê: “Die Here hoor wat ons vir mekaar sê en Hy sal ons straf as ons nie doen wat jy sê nie.” Jefta is toe saam met die leiers van Gilead, en die leër het hom aangestel as hulle leier en aanvoerder. Hy het alles wat hy vir die leiers van Gilead gesê het, in Mispa herhaal in die teenwoordigheid van die Here. Toe stuur Jefta boodskappers na die koning van die Ammoniete toe om hom te vra: “Wat het tussen ons gebeur dat jy hiernatoe gekom het om teen my land oorlog te maak?” Die koning van die Ammoniete het die boodskappers van Jefta geantwoord: “Toe die Israeliete uit Egipte weggetrek het, het hulle my land gevat, van die Arnon af tot by die Jabbok en die Jordaan. Gee dit nou in vrede terug.” Jefta het toe weer boodskappers na die koning van die Ammoniete toe gestuur om vir hom te sê: “So sê Jefta: Israel het nie die grond van die Moabiete en die grond van die Ammoniete gevat nie. Toe Israel uit Egipte weggetrek het, het hy deur die woestyn getrek tot by die Rietsee, en toe het hy by Kades aangekom. Daar het hy boodskappers na die koning van Edom toe gestuur en gevra: ‘Laat my asseblief deur jou land trek,’ maar hy het nie ingestem nie. Israel het dieselfde van die koning van Moab gevra, maar hy wou hulle nie toelaat nie. Israel het toe in Kades gebly. Daarna het hy deur die woestyn getrek, by die gebied van Edom en dié van Moab verby en oos van Moab, noord van die Arnon, kamp opgeslaan. Hy het nie in die gebied van Moab gekom nie, want die Arnon is Moab se grens. Toe het Israel boodskappers gestuur na koning Sihon van die Amoriete toe in Gesbon en vir hom gevra: ‘Laat my tog na my plek toe trek deur jou gebied.’ Maar Sihon het nie vir Israel vertrou om hom deur sy gebied te laat trek nie. Sihon het sy hele volk bymekaargemaak, en hulle het by Jahas kamp opgeslaan en teen Israel begin veg. Die Here die God van Israel het vir Sihon en sy hele volk in die mag van Israel oorgegee, en hy het hulle verslaan en die hele gebied waar die Amoriete toe gewoon het, in besit geneem. “Die Israeliete het die hele gebied van die Amoriete in besit geneem, van die Arnon af tot by die Jabbok en van die woestyn af tot by die Jordaan. Die Here die God van Israel het die Amoriete weggedryf voor sy volk Israel uit, en wil jy hom nou kom verdryf? Jy besit wat jou god Kemos jou in besit laat neem het. Wat die Here ons God ons in besit laat neem het, is ons s'n. Is jy dalk beter as koning Balak van Moab, seun van Sippor? Het hy dalk 'n saak gemaak teen Israel of met hom oorlog gemaak? “Drie honderd jaar gelede het Israel in Gesbon en sy buitedorpe gaan woon, en ook in Aroër en sy buitedorpe, en in al die stede op die Arnonoewer. Waarom het jy hulle nie in daardie tyd teruggevat nie? Ek het niks verkeerds teenoor jou gedoen nie; maar jy handel verkeerd teenoor my deur met my te kom oorlog maak. Die Here wat regter is, sal vandag uitspraak lewer in die saak tussen die Israeliete en die Ammoniete.” Maar die koning van die Ammoniete het nie geluister na die boodskap wat Jefta gestuur het nie.

RIGTERS 11:1-28 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN Jefta, die Gileadiet, was 'n dapper held, maar hy was die seun van 'n hoer; en Gílead was die vader van Jefta. En toe die vrou van Gílead vir hom seuns baar, en die seuns van die vrou groot word, het hulle Jefta weggejaag en vir hom gesê: Jy mag in ons familie nie erwe nie, want jy is die seun van 'n ander vrou. Daarop vlug Jefta van sy broers af weg en hy gaan woon in die land Tob; en ligsinnige manne het by Jefta aangesluit en saam met hom uitgetrek. En 'n tyd daarna het die kinders van Ammon oorlog gevoer teen Israel. Maar toe die kinders van Ammon oorlog voer teen Israel, het die oudstes van Gílead Jefta gaan haal uit die land Tob; en hulle het vir Jefta gesê: Kom en wees ons aanvoerder, dat ons kan veg teen die kinders van Ammon. Maar Jefta antwoord die oudstes van Gílead: Het julle my nie gehaat en my uit my vader se huis weggejaag nie? Waarom kom julle dan nou na my, nou dat julle in die benoudheid sit? Toe sê die oudstes van Gílead vir Jefta: Daarom kom ons nou na jou terug, dat jy met ons kan saamtrek en teen die kinders van Ammon veg, en dat jy ons hoof kan wees oor al die inwoners van Gílead. Daarop antwoord Jefta die oudstes van Gílead: As julle my laat terugkom om teen die kinders van Ammon te veg en die HERE hulle aan my oorgee, dan moet ek julle hoof word. Toe sê die oudstes van Gílead vir Jefta: Die HERE sal hoorder wees tussen ons. Waarlik, soos jy gesê het, so sal ons doen. So het Jefta dan met die oudstes van Gílead saamgegaan, en die volk het hom as hoof en aanvoerder oor hulle aangestel, en Jefta het al sy woorde voor die aangesig van die HERE in Mispa gespreek. Toe stuur Jefta boodskappers na die koning van die kinders van Ammon om te vra: Wat het ek met u te doen, dat u na my kom om teen my land te veg? En die koning van die kinders van Ammon sê aan die boodskappers van Jefta: Israel het my land geneem toe hy opgetrek het uit Egipte, van die Arnon af tot by die Jabbok en tot by die Jordaan; gee dit dan nou in vrede terug. En Jefta het nog weer boodskappers gestuur na die koning van die kinders van Ammon en vir hom gesê: So sê Jefta: Israel het die land Moab en die land van die kinders van Ammon nie geneem nie. Want Israel het toe hy uit Egipte opgetrek het, deur die woestyn gegaan tot by die Skelfsee en het by Kades gekom. En Israel het boodskappers gestuur na die koning van Edom om te sê: Laat my tog deur u land trek; maar die koning van Edom het geen gehoor gegee nie; en na die koning van Moab het hy gestuur, maar hy wou ook nie. Daarom het Israel in Kades gebly. Verder het hy deur die woestyn gegaan en om die land Edom en die land Moab getrek en gekom aan die oostekant van die land Moab; en hulle het laer opgeslaan oorkant die Arnon, maar nie in die gebied van Moab ingekom nie, want die Arnon is die grens van Moab. Daarop het Israel boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete, die koning van Hesbon, en Israel het vir hom gesê: Laat ons tog deur u land trek na my plek toe. Maar Sihon het Israel nie vertrou om deur sy gebied te trek nie, en Sihon het al sy manskappe versamel, en hulle het laer opgeslaan in Jahas en teen Israel geveg. Maar die HERE, die God van Israel, het Sihon en sy hele volk in die hand van Israel gegee, en dié het hulle verslaan; sodat Israel die hele land van die Amoriete, die inwoners van daardie land, in besit geneem het. En hulle het die hele grondgebied van die Amoriete, van die Arnon af tot by die Jabbok en van die woestyn af tot by die Jordaan, in besit geneem. So het die HERE, die God van Israel, dan die Amoriete voor sy volk Israel uit verdrywe, en wil u dit in besit neem? Sal u dit nie in besit neem wat u god Kamos u as 'n besitting gee, en óns alles wat die HERE onse God voor ons uit verdrywe, in besit neem nie? En is u nou soveel beter as Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab? Het hy ooit met Israel getwis, of ooit teen hulle geveg? Terwyl Israel in Hesbon met sy onderhorige plekke en in Ároër met sy onderhorige plekke en in al die stede wat langs die Arnon lê, driehonderd jaar lank gewoon het, waarom het julle dit dan nie in dié tyd ontset nie? So het ék dan nie teen u gesondig nie, maar ú handel so sleg met my om teen my oorlog te voer. Mag die HERE, die Regter, vandag oordeel tussen die kinders van Israel en die kinders van Ammon! Maar die koning van die kinders van Ammon het nie geluister na die woorde van Jefta wat hy hom laat weet het nie.

RIGTERS 11:1-28 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Jefta van Gilead was ’n beroemde soldaat. Sy pa se naam was Gilead. Sy ma was ’n prostituut. Gilead se eie vrou het ook vir hom seuns gegee. Toe sy halfbroers groot was, het hulle vir Jefta weggejaag. Hulle het vir hom gesê: “Jou ma is ’n prostituut. Jy mag nie saam met ons van ons pa erf nie.” Jefta het van sy broers padgegee en in die streek Tob gaan woon. Hy het ’n bende leeglêers om hom versamel. Hy was hulle leier. In hierdie tyd het die Ammoniete teen die Israeliete kom oorlog maak. Toe die Ammoniete teen hulle begin veg, het die leiers van Gilead vir Jefta uit Tob laat kom. Hulle het vir hom gevra: “Kom voer ons aan teen die Ammoniete.” Jefta antwoord die leiers: “Julle het my dan so gehaat dat julle my uit my pa se huis weggejaag het. Vir wat kom julle nou na my toe wanneer julle in die moeilikheid is?” “Ons het jou nodig,” het die leiers van Gilead vir Jefta gesê. “Kom voer ons aan teen die Ammoniete! Ons sal jou die hoof maak van almal wat in Gilead woon.” Toe vra Jefta vir die leiers van Gilead: “As julle my volg in die geveg teen die Ammoniete en die HERE gee vir julle die oorwinning, sal julle my regtig as julle leier aanvaar?” “Die HERE sal teen ons getuig,” sê die leiers van Gilead, “as ons nie doen wat jy sê nie.” Jefta is toe saam met die leiers van Gilead. Die volk het hom as hulle hoof en as aanvoerder van die leër aanvaar. Hy het in Mispa alles wat hy vir die leiers van Gilead gesê het, voor die Here gaan herhaal. Jefta het boodskappers na die koning van die Ammoniete gestuur om by hom te hoor: “Wat is daar tussen ons en jou dat jy hier na ons land kom om teen ons oorlog te maak?” Die Ammonitiese koning se antwoord vir Jefta se boodskappers was: “Israel het my land van die Arnon af tot by die Jabbok en tot by die Jordaan gesteel toe hulle uit Egipte opgetrek het. Gee dit nou vreedsaam terug.” Jefta het sy boodskappers weer na die Ammonitiese koning toe gestuur. Hulle het vir hom gaan sê: “Jefta sê: Israel het nie die grond van die Moabiete of die Ammoniete gesteel nie. Israel het uit Egipte deur die woestyn getrek tot by die Rietsee en by Kades aangekom. “Van daar af het hy boodskappers na die koning van Edom toe gestuur en hom versoek: Laat my asseblief deur jou land trek. Hy het geweier. Israel het ook vir die koning van Moab gevra. Hy wou ook nie. Israel het toe net daar in Kades gebly. “Hy het toe rondom die gebied van Edom en dié van Moab deur die woestyn getrek. Hy het oos van Moab se gebied verbygesteek en kamp gaan opslaan aan die ander kant van die Arnonrivier. Hy het nêrens in Moab se gebied gekom nie. Die Arnon is tog Moab se grens. “Israel het toe ook na koning Sihon van die Amoriete in Gesbon boodskappers gestuur met die versoek: Laat my asseblief deur jou land trek na my plek toe. Sihon het Israel nie vertrou om hom deur sy gebied te laat trek nie. Sihon het sy hele leër gemobiliseer en by Jahas kamp opgeslaan om teen Israel te veg. Die HERE, die God van Israel, het Sihon en sy hele volk in die mag van Israel oorgegee. Israel het hulle verslaan en beheer oorgeneem oor die hele gebied waar die Amoriete toe gewoon het. “Israel het in besit gekom van die hele gebied van die Amoriete, van die Arnon af tot by die Jabbok en van die woestyn af tot by die Jordaanrivier. “Die HERE, die God van Israel, het dus die Amoriete voor sy volk Israel verdryf. Wil jy Hom nou verdryf? Jy bly waar jou god Kemos vir jou grond gegee het. Ons bly waar die HERE ons God vir ons grond gegee het. Is jy dan beter as koning Balak van Moab, die seun van Sippor? Het hy dalk oor die grond ’n saak probeer maak teen Israel? Of het hy daaroor oorlog gemaak? Natuurlik nie! “Israel bly nou al 300 jaar in Gesbon en sy omgewing, Aroër en sy distrik en in al die stede langs die Arnon. Hoekom het jy hulle nie destyds al probeer terugkry nie? “Ek het nie verkeerd met jou gemaak nie. Jy is die een wat verkeerd met my maak. Laat die HERE, wat die regter is, vandag sy beslissing gee in die saak tussen die Israeliete en die Ammoniete.” Die koning van die Ammoniete wou egter nie luister na die boodskap wat Jefta vir hom gestuur het nie.

RIGTERS 11:1-28 DB (Die Boodskap)

Jefta, ’n inwoner van Gilead, was ’n dapper soldaat. Hy was die seun van Gilead by ’n prostituut. Gilead het nog ander seuns ook gehad by sy eie vrou. Toe hulle grootgeword het, het hulle hulle halfbroer, Jefta, weggejaag. “Jy mag niks van ons pa erf nie,” het hulle vir hom gesê, “want jy is ’n ander vrou se kind!” Jefta het toe van sy broers af padgegee en in Tob gaan woon. Dit was nie te lank voordat ’n groot klomp nikswerd leeglêers by hom aangesluit en oral saam met hom gegaan het nie. ’n Ruk later het die Ammoniete besluit om teen die Israeliete te kom oorlog maak. Toe het die leiers van Gilead mense na Tob toe gestuur om vir Jefta te vra om hulle te kom help. Hulle het hom laat weet: “Ons wil hê jy moet ons leier wees sodat ons teen die Ammoniete kan veg.” Jefta se antwoord was: “Julle het my so gehaat dat julle my gedwing het om my eie pa se huis te verlaat. Hoekom hardloop julle nou skielik na my toe as julle in die moeilikheid is?” “Omdat ons jou nodig het om saam met ons teen die Ammoniete te veg,” het hulle vir Jefta gesê. “Ons wil hê jy moet die leier van ons almal in Gilead wees.” Toe sê Jefta vir hulle: “So, dit beteken dat as ek saam met julle kom en die Here vir my die oorwinning oor die Ammoniete gee, dan word ek julle leier?” “Die Here is ons getuie,” het hulle gesê, “ons aanvaar dit, ons sal doen wat jy vra.” Jefta is toe saam met die leiers van Gilead daar weg. Hy het hulle leier en die aanvoerder van hulle leër geword. In Mispa het Jefta in die teenwoordigheid van die Here alles vir die mense herhaal wat die leiers vir hom gesê het. Jefta het toe boodskappers na die koning van Ammon toe gestuur om vir hom te vra: “Wat is jou probleem met ons? Waarom is jy besig om ons land binne te val?” Die koning van Ammon se antwoord was: “Toe die Israeliete uit Egipte weggetrek het, het hulle my land by my gevat, die hele gebied van die Arnonrivier af tot by die Jabbokrivier en van daar af die hele ent tot by die Jordaanrivier. Al wat ek vra, is dat julle my land in vrede teruggee.” Jefta het sy boodskappers met die volgende antwoord teruggestuur: “Ek wat Jefta is, sê vir jou jy praat nie die waarheid nie. Israel het nie Moab of Ammon se grond gesteel nie. Ek sal jou vertel wat gebeur het. Toe Israel uit Egipte weg is, het hulle deur die woestyn tot by die Rietsee getrek en van daar af verder tot hulle by Kades aangekom het. Van daar af het hulle boodskappers na die koning van Edom toe gestuur en toestemming gevra om deur sy land te trek, maar hy wou dit nie toelaat nie. Hulle het presies dieselfde ding vir die koning van Moab gevra, maar hy wou ook niks daarvan weet nie. Daarom het die Israeliete in Kades gebly. Uiteindelik het hulle deur die woestyn, óm die gebiede van Edom en Moab getrek. Hulle het aan die oostekant van Moab kamp opgeslaan aan die oorkant van die Arnonrivier. Maar hulle het nooit oor die Arnonrivier in Moab se gebied ingegaan nie. Van daar af het Israel boodskappers na koning Sihon van die Amoriete toe gestuur. Hy het in Gesbon gewoon. Hulle het hom gevra om hulle toe te laat om deur sy gebied na hulle land toe te trek, maar Sihon het hulle nie genoeg vertrou om hulle deur sy gebied te laat trek nie. Trouens, hy het sy weermag by Jahas bymekaar laat kom en teen Israel begin veg. Maar die Here, die God van Israel, het vir sy volk die oorwinning gegee en hulle het die hele gebied van die Amoriete vir hulleself ingeneem, van die Arnonrivier af tot by die Jabbokrivier en van die woestyn af tot by die Jordaanrivier. “Jy sien, dit was die Here, die God van Israel, wat die Amoriete se land vir Israel gegee het. Gaan jy dit nou probeer terugvat? Jy kan hou wat jou god Kemos vir jou gegee het. Maar ons hou alles wat die Here ons God vir ons gegee het. Of dink jy dalk jy is beter as Sippor se seun Balak, die koning van Moab? En tog het hy Israel nooit aangevat oor grond of teen ons probeer oorlog maak nie. Nou wil jy na 300 jaar die saak aanroer! Intussen bly Israel van toe af al in Gesbon en sy omringende dorpe en net so ook in Aroër met sy omringende dorpe en in die dorpe op die walle van die Arnonrivier. Waar kom jy nou skielik vandaan? Ek het niks aan jou gedoen nie. Maar die feit dat jy nou teen my kom oorlog maak, is verkeerd. Laat die Here wat regter is, besluit wie is reg: Israel of Ammon.” Die koning van Ammon het hom egter nie aan Jefta gesteur nie.

RIGTERS 11:1-28 ABA (Bybel vir almal)

Daar was 'n man in Gilead, sy naam was Jefta. Hy was iemand wat goed oorlog kon maak, maar hy was die seun van 'n prostituut. Sy pa se naam was Gilead. Gilead se vrou het ook kinders gekry, en toe haar kinders groot was, het hulle vir Jefta weggejaag. Hulle het vir hom gesê: “Jy is 'n ander vrou se kind, jy kan nie saam met ons van pa se goed erf nie.” Jefta het toe weggegaan van sy broers en hy het in die land Tob gaan woon. Mense wat nie grond of werk gehad het nie, het by Jefta gaan woon en hulle het oral saam met hom gegaan. Toe die Ammoniete later weer kom oorlog maak teen die Israeliete, het die leiers van die Gilead-mense vir Jefta gaan haal in die land Tob. Hulle het vir Jefta gesê: “Kom, jy moet ons leier wees, ons wil oorlog maak teen die Ammoniete.” Maar Jefta het vir die leiers van die Gilead-mense gesê: “Dit is júlle wat nie van my gehou het nie, julle het my weggejaag uit my pa se huis. Hoekom kom julle nou na my toe as dit sleg gaan met julle?” Die leiers van die Gilead-mense het vir Jefta gesê: “Dit is waar wat jy sê, maar ons het nou na jou toe gekom om te vra jy moet saam met ons gaan en oorlog maak teen die Ammoniete. As jy dit doen, dan sal jy die hoof word van al die mense wat in Gilead woon.” Toe sê Jefta vir die leiers van die Gilead-mense: “Goed, as julle wil hê ek moet terugkom om oorlog te maak teen die Ammoniete, en die Here laat my wen teen hulle, dan sal ek julle hoof wees.” Die leiers van die Gilead-mense het vir Jefta gesê: “Die Here hoor wat ons sê, Hy is die getuie. Ons sal doen wat jy sê.” Jefta het saam met die leiers van die Gilead-mense gegaan, en die manne het hom hulle hoof en leier gemaak. Jefta het in die tempel in Mispa belowe hy sal hulle leier wees. Daarna het hy boodskappers gestuur na die koning van die Ammoniete om vir hom te vra: “Wat is die probleem tussen ons? Hoekom het jy gekom om oorlog te maak in my land?” Die koning van die Ammoniete het vir Jefta se boodskappers gesê: “Sê vir Jefta: Ek het gekom om oorlog te maak omdat die Israeliete my land gevat het toe hulle uit Egipte gekom het. Dit is die grond tussen die Arnon-rivier en die Jabbok-rivier tot teen die Jordaan-rivier. Gee die grond terug, dan sal daar vrede wees tussen ons.” Jefta het weer boodskappers gestuur na die koning van die Ammoniete en vir hom gesê: “Die Israeliete het nie die land van die Moabiete en die land van die Ammoniete gevat nie. Wat gebeur het, is dit: Toe die Israeliete uit Egipte gekom het, het hulle deur die woestyn gegaan tot by die Riet-see en toe het hulle by die stad Kades gekom. Die Israeliete het boodskappers gestuur na die koning van Edom en hulle het vir hom gevra: ‘Laat ons asseblief deur jou land gaan.’ Maar die koning van Edom wou nie hê hulle moet deur sy land gaan nie. Hulle het ook vir die koning van Moab 'n boodskap gestuur, maar hy wou ook nie hê hulle moet deur sy land gaan nie. Die Israeliete het toe in Kades gebly, en daarna het hulle om die land Edom en om die land Moab gegaan en hulle het hulle tente opgeslaan oos van die land Moab, anderkant die Arnon-rivier. Hulle het nie oor die grens van die land Moab gegaan nie, want die Arnon-rivier was die grens. Die Israeliete het toe boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete in die stad Gesbon, en hulle het vir hom gevra: ‘Laat ons asseblief deur jou land gaan na ons eie plek toe.’ Maar Sihon het nie die Israeliete vertrou nie. Hy wou hulle nie deur sy land laat gaan nie. Hy het al sy manne bymekaargemaak en hulle het hulle tente opgeslaan by die stad Jahas. Toe het hulle begin oorlog maak teen die Israeliete. Die Here, die God van Israel, het die Israeliete laat wen teen Sihon en al sy manne. Die Israeliete het hulle oorwin en hulle het die hele land gevat van die Amoriete wat toe daar gewoon het. Hulle het die hele land van die Amoriete gevat, van die Arnon-rivier tot by die Jabbok-rivier, van die woestyn tot by die Jordaan-rivier. Verstaan jy? Dit is die Here, die God van Israel, wat die Amoriete oorwin en weggejaag het voor sy volk, die Israeliete. Hoekom wil jy nou die Israeliete wegjaag? Jy kan alles vat wat jou god Kemos vir jou gee, en ons sal vat wat ons God die Here vir ons gee. Jy is nie beter as Balak seun van Sippor nie, Balak die koning van die Moabiete. Hy het nie die Israeliete beskuldig nie en hy het nie oorlog gemaak teen hulle nie. Die Israeliete woon 300 jaar lank in die stad Gesbon en die klein dorpies daar naby, in die stad Aroër en die klein dorpies daar naby, en in al die stede langs die Arnon-rivier. Hoekom het julle nie in daardie tyd die stede en die plekke probeer terugvat nie? Dit is nie óns wat verkeerd gedoen het teen julle nie, dit is júlle wat verkeerd gedoen het teen ons, júlle het begin oorlog maak teen ons. Ek weet die Here sal vandag sê wie het reg gedoen, ons of julle.” Die koning van die Ammoniete wou nie doen wat Jefta vir hom gevra het nie.

RIGTERS 11:1-28 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

'n Man uit Gilead, Jefta, was 'n dapper kryger, maar hy was die seun van 'n prostituut. Gilead het Jefta verwek, maar toe Gilead se vrou vir hom seuns in die wêreld bring en die vrou se seuns grootword, het hulle Jefta weggejaag en vir hom gesê: “Jy mag nie 'n erfdeel in ons familie kry nie, want jy is die seun van 'n ander vrou.” Jefta het toe van sy broers af padgegee en in die landstreek Tob gaan woon. Leeglêers het by Jefta aangesluit en saam met hom strooptogte onderneem. 'n Tyd daarna het die Ammoniete teen Israel oorlog gemaak. Terwyl die Ammoniete met Israel geveg het, het die oudstes van Gilead vir Jefta gaan haal in die landstreek Tob. Hulle sê toe vir Jefta: “Kom, wees ons •aanvoerder, sodat ons teen die Ammoniete kan veg.” Maar Jefta het die oudstes van Gilead geantwoord: “Is dit dan nie julle wat my verag en uit my vader se huis weggejaag het nie? Waarom kom julle nou na my toe, noudat julle in die nood is?” Die oudstes van Gilead sê toe vir Jefta: “Dit is waar, maar nou kom ons terug na jou. Jy moet saam met ons gaan en teen die Ammoniete veg, dan sal jy vir ons, vir al die inwoners van Gilead, 'n leier wees.” Jefta sê toe vir die oudstes van Gilead: “As julle my laat terugkeer om teen die Ammoniete te veg, en die HERE gee hulle aan my oor, sal ek julle leier wees?” Die oudstes van Gilead het Jefta geantwoord: “Die HERE self hoor wat tussen ons gesê word. Ons sal sekerlik maak soos jy sê.” Jefta het toe saam met die oudstes van Gilead gegaan en die manskappe het hom as hulle leier en •aanvoerder aangestel. Jefta het al sy woorde ook in die teenwoordigheid van die HERE in Mispa herhaal. Daarna het Jefta boodskappers gestuur na die koning van die Ammoniete om te sê: “Wat het jy teen my dat jy kom oorlog maak teen my land?” Die koning van die Ammoniete het Jefta se boodskappers geantwoord: “Dit is omdat Israel my land afgeneem het toe hulle opgetrek het uit Egipte – van die Arnon af tot by die Jabbok en tot aan die Jordaan. Gee dit dan nou terug, ter wille van die vrede!” Jefta het toe weer boodskappers na die koning van die Ammoniete gestuur. Hy het vir hom laat weet: “So sê Jefta, ‘Israel het nie die land van Moab en die land van die Ammoniete afgeneem nie; maar toe hulle uit Egipte opgetrek het, het Israel deur die woestyn gegaan tot by die Rietsee en by Kades aangekom. Israel het toe boodskappers na die koning van Edom gestuur om te vra: “Laat ons asseblief deur u gebied trek.” Maar die koning van Edom wou niks daarvan hoor nie. Hulle het die boodskap ook na die koning van Moab gestuur, maar ook hy wou nie. Israel het toe by Kades gebly. Daarna het hulle deur die woestyn gegaan en om die gebied van Edom en die gebied van Moab getrek. Hulle het oos gehou van die gebied van Moab, en kamp opgeslaan anderkant die Arnon. Hulle het nie in die grondgebied van Moab gekom nie, want die Arnon is die grens van Moab. Toe het Israel boodskappers gestuur na Sihon, koning van die Amoriete, die koning in Gesbon. Israel het vir hom gevra: “Laat ons asseblief deur u land trek na ons plek.” Sihon het Israel egter nie vertrou om deur sy grondgebied te trek nie. Sihon het al sy manskappe byeengebring, by Jahas kamp opgeslaan, en teen Israel geveg. Maar die HERE, die God van Israel, het Sihon en al sy manskappe in die hand van Israel gegee, sodat hulle hulle verslaan het. Israel het toe die hele gebied van die Amoriete wat in daardie land gewoon het, in besit geneem. Hulle het die hele grondgebied van die Amoriete in besit geneem, van die Arnon af tot by die Jabbok, van die woestyn af tot by die Jordaan. Dit is dus die HERE, die God van Israel, wat die Amoriete uitgedryf het voor sy volk Israel. Wil jy hulle dan uitdryf? Is die gebied wat jou god Kemos vir jou as besitting gee, nie dit wat jy moet beset nie? En is die gebied van almal wat die HERE ons God voor ons uit verdryf het, nie dit wat ons moet beset nie? Is jy dan nou soveel beter as Balak, seun van Sippor, die koning van Moab? Het hy ooit met Israel getwis of ooit teen hulle geveg? Israel woon nou al driehonderd jaar lank in Gesbon en sy omliggende dorpies, in Aroër en sy omliggende dorpies en in al die dorpe wat langs die Arnon lê. Waarom het julle dit nie gedurende dié tyd van ons afgeneem nie? Ek is nie die een wat 'n misstap teenoor jou begaan het nie, maar jy is die een wat my 'n onreg aandoen deur teen my oorlog te voer. Die HERE, die Regter, sal vandag tussen die Israeliete en die Ammoniete beslis.’ ” Die koning van die Ammoniete het egter nie ag geslaan op die boodskap wat Jefta vir hom gestuur het nie.

RIGTERS 11:1-28 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En Jefta, die Gileadiet, was 'n dapper held, en hy was die seun van 'n hoer; en Gílead was die vader van Jefta. En Gílead se vrou het vir hom seuns gebaar; en die seuns van sy vrou het grootgeword, en hulle het Jefta verdryf en vir hom gesê: Jy mag nie in die huis van ons vader erwe nie; want jy is die seun van 'n vreemde vrou. Toe het Jefta vir sy broers gevlug en in die land Tob gaan woon; en daar het ydele manne by Jefta versamel en saam met hom uitgetrek. En met verloop van tyd het die kinders van Ammon oorlog gevoer teen Israel. En dit was so dat toe die kinders van Ammon teen Israel oorlog gevoer het, die oudstes van Gílead gegaan het om Jefta uit die land Tob te gaan haal. En hulle het vir Jefta gesê: Kom en wees ons owerste, dat ons teen die kinders van Ammon kan veg. En Jefta sê aan die oudstes van Gílead: Het julle my nie gehaat en my uit my vader se huis verdryf nie? en waarom kom julle nou na My toe as julle in benoudheid is? Toe sê die oudstes van Gílead vir Jefta: Daarom wend ons ons nou weer tot jou, dat jy saam met ons kan gaan en teen die kinders van Ammon kan veg en ons hoof kan wees oor al die inwoners van Gílead. Toe sê Jefta aan die oudstes van Gílead: As julle my terugbring om te veg teen die kinders van Ammon, en die HERE hulle voor my oorgee, sal ek julle hoof wees? Toe sê die oudstes van Gílead vir Jefta: Die HERE is getuie tussen ons as ons nie so doen volgens u woorde nie. Toe het Jefta saam met die oudstes van Gílead gegaan, en die volk het hom as hoof en owerste oor hulle aangestel; en Jefta het al sy woorde voor die aangesig van die HERE in Mispa uitgespreek. En Jefta het boodskappers na die koning van die kinders van Ammon gestuur om te sê: Wat het jy met my te doen, dat jy teen my gekom het om in my land te veg? En die koning van die kinders van Ammon het aan die boodskappers van Jefta geantwoord: Omdat Israel my land weggeneem het toe hulle uit Egipte opgetrek het, van Arnon af tot by Jabbok en tot by die Jordaan; herstel dan nou daardie lande in vrede. En Jefta het weer boodskappers gestuur na die koning van die kinders van Ammon. En hy sê vir hom: So sê Jefta: Israel het die land Moab en die land van die kinders van Ammon nie weggeneem nie. Maar toe Israel uit Egipte opgetrek en deur die woestyn getrek het tot by die Skelfsee en by Kades aangekom het; Toe stuur Israel boodskappers na die koning van Edom om te sê: Laat my tog deur jou land trek, maar die koning van Edom het nie daarna geluister nie. En net so het hulle na die koning van Moab gestuur, maar hy wou nie instem nie; en Israel het in Kades gebly. Hulle het toe deur die woestyn getrek en die land Edom en die land Moab omsingel en aan die oostekant van die land Moab gekom en laer opgeslaan oorkant die Arnon, maar het nie binne die grens van Moab gekom nie, want Arnon was die grens van Moab. En Israel het boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete, die koning van Hesbon; en Israel sê vir hom: Laat ons tog deur u land na my plek trek. Maar Sihon het Israel nie vertrou om deur sy gebied te trek nie, maar Sihon het al sy volk bymekaargeroep en laer opgeslaan in Jahas en teen Israel geveg. En die HERE, die God van Israel, het Sihon en sy hele volk in die hand van Israel gegee, en hulle het hulle verslaan; en Israel het die hele land van die Amoriete, die inwoners van daardie land, in besit geneem. En hulle het al die gebiede van die Amoriete in besit geneem, van Arnon af tot by Jabbok en van die woestyn af tot by die Jordaan. So nou het die HERE, die God van Israel, die Amoriete voor sy volk Israel uit verdryf, en moet jy dit in besit neem? Sal jy nie in besit neem wat jou god Kamos jou gee om in besit te neem nie? Elkeen dan wat die HERE onse God voor ons uit verdrywe, dié sal ons in besit neem. En is jy nou enigiets beter as Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab? het hy ooit teen Israel gestry, of het hy ooit teen hulle geveg? Terwyl Israel in Hesbon en sy onderhorige plekke en in Aroër met sy onderhorige plekke en in al die stede wat langs die Arnon-kusgebied lê, drie honderd jaar lank gewoon het? waarom het julle hulle dan nie binne dié tyd teruggekry nie? Daarom het ek nie teen jou gesondig nie, maar jy doen my onreg om teen my te veg: die HERE, die Regter, moet vandag oordeel tussen die kinders van Israel en die kinders van Ammon. Maar die koning van die kinders van Ammon het nie geluister na die woorde van Jefta wat hy hom gestuur het nie.