Rigters 11:1-28
Rigters 11:1-28 ABA
Daar was 'n man in Gilead, sy naam was Jefta. Hy was iemand wat goed oorlog kon maak, maar hy was die seun van 'n prostituut. Sy pa se naam was Gilead. Gilead se vrou het ook kinders gekry, en toe haar kinders groot was, het hulle vir Jefta weggejaag. Hulle het vir hom gesê: “Jy is 'n ander vrou se kind, jy kan nie saam met ons van pa se goed erf nie.” Jefta het toe weggegaan van sy broers en hy het in die land Tob gaan woon. Mense wat nie grond of werk gehad het nie, het by Jefta gaan woon en hulle het oral saam met hom gegaan. Toe die Ammoniete later weer kom oorlog maak teen die Israeliete, het die leiers van die Gilead-mense vir Jefta gaan haal in die land Tob. Hulle het vir Jefta gesê: “Kom, jy moet ons leier wees, ons wil oorlog maak teen die Ammoniete.” Maar Jefta het vir die leiers van die Gilead-mense gesê: “Dit is júlle wat nie van my gehou het nie, julle het my weggejaag uit my pa se huis. Hoekom kom julle nou na my toe as dit sleg gaan met julle?” Die leiers van die Gilead-mense het vir Jefta gesê: “Dit is waar wat jy sê, maar ons het nou na jou toe gekom om te vra jy moet saam met ons gaan en oorlog maak teen die Ammoniete. As jy dit doen, dan sal jy die hoof word van al die mense wat in Gilead woon.” Toe sê Jefta vir die leiers van die Gilead-mense: “Goed, as julle wil hê ek moet terugkom om oorlog te maak teen die Ammoniete, en die Here laat my wen teen hulle, dan sal ek julle hoof wees.” Die leiers van die Gilead-mense het vir Jefta gesê: “Die Here hoor wat ons sê, Hy is die getuie. Ons sal doen wat jy sê.” Jefta het saam met die leiers van die Gilead-mense gegaan, en die manne het hom hulle hoof en leier gemaak. Jefta het in die tempel in Mispa belowe hy sal hulle leier wees. Daarna het hy boodskappers gestuur na die koning van die Ammoniete om vir hom te vra: “Wat is die probleem tussen ons? Hoekom het jy gekom om oorlog te maak in my land?” Die koning van die Ammoniete het vir Jefta se boodskappers gesê: “Sê vir Jefta: Ek het gekom om oorlog te maak omdat die Israeliete my land gevat het toe hulle uit Egipte gekom het. Dit is die grond tussen die Arnon-rivier en die Jabbok-rivier tot teen die Jordaan-rivier. Gee die grond terug, dan sal daar vrede wees tussen ons.” Jefta het weer boodskappers gestuur na die koning van die Ammoniete en vir hom gesê: “Die Israeliete het nie die land van die Moabiete en die land van die Ammoniete gevat nie. Wat gebeur het, is dit: Toe die Israeliete uit Egipte gekom het, het hulle deur die woestyn gegaan tot by die Riet-see en toe het hulle by die stad Kades gekom. Die Israeliete het boodskappers gestuur na die koning van Edom en hulle het vir hom gevra: ‘Laat ons asseblief deur jou land gaan.’ Maar die koning van Edom wou nie hê hulle moet deur sy land gaan nie. Hulle het ook vir die koning van Moab 'n boodskap gestuur, maar hy wou ook nie hê hulle moet deur sy land gaan nie. Die Israeliete het toe in Kades gebly, en daarna het hulle om die land Edom en om die land Moab gegaan en hulle het hulle tente opgeslaan oos van die land Moab, anderkant die Arnon-rivier. Hulle het nie oor die grens van die land Moab gegaan nie, want die Arnon-rivier was die grens. Die Israeliete het toe boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete in die stad Gesbon, en hulle het vir hom gevra: ‘Laat ons asseblief deur jou land gaan na ons eie plek toe.’ Maar Sihon het nie die Israeliete vertrou nie. Hy wou hulle nie deur sy land laat gaan nie. Hy het al sy manne bymekaargemaak en hulle het hulle tente opgeslaan by die stad Jahas. Toe het hulle begin oorlog maak teen die Israeliete. Die Here, die God van Israel, het die Israeliete laat wen teen Sihon en al sy manne. Die Israeliete het hulle oorwin en hulle het die hele land gevat van die Amoriete wat toe daar gewoon het. Hulle het die hele land van die Amoriete gevat, van die Arnon-rivier tot by die Jabbok-rivier, van die woestyn tot by die Jordaan-rivier. Verstaan jy? Dit is die Here, die God van Israel, wat die Amoriete oorwin en weggejaag het voor sy volk, die Israeliete. Hoekom wil jy nou die Israeliete wegjaag? Jy kan alles vat wat jou god Kemos vir jou gee, en ons sal vat wat ons God die Here vir ons gee. Jy is nie beter as Balak seun van Sippor nie, Balak die koning van die Moabiete. Hy het nie die Israeliete beskuldig nie en hy het nie oorlog gemaak teen hulle nie. Die Israeliete woon 300 jaar lank in die stad Gesbon en die klein dorpies daar naby, in die stad Aroër en die klein dorpies daar naby, en in al die stede langs die Arnon-rivier. Hoekom het julle nie in daardie tyd die stede en die plekke probeer terugvat nie? Dit is nie óns wat verkeerd gedoen het teen julle nie, dit is júlle wat verkeerd gedoen het teen ons, júlle het begin oorlog maak teen ons. Ek weet die Here sal vandag sê wie het reg gedoen, ons of julle.” Die koning van die Ammoniete wou nie doen wat Jefta vir hom gevra het nie.

