JAKOBUS 1:2-4
JAKOBUS 1:2-4 Bybel vir almal (ABA)
My vriende, daar gebeur partymaal met julle verskillende soorte slegte dinge wat vir julle toets. Die dinge wil vir julle laat ophou om God te dien. Julle moet baie bly wees wanneer dit gebeur, want julle weet dat wanneer hierdie dinge julle geloof so toets, dan help dit julle om aan te hou glo. Julle moet so aanhou glo dat julle geloof heeltemal sal wees soos dit moet wees. Julle moet so aanhou glo dat julle alles sal doen wat God wil hê, dan sal julle heeltemal wees soos God wil hê julle moet wees.
JAKOBUS 1:2-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
AG dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.
JAKOBUS 1:2-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.
JAKOBUS 1:2-4 Die Boodskap (DB)
My liewe mede-Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word. Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees. Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef. Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou, kom wat wil. So sal julle geestelike grootmense word wat weet hoe om in elke situasie reg op te tree.
JAKOBUS 1:2-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
My broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees. Julle weet mos: Wanneer ’n mens se geloof ’n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard. Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie.