JAKOBUS 3:13-16
JAKOBUS 3:13-16 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer een van julle dink dat hy wysheid het en verstandig is, dan moet hy wys dat hy verstandig is. Hy moet reg lewe en hy moet doen wat die Here wil hê, hy moet nederig wees soos 'n wyse mens moet wees. Maar as julle baie jaloers is en as julle altyd alles vir julleself wil hê, dan moet julle nie spog en sê dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. Daardie wysheid kom nie van God nie. Dit is die wysheid van mense wat net oor die dinge van hierdie wêreld dink, dit is nie geestelik nie, dit kom van die duiwel. Want wanneer mense jaloers is en altyd alles vir hulleself wil hê, dan maak hulle probleme en hulle doen al die slegte dinge.
JAKOBUS 3:13-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WIE is wys en verstandig onder julle? Laat hom uit sy goeie lewenswandel sy werke in sagmoedige wysheid toon. Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels; want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.
JAKOBUS 3:13-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Is daar 'n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig. Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade.
JAKOBUS 3:13-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wie onder julle is wys en verstandig? Laat hy deur goeie gedrag sy dade met sagmoedige wysheid toon. Maar as daar bittere afguns en selfsug in julle harte is, moet julle dan nie op wysheid beroem, en teen die waarheid lieg nie. Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar aards, nie-geestelik en demonies. Want waar afguns en selfsug heers, kom wanorde en allerlei gemene dade voor.
JAKOBUS 3:13-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wie is 'n wyse man en toegerus met kennis onder julle? laat hom uit 'n goeie gesprek sy werke met sagmoedigheid van wysheid openbaar. Maar as julle bittere afguns en twis in julle harte het, moet julle nie roem nie en lieg nie teen die waarheid nie. Hierdie wysheid kom nie van bo af nie, maar is aards, sensueel, duiwels. Want waar afguns en twis is, daar is verwarring en elke bose werk.
JAKOBUS 3:13-16 Die Boodskap (DB)
Wie van julle het die lewenswysheid om te verstaan hoe ’n mens die spel van die lewe sinvol en reg moet speel? Laat hy dit wys deur die manier waarop hy hom gedra. Nederig en op sy plek moet hy doen wat God wil hê ’n mens moet doen om sinvol te leef. As die een onder julle egter vir die ander een niks gun nie en altyd beter wil wees as die ander een, moet julle nie maak of julle weet wat ’n sinvolle lewe is nie. Julle jaloesie onder mekaar wys dan dat julle lieg. “Lewenswysheid” wat die taal van jaloesie en selfsug praat en mense gedurig wil hap of seermaak, kom nie van God af nie. Nee, dit kom van die duiwel af. Iemand wat optree volgens die maatstawwe wat mense stel, dink dit is hoe ’n mens behoort te leef. Dit is egter nie wat God dink nie. Want waar daar jaloesie is, of iemand wat net in homself belangstel en ander niks gun nie, kan mense nie in vrede saamleef nie. Hulle is gedurig aanmekaar. Dit pla hulle ook nie om sommer die lelikste goed aan mekaar te doen nie.
JAKOBUS 3:13-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Aangesien julle wys is en verstaan wat God wil hê, moet julle sorg dat julle leefstyl goed is. Julle wysheid moet juis in nederige gedrag sigbaar word. As julle bitter jaloers is en selfsugtige ambisie in julle harte het, moenie dan spog dat julle wysheid het nie. Dis om teen die waarheid in te lieg! Jaloesie en selfsug is nie wysheid wat van God af kom nie. Dit is eerder aards, tipies van iemand se sondige natuur. Eintlik is dit demonies, want waar jaloesie en selfsugtige ambisie is, dáár sal jy ook wanorde en allerhande gemene dade kry.