Jakobus 1

1
1Jakobus, 'n dienskneg van God en die Here Jesus •Christus,
aan die twaalf stamme in die Diaspora:
Gegroet!
Geloof en wysheid
2 Beskou dit as 'n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, 3omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring. 4Maar julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie.
5 As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word. 6Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word. 7Want so 'n mens moenie dink dat hy enigiets van die Here sal ontvang nie. 8Hy is 'n dubbelhartige mens, onstandvastig in alles wat hy doen.
Ryk en arm
9Laat die broer wat gering is, hom op sy hoë aansien beroem, 10en die ryke in sy geringheid, want soos 'n veldblom sal hy vergaan. 11Want die son met sy hitte kom op en verdor die veld, en die blom val af, en sy skoonheid gaan tot niet. Net so sal die ryke verwelk in alles wat hy doen.
Beproewing en versoeking
12Gelukkig is die man wat versoeking deurstaan, want as hy die toets slaag, sal hy die oorwinningskrans van die lewe ontvang, wat God beloof het aan hulle wat Hom liefhet. 13Laat niemand wat versoek word, sê: “Ek word deur God versoek” nie, want God kan nie deur kwaad versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. 14Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word. 15Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde, en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood.
Goeie gawes van God
16Moenie mislei word nie, my geliefde broers. 17Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van bo af, van die Vader van die hemelligte, by wie daar geen afwyking of skadu van verandering is nie. 18Volgens sy wil het Hy ons verwek deur die woord van die waarheid, sodat ons eerstelinge van sy skepsels kan wees.
Om te hoor en te doen
19Let op, my geliefde broers, elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word. 20Want die woede van 'n mens bewerk nie •geregtigheid voor God nie. 21Doen daarom in sagmoedigheid afstand van alle morele besoedeling en die kwaad wat gedy, en ontvang die woord wat in julle geplant is, en daartoe in staat is om julle •siele te verlos. 22Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie. 23Want wie 'n hoorder van die woord is en nie 'n doener nie, is soos iemand wat sy eie gesig in 'n spieël sien. 24Hy sien homself, gaan weg en vergeet onmiddellik hoe hy gelyk het. 25Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie 'n vergeetagtige hoorder is nie, maar 'n doener. 26As iemand dink dat hy godsdienstig is en nie sy tong kan beheer nie, mislei hy homself; so 'n mens se godsdiens is vergeefs. 27 Dít is suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader: om na weeskinders en weduwees om te sien in hulle ellende, en jouself onbesmet van die wêreld te hou.

Tans Gekies:

Jakobus 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid