RIGTERS 1:27-33 - Compare All Versions
RIGTERS 1:27-33 ABA (Bybel vir almal)
Die Manasse-stam het nie die mense oorwin en weggejaag wat gewoon het in die stede Bet-San, Taänak, Dor, Jibleam en Megiddo en in die klein dorpies rondom hulle nie. Die Kanaäniete wou nie weggaan uit die stede nie. Toe die Israeliete 'n sterk volk geword het, het hulle die Kanaäniete swaar laat werk, maar hulle het nooit die Kanaäniete heeltemal weggejaag nie. Die Efraim-stam het ook nie die Kanaäniete oorwin en weggejaag wat in Geser gewoon het nie. Die Kanaäniete het aangehou om in Geser te woon tussen die mense van Efraim. Die Sebulon-stam het nie die mense oorwin en weggejaag wat in Kitron en Nahalal gewoon het nie. Die Kanaäniete het aangehou om tussen die Sebulon-mense te woon, maar die Sebulon-mense het die Kanaäniete swaar laat werk. Die Aser-stam het nie die mense oorwin en weggejaag wat gewoon het in die stede Akko, Sidon, Aglab, Aksib, Gelba, Afek en Regob nie. Die Aser-mense het gewoon tussen die Kanaäniete in die land, want hulle het nie die Kanaäniete weggejaag nie. Die Naftali-stam het nie die mense oorwin en weggejaag wat gewoon het in die stede Bet-Semes en Bet-Anat nie, maar die mense van Bet-Semes en Bet-Anat moes swaar werk vir die Naftali-mense.
RIGTERS 1:27-33 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En Manasse het Bet-Sean met sy onderhorige plekke en Táänag met sy onderhorige plekke en die inwoners van Dor met sy onderhorige plekke en die inwoners van Jíbleam met sy onderhorige plekke en die inwoners van Megíddo met sy onderhorige plekke nie verdrywe nie; en die Kanaäniete het verkies om in hierdie land te bly woon. Maar toe Israel sterk word, het hy die Kanaäniete dienspligtig gemaak; hy het hulle egter nie heeltemal verdrywe nie. En Efraim het die Kanaäniete, die inwoners van Geser, nie verdrywe nie; sodat die Kanaäniete in sy midde in Geser bly woon het. Sébulon het die inwoners van Kitron en die inwoners van Náhalol nie verdrywe nie; sodat die Kanaäniete in sy midde bly woon het; maar hulle het dienspligtig geword. Aser het die inwoners van Akko en die inwoners van Sidon en Aglab en Agsib en Helba en Afik en Rehob nie verdrywe nie; sodat die Aseriete bly woon het onder die Kanaäniete, die bevolking van die land, want hulle het hulle nie verdrywe nie. Náftali het die inwoners van Bet-Semes en die inwoners van Bet-Anat nie verdrywe nie, sodat hy bly woon het onder die Kanaäniete, die bevolking van die land; maar die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat het aan hulle dienspligtig geword.
RIGTERS 1:27-33 AFR83 (Afrikaans 1983)
Manasse kon nie die stede Bet-San en Taänak en hulle buitedorpe verslaan nie, ook nie die inwoners van die stede Dor, Jibleam en Megiddo en hulle buitedorpe nie. Die Kanaäniete was sterk genoeg om in daardie stede te bly woon. Toe die Israeliete sterker geword het, het hulle die Kanaäniete dwangarbeid laat doen maar nie die stede ingeneem nie. Ook Efraim het nie die Kanaäniete wat in Geser gewoon het, verslaan nie. Hulle het in Geser by Efraim bly woon. Sebulon het nie die inwoners van Kitron en Nahalal verslaan nie. Die Kanaäniete het by Sebulon bly woon en moes dwangarbeid doen. Aser het nie die inwoners van Akko, Sidon, Aglab, Aksib, Gelba, Afek en Regob verslaan nie. Die mense van Aser het tussen die Kanaäniete wat daar gebly het, gaan woon, want Aser het hulle nie verslaan nie. Naftali het nie die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat verslaan nie. Hy het tussen die Kanaäniete wat daar gebly het, gaan woon, maar die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat moes dwangarbeid doen vir Naftali.
RIGTERS 1:27-33 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Manasse het egter nie Bet-San met sy omliggende dorpies en Taänag met sy omliggende dorpies verower nie, en nie die inwoners van Dor met sy omliggende dorpies, die inwoners van Jibleam met sy omliggende dorpies, en die inwoners van Megiddo met sy omliggende dorpies verdryf nie. Die Kanaäniete was vasberade om in hierdie landstreek te bly woon. Toe Israel sterker geword het, het hulle die Kanaäniete dwangarbeid laat doen, maar hulle het hulle nie heeltemal verdryf nie. Ook Efraim het nie die Kanaäniete verdryf wat in Geser gewoon het nie. Die Kanaäniete het in Geser tussen hulle bly woon. Sebulon het nie die inwoners van Kitron en Nahalal verdryf nie. Die Kanaäniete het tussen hulle bly woon, maar moes dwangarbeid verrig. Aser het nie die inwoners van Akko en Sidon en ook nie dié van Aglab, Agsib, Gelba, Afek en Regob verdryf nie. Die stam van Aser het tussen die Kanaäniete, die inwoners van daardie landstreek, gewoon, want hulle het hulle nie verdryf nie. Naftali het nie die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat verdryf nie en het tussen die Kanaäniete, die inwoners van daardie landstreek, gewoon. Maar die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat moes vir hulle dwangarbeid verrig.
RIGTERS 1:27-33 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Ook het Manasse nie die inwoners van Betsean en sy onderhorige plekke en Taänag met sy onderhorige plekke, of die inwoners van Dor en sy onderhorige plekke, en die inwoners van Ibleam en sy onderhorige plekke, en die inwoners van Megiddo en sy onderhorige plekke nie verdryf nie; maar die Kanaäniete wou in daardie land woon. En toe Israel sterk was, het hulle die Kanaäniete belasting opgelê en hulle nie heeltemal verdryf nie. En Efraim het die Kanaäniete wat in Geser gewoon het, nie verdryf nie; maar die Kanaäniete het in Geser onder hulle gewoon. Sebulon het ook nie die inwoners van Kitron en die inwoners van Nahalol verdryf nie; maar die Kanaäniete het onder hulle gewoon en sy dienspligtiges geword. Aser het ook nie die inwoners van Akgo en die inwoners van Sidon of Aglab en Agsib en Helba en Afik en Rehob verdryf nie. Maar die Aseriete het onder die Kanaäniete, die inwoners van die land, gewoon, want hulle het hulle nie verdryf nie. Ook het Naftali nie die inwoners van Bet-Semes en die inwoners van Betánat verdryf nie; maar hy het gewoon onder die Kanaäniete, die inwoners van die land; maar die inwoners van Bet-Semes en Betánat het aan hulle belastingpligtiges geword.
RIGTERS 1:27-33 DB (Die Boodskap)
Die stam van Manasse kon nie daarin slaag om die dorpe Bet-San, Taänak, Dor, Jibleam en Megiddo met die dorpe rondom hulle in te neem nie, want die Kanaäniete wat in daardie gebiede gebly het, was te sterk. Later het die Israeliete sterker geword en toe het hulle dit reggekry om die Kanaäniete te dwing om vir hulle te werk. Tog het die Kanaäniete steeds in die gebied bly woon. Dieselfde het ook met die stam van Efraim gebeur. Hulle kon dit ook nie regkry om die Kanaäniete wat in Geser gebly het te verslaan nie. Daarom het die Kanaäniete saam met hulle daar bly woon. Ook die stam van Sebulon se aanslag op die dorpe Kitron en Nahalal was onsuksesvol. Al het hulle die Kanaäniete gedwing om vir hulle te werk, het hulle steeds saam met hulle in hierdie gebiede gebly. Die stam van Aser kon ook nie die dorpe Akko, Sidon, Aglab, Aksib, Gelba, Afek en Regob inneem nie. Daarom dat die mense van Aser maar tevrede moes wees om saam met die Kanaäniete in hierdie gebiede te bly. Die stam van Naftali kon ook nie daarin slaag om die inwoners van Bet-Semes en Ben-Anat uit hulle dorpe te verdryf nie. Hulle moes maar saam met hulle daar bly, alhoewel hulle dié mense verplig het om vir hulle te werk.
RIGTERS 1:27-33 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Die mense van Manasse het dit nie reggekry om die inwoners van Bet-San, Taänak, Dor, Jibleam en Megiddo met hulle omringende klein dorpies te verdryf nie. Die Kanaäniete was vasberade om daar te bly. Toe die Israeliete later sterker geword het, het hulle wel die Kanaäniete verplig om vir hulle te werk. Hulle het dit egter nooit reggekry om hulle van daar af te verdryf nie. Die Efraimiete kon dit ook nooit regkry om die Kanaäniete wat in Geser gewoon het, uit te dryf nie. Die Kanaäniete bly nog al die tyd tussen hulle in Geser. Sebulon kon ook nie die Kanaäniete wat in Kitron en Nahalal gebly het daar wegkry nie. Die Kanaäniete bly nog al die tyd by Sebulon, maar moes dwangarbeid doen. Aser het nooit die mense in Akko, Sidon, Aglab, Aksib, Gelba, Afek en Regob daar weggekry nie. Eintlik was dit Aser wat tussen die Kanaäniete, die inwoners van die land, gaan bly het. Hulle het nie daarin geslaag om hulle te verdryf nie. Naftali kon ook nooit die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat verslaan nie. Hulle het tussen die Kanaäniete gaan bly. Hulle het wel die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat gedwing om vir hulle te werk.