JESAJA 53:9-11 - Compare All Versions
JESAJA 53:9-11 ABA (Bybel vir almal)
Hulle het vir hom 'n graf gereedgemaak by skuldige mense, en toe hy sterf, het hulle hom begrawe by mense wat ander mense se goed gevat het en ryk geword het. Maar hy het niemand seergemaak nie en hy het niemand bedrieg nie. Die Here het besluit dat die dienaar moet seerkry en siek word. Die Here het gesê hy is 'n skuld-offer. Daarom sal hy lank lewe en 'n nageslag hê. Die Here sal sy dienaar gebruik om te doen wat die Here wil doen.” Die Here sê
JESAJA 53:9-11 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by 'n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie. Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel 'n skuldoffer aangebied het, sal Hy 'n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees. Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hý sal hulle skuld dra.
JESAJA 53:9-11 AFR83 (Afrikaans 1983)
Hy het 'n graf gekry by goddeloses, hy was by sondaars in sy dood al het hy geen misdaad gepleeg nie en al was hy nooit vals nie. Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy 'n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik. Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en hy sal die Here ken. My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra.
JESAJA 53:9-11 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Hulle het vir hom sy graf by goddeloses gegee, en by 'n ryke was hy in sy dood, alhoewel hy nie geweld gepleeg het, en bedrog nie in sy mond was nie. Maar die HERE het verkies om hom te verbrysel; Hy het hom siek gemaak. As sy lewe dien as 'n skuldoffer, sal hy 'n nageslag sien en lank leef. Wat die HERE wil hê, sal deur sy hand suksesvol wees. Ná die swaarkry wat hy beleef het, sal hy sien; hy sal versadig wees aan sy kennis.
JESAJA 53:9-11 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En hy het sy graf by die goddelose gemaak en by die rykes in sy dood; omdat hy geen geweld gedoen het nie, en geen bedrog in sy mond was nie. Maar dit het die HERE behaag om hom te verbrysel; hy het hom bedroef; as jy sy siel 'n sondeoffer bring, sal hy sy nageslag sien, hy sal sy dae verleng, en die welbehae van die HERE sal voorspoedig wees in sy hand. Hy sal die moeitevolle arbeid van sy siel sien en versadig word; deur sy kennis sal my regverdige kneg baie regverdig maak; want Hy sal hulle ongeregtighede dra.
JESAJA 53:9-11 DB (Die Boodskap)
Hy is by misdadigers begrawe. Sy graf is tussen sondaars, al het hy hom nooit aan geweld skuldig gemaak nie, selfs nie eens leuens verkoop nie. Die Here wou gehad het dat hy in ons plek geslaan moes word en in ons plek seerkry. Omdat hy homself aangebied het om ander se straf te dra, sal daar vir hom ’n nageslag wees. Sy naam sal nog lank bly lewe. Hy het gedoen wat die Here gedoen wou hê. Nadat hy so swaargekry het, sal hy sien wat daarvan gekom het. Hy sal tevrede wees met wat hy gedoen het. My dienaar was aan My gehoorsaam. Hy sal baie ander ook gehoorsaam aan My maak. Hy sal die straf op hulle sonde wegvat.
JESAJA 53:9-11 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Hy het niks verkeerds gedoen nie, en het nooit enigiemand bedrieg nie. Tog is hy soos ’n misdadiger begrawe, in ’n ryke se graf neergelê. Maar dit was die HERE se wil om hom te vermorsel en te laat ly. Al het die HERE sy lewe ’n skuldoffer gemaak, sal hy ’n groot nageslag kry en nog lank lewe. Die HERE se plan sal as gevolg van Hom ontvou. Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en tevrede wees. En deur alles wat hy beleef het, sal my regverdige dienaar dit moontlik maak vir baie om ook regverdig te word, want hy dra al hulle sondes.