Rigters 1

1
Vestiging in Kanaän
1Ná Josua se dood het die Israeliete die Here geraadpleeg. Hulle het gevra: “Wie van ons moet eerste optrek teen die Kanaäniete om teen hulle oorlog te maak?” 2Die Here het geantwoord: “Juda moet optrek. Kyk, Ek gee die land in hulle hand.”
3Juda sê toe vir sy broer Simeon: “Trek saam met my op na die gebied wat aan my toegewys is, sodat ons teen die Kanaäniete kan oorlog maak; dan sal ek ook saam met jou optrek na die gebied wat aan jou toegewys is.” Simeon het toe saam met hom gegaan.
4Juda het opgetrek en die Here het die Kanaäniete en die Feresiete in hulle hand gegee, sodat hulle by Besek tienduisend man verslaan het. 5 By Besek het hulle Adoni-Besek teëgekom, teen hom oorlog gemaak en die Kanaäniete en die Feresiete verslaan. 6Toe Adoni-Besek vlug, het hulle hom agtervolg, hom gevang en sy duime en groottone afgekap. 7Adoni-Besek het gesê: “Sewentig konings met afgekapte duime en groottone het onder my tafel kos bymekaargeskraap. Soos wat ek gedoen het, so het God my vergeld. ” Hulle het hom na Jerusalem geneem en daar is hy dood.
8 Die nageslag van Juda het toe teen Jerusalem oorlog gevoer en dit ingeneem. Hulle het die stad met die skerpte van die swaard verslaan en dit aan die brand gesteek.
9Daarna het die nageslag van Juda afgegaan om teen die Kanaäniete wat in die bergland, in die Negev en in die Sjefela gewoon het, oorlog te maak. 10Juda het opgeruk na die Kanaäniete wat in Hebron woon; die naam van Hebron was vroeër Kirjat-Arba. Hulle het Sesai, Agiman en Talmai verslaan. 11Daarvandaan het hulle opgeruk na die inwoners van Debir; die naam van Debir was vroeër Kirjat-Sefer.
12 Kaleb het gesê: “Die een wat Kirjat-Sefer aanval en inneem – vir hom sal ek my dogter Agsa as vrou gee.” 13Otniël, die seun van Kenas, Kaleb se jonger broer, het die dorp toe ingeneem, en hy het sy dogter Agsa vir hom as vrou gegee. 14Met haar aankoms het sy hom aangespoor om by haar vader 'n stuk land te vra. Toe sy van die donkie afklim, vra Kaleb vir haar: “Wat wil jy hê?” 15Sy sê toe vir hom: “Gee vir my 'n buitengewone geskenk. Omdat u vir my grond in die Negev gegee het, moet u vir my waterbronne gee.” Hy het toe vir haar die boonste en die onderste bronne gegee.
16Die nakomelinge van Moses se skoonvader, die Keniet, het saam met die nakomelinge van Juda uit die Palmstad opgetrek na die Judese woestyn wat in die Negev by Arad lê. Hulle het daarheen gegaan en by die mense gaan woon.
17Juda het saam met sy broer Simeon gegaan, en hulle het die Kanaäniete verslaan wat in Sefat woon. Hulle het die dorp met die banvloek getref. Die dorp is toe Gorma genoem. 18 Juda het ook Gasa en sy grondgebied, Askelon en sy grondgebied, en Ekron en sy grondgebied ingeneem.
19Die Here was met Juda, sodat hy die bergland in besit geneem het. Juda kon egter nie die inwoners van die vlakte verdryf nie, want hulle het ysterstrydwaens gehad. 20Juda het Hebron vir Kaleb gegee soos Moses beloof het, en hy het die drie afstammelinge van Enak daaruit verdryf.
21 En wat betref die Jebusiete wat in Jerusalem gewoon het – die nakomelinge van Benjamin het hulle nie verdryf nie. Die Jebusiete het saam met die nageslag van Benjamin in Jerusalem bly woon; dit is vandag nog so.
22Ook die huis van Josef het opgetrek – na Bet-El. Die Here was met hulle. 23Die huis van Josef het Bet-El laat verken. Die naam van die stad was vroeër Lus. 24Dié wat die plek dopgehou het, sien toe 'n man wat uit die dorp uitgaan en sê vir hom: “Wys ons asseblief hoe om in die stad in te kom, dan sal ons aan jou trou bewys.” 25Hy wys hulle toe hoe om in die stad in te gaan. Hulle het die stad met die skerpte van die swaard verslaan, maar die man en sy hele familiegroep het hulle weggestuur. 26Die man het toe na die land van die Hetiete gegaan en 'n dorp gebou wat hy Lus genoem het. Dit is die dorp se naam tot vandag toe.
27 Manasse het egter nie Bet-San met sy omliggende dorpies en Taänag met sy omliggende dorpies verower nie, en nie die inwoners van Dor met sy omliggende dorpies, die inwoners van Jibleam met sy omliggende dorpies, en die inwoners van Megiddo met sy omliggende dorpies verdryf nie. Die Kanaäniete was vasberade om in hierdie landstreek te bly woon. 28Toe Israel sterker geword het, het hulle die Kanaäniete dwangarbeid laat doen, maar hulle het hulle nie heeltemal verdryf nie.
29 Ook Efraim het nie die Kanaäniete verdryf wat in Geser gewoon het nie. Die Kanaäniete het in Geser tussen hulle bly woon.
30Sebulon het nie die inwoners van Kitron en Nahalal verdryf nie. Die Kanaäniete het tussen hulle bly woon, maar moes dwangarbeid verrig.
31 Aser het nie die inwoners van Akko en Sidon en ook nie dié van Aglab, Agsib, Gelba, Afek en Regob verdryf nie. 32Die stam van Aser het tussen die Kanaäniete, die inwoners van daardie landstreek, gewoon, want hulle het hulle nie verdryf nie.
33Naftali het nie die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat verdryf nie en het tussen die Kanaäniete, die inwoners van daardie landstreek, gewoon. Maar die inwoners van Bet-Semes en Bet-Anat moes vir hulle dwangarbeid verrig.
34 Die Amoriete het die nageslag van Dan in die bergland ingedwing, want hulle het hulle nie toegelaat om af te gaan na die vlakte nie. 35Die Amoriete was vasberade om in Har-Geres, Ajalon en Saälbim te bly woon, maar toe die hand van die huis van Josef swaar op hulle begin druk, moes hulle dwangarbeid verrig.
36Die gebied van die Amoriete was vanaf die Akrabbimhoogte, vanaf Sela en verder op.

Tans Gekies:

Rigters 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid